Ek het nooit nuwejaarsvoorneme nie, maar ek wens myself ook nie ‘n mal jaar toe nie. Wel, ek gaan so stuk vir stuk neerpen, so kom ons begin by 1 Januarie 2025.
Ons Desembervakansie (16 Desember tot 2 januarie 2024) was baie, baie onaangenaam. Ons huis is langs die Jongensfonteinpad, en mense het soos mal hase op die pad gejaag. Ek was eintlik dankbaar oor die groot brande wat die Jongensfonteiners in Jongensfontein vasgekeer het. En die wat op pad terug was, in lang rye laat staan het voor verkeer kon vloei. Dit was salig – die geraas was weg.
Die gedeelte waar ons huis is, is dorpsgebied. Motors moet 60 km/h ry. Hulle ry dit nie en geen verkeersmanne kom hulle vang nie. Die vakansiegangers kan maak net wat hulle wil. Ek verstaan nou eers waarom die inwoners min goeds oor vakansiegangers te sê het.
Daar is ‘n disko verder op in die Jongensfonteinpad, en ons is genadiglik die lawaai van musiek gespaar. Daar was ook elke aand ‘n sokkie in Jongensfontein by die karavaanpark. Dit het bygedra dat motors vanaf 11 uur die nag tot drie-uur die volgende dag die Jongensfonteinpad as renbaan beskou het. Mens kan nie slaap nie, dit klink soos vliegtuie wat op die huis afpeil.
Die 29ste was ek verby kwaad. Toe staan ek op die stoep en mik mooi wanneer ‘n kar oorkant my huis moet wees. Om ‘n flash foto te neem. Dit was ten minste lekker om te sien hoe hulle rem en aankruip verder. Ek sit en lag oor mense wat wag vir verkeersboetes in die pos.
Die 30ste het ek die polisie gebel. Haal hulle van die pad af. Jaag/dronk/tronk. Niks het gebeur nie.
Die 31ste het ek die verkeersdepartement in Riversdal gebel. Kom maak asseblief geld. Groot boetes, dronk bestuurders, tronk. Met sake wat eers na vakansiedae aangehoor kan word. Deur die oggend het die malles steeds gejaag, en toe vra ek manlief of ons huis toe kan gaan. Ek het rus nodig, mens kan nie bedags of snags slaap nie.
Ons sou die 5de begin terug ry, manlief het al begin vra of ons die 3de kan terugkom. Ek wou sommer dadelik ry, die 2de tot by die rivier, oorslaap, ry die 3de terug Centurion toe.
Ek het die 1ste gestaan en huis skoonmaak, klaar gepak. Ek wil huis toe. Manlief het die lang waentjie gepak, baie lig, goed wat rivier toe moet gaan. Toe kom roep hy my om my lewe in een oogwink in ‘n nagmerrie te verander.
Die oprit na die garage is steil, en dan is die straat ook steil na die onderkant toe. Ons bly redelik hoog teen die koppie. Ek moes die klippe voor die wiele wegvat, maar wou eers weet of dit veilig is. Ek is al deur ‘n boot wat met hom weggehardloop het. Het daardie dag jare ouer geword.
Die oprit na die garage was steil, maar mens moet skerp draai om by die hek uit te gaan. Toe ek die klip wegvat, hol die boot met manlief agterna weg. Hy het dit geswaai deur die hek, hy en die boot is oor die straat wat genadiglik geen verkeer gehad het nie. Ek is agterna. Hy het die boot geswaai, net voordat dit die elektriese boks oorkant die straat tref, en weer geswaai om nie verder straat af te hardloop nie. Die erf langs ons huis was oop, geen muur en daar het die boot tot stilstand gekoefm. Met manlief wat die grootste sweetdruppels gedrup het wat ek al gesien het. Ons was gelukkig, ons is beskerm. Ons is gered. Hy het die boot onlangs verkoop sonder dat dit OOIT weer teen ‘n skuinste staangemaak is …
Toe ek die 1ste die tweede klip wegvat, hol die waentjie met manlief weg, hierdie keer voor die weghardloopding. Hy het iets geskree, ek dog hy sê sit die klip op die modderskerm, hy het blykbaar geskree ek moet klip terug sit!
Ek is weereens agterna, maar die keer kon ek nie sien dat manlief veilig is nie. Die stoele op die waentjie het my sig versper. Die waentjie het oor die lengte van ons erf gehardloop, en spoed gekry. Toe swaai dit terug na die erf toe, wat gelukkig nie omhein is nie en val met een massiewe slag vas.
Ek wou nie om die waentjie gaan nie, ek het gevries in tyd. Die tannie langsaan se seun en skoondogter en sy het uit die garage gekom, hulle pak om te trek. Ek het eers gevra of my man reg is, want ek sou dit so wraggies nie kon bekyk as hy vergruis was nie. Dit was ‘n verskriklike slag.
Hy was op die grond, maar soort van reg. Sy voet was baie seer, maar hy het opgestaan en ons kon die skade bekyk. Die wieletjie het in die sand onder die gras vasgeslaan, en morsaf gebreek en die waentjie het die verkoopbordjie omgery.
Ons het ook besef hoe die Here hom beskerm het. Hy het daarin geslaag om die waentjie te swaai en te stop, hy het ligpaal en nog ‘n paal gemis, hy het sentimeters vanaf die tannie se kar gestop, hy het die groot vullis yster ding wat neergesit is, gemis.
Hy het opgestaan, die bakkie gaan haal, die waentjie gehaak en in die erf in agteruit gestoot. Iets wat hy van die begin af moes doen.
Hy wou nie dokter toe nie. Sy regtervoet was effens blou aan die buitekant. Daar was basies geen skrapies aan die man se been of lyf nie. Deur die nag het die voet erg geswel, maar hy het gesê hy is ok, ons ry huis toe. Voet in skoen geprop en so het ons 14 ure tot by Bothaville gery, waentjie afgehaak en sommer in stoor gelos. My man was baie vies vir die waentjie. Ons het die volgende oggend huis toe gekom, met my wat langs die pad die dokter bel en afspraak maak. Net om seker te maak hy is ok.
Hy is toe nie, die voet is gebreek! Die been tussen de hak en kleintoontjie van regtervoet het lelike skuins breuk. En hy wou my nie een keer laat bestuur nie, al het ek gesien hoe hy die regtervoet op die linkervoet rus. So moet hy ‘n maanstewel dra, maar na een week loop hy op die voet. Dit is volgens hom gesond, sy knie kry te seer met die skoen. Dit is nou die een wat volledige knievervanging gekry het.
Een werk en een maand later wys beide X-strale dat been nog nie vasgegroei het nie. Ons sien Vrydag ‘n ortopeet …
So twee weke in Januarie in tref die ongeluk my ouers en skuif ek manlief op die agtergrond … Ek vertel volgende keer van maller 2025!
sterkte vir 2025!
LikeLike
Dankie vriendin, jy sal verstaan hoe erg die jaar is as ek vertel van die episode met my pa.
LikeLiked by 1 person
Ek het ‘n fobie oor skuinstes. Julle dramas bevestig dit. Vertrou die ortopeed gaan kan help!
LikeLiked by 1 person
Ek ook, veral na die boot episode. Na hierdie een dink ek manlief sal ook nie weer teen ‘n skuinste probeer ysterman speel nie. Dit is so klein besering, ek vries nog soms as ek dink aan wat ek aan die anderkant van die waentjie verwag het.
LikeLike
Sjoe, Amanda, ek stem. Ek het ook nou fobie, sommer as ek my kar teen skuinste moet parkeer ook.
LikeLike
Shoe dis nou ‘n nare vakansietyd en ‘n gevaarlike ondervinding met daardie sleepwaentjie. Dis verstaanbaar hoekom baie mense nie van sleepwaentjies hou nie. Sterkte met jou man se voet en julle komende doktersbesoek.
LikeLike
Baie dankie, Vuurslag, my senuwees is behoorlik aan flarde, die jaar het die een besering na die ander. Ek waardeer.
LikeLike
Christa, terwyl ek bly is om weereens van jou te hoor, voel ek jammer oor wat met julle gebeur het. Ek hoop jou man se voet sal gou regkom and dat die res van die jaar vir julle beter sal wees!
LikeLiked by 1 person
Baie dankie, Anne, ek stres my behoorlik op oor die voet. Ons sien Vrydag ‘n spesialis om te hoor wat gedoen kan word omdat dit nie aangroei nie. Hoe gaan dit met jou? Ek moet opvang.
LikeLiked by 1 person
Baie dankie,Anne. Dit gaan beter
LikeLike
Liewe aarde Christa!!! Jul het die jaar omtrent met n bang ingegaan! Sjoe, so voet is n bogger!. En daai opvolg klink onheilspellend!😍
LikeLiked by 1 person