Gepubliseer in Akademies,Joernaal

LitNet Akademies se adviesraad

Verlede week kry ek ‘n e-pos wat my terselfdertyd geskok en ontsettend geëerd laat voel het.

Geskok omdat ek nie in my wildste drome gedink het dat ek genooi sou word om op ‘n vaktydskrif se adviesraad te dien nie. En beslis nie LitNet se adviesraad vir opvoedkunde nie.

Ek het die e-pos gelees, besluit dat hallusineer en slaap dringend nodig het. Die volgende dag weer oopgemaak en gelees. Dit is steeds so, ek moet ‘n antwoord.

Geëerd omdat ek dink dat LitNet een van die beste Suid-Afrikaanse vaktydskrifte is. Ek wil eintlik skryf die beste. Vir my altans. Hulle bevorder die publikasie van Afrikaanse navorsing. Ek probeer om ten minste twee keer per jaar in LitNet te publiseer.

LitNet is professioneel, die hele proses is professioneel en ek tree ook dikwels as eweknie-evalueerder vir LitNet op. Ek geniet die prosesse, van self skryf tot ander se werk beoordeel.

Daar voel ek beslis geëerd om op die adviesraad te dien.

Die skoene voel net so bietjie te groot vir my. Maar mens groei mos in jou skoene in of hoe?

Dus het ek gewik en weeg. Moet ek aanvaar of moet ek nie?

En toe besluit ek om die uitnodiging te aanvaar. Want ek weet nie of mens so ‘n uitnodiging baie kere in jou loopbaan kry nie.

Vandag kry ek die e-pos van die vaktydskrif, ek kan op die skakel kliek om te sien dat my naam by die lys van name gevoeg is. En dit doen ek toe sommer dadelik. Om ‘n warm gevoel om my hart te kry toe ek my naam raaklees.

Skuus, ek moet bieg, ek het geen ander name raakgelees nie, behalwe natuurlik die lede wat aan die hoof van die raad staan.

Skakel na die adviesraad se name op LitNet.

Vir nou is ek dankbaar dat my werk raakgesien en waardeer word. Dat ek goed genoeg geag word om te kan help en insette te lewer.

Die Here is goed vir my.

Ek is verlede jaar genooi om as gasredakteur op die redaksie van ‘n spesiale uitgawe van ‘n internasionale vaktydskrif te dien. Dit was net so ‘n groot eer, daar is ons tans besig om die artikels vir plasing te keur. Ek stres altyd as ek so ‘n taak moet verrig. Ek sal nog iewers daarvan vertel. Het die warm gevoel toe ook gekry toe ek my naam op die lys van redakteurs raaklees toe die brief uitgestuur is om navorsers te nooi om hulle werk in te stuur vir beoordeling