As dokters en dieetkundiges tog maar die waarde van dr Google besef

Ek wip my sommer uit my kassie as dokters en dieetkundiges hulle oë rol en praat oor mense wat op Dr Google staatmaak. As jy vertel dat jy raad vir jou probleem gekry het. Toe jy jou simptome geGoogle het. Sulke mense maak of hulle alles weet. Ons weet tog hulle doen nie?

Ons was saam op skool, en ek het vir baie van hulle klas gegee. Hulle het beslis nie alles die eerste sekonde gesnap nie. Het ook nie 100% vir die moeilikste van moeilike toetse gekry nie. Het deurgekom, daar is nie ‘n vereiste dat dokters alles moet weet voordat hulle kan slaag nie.

Tog is daar dokters en dieetkundiges wat maak asof hulle alles weet. En met teatrale gebare aangaan oor mense wat hulself dokter, gebaseer op Dr Google se raad.

Asof dr Google ‘n mens is. Ek wens sy was.

Die inligting op Google beskikbaar is dikwels nuwer as die raad wat in mediese boeke gepubliseer word. Dus is dit wel moontlik dat die sogenaamde Dr Google meer weet as wat ‘n dokter weet. Veral as die dokter nie gereeld professionele ontwikkelingskursusse bywoon nie. Kennis verouder. Nuwe kennis word gereeld geskep.

Mens kan nie maak of jy alwetend is nie.

Ek en Mia gesels nou die dag oor ‘n gesamentlike probleem. Lae bloeddruk. Volgens ons twee se dokters geen probleem, ons is tog so gelukkig, want sien, hoë bloeddruk is ‘n probleem. Lae bloeddruk is ‘n seën.

Hoë bloeddruk is verantwoordelik vir beroertes en hartaanvalle en maak dood. Dit is ‘n lewensgevaarlike siekte. Maar, daar is vele medisynes beskikbaar om bloeddruk af te bring.

Lae bloeddruk gaan nie tot ‘n hartaanval lei nie. Sê hulle. Toe ek jonk was, was ‘n pilletjie op die mark beskikbaar. Om die bloeddruk op te stoot. En dit was noodsaaklik om iets te hê wat die probleem oplos.

Want ek het skool gehou, met kinders in die kar heen en weer gery, my twee kosbaarste besittings. En die leerlinge wat ek na sport en kulturele geleenthede moes aanry. Hulle lewens was in my hande, so ja, lae bloeddruk is ‘n massiewe probleem. Vir die wat daaraan ly.

Ek voel siek is nie ‘n verskoning nie, jy klim agter die stuurwiel in en gaan. Want, onderwysers moet ten spyte van siek voel in die bussie klim, aansit en ry. En bid. Die hele pad, soontoe en terug. Om asseblief nie vir ‘n ongeluk verantwoordelik te wees nie. Een waarin jou eie kinders of ander mense s’n beseer of gedood word nie. Daarmee sou ek nie kon saamleef nie.

Want jy is tog skuldig as die aarde dreig om in die rondte te begin draai en jy inklim en bestuur?

Lae bloeddruk is iets wat kom en gaan. Jy weet dit is laag wanneer dit voel of die bloed in jou ore pomp. Jou hande effens bewe van die verwagting dat jy gaan omkap. En dit voel of jy sweef. Jy sukkel om te konsentreer. En instinktief weet dat jy eerder moet lê as staan, maar jy gaan aan. Want dokters sê dit is eintlik goed om lae bloeddruk te hê.

Solank as wat dokters en die mediese wetenskap dink dat dit nie ‘n probleem is nie, so lank gaan mense soos ek gebuk gaan onder ‘n toestand wat jou laat vrees dat jy jou kar gaan omgooi. Of in die straat gaan omkap tot die bloed weer beter vloei. As dit nie sommer besluit dat genoeg genoeg is nie. En ophou vloei.

Jy besoek juis vir dr Google wanneer dokters jou nie help nie. Jy lees op oor hoe ander mense die probleem hanteer. En leer uit hulle foute en mislukkings. Beet help. Sout chips help. Maar dit is nie altyd naby nie. Toe ek jonk was, kon ek die piepklein pilletjie in my mond sit. Om veilig te kan bestuur.

Gisteraand luister ek na ‘n ouerige vrou wat op Groot Ontbyt (KykNet) oor laktose intolleransie praat. Weerstandigheid is die beter woord. Het teen die stertkant begin luister, dus weet ek nie wie sy is nie. Ek vermoed sy is ‘n dieetkundige.

Sy het egter ‘n paar goed gesê wat net weer bevestig dat dit ‘n probleem is as dieetkundiges dink dat hulle alles weet. En toe opgemerk dat mense nie hulself moet diagnoseer met die hulp van dokter Google nie. Gaan ek na haar gaan om my te help? Natuurlik nie. Sy leef in ontkenning.

Ons was so agt jaar gelede by ‘n dieetkundige. Om ons te laat toets vir watter kos ons weerstandigheid het. Omdat dit mense se gewig kan beïnvloed. My vriendin en haar man het mooi maer geword, toe hulle die kosse uitsny wat die toets uitgelig het.

Ek was nog nooit in my lewe uitermate oorgewig nie. Het myself tydens swangerskappe oortuig dat ek ‘n craving vir appels en rooibostee het. En my lyf so teen oormaat gewig beskerm. Maar ek kon doen met weet wat nie vir my goed is nie. Dus het manlief die duisende bestee, om ons altwee te toets.

Die toets se naam is die York Food Intollerance Test. Vrek duur, maar beslis die moeite werd om te weet. En jy kry so ‘n kaart wat jy in jou handsak kan dra.

Die dieetkundige het bloed getrek en stokkies ingedruk wat veeragtige puntjies het. En dit na Engeland gestuur. Die uitslae het so twee weke later teruggekom. En myne was verrassend.

Mens kry ook ‘n bladsy met resultate waar kos vir jou van rooi na groen georganiseer word. Vir my het eiers en mielies op die rand van rooi gelê, iets om ook uit te skakel.

Ek hou nie baie van neute nie, maar melk, eiers, gis, mielies en sonneblomme was deel van my daaglikse bestaan. Kosmaakroetine. Ek het daarmee grootgeword.

Soggens op pad skool toe het ek eers gou vir bekertjie varsgemelkte melk by die stal gestop, op pad na die bushalte toe. Pap en melk was ontbyt. Eiers selde, dit was pa se ontbyt. Ma het self brood gebak. Al die kos was deel van my lewe. Behalwe die neute.

Aangesien ek nie siek gevoel het nie en nie gewig gehad het om te verloor nie, was die dieetkundige nie belanggestellend nie. Eerder in my man wat siek gevoel het en gewig wou verloor. Sy het nie vertel van simptome waarvoor ek moes uitkyk as ek die soorte kos ingekry het nie.

En ek het dit bly eet, want haai, dit is kos wat ek elke dag eet. Ek was gesond. En wou nie gewig verloor nie.

Siekvoel was egter deel van my bestaan. Daarmee het ek al vrede gemaak. Volgens die dokters het ek prikkelbare dermsindroom gehad. Ek het dikwels opgeblaas gevoel. My maag was so seer dat ek nie aan my eie lyf kon vat nie. Daarvoor is daar ook geen pille nie. Dus skuif mens se pyndrempel net al hoe hoër, soos mens aan die pyn gewoond raak. Want niks kan daaraan gedoen word nie. Jy is eintlik maar net vol iepiekonders, soos ouma sou raas.

Twee jaar gelede het ek egter skielik met nuwe simptome begin sukkel. Verskriklike maagpyn. Onkeerbare gastro. Wat my skielik oorval. ‘n Teer buik. Ek het nie meer bestuur nie, was te bang daar is nie kleedkamers nie.

Ek is na my huisdokter toe wat besluit het dat ek maagseer het. Die kameras wat van bo en onder ingedruk is, het egter gewys dat ek ‘n ligte maagseer het. Niks wat die simptome kon verklaar nie. Sy gesig het boekdele gespreek. Iepiekonders.

Die spesialis wat die kameras ten duurste gedoen het, was eintlik half ongeskik. Hy het iets verwag wat uitgesny moes word. Het my tog vir ‘n baie duur barium enema gestuur toe ek vra wat dan fout kan wees. Om beter te kyk.

Dit was so seer dat ek flou geword het. En skielik vreeslik simpatie gekry het. Van die vrou en die hele personeel wat by x-strale werk. My gelawe met suurstof en koue lappies. Uitslag? Daar is geen probleem in die dermkanaal wat my simptome verklaar nie.

Terug by die huisdokter gee hy vir my medisyne wat die probleem sal oplos. Ek ly aan hewige spanning! Nou ja toe! Dit het ek nie verwag nie. Maar ja, as mens in Suid-Afrika leef in die vrees dat jy of jou naastes enige tyd vermoor gaan word, is dit tog rede vir spanning. Die medisyne laat my goor voel en ek vra vir dr Google wat dit is.

En word tot in my tande geskok, soos my een sepie-karakter gereeld sê. Dit is vir ernstige geestestoestande en is verslawend. Word in erge gevalle voorgeskryf. Ek het voorskrif vir ses maande gekry! Om daagliks te gebruik.

Ek het egter geweet die probleem was nie in my kop nie, ek moes elke vyf minute die toilet besoek. Dit was nie dat ek dink dat my maag seer is nie, dit was ‘n werklikheid. Daarvan kon my man getuig.

Dus is ek na ‘n internis toe. Sy het x-strale laat doen. Al die organe lyk goed, en daarom beveel sy ook aan dat ek die vorige dokter se medisyne verder drink. Spanning kan invloed op derms uitoefen. My enigste spanning was dat ek eendag wat eendag is in ‘n vreeslike verleentheid sou wees. Sy dink egter ek verbeel my! Vra sowaar uit oor my huwelik. En of dit ok is? En geldsake?

Wens mens kon jou geld terugeis as dokters nie die probleem kry nie. En dan maak of jy koekoes is omdat jy weet dat daar fout is. Jy leef met dit saam. Besoek die dokter eers as jy beter voel. Nie terwyl jy elke vyf sekondes in die badkamer moet wees nie.

Intussen het ek niks geëet as ons moet uitgaan nie. Op vliegtuie myself uitgehonger. Eerder as om ‘n onkeerbare nood te hê. Op ‘n plek waar die loods besluit wanneer ek mag gaan en wanneer nie.

Toe ons in Julie huis oppak, ontdek ek weer die kaartjie met kos waarvoor en weerstandigheid het, in die lessenaar se laai. Die keer besluit ek egter om die kennis te gebruik en die soorte kos uit te skakel. Want sien, wat het ek om te verloor?

Buitendien, is dit nie ‘n wetenskaplike feit dat ons bloedgroepe verskil nie? En dat chemiese reaksies in die liggaam gebeur wanneer kos verteer moet word nie? Dit is dan mos ook moontlik dat een mens se lyf melk kan verteer. En die ander mens s’n glad nie.

Dus skakel ek alles op die kaartjie van die Yorktest uit. Dit help egter nie veel nie. Na twee dae is die lus vir koffie met melk in oorweldigend. Aangesien ek steeds seer is en die gastro nie gestop het nie, drink ek weer melk. En eet ek die res van die ander goed.

Maar, die stemmetjie in my agterkop vra tog dat ek, wat so baie an navorsing hou, meer gaan uitvind oor melk. En weerstandigheid daarteen.

Aangesien ek in Qazaqstan sit, is dr Google, waarna dokters en dieetkundiges so snedig verwys, weer nader gehark. Om my te help om kennis te bou oor die probleem.

Was ek geskok om te lees dat laktose 21 dae neem om uit die gestel gewerk te word. Omdat my lyf nie die ensieme het om dit te verteer nie, word dit in die vetjies om my maag geberg. En daar het ek vetjies begin opbou, dus kon ek dit glo.

Een-en-twintig-dae! amper so lank soos mens vir jou eerste salaristjek as onderwyser wag. Dus weet jy wat alles in 21 dae kan gebeur. Dit voel so bietjie soos ‘n lewenslange vonnis.

Die dieetkundige op Groot Ontbyt het gisteraand haar onkunde behoorlik ten toon gestel. Volgens haar kan mens maar harde kaas en joghurt kan eet. En volroom melk drink. Die fermentasie proses het al 50% gevorder en jou lyf moet dus net vir die ander 50% sorg. Nou ja toe! Weerstandig beteken dat jou lyf nie die ensieme het om dit te verteer nie. Hoe baat dit jou dat 50% reeds gefermenteer is?

Gaan jy net vir ‘n korter tydperk siek voel? Is dit maar reg so om net vir ‘n kort rukkie siek te voel? As my lyf die kos teen die spoed van weerlig uitgooi omdat dit nie daar hoort nie? Ook die kos wat ek nodig het om van te leef? Is dit OK?

Volgens haar kan mens maar melk in jou koffie drink. As ek reg gehoor het, sê sy dat koppie melk per dag gedrink kan word. Of was dit 50 gram? Sy is verkeerd!

Nadat ek sommer so op Google gelees het, en gratis daarby, weet ek dat melk 21 dae vat om uit die gestel gewerk te word. Dus kan mens nie na een week besluit of melk probleem is, of nie. Sy ook nie. Veral as die mens voor haar steeds met die probleem sit nie. En dit is nie asof ons na dieetkundiges gaan as ons maag seer is nie?

Ek het vasgebyt. Gesukkel om melk, eiers en gis uit te sluit. Maar ek het ook so siek gevoel dat ek net moes toets. Dit het gehelp om van die 21 dae te weet. Dus kon ek oor ‘n langer tydperk toets.

Ek was egter moedeloos op ‘n stadium. Het later afteltoeps op my foon gesit. Omdat ek gereeld oor moes begin. Omdat daar room of mayonaise of kaas in my kos was wat ek in restaurante ingekry het.

Die gastro moes egter gestop word. Om weer my menswaardigheid terug te kry. Ek het oor begin, weer en weer en uitgehou. En is beloon.

Die gastro was na 21 dae van melk vermy weg. Die opgeblasendheid ook. Tydens die proses is ek sommer van my sjokolade-tand genees. Want sien, nou weet ek hoe lank dit vat om van die probleem ontslae te raak.

Buitendien. Ek het goed gevoel. Kon aan my maag vat. Van prikkelbare dermsimptoom was daar geen sprake nie. My lyf praat met my en beloon my wanneer ek luister. Ek ken haar beter as enige dokter of dieetkundige. En ek bou die kennis oor my geval, voel vere wat statistiek sê.

Toe raak ek mak. Waaghalsig. En eet ‘n muffin in ‘n restaurantjie.

Die gevolge was astronomies. Ons moes huis toe, die gastro was onmiddelik terug, skaars twee ure nadat ek geëet het.

Maar dit was kortstondig. Die opgeblasenheid en teerheid oor my maag het egter vir 20 dae geduur. Ek het swanger in my klere gelyk. En het baie siek gevoel.

Die 21ste oggend het ek opgestaan. En goed gevoel.

En nou wil ‘n dieetkundige in ‘n TV-program vir my vertel dat mens melk kan inkry, net nie te veel daarvan nie.

Ek wil vir haar vra hoeveel botter in een ou piepklein muffintjie was. En ek wil haar aanmoedig om in my lyf te klim. En haar teorie te toets. Sodat sy volgende keer nie vir Dr Google afmaak nie. En eerder op hom staatmaak om haar kennis te bou.

Feit is dat dokters en dieetkundiges nie alles op universiteit leer nie. Net soos ons onnies eers in die praktyk leer wat werk en wat nie. Ons foute kan ons egter regstel. Dokters kan nie.

Dokters kan ook gerus bietjie gaan loer wat dr Google te sê het. Veral as hulle pasiënte self navorsers is. Sodra ‘n dokter of dieetkundige meerderwarig sug en sê: dr Google het hy of sy my aandag verloor.

Ek het myself gratis, sonder om in die edelagbares se spreekkamers tussen siek mense te wag, reg gedokter. Met die raad, van mense wat soos ek gesukkel het. Mense wat van iepiekonders verdink is.

Mens moet tog daarvan bewus wees dat dokters en dieetkundiges nie superwesens is nie. Hoe kan daar geglo word dat hulle in die 30 minute wat hulle aan pasiënte afstaan, sal onthou wat hulle geleer het? as ek so na Google kyk, het baie siektes soortgelyke simptome. Hoe kan hulle seker wees hulle het die regte een gediagnoseer?

Ek het nog nie een dokter gekry wat my later die dag terugbel met: Christa, iets het my nou-net bygeval nie? Selfs nie eens as ek ‘n week later weer daar sit nie. As ek uitstap, is my saak afgehandel. Of ek gesond word. Of nie.

Juis daarom gaan mense na Dr Google toe. Daar word oplossings vir vele probleme gevind. Geskryf deur mense wat nie deur dokters gehelp kon word nie. Praktiese oplossings. Wat nie een enkele dokter voorgehou het nie. Lewensveranderende raad oor kos.

Kos. En die chemiese reaksies daarvan in die verteringstelsel word bloot deur dokters geïgnoreer.

So lank as wat ‘n dieetkundige sê jy kan maar eet wat jou lyf nie kan verteer nie, so lank sal mense soos ek siek voel. En selfs moed verloor.

Ek was daar. Ek weet.

Het vir my man gesê ek moet oopgesny en getoets word as ek doodgaan. Om ander mense se lewens te red. My probleem gaan nie gevind word nie.

Nou voel dit so onwerklik dat ek op daardie punt was. En ek sou steeds daar wees, as dit nie vir Dr Google en mense wat hulle raad gratis beskikbaar stel nie.

12 comments

  1. As hulle eers heppiepilletjies vir elke kwaal wil voorskryf. Dis elke diabeet se lot. Tot iemand eendag ontdek dat Metformin beter as Prozac werk. En dat ‘n kluit deur die brein eintlik beroerte is en nie oorwas-kristalle wat in die kop rondrol nie. Of dat adenoids nie in die ken sit nie. Wit, Afrikaans en gestetoskoop. Maar weet hulle wat hulle doen? Don’t get me started……

    Like

  2. Ek raadpleeg ook gereeld vir Dr Google, gewoonlik in verband met gesonde dieet- en oefenprogramme. Ek wens daar was ‘n Dr Google in my jonger dae – ek sou myself heelwat nagmerries en tandeknersery gespaar het.

    Like

  3. Die mediesewetenskap, is nog maar baie onkundig en ook is daar skelms, wat net wil geld maak. Ek plaas nou ‘n stuk oor kolestrol. https://www.youtube.com/watch?v=zjqQKwArBtc Ek het al geskryf oor my gluten probleem, wat ek nie gehad het nie, sê daardie allergietoets, ja, vir my, is dit ‘n allergie. Simptoom, lae bloeddruk en verhoogde hartklop.Na 4 EKG’s, wat wys dat my hart normaal is en pille, raadpleeg ek dr Google. 9 simptome, van gluten weerstandigheid. en nommer 9, is my probleem. gelukkig, het ek intussen, agtergekom, dat so ‘n halwe teelepel koeksoda, die probleem, in 20 minute, verwyder. Ek vermy daardie gif, saam met suiker en weeg dieselfde as in matriek. Dankie dokter, maar die statins, vir die effe hoë kolestrol, sal ek nie gebruik nie, want jy kry kommisie daarop.

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.