Gepubliseer in Reisjoernaal

Die Russe (Qazaqs) sal ek nie verstaan nie

Na vier maande in Ust-Kamenogorsk, Qazaqstan. is daar ‘n paar goed van die Russe/Qazaqs wat ek nie verstaan nie. Sommiges frustreer my, ander pla my en nog ander sou ek net wou verstaan. Hier is ‘n paar.

Fyn taaletiket versus onbeskof

Een van die opvallendste dinge is die fyn etiket in die taal waarop hulle so trots is en waarop hulle aandring. Dit klop nie met die ongeskiktheid op straat nie.

As jy nie by ‘n toonbank jou stem dik maak en dadelik bestel nie, druk hulle voor jou in. En selfs al maak jy jou lyf groot omdat dit jou beurt is, word ‘n hand van agter oor jou skouers gesteek, goed in Russies gebrabbel en word die persoon voor jou gehelp.

Noudat ek dit skryf, dink ek juis daaraan dat dit die rede is waarom ek nie van Emsie Schoeman hou nie. Sy leef nie haar etiket uit nie. In haar boeke skryf sy oor etiket, hoe fyntjies mens moet wees. In die werklike lewe het sy haar hand bo-oor my haarkapster sus se kop gedruk en aangedring om voor haar gehelp te word. Al was my sus se tyd ook beperk. Omdat sy nog jonk was en by haar werk terug moes wees.

Toe Emsie dus preek dat dit nie etiket is om wit skoene te dra nie, is ek winkels toe om vir my wittes te koop. Want watter ander kleur lyk so mooi soos wit skoene by ‘n wit rok? Blykbaar laat dit mens se voete groter lyk. Rooi of swart by wit is egter nie vir my mooi nie. Ek dra graag wit skoene. Wat my natuurlik weer by die Russe bring.

Hulle dring op etiket in taalgebruik aan. Hulle praat sag as hulle groet. Dit is te verstane. Mens kan nie hard praat as mens moet groet met Zdrastwietjê nie. Of jammer sê met Iezwinietjê nie. Of groet met dezwiedanje nie. Probeer, dit werk nie. Dié woorde word sag en mooi gesê.

En leer hulle die taal vir jou aan, is daar vir alles die common manier en die polite manier. Soos om met priwiet te groet as jy die mense ken, maar met zdrastwietjê as jy hulle nie ken nie, omdat dit polite is!

Polite is hulle egter nie op straat nie. Ongeskik is ‘n raak beskrywing. Hulle loop nie aan ‘n spesifieke kant van die pad nie. En gee nie pad as hulle aangestap kom nie. Onthou, almal loop hier.

Hou ek links, kom hulle op my afgestap. Hou ek regs, doen hulle dit ook. En ek kan kies. Ek gee pad of ek word omgeloop. Twyfel ek of ek omgeloop sal word? Glad nie.

Die ander dag loop ek en ‘n vrou skuins oor die pad. En ek besef dat ons mekaar gaan raakloop as ek nie die hoek van my skuinsloop verander nie. En ek besluit om my teorie te toets. Sy wyk nie, ek ook nie. En toe ons paaie sny, gly haar bloes se mou teen my ontblote arm.

Dit was onaangenaam. Om so naby aan ‘n vreemdeling te wees dat haar klere aan my raak. Dus loop ek maar weer sigsag as ek stap. Links as dié van voor aan my kant hou en andersom. Om nie omgeloop te word nie. Pas dit miskien by die fyn etiket wat in die taal belangrik is?

Toiletpapier gebruike

‘n Ander ding wat ek nie kan klein kry nie, is dat hulle nie toiletpapiet afspoel nie, maar in ‘n emmer langs die toilet gooi.

Die papier lê wel gewoonlik met die skoon kant na bo, maar ek het al ingestap en meer as die afvee van nommer 1 en 2 gesien. Jonger vrouens sal verstaan wat ek bedoel. En iemand moet daai emmers leegmaak.

Genade tog, behoede my as iemand van my verwag om sulke oop asblikke leeg te maak.

Ek vra maar nie uit oor die gebruik nie. Neem aan dit het iets met die rioolstelsels te doen. Of tradisie? En spoel my papier weg. In simpatie met dié wat moet skoonmaak.

As ek vir jou ongevoelig klink, onthou net asseblief dat baie toilette nog ‘n gat in die grond is. In winkels ook. En daai asblikke is dan neushoogte.

Soorte toiletpapier

Hier kry mens nie sommer enkel en dubbellaagpapier te koop nie. Mens kry wel ‘n enkellaag een wat soos kreukelpapier lyk en voel.

Met baie, baie blokkies papier op. Dit het nie eens ‘n rolletjie in die middel nie. Ons koop dit nie. Dit voel onaangenaam grof.

Hulle gebruik 3-laag en4-laag papier. Selfs in goeie winkels se toilette. Jy het reg gelees! En dit lekker ruik heerlik. Voel sag. En het dikwels ingeboude roompies. My gunsteling is Selpak. Die geure is seker maar om die reuke in die asblikke te probeer verdoof?

Wat my by ‘n ander punt bring. Volgens manlief stink die toilette aan die mans se kant as gevolg van die papier in die asblik. Aan ons kant is dit wat jy sien onaangenaam. Daar is egter nie reuke nie. Behalwe in die longdrops. Waarvan ek al vertel het. En daardie toilette word deur mans en vrouens gebruik.

Dit laat my dink aan ‘n gesegde wat soms gebruik word. Dat vrouens dink dat hulle laventel uitlaat as ‘n windjie uitglip. Hier is dit dalk net waar. Die toilette is regtig reukloos, ten spyte van wat mens sien.

Ongeduld in motors versus geduld met voetgangers

Die een kan ek so bietjie verstaan. Motors moet vir voetoorgangers stop. Wat beteken dat hulle stop terwyl ek nog na die kruising aangestap kom. Dan vermeerder ek maar spoed. Om hulle nie te lank te laat wag nie. Dit is seker goeie oefening, die stadig stap en versnelde pas oor die strate.

Ek kom egter van Johannesburg. Vertrou nie dat mense gaan stop nie. Al het ek baie lank in Welkom gewoon. Waar voetgangers oor voorrang gehad het.

Dus kyk ek links en regs en links voor ek oorstap. En mens moet tog in gedagte hou dat dit hier verkeerd is. Mens moet seker regs, links, regs kyk, want die kar wat jou plat kan ry, is aan jou linkerkant. Die kant wat nie so baie aandag kry nie.

My een expat vriendin het my hart amper laat staan toe ek een keer saam met haar gestap het. Sy stap net. Motors moet vir haar stop.

Wat my aan ons leerders by Welkom High laat dink. Ek weet nie of dit in die swart woonbuurte ook die gebruik is nie, maar hulle stap mos net oor. Ons het patrollie vir hulle gereël na skool om oor die dubbele pad agter die hokkiegronde te stap. Omdat mense gewaarsku het dat hulle nog doodgery gaan word.

En toe stap hulle steeds op onbewaakte plekke oor. Toe ek in die klas raas, sê hulle vir my dat karre vir hulle moet stop. En ek vra toe of hulle regtig dink hulle lywe is harder as ‘n kar as die bestuurder hulle nie sou sien nie.

Self wil ek nie omgery word nie. Ek dink nie ek gaan so grasieus soos Pink Panther teen die neus van die bus afgly nie. Ek wil nie eens dink hoe ek dink dit sal lyk nie. Weet net dat dit geweldadig sal wees. Maak dus eerder seker dat ek die straat veilig kan kruis.

Dié woord bring my weer by juffrou Louwrens, wat vir my Biologie in Ermelo hoërskool gegee het. Snaaks hoe ‘n juffrou se woorde in ‘n kind se kop bly vassteek.

Ons het oor voortplanting geleer en gene. En die woord kruis word dan mos in ‘n ander konteks gebruik. En toe lag sy en sê die bordjies by die ouetehuis interesseer haar elke keer. Daai waarop staan: Pasop, oumense kruis hier. Ek wonder steeds oor daardie bordjies.

Vir dom mede-padgebruikers het hulle egter nie tyd nie. Van die eerste woorde wat ek uit my man se Russiese medewerker se mond gehoor het, is imbesiel!

Effens anders uitgespreek. Maar beslis imbesiel! Ons imbesiel!

Hulle druk toeters vinnig en maklik. Vir ander bestuurders. Vir voetgangers? Nooit! Sal in elk geval nie eers help nie, dié loop sonder om links of regs te kyk oor strate. In die salige geloof dat daar vir hulle gestop gaan word. Al is dit pikgietswartnag om hulle. Met ja, jy het reg geraai, swart klere aan. Net soos ons Suid-Afrikaanse voetgangers.

Hier is jy egter in baie, baie, baie groot moeilikheid as jy ‘n voetganger raakry. Dus is mens se oog op die pad. En op voetgangers. Hier wil ek nie bestuur nie …

Opvoeding oor rokkies en klere op straat

My vriendin Mia vertel gister vir my dat sy vir haar poplap ‘n rokkie aangetrek het skool toe. Met die gewone onderkleertjies. En toe word sy ingeroep en met Russies en gebaretaal verduidelik dat dit onaanvaarbaar is.

So: met hande wat maak of dit aan die soom van ‘n rompie vat, verduidelik sy dat rompies opwaai. En wat sien mens dan? En met hande wat wys asof sy van ‘n glyplank afgaan, wys sy ook weer die soompie een om te verduidelik dat rompies opwaai. En wat sien mens dan? En dan sê sy nee, daar moet shorties onder rokkies wees. Om die nodige mooi toe te maak. Nodeloos om te sê, sy moes toe winkels toe om kort broekies vir elke rokkie te koop.

Dit laat my nou sommer aan my eie dolla se kinderdae dink. Sy het kort skipants onder haar skoolrokkies gedra. Om saam met die seuns te kan speel. Wonder of ‘n juffrou daar ook dié raad gegee het?

Dit lyk egter of sommige van die meisies hier nooit op skool was nie. Die rokkies is te kort om my te laat glo dat daar ‘n kortbroekie onder is. En die kortbroekies is ook te kort om kortbroekies onder te hê. Maar, dié gevalle is uitsonderings.

Die vrouens hier is oor die algemeen goed bedek. En lang broeke is die inding. Lang rompe en rokke ook.

Daar is nog vele meer, ek kan net nie nou aan alles dink nie. Sal weer iets skryf as dit ophoop. Gesels gerus saam …

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

6 gedagtes oor “Die Russe (Qazaqs) sal ek nie verstaan nie

  1. Christa, jy het my nou heerlik laat lees. Ek geniet dit tog so om die land deur jou oë te ervaar, want self sal ek nooit daar land nie. Versigtig stap.😉💖

    Like

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.