Heimweë van ‘n plaasdogter

Kreukels en plooie het ons vanuit Nieu-Zeeland uitgedaag om vandag ‘n blog te skryf. So op die wasdag. Oor een van ‘n paar woordtemas. Hier is myne, ek het die plaastema gekies. Vandag dink ek met heimweë aan my grootworddae as ‘n plaasmeisie [my pa het eers plasie by Modderfontein gehuur (geboortde tot einde standerd 4), toe plaas by Chrissiesmeer gekoop (standerd 5 en helfte van standerd 6), toe plot oorkant vendusiekrale by Ermelo gekoop (res van standerd 6 tot ek getroud is) en daarna drie plase op die Amersfoortpad gekoop (nadat ek getroud is tot hy so vyf jaar gelede afgetree het)]. My dae as plaasmeisie is egter nou verweef met my dae as die dogter van ‘n blokman en later slaghuiseienaar [my pas was eers naweke blokman vir iemand anders, het later sy eie slaghuise besit: Witbrickslaghuis op die Potchefstroompad naby Westonarea , Libanonslaghuis aan die ander kant van Westonarea (tot einde van my st 4 jaar) en Ermelo slaghuis (nadat ek getroud is)]. In die res van die vertelling onthou ek grepe uit my kinderdae, soos dit in my gedagtes opgeroep is, dae wat nou met my lewe as die kind van ‘n blokman verweef is. En die herinneringe is nie noodwendig in chronologiese volgorde nie.

************************************************************************

Ek onthou dat my jong ouers op ‘n plasie in die distrik Modderfontein, naby Fochville gebly het. En dat ek en my vier susters ons eerste treë op daai plasie gegee het. Ek onthou dat my pa daardie plasie gehuur het, by ‘n tannie wat in Witpoortjie, Roodepoort gebly het. En dat ek gereeld aan my kinderdae teruggedink het toe ek 45 jaar later op die rand van Roodepoort gaan nesskop het. Omdat ek nooit in my wildste drome in die stad wou woon nie.

Ek onthou badtyd op ons Modderfonteinplasie, wat nog baie primitief was. My ma het potte vol water op die AGA gekook en dan het ons so in groepe sussies gebad. Gelukkig was ek die oudste en was my beurt eerste. My ma het die water darem vir almal warm gehou.

Ek onthou die longdrop buite en piepiepotjies onder die kooi vir die nag. Ek onthou dat die gaanse mens soms gejaag het as jy in die dag ‘n nood het. Tot by die longdrop se deur! En ek word tans in Qazaqstan gereeld aan ons longdrop herinner. Baie van die winkelsentrums en selfs die toilette by die verkeersafdeling in Almaty het steeds longdrops. Die enigste verskil is dat die gat nie op ‘n bankie is nie, maar op die vloer. En dat dit baie, baie ongemaklik is. Ek het al ‘n paar staaltjies daaroor vertel. Tans dink ek ‘n land moet op grond van sy publieke toilette langs ‘n hoofweg as eerste of derdewêreldse land geklassifiseer word …

Ek onthou die donkie wat vir krag saans moes sorg. En dat my jonger sus haarself een keer amper verongeluk het toe sy die masjien gaan aandraai het. En die slinger in die masjien vergeet het. My pa ook, wat die masjien moes gaan stop. En ek onthou kerse. Kerse wat spookagtige figure maak as mens alleen in die gang na jou ma se kamer moet loop om die Bybel te kry. Veral die bang as die wind of trek gedreig het om die kers dood te waai. Toe was die bang maar net vir die donker.

Ek onthou hoe ek Saterdae baie vroeg moes opstaan om saam met my pa Krugersdorp toe te ry om vleis by die slagpale te gaan oplaai. Eintlik dat ek altyd saam met my pa moes rondry, seker daarom dat ek so ‘n sagte plek in my hart vir hom het? En dat my susters later kon slaap om saam met my ma slaghuis toe te gaan.

Ek onthou dat ek by Witbrickslaghuis op ‘n stoel agter die deur moes sit en my twee klein sussies oppas. Terwyl my ander susters en maatjies buite speel. Maar veral toe my pa my tweede jongste sus, wat plat kon vou, in bruin papier toegedraai het sodat ‘n oom haar huis toe kan vat. Omdat ek oor die oppassery gekla het. Daarna het ek nie gekla om haar op te pas nie en dit is seker waarom sy steeds na aan my hart is. Die ousus in my wil haar altyd beskerm.

Ek onthou dat my pa Libanonslaghuis in my standerd 4-jaar aan die Dolomitiese Raad verkoop het toe sinkgate oral in Westonarea ingeval en selfs huise opgeslurp het. En dat hy die geld gebruik het om sy eie plaas naby Chrissiesmeer in die ou Oos-Transvaal te koop. Ek onthou hoe hy meneer Van Rooyen na ons plaas genooi het, dieselfde meneer wat ek nie geantwoord het as hy my Foerie nie, want my van was volgens my pa Fourie! Later jare eers gedink ek sou my lelik vererg het as ek hy was, toe ek eers self ‘n juffrou was wat met kinders se nukke moes saamleef …

Ek onthou dat kersfees altyd spesiaal was. Ons het die oggend opgestaan met ons speelgoed en ‘n pakkie tuisgebakte koekies en tuisgemaakte gemmerbier. Dan het ons vir die plaasvolk hulle geskenke en koekies gegee voordat ons kerk toe is. Ek onthou ook ‘n kersfees op die plaas buite Ermelo toe my jongste sus se baie klein seuntjie vir my as ‘n getroude vrou en juffrou ‘n les geleer het met Tannie, ek kan nie nou praat nie, ek is te kwaad nadat sy ouboet hom verpes het en ek hom wou troos. Ek sukkel nou nog om nie te praat as ek kwaad is nie, al weet ek dit is soos daardie liedjie van Chris Chameleon Wat help dit tog? Wat help dit tog? om te praat oor die dinge wat my pla.

Ek onthou oujaarsdae met boeresport en ‘n dans die aand, al het my eie ouers nie gedans nie. Ek was te skaam, het net gekyk en eers op universiteit leer dans. Wat ‘n waste! Ek ruik steeds pannekoek, sien waatlemoenskille en kyk in my gedagtes na perdesport wanneer ek aan hierdie heerlike dae terugdink. En eierresies en driebeenresies, al was ek nie ‘n sportvrou nie. Later jare het ek dit verpes, wou ek ander goed op oujaarsdag doen. En ek wonder of dit steeds tradisie is?

Ek onthou dat ons soms die Golden Highway gevat het op pad na Crown Mills, of was dit dalk Hirsch, om speserye en derms vir die slaghuis te koop. En ek is dankbaar dat ek in ‘n slaghuis grootgeword het omdat ek hier in Qazaqstan sou sukkel met hulle vleissnitte en selfs vrywillig verplig word om my eie wors te maak. Ek onthou spesifiek die padkafee met die vliegtuig daarop, sou toe wat wou gee om daarin te klim. Maar ons het nie. Ook nie later jare toe ek gereeld daarby verby gery het nie.

Ek onthou sussies wat saam gespeel het, mekaar se beste maatjies. Maar ek onthou veral dat ons nie mag baklei het nie. Van ons vriende se kinders het mekaar se hare getrek as hulle kwaad is. Ons het dit nooit gewaag nie, my pa het gedreig om vir die twee wat wil veg stokke te gee om mekaar te slaan, maar veral dat hy sou slaan as ons sou weier. Laasgenoemde was genoeg rede om nie meer te wil verskil nie. Die beleid het ek ook tydens die grootmaak van my eie kinders gevolg. En dit is so lekker om te kan skryf dat hulle vriende is, mekaar se belange op die hart dra en dat ons gesinsvakansies en -kuiers ‘n riem onder hierdie ma se hart is. Ons is ‘n gelukkige gesin.

Ek onthou dat my jonger sus ‘n terggees was. En my met spinnekoppe in bottels gejaag het. Of onder die bed gelê het om aan mens se voete te vat as jy op die bed gaan sit. Ek het vir baie lank ‘n groot tree tot op die bed gegee. En was later dankbaar oor Sealy beddens wat te laag is om daaronder te klim. Ek het ook twee merke aan die sus te danke, ‘n haakmerk aan die agterkant van my knie toe sy die doringdraad te gou gelos het toe ek deurklim en ‘n groottoonnael wat sukkel om te groei omdat sy die deur toegemaak het toe ek nog besig was om uit te klim. Sy was van kleins af die verpleegster in ons gesin, het die gaans met naald en gare toegewerk toe hy sy maag oopgesny het toe hy oor die doringdraad vlieg. Sy het honde wat met mekaar veg uit mekaar gehaal, ek het onder die bed gaan wegkruip. Bloed het my naar gemaak. Later het ek sommer flou geword as my seun bloei nadat hy teen iets vasgehardloop het. Daarom het ek nie honde wat veg nie.

Ek onthou myself wat onder die lukwartboom gesit het met die karring tussen die beentjies (was nog klein hoor) besig om botter te maak. Al dromend oor feetjies in die bome terwyl die karringmelk van die room geskei word. Dit sou ek doen, brood knie het ek geweier. Ek wou nie arms soos Popeye ontwikkel nie. Asof dit mens se arms groter maak. Tog het ek genoeg geleer om vandag hier in Qazaqstan self vetkoek te bak, met die hulp van my Thermomix wat die kniewerk doen. Ek weet darem hoe die deeg moet lyk …

Ek onthou my ma wat voor die AGA op die Modderfonteinplasie staan en perskes inlê nadat groot mandjies vol ingedra is. En hoe ons met spesiale gereedskap gehelp het om dit te ontpit. Tot ons moedeloos was. Sodat ons ingelegde vrugte in die wintermaande kon eet. Ek verbeel my my ma het konfyt ook gekook, maar ek kan verkeerd wees. Tog wil so ‘n herinnering na die oppervlak kom.

Ek onthou dat die bome langs die spruit op die Moddefonteinplaas soveel vrugte gedra het dat my pa vragte vol langs die pad kon gaan verkoop vir ‘n paar ekstra pennies. En daai idioom is reg gebruik, die metrieke stelsel het eers in die land posgevat toe ek al op skool was. My eerste kennismaking met geld was ponde en sjielings en pennies. Ook wat gewig betref, het ek eers van gellings melk en ponde vleis geleer. Dit onthou ek goed, daardie terme is gereeld in ons huis gebruik, my pa was ‘n blokman. Ek onthou veral hoe dankbaar ek oor die veel makliker metrieke stelsel was.

Ek onthou my pa wat op die Modderfonteinplaas lande toe gaan om te plant en ons wat koffie en broodjies moes aandra en sommer gou ook ‘n ry op die trekker gebedel het. Jy weet, daardie liedjie Oom Jan saai koring op die land laat my so baie aan my pa dink, hy is ook oom Jan. Die reuk van vars omgeploegde grond is steeds my gunsteling reuk. My pa het mielies en sonneblom geplant en ‘n oom het met sy dorsmasjien omgekom om die kaf van die mielies te skei. Ek onthou dit goed want ons het lekker op die gedorste mielieblare gespeel, blare in die hare, blare aan die klere, blare oral. En ek onthou my ma se van lekker lag kom lekker huil, want daardie aande het ons gehuil as ons bad as die warm water en seep die fyn skrapies gevind het.

Ek onthou moerkoffie in ‘n groot erdeketel met ‘n linnesakkie binne wat altyd op die AGA gestaan en brou het. Ek drink nou nog nie my beker leeg nie, ek onthou steeds die bitter van die aftreksel wat deur die sakkie gekom het. Of is dit eerder die onaangename verrassing van iets grofs in die mond?

Ek onthou dat my ma nie suiker gedrink het nie. En dat my sus my op Modderfontein probeer oortuig het om soos sy te wees. Ek het haar ‘n paar keer gevang met Pa roep jou sodat ek skelm my vyf lepels suiker kon ingooi, want ek was my pa se kind. Hy het by ‘n bakkie suiker verbygeloop en ‘n lepelvol in sy mond gegooi. So het ek eendag by ouma op die plaas die nuus aangedra: Ma, pa steel tot by ouma suiker … My sus het my uitgevang, ek moes die koppie voor haar leeg drink – sonder suiker. En daarna het dit my lewenstyl geword. Koffie sonder suiker is baie, baie lekker. Of was? Want ek kan dit nie swart drink nie.

Ek onthou Sondae by oupa op die plaas. Ons was ‘n baie groot familie, my pa was een van elf kinders. En behalwe vir twee ooms en tannies met twee kinders, het my pa die minste kinders gehad. Vyf. Ons was ‘n menigte kinders op die plaas, met drie of vier niggies presies so oud soos ek. Ons het so na Sondae uitgesien. Maar ek onthou veral die optel van manna onder die bloekombome en die vies as jy proe dat daardie wit enetjie nie manna was nie …

Ek onthou dat ons kappies moes dra. Hier is ‘n skakel na ‘n verskeidenheid soorte kappies, ons s’n was van die mooier soort, met die bolgedeelte agter. En knopies. Toe het ek dit verpes. As ons dit buite sou waag sonder ‘n kappie sou ons boudjies brand, dus het ons die kappies, wat my ma gemaak het, altyd gedra. Dit is dalk waarom ons susters, soos my ma en pa, goed verouder? In ons tienerjare het ons die beentjies styfgeskop, die kappies wou ons nie meer dra nie. Voel of ek nou wil sê dat ek so bietjie spyt is …

Ek onthou dat my pa aanvanklik teen kosmos gekant was omdat dit die lande vervuil. En dat my suster jonger daaroor gepla was omdat dit vir haar die mooiste goed was. Vir my ook, maar nie ‘n raas werd nie. Ek onthou dat my pa jare later gou op pad plaas toe gestop het dat ek vir my ma ‘n bos kosmosse moet pluk. Van hom af. My ma is ook baie gek oor kosmosse. Ek was uit die veld geslaan.

Ek onthou dat my pa nog altyd met beeste geboer het en ek onthou hoe sy Brahmane so mak geword het dat hulle aangehardloop gekom het as hy die toeter druk en Kom, Kom deur die venster skree. Ek onthou veral hoe ons op die Chrissiesmeerplaas die groot radyse (wat is die naam nou weer?) eers moes gaan uithaal en dan van die bak af vir die beeste moes gooi wat een-een gestop het om by hulle radyse uit te kom.

Ek onthou perde. My pa wou eers nie perde koop nie, hulle het nie ‘n doel op ons plaas gehad nie. Maar later het hy gekoop. ‘n Ponie ook. Hy was ‘n stoute ding en ons het pret met hom gehad as stadsjapies hom wou probeer ry. Totdat my swaertjie sy rug en hemp flenters teen die doringdraad van die vendusiekrale geskeur het terwyl hy met alle mag op die ponie se rug wou bly. Danie Allman (dink dit was sy naam), die bakker se seun, het hom tog gery gekry. Daarna het ek ook nie weer op die ponie geklim nie.

Ek onthou ook hoe ek die een keer amper met die grond kennis gemaak het toe my een stiebeuel gebreek het. En hoe groot ek geskrik het toe my perd my vriendin by die meer langs die plot gaan afgooi het. Sy wou sonder saal en toom, want perde en ruiters het so in haar kamer op plakkate gepronk. Ek kon haar oortuig om die saal te los, maar ‘n toom is ‘n moet. Sy het so stil gelê en ek het gebid dat sy lewe, en toe sy kreun, het ek amper van my perd afgeval van die lag. Nie omdat ek lekker gekry het nie, dit was pure verligting omdat ek nie vir haar ma slegte nuus moes gaan aandra nie.

Ek onthou plaashekke wat met slaparms vasgehaak het, moeilik vir ‘n dogtertjie om oop en toe te maak. En die bang as jy die een is wat die hek moes oopmaak en alleen agter in die donker wag dat die kar se rooi liggies jou vooruitgaan. Die vinnige inspring in die kar en die maak of jy slaap sodra daar by die bure gery word. Dat pa die hek moet oop en toemaak.

Ek onthou vendusies. Omdat oom Daan Page ‘n afslaer was en omdat my pa later jare Donderdae transport gedoen het. Ons het oorkant die vendusiekrale gebly en ek moes dikwels in my hoërskooljare eers help skaap laai voordat ek vir skool gereed kon maak. Ek het juis een so koue wintersoggend vir my pa gesê dat ek nooit sal sê dat iemand ‘n skaap is nie. Want niemand kan so dom wees nie …

Ek onthou huisgodsdiens en dat elkeen ‘n beurt gekry het om te vertel wat sy gehoor het. En dat my susse soms my gedeelte, wat ek die hele tyd gesit en memoriseer het, vertel het en dan het ek nie iets gehad om by te dra nie. Moes dan vinnig dink.

Ek onthou Sondae in die kerk. En veral die keer toe ons boude na kerk gebrand het omdat ons gedink het dat dit baie snaaks is om een na die ander te hoes. In die kerk! Ek het die verleentheid eers verstaan toe ek my eie kinders in die kerk grootgemaak het. Omdat ek nie daarin geglo het om in die moederskamer te sit nie, die kinders moet aan kerk gewoond raak.

Ek onthou dat my ma lang hare gehad het. En dat dit my werk was om haar Franse bolla (is dit nou die regte naam?) op pad kerk toe te maak. So in die Mercedes, met ‘n kopstuk wat pla. En toe word ek nie die haarkapster in die gesin nie, my middelste sus het daardie paadjie gekies.

Ek onthou dat ons almal lang hare gehad het en dat ons dit met asyn afgespoel het om te blink. Dalk moet ek dit weer probeer? Hierdie land se asyn moet egter baie verdun word, wonder of ek dit moet waag? Ook dat ons buite in die son gesit het dat dit droog moet raak. Ek onthou ook dat ons ons hare nie mag gesny het nie. Myne is eers op universiteit korter geknip. Vandag hou ek van my lang hare, al vertel almal vir my dat ek jonger lyk as dit kort is.

En ek onthou ons kleredrag. Denims was uit, dit was werkersdrag en nie vir dogters nie. Geen labels op nie, ons word nie betaal om ander mense se goed te adverteer nie. En ek voel steeds so. Sal soms ‘n Addidas of Nike koop, maar nie omdat die label my definieer nie. Ons langbroeke se ritssluiters moes agter wees, mans s’n is voor. Toe kon mens dit nog so koop, vandag dink ek nie so nie? Dit het egter spot by die skool veroorsaak, daarom het ek liewer rokkies gedra. En ons susse het byna altyd eenders aangetrek. Nogal erg as mens die oudste is en nie meer soos die sus agt jaar jonger as jy wil aantrek nie. Maar dit het ook verbygegaan.

Ek onthou dat my pa op Modderfontein met skape, beeste en gewas geboer het. Die skape onthou ek spesifiek omdat ons een dag tussen die skape gery het en ek in my onkunde vir my pa gesê het dat die een ooi ‘n lammertjie geëet het. Toe ek die pootjies agter sien. Ek het nie toe die les gekry nie, eers later jare besef wat ek daardie dag gesien het. My pa het net weggery.

Ek onthou ‘n stadsjapienefie se kuier by ons op die plot. En dat hy ewe grootmeneer vir my vertel het dat melk van beeste af kom. Natuurlik, maar waarom dit vir ‘n plaasmeisie vertel? Dan moet hy mos “reggehelp” word. So vertel ek vir hom dat melk eintlik van skape af kom. Hy sê Nee, ek weet dit kom van beeste af, daar is beeste op die boksies waarin ons melk in die stad koop. Ek vra toe of die boksies met die blommetjies op dan aandui dat die melk van blommetjies gemaak is en hy moet saamstem, dit maak nie sin nie. So is ons skaapkraal toe, waar ons arme nefie ‘n hele paar skape moes melk om ‘n bietjie melk in ‘n glas te kry. En nadat dit in is, het ons plaasmeisies gelag omdat hy die eerste persoon is waarvan ons geweet het wat skaapmelk gedrink het. Ek verstaan hy het eers baie onlangs vir my pa van die episode vertel … Ek is nie seker of my ouers sou lag of kwaad wees nie.

Ek het hier in Qazaqstan met ‘n skok agtergekom dat die melk op die rakke nie noodwendig van beeste of bokke af kom nie, dit kan ook van perde af kom. Daarom is die naam kaniena of kanienie in my brein ingebrand. Ek het so maand of twee gelede op ‘n blog gelees dat hulle hier botter van skaapmelk maak. G’n wonder die botter is so duur nie. Die Qazaqs self gebruik baie min botter, bied dit nie eens in restaurante aan saam met borde vol brood nie. Gelukkig het ek laktose intolleransie ontwikkel. Anders het Karma my hier ingehaal oor wat ek aan my nefie gedoen het …

Ek onthou dat ons op die Modderfonteinplaas op pad skool toe eers gou by die melkkraal gestop het. En dat die melkman sommer so in ons bekertjies gemelk het. Die melk het in so ‘n dun wit streep in die bekertjies ingetrek en ook so bietjie gespat. Maar ons was in die sewende hemel terwyl ons by mekaar oor ons baarde gespog het voordat ons verder gestap het. Hoe het dit gebeur dat ek laktose intolleransie ontwikkel het?

Ek onthou dat ons op die Modderfornteinplaas deur ‘n klein deel van oom Danie van der Walt se plaas moes stap om by die groot hek te kom waar die bus ons opgelaai het. Aan die regterkant van die plaaspad was sy varkhokke met, as ek reg is, Landras varke. Daai groot, lang, wit varke. En ek onthou die stank van die hokke en dat ek doodbang vir daardie varke was. Ek het elke oggend spoed gekry tot ek veilig by die hek vir die bus kon wag.

Ek onthou dat ons om die plaasdam kon stap om deur die bos na oom Danie se winkel te gaan. En dat my ma ons soms gestuur het met ‘n briefie om iets te koop. Die oom het verstaan en dit mooi in bruin papier toegedraai om vir my ma te vat. As ons wou weet wat dit is, het sy net gesê: Husse met lang ore. Die lang ore het haar een aand in ‘n groot verleentheid gehad toe die Page-kinders by ons kom kuier het. Ook vyf, dus was ons tien en kon ons lekker konsert hou. En die husse met lang ore het handig te pas gekom omdat dit om ore kon haak om as ‘n masker vir ‘n dokter te dien …

Ek onthou my ma as kleremaker. En dat dit, toe ek nog in die laerskool was, my werk was om vyf rokke uit te knip, die een kleiner as die ander en die nate vas te steek sodat my ma net kon werk. O ja, en om die onderste bobbin se gare eweredig om te draai. Sodat ons vyf susse presies dieselfde kan aantrek. Vandag maak ek met gemak klere omdat ek geleer het om some in te sit en ritssluiters in te ryg, maar veral om patrone aan te pas.

Ek onthou hoe ek een aand in standerd 3 vinnig in die donker op die stoep van die slaghuis omgedraai het en my oogbank oopgestamp het, hoe ons kinders snag op die plaas in die kar gelaai is omdat my pa wou gaan seker maak dat alles by die slaghuis reg is, die droë wors wat ons op die oop vuur gebraai het omdat ons al so gewoond aan droë wors was, die keer toe ek vir ‘n seuntjie in my klas moes jammer sê omdat ek in die dorp vir hom Voertsek gesê het toe hy dit waag om my voor my ma te groet. Hoe moes hy weet dat seuns tot ek matriek was taboe was? En dan groet hy my so ewe voor op die wa voor my ma?

Ek onthou ons gespog met Honderd, ‘n pragbul. My niggies van die stad het ons geglo dat Honderd oor telefoondrade kan spring. En dat hulle ver van hom af moet loop, omdat hy baie kwaai is. O ja, ek onthou ook dat Honderd vleis in die vrieskas geword het toe hy te swaar vir die koeie geword het. En dat ons sussies daarna geweier het om vleis te eet. En dat die honde onder die tafel baie dankbaar daaroor was …

Ek onthou ons plaashonde en sommige van die beeste se name, veral omdat die name aan geld gekoppel was. Honderd het R100 gekos. Ravy en Viera het hulle name ook te danke gehad aan die bedrag geld wat my pa moes spandeer.

Ek onthou plaastelefone. Ons plaas se nommer was iets soos twee kortes en ‘n lange. Mens het die slinger van die foon twee keer net een keer rondom gedraai en een keer meer as een keer om die lange te wees. Maar ek onthou veral dat mens kon inluister as ander mense op die foon praat. Omdat mens almal se lui hoor, maar eintlik net moet optel as dit jou lui is. My ma en pa het soms so oor die foon gevra dat iemand asseblief moet neersit. Ons het nie ingeluister nie, my pa en ma sou ons velle aftrek. Maar dit herinner my aan iets wat gebeur het. Ek onthou ‘n geleentheid toe een van ons iets in my pa se oor gefluister het en ‘n ander een by die ander oor gestaan het en gesê het dat sy ingeluister het. Ek kon een van die twee susters gewees het, maar dit voel nie so nie. Sal bietjie moet gaan navraag doen.

Ek onthou dat my ma ‘n boerin van formaat is. Sy kan brood en vetkoek bak, vrugte inlê, piekels maak, afval spierwit skrop en so gaar maak dat almal daarvan wil eet, self koue vleis en brawn maak, hoenders grootmaak en laat slag vir kos op die tafel, ‘n bees en skaap saam met my pa in die regte snitte opbreek om te vries. Sy kan maalvleis en wors maak en aartappels, tamaties, boontjies en ander groente plant en so kos op die tafel sit. Ek onthou dat alles steeds onder haar groen vingers groei, ook die suurlemoenboompie wat sy vir my van ‘n saadjie gekweek het.

Ek onthou dat my ma gereeld lammertjies, kalfies, kuikentjies en eendjies en makoutjies langs die stoof deur koue wintersdae grootgemaak het. My telery met honde kan na daardie jare teruggevoer word. Omdat ek geleer het hoe om babadiertjies lewendig te hou. BB, of Ilonka, was my eerste Miniatuur Schnauzer. Toe besluit ek dat sy ‘n maatjie nodig het. Registreer as teler en verander haar naam na Ilonka van Arendsig, my telery se naam. En laat haar twee keer toe om met een van die geregistreerde reuns van ‘n bekende teler te karfoefel om babatjies te kry. Dit sou net een keer wees, dus het ek vir Seth en Sobek gehou. Seth vir my seun, Sobek as BB se maatjie. Een van die babas wat verkoop is, is dood en die man het gevra dat ek weer teel. Dus het BB ‘n tweede werpsel gehad, waarvan ek vir Shilo en Sankie gehou het. En hy het toe nooit die tweede hondjie gekoop nie. BB is daarna reggemaak, dat ek en sy die lewe kan geniet. Want sien, die op hitte-deel werk nie so lekker met ‘n hondekind wat saam met mens onder die komberse slaap nie.

Ek het nie die groen vingers by my ma geërf nie. Ek los die wortels om blomme te kry om die tuin te versier. Het jy al gesien hoe mooi is wortelblommetjies? As mens dit so kan noem? Die blaarslaai skiet later saad en die radyse word so groot dat hulle onsmaaklik is. Want sien, ek geniet die blommetjies van groenteplante in my blombeddings meer as wat ek oor die groente self omgee. Twee soorte groente en kruie, of is dit nou vrugte en kruie? oorleef wel by my. Tamaties het ek gereeld in oorvloed. Want dieselfde voëls wat my honde se kos wil kom opeet, doen hulle ding in die bome naby die swembad. En saai so die saadjies van tamaties wat iewers anders gesteel is in my tuin. Ek weet. Dit klink gross soos my kleinkinders sou sê, maar dit is ‘n feit soos ‘n koei. Ek het daardie saadjies langs die swembad nooit self geplant nie. En ek vergeet so bietjie hoe dit daar gekom het as ek die tamaties so met ‘n pot sout en peper in die tuin staan en eet. Die ander plant wat my oorleef, is mint, peppermint en spearmint vat my tuin oor as ek nie terugsnoei nie. Soveel dat ek dit nie op kan gebruik nie … En ek het al ‘n Jakaranda van ‘n saadjie af gekweek …

Ek onthou die behoefte om ‘n Jakaranda te plant. In my eie tuin in die stad. Omdat dit verbode was toe ons in 2005 stad toe getrek het, verbied deur ‘n regering wat sy eie wette nie gehoorsaam nie. Stry? Wat is die spoedbeperking? En geld dit vir die wat in hulle swart karre op die N14 en die N1 tussen Pretoria en Johannesburg jaag? Daar is, as ek reg is, steeds geen Jakarandaboompies in kwekerye te koop nie. Daarom het ek by Muldersdrift laerskool saadjies gaan optel, in houertjies gesit en my eie boompie gekweek. Ek weet ek gaan hier kommentaar kry. Oor die sleg van die bome. Ek sien egter net goed. ‘n Boom wat moeiteloos groei, selfs as die klimaat die jaar baie sleg is. ‘n Boom wat elke jaar hier teen Oktober my tuins met pers blommetjies versier, al het ek geen spesiale aandag aan haar gegee nie. ‘n Boom wat my aan my studentedae herinner, toe ek elke Oktober onder deur die laning vanaf Madelief tot by Tuks gestap het in die hoop dat ‘n blommetjie op my kop val vir goeie geluk. Maar dit het nie. Die mite is ook verkeerd bewys, ek het altyd geslaag. My Jakaranda het egter ‘n rakleeftydperk. Die dag waarop die politici die wette wat op ons afgedwing word, self nakom, daardie dag kan sy maar afgekap word. Ek vermoed sy gaan nie die byl hoef te trotseer nie …

So van byl gepraat, ek onthou dat ek ‘n hoender se kop moes afkap en ‘n skaap se keel moes afsny omdat ek vir my pa gesê het ek sal dit nie doen nie, ek is nie ‘n moordenaar nie. Die arme hoender het koploos rondgehardloop omdat ek die byl neergesmyt en weggehardloop het. En na die skaapslag het ek beslis geweier om dit weer te doen. Met my ma se hulp. want sien, ek sal selfs ‘n vegan word as ek die diere slf moet slag.

Ek onthou ons eerste probeerslag op ons eie plasie met boerbokke. Daar is geen manier waarop ek vir Steve sou eet nie. My man het die naam vir ons boerbok gegee in die hoop dat hy baie kinders sou kry. Hy het hom nie teleurgestel nie. Toe ek sien Steve word ‘n las, het ek gevra dat ons dit vir oom Jan Bezuidenhout teruggee, met sy uitgebreide nageslag. Voordat hulle kos op die tafel word. Ek weet ek klink dom, maar my vleis word in ‘n slaghuis gekoop. My diere kry name, hoe anders moet ek vir hulle kos gee?

Ek onthou ‘n tyd op die plaas toe ons ons plaaswerkers met ons lewens kon vertrou. En ek wonder, hoe sou my herinneringe aan ‘n plaaslewe gelyk het as ek vandag eers op ‘n plaas sou grootgeword het? In Suid-Afrika? Ons het wel saans die hortjies dig gemaak, maar ons was veilig. Ons het soms by die huis gekom en gesien dat ons vensters oopgelos het. Niks was weg nie, niemand het dit oopgemaak om binne te wag om ons uit te moor nie. Ons het selde die deure gesluit as ons tuis was. En daardie skyn van veiligheid duur steeds voort op plase, in ‘n land waar boere uitgemoor word. Waarom? Gaan na ‘n plaas toe en jy sal verstaan. Mens dink nie aan gevaar as jy voëltjies in die bome hoor fluit en dit so stil is dat jy selfs die goggatjies se vlerkies kan hoor nie.

Hier in Qazaqstan word die heimweë erg. Sodra mens uit die stad uitgaan, sien jy herders met hulle vee langs die pad. Boerinne wat by bushaltes met hulle kinders staan om gou dorp toe te gaan. Kinders wat vir busse wag om skool toe te gaan. Perde wat oral langs die pad wei. Die soort vrede en veiligheid wat ek geken het toe ek ‘n plaasdogtertjie was. Ek en manlief het die behoefte om op ons plasie te gaan werskaf en woel as ons die dag aftree. Tot ons te oud daarvoor is. Tog vrees ek dat ons statistiek gaan word. In ‘n land waar boere net so min soos renosters veilig kan voel.

58 comments

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.