Gepubliseer in Joernaal

Jok jy, Ouma?

Kyk, ek vind dit soms moeilik om ouma te wees, veral as die kleinkinders spesifieke versoeke rig. Want dan moet ek ook die ouers se idees oor kos en soetgoed in ag neem.

So kuier kleinste kleinkind gister by my. Hy is siek, Seun het gevra of ek dalk na hom kan kyk, hy het werk. Natuurlik verstaan ek dat pappa nie kan werk as kleinkind om sy voete is nie, want glo my, hierdie kleinkind soek my volle aandag as hy by my kuier.

‘n Probleem met hom is dat hy nie eet as hy siek is nie, dus wil ek graag vir hom kos gee waarvan ek weet hy hou, maar wat ook die goedkeuring van sy ouers gaan wegdra.

Nadat ek verskeie goed opgenoem het, besluit ek op Sprinkels Pap, die kos wat hierdie ouma vir hom ontwikkel het. Dit werk so. Ek maak stywe pap, dan skep ek dit met ‘n teelepel in bytgrootte balletjies op sy bord. Daarna sprinkel en Sprinkles (vir koek) daaroor. Sprinkle Pap.

My kleinste potjie is by die rivier, daarom maak ek die pap gelukkig in ‘n medium grootte pot. Want die mannetjie kyk te lekker terwyl ek en hy Sonic op Netflix kyk. En hy vra toe ‘n tweede bord pap en ‘n derde een.

Ek het soetgoed in ag geneem, dus het ek met die tweede bord minder Sprinkels gestrooi, maar hy het my daarop gewys. Daar moet oor in die middel van die sirkel wees. Toe hy die derde bord kos vra, sprinkel ek nog minder op, maar ek onthou dat daar in die middel moet wees.

Toe kyk die mannetjie my so, en vra of hy nog Sprinkels kan kry, daar is darem nou heeltemal te min op sy pap.

Ouma jok maar so oortuigend ek kan dat dit klaar is, net om te sien hoe hy sy koppie skeef draai en vra: “Jok jy, Ouma?”

Ek is regtig jammer, maar daar is geen manier waarop ek ‘n jok met ‘n jok gaan bevestig nie. Toe erken ek maar dat daar bietjie oor is, gaan haal dit, wys vir hom daar is bietjie en dat ek net bietjie kan strooi anders is daar niks vir volgende keer nie!

Ek geniet die kind vreeslik baie en verstaan heeltemal waarom kleinkinders ouer mense gesond hou. My brein moet oortyd werk …

Unknown's avatar

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

10 gedagtes oor “Jok jy, Ouma?

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.