Gepubliseer in Joernaal

Die nut van ‘n onderlaag (‘primer’)

Ek net my naels op ‘n tyd laat doen, en dit was lekker. Baie duur, maar lekker.

Die naels het lank gehou en wanneer dit uitgegroei het, het ek eers steentjies daar laat insit en die volgende keer eers weer naels laat afhaal en oordoen. Dit was ook geselstyd met my vriendin, sy doen naels vanaf haar huis.

Daar was egter twee goed wat gepla het, naamlik dat my naels baie dun geword het en dan die stof van die naels wat afgeskuur word as dit die dag verwyder moet word. Ek het amper flou heword van asem inhou, die goed wou ek nie inasem nie.

My naels het so dun geraak dat dit soos dun papier geskeur het sodra dit langer as die tip van my vinger was. Toe hou ek net op, al was manlief baie erg oor die mooi naels van sy vrou.

Maar, dit was aanvanklik ook die einde van mooi naels. Gewone naellak hou net nie. As ek weer sien, is dit afgedop, afgesplinter, te aaklig vir woorde. Dus het ek sommer ook opgehou om naellak aan te sit. Eerder daarsonder as met naels wat lyk asof ek myself verwaarloos omdat dit afskilfer.

Intussen het my naels lekker lank en dik geword, ek moet gedurig afvyl. Veral as ek nie meer die knoppies op my foon gemaklik kan druk nie. Of, as dit ‘n vreesaanjaende gevoel is as ek die toilet se knoppie moet indruk. As my nael omdop en knak sal my hart dit net nie hou nie. Dit is maklik een van die pynlikste ervarings.

Met die lang naels kom die lus om naellak te gebruik, en die irritasie met naels wat afdop. Tog is is lus vir mooi gekleurde naels. By die Sally Hansen rakkie trek ‘n bottel deurskynende lak my aandag. Primer – of onderlaag. My verf op kaste hou mooi met ‘n primer, dus koop ek die duur botteltjie saam met ‘n pienk naellak en ‘n blinkertjie bolaag.

Maklik die beste kopie van my lewe – die onderlaag van Sally Hansen vir naellak. Die punte skilfer nie af nie, die kleur groei net soos in die geval van gedoende naels uit. Intussen het ek goedkoop naellak ook probeer, die onderlaag hou dit netjies vas aan my naels tot ek besluit ek is moeg, ek wil ander kleur gebruik.

Iewers in my lewe het ek – na die naelsdoenery – ook geplakte naels probeer. Dit is mooi, maar hou nie. As een eers afkom, moet ek alles afhaal. En los ek dit sommer uit.

Tans geniet ek my mooi naels sommer baie. Ek kyk gereeld of dit afdop, maar dit plak, danksy Sally Hansen se onderlaag.

Ek raak selfs weer waaghalsig met kleur. My gunsteling is bloedrooi, maar ek hou nou nogal van pienke. Tans dra ek die rooskleur van Esence, maar ek het ook die papaja kleur gekoop. Dra dit op die oomblik sonder ‘n bolaag! Die goedkoop naellak hou goed, as gevolg van die onderlaag. Die kleur is mooier as wat dit in bottel vertoon, sin foto onder.

Ek hou nie van faf nie, hou nie eintlik daarvan as ander aan my raak, te na aan my in my spasie is nie. Dus het ek twee vaardighede aangeleer, naamlik 1) om my eie naels te doen en 2) om my eie hare te sny. Laasgenoemde is die lekkerste vaardigheid. Behalwe toe ek bitterjonk was, toe ek ‘n haarkapster in Welkom gekry het wat my hare kan sny, was ek nog nooit in my lewe met ‘n sny tevrede nie.

Ek stap in en gee prentjie en ek loop uit soos wat die haarkapster dink ek moet lyk. Dan kom hulle met storie dat ek nie sulke en sulke hare het nie, daarom lyk dit anders aan my. Wel, hierdie vaardigheid om my eie hare te sny, is ‘n goeie een. As ek nie van die styl hou nie, kan ek net vir myself kwaad wees, sonder ‘n baie diep gat in my sak.

Het jy dit al probeer? Jou eie hare gesny? Dit is ‘n interessante belewenis! Mens moet basies die teenoorgestelde doen van wat jy in die spieël sien. En as jy nie doen nie, sny jy verkeerd, of dalk ‘n hap in.

Dit pla my nie, ek leef maklik daarmee saam dat ek die hap gesny het, dit groei mos weer uit. Dit gebeur egter bitter min, gewoonlik is ek heel tevrede met my werk …

Sal ek dit oorweeg om ander se hare te sny?

Nee, ek verwys na die rede waarom ek self sny. Ek is dan te na aan die persoon wie se hare ek moet sny. Ek sny manlief s’n, maar niemand anders se hare nie. Hy hoort in my spasie …

Die naels hou so week, dan haal ek af om met ander kleur te eksperimenteer. Ek het selfs Franse naels gedoen, deurskynend met wit tippies. Die naellak word afgehaal en opgesit terwyl ek sepies kyk. Niks wat my aanjaag nie …

O ja, dit word mooi en maklik en vinnig droog.

Unknown's avatar

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.