Ek dreig lankal om mooi foto’s van Öskemen dam te deel. Dit voel soos Harties se dam, maar die water is skoon. Ruik nie soos daardie groen plante nie, kan selfs na vis ruik. Ons was skaars hier toe ons daarheen geneem is vir ‘n spanbouoefening.

En hierdie dam hou ‘n wêreldrekord. Moeilik om al die inligting te kry, daar is te min daaroor. Maar ek vertel soos ek kon kry, met my eie foto’s.
Die pad na die dam kronkel nogal ver langs Irtysh bergop. Dit is reg, bergop! Die dam se vlak is baie hoër as die van die rivier. Die pad loop dood by ‘n bushalte net nadat mens by die damwal verby is waar busse mense op- en aflaai om op bote te klim of weer stad toe te gaan.

Aan die water se kant is daar ‘n geel boothalte, waar mense wag om per boot oorgeneem te word oor die dam geneem te word.

Hier is absoluut niks anders by die hawe nie. Ek kan nogal dink dat dit in Suid-Afrika beslis in ‘n toeriste-trekpleister verander sou word.

Met ten minste een lekker restaurant. Maar dan moet mens ook onthou dat Öskemen ‘n werkende stad is. En dat die dam in die winter nie gebruik word om na somershuise aan die oorkant te gaan nie.

Sommige van die bote is baie groot en lyk of hulle lank geanker staan. Hier het manlief my laat poseer vir ‘n foto.

Hierdie foto het my aan die oefen gekry. Ek kla dat dit die hoek is waarteen hy die foto’s neem, maar nou stap ek weer elke dag om die lyf in beheer te kry. By die hawe kan mens onderhandel om vir ‘n toer van die dam geneem te word, vir 5000 tenges vir twee mense, wat tans minder as R200 is.

Die bootjies gee natuurlik die idee van vakansie. En speel ook lekker musiek wat ver gehoor kan word. Het ek al vertel dat ek baie tuis in Qazaqstan voel? Hulle musiek klink soos boeremusiek. Afrikaanse musiek. Ons spanbou was by hierdie soort van eilandjie wat aan die regterkant van die foto gesien kan word. Dit was besonder lekker, die twee plekke daar kan gehuur word vir kuiers en troues. Ek sal nog daarvan vertel.

Dit was eintlik toe ons die middag na die spanbou per boot teruggeneem is, dat ons gehoor het van die damwal. En dat bote op ‘n manier van die hoër damvlak na die laer riviervlak geneem word. Ek wou natuurlik dadelik foto’s neem, maar ons was saam met ander mense en karloos. Dus moes manlief my terugneem vir foto’s vir hierdie vertelling.
Intussen het ek meer oor die dam gaan uitvind en weer gaan foto’s neem. Die damwal is 40 m hoog en dien as plek waar hidro-elektriese krag opgewek word en as rivier slot (river lock). Ek vertel ondertoe meer van die rivierslot. Ek vertel eers meer oor die deel waar krag verwek word, naamlik die verste deel van die wal op hierdie foto, onder die groen pilare. Omdat ek gedink het dat dit die rivierslot is.

Die hidro-elektriese stasie is in 1959 voltooi as my inligting reg is. Aan die rivier se kant staan hierdie kragsentrale op die oewers van die Irtyshrivier.

Hierdie foto van die kragopwekkerdeel van die damwal is van die hawe se kant af geneem.

Die vier gate bestaan uit vier vierkantige damme waar, as ek reg verstaan, die water opgedam word om oor die wal te stort om krag op te wek.

Hierdie damme word eenhede genoem, sien ek op Wikipedia. Dit is juis hierdie deel van die damwal wat veroorsaak het dat een van my man se kollegas my van die ander deel van die damwal vertel het, naamlik die rivierslot (river lock). Hy het van drie vlakke gepraat en ek het gedink dit is die gate vir die bote. Toe nie.
Aan die dam se kant van die damwal is ‘n baie lang hangende voetbrug waaroor mens kan loop om na die ander kant van die dam geneem te word. Maar ook om verskillende dele van die damwal te bewonder.

Ons het ‘n hele paar keer gaan staan om foto’s te neem. Ek het so vir my man gelag oor hierdie manier waarop hy buk om foto’s te neem. Sy knie werk nog nie so lekker saam nie, maar dit is darem nou eers vier maande na die groot operasie. Ek neem aan dit is ‘n goeie buig vir sy rug …

Die deel van die damwal naaste aan die kyker op hierdie foto is die rivierslot.

‘n Rivierslot word gebou om twee dele van ‘n rivier te verbind om bootverkeer moontlik te maak waar ‘n deel van die rivier hoër as die ander deel is. Hierdie rivierslot is die hoogste werkende slot in die wêreld. Sjina het een wat ook so hoog is, maar wat uit vyf vlakke bestaan, waarvan net drie gereeld werk. Hierdie een bestaan uit drie vlakke en werk gereeld. Ek weet nie presies hoe dit werk nie, maar soos ek verstaan word water in en uit die vlakke gepomp om die boot te laat sak en weer na die damvlak te bring.
Van die dam se kant af, lyk dit indrukwekkend, met die twee hoë pilare. Ek sien nou eers op die foto hoe hoog in die lug ons oor hierdie deel van die damwal gestap het. Ek kon die hele tyd nie verstaan hoe ‘n boot onderdeur die brug kon kom nie.

Hierdie foto is van daar bo geneem. Ek weet sowaar nie of ek in ‘n boot hier bo wil wees, met die wete dat daar aan die ander kant van hierdie blok water ‘n afgrond is wat 40 m hoog is nie. But such is life, die mense doen dit.

Skepe kom anderkant hierdie drywende vlot na die gaping wat hulle na onder sal neem. Vir meer foto’s, kyk gerus hier.

Aan die ander kant van die dam, vaar die bote dan in hierdie mensgemaakte kanaal af.

Om by die Irtysh aan te sluit.

Verrassend hoeveel mens leer, as jy net luister wat die locals vertel en dan self verder gaan ondersoek instel. Dit sou nogal lekker wees om ‘n toerleier te kry, maar dan kan mens nie so op jou eie foto’s neem nie.
I thought the same thing, some nice restaurant would be such a good idea. The view is beautiful
LikeLike
I should actually have said that I agree with you. There should be something special there.
LikeLike
Dit was nou baie interessant. Baie dankie vir die deel en foto’s. Ek en ma het geniet om saam jou te kuier. 😀
LikeLike
Dankie Rambo. Raai wat?
LikeLiked by 1 person
O nee, ek kan glad nie raai nie. Vertel! 😀
LikeLike
Ek sien my Miniatuur Schnauzers oor bietjie meer as een week. Ek is superopgewonde.
LikeLiked by 1 person
Haai, dis goeie nuus! Ek kan my voorstel hoe opgewonde jy is en hulle gaan jou opvreet van liefde. 😀
LikeLike
En ek vir hulle!verlang my dood na hulle.
LikeLiked by 1 person
Ek sal jou glo! My ma sal doodgaan sonder my. 😀
LikeLike
Ek ook, maar leef om hulle weer te kan vashou.
LikeLiked by 1 person
Jy gaan een van die dae. Soen hulle sommer vir ons part ook. 😘
LikeLike
Maak so, lekker warm drukkie vir jou.
LikeLiked by 1 person
Baie dankie. 😘💕
LikeLiked by 1 person
Dankie vir die lekker saamry. Damme is my ding, beide oupas het die goed gebou. Erfenisdam, Fernkloof by Hermanus, Theewater was Oupa Piet se idee waaraan hy lank met DR Eben Dönges gewerk het. Damwalle is avontuur van binne, mits dit vol tonnels gebou is.
LikeLike
A! Ek is dankbaar
LikeLike
🌹
LikeLike