Gepubliseer in Afrikaans - Hulp

Werkwoorde – Afrikaans

Daar is vier soorte werkwoorde (doenwoorde, woorde wat aksie aandui), naamlik selfstandige werkwoorde, hulpwerkwoord, koppelwerkwoorde en die infinitief. Sommige werkwoorde kan in onderafdelings ingedeel word.

1) Selfstandige werkwoorde

Hierdie werkwoorde kan alleen as gesegde van ‘n sin in die onvoltooide teenwoordige tyd staan. Daar is vier soorte selfstandige werkwoorde.

a) Oorganklike werkwoorde

In hierdie geval word die werkwoord deur ‘n direkte voorwerp gevolg, byvoorbeeld:

  • Ek slaan die tafel. (Wat slaan ek? = die tafel = direkte voorwerp)
  • Hy lees die boek. (Wat lees hy? = die boek = direkte voorwerp)
  • Sy was haar baba (Wat was sy? = haar baba = direkte voorwerp)

b) Onoorganklike werkwoorde

Daar is geen direkte voorwerp na die werkwoord nie, byvoorbeeld:

  • Sy hardloop vinnig. (vinnig vertel meer van hardloop)
  • Hulle ry ver. (ver vertel meer van ry)
  • Sy praat heeltemal te veel. (heeltemal te veel vertel meer van praat)

c) Onpersoonlike werkwoorde

Hierdie werkwoorde dui nie op ‘n spesifieke persoon, ding of dier nie. Let daarop dat die onderwerp DIT is, byvoorbeeld:

  • Dit hael min in die Kaap.
  • Dit spook in ons dorp.
  • Dit reën vandag aanhoudend.

d) Wederkerende werkwoorde

Die onderwerp en voorwerp verwys na dieselfde persoon, byvoorbeeld:

  • Ek herinner my.
  • Hy beroep hom.
  • Sy vererg haar.

Let daarop dat sommige werkwoorde soms wederkerig kan wees terwyl ander altyd wederkerig is, byvoorbeeld:

  • Sy was haar. (haarself, dus wederkerige werkwoord)
  • Sy was die motor. (nie haarself nie, daar is ‘n direkte voorwerp, dus oorganklike werkwoord)

2) Hulpwerkwoorde

Hierdie werkwoorde help die selfstandige werkwoord om tyd, wyse en vorm uit te druk en kan nie alleen staan nie. Daar is drie soorte hulpwerkwoorde.

a) Hulpwerkwoord van tyd

  • Hy het gery.
  • Ek sou saamgegaan het.
  • Sanna wil altyd die beste wees.

b) Hulpwerkwoord van wyse

  • Hulle kan dit doen.
  • Ek mag nie lees nie.
  • Hulle moet dit ook probeer.

c) Hulpwerkwoord van vorm

  • Die tafel word [deur Anna] gedek. (dui teenwoordige lydende vorm aan)
  • Die huis is [deur die agent] verkoop. (dui verlede tyd lydende vorm aan)
  • Nadat dit [deur die man] gewas is, het hy dit verkoop. (dui lydende vorm aan)

3) Koppelwerkwoorde

Koppelwerkwoorde kan nie alleen staan nie, hulle koppel selfstandige naamwoorde, byvoeglike naam woorde of voornaamwoorde met ‘n ander selfstandige naamwoord, byvoorbeeld:

  • Hy is intelligent.  (Kan nie intelligent weglaat nie)
  • Sy heet Anna. (Kan nie Anna weglaat nie)
  • Hy word gesond (Kan nie gesond weglaat nie)

Daar is nog ‘n paar koppelwerkwoorde, naamlik: lyk, blyk, skyn, bly, klink en voorkom.  Koppelwerkwoorde kan soms selfstandige werkwoorde wees, dus moet jy na die sin kyk om te bepaal of dit ‘n koppel- of selfstandige werkwoord is.

  • Die maan skyn helder (selfstandige werkwoord, kan helder weglaat)
  • Jy skyn minder te doen as die ander (koppelwerkwoord, kan res nie weglaat nie)
  • Bly by my (selfstandige werkwoord, kan res weglaat)
  • Jy bly mooi (koppelwerkwoord, kan res nie weglaat nie)
  • Die koppies klink teen mekaar (selfstandige werkwoord, kan res weglaat)
  • Jy klink moeg (koppelwerkwoord, kan res nie weglaat nie)
  • Hy sal Dinsdag in die hof voorkom (selfstandige werkwoord, kan Dinsdag weglaat)
  • Dit wil voorkom asof hy skuldig is (koppelwerkwoord, kan res nie weglaat nie)

4) Die infinitief

Die infinitief is die vorm van die werkwoord na “te” en “om te” maar dié werkwoorde kan ook alleens staan.

a) Na “te”

  • Die motor is te koop.
  • Die huis is te huur.
  • Hy behoort hom te skaam.

b) Na “om te”

  • Hy is lief om te lees.
  • Hy vra haar om die kas te skuif.
  • Om te jok is, is nie ‘n goeie ding nie.

c) Die infinitief alleen

  • Swem is die beste oefening (Om te swem …)
  • Ek leer loop (… om te loop)
  • Help my asseblief die bome afsaag (om die bome af te saag)

As jy nie seker is nie, vra gerus in die kommentaar. So leer ander ook deur die vrae wat jy vra.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

7 gedagtes oor “Werkwoorde – Afrikaans

    1. Dit is ‘n baie goeie vraag. En ek moes daaroor gaan dink. Ek is nie heeltemal seker dat ek reg is nie en moet gaan uitvind, maar vir nou gaan ek as volg antwoord. In hierdie geval is het – volgens my – ‘n werkwoord, met die sinoniem besit – dit kan met besit vervang word. Ek besit ‘n kat. Dit kan ook in die verlede tyd gestel word: Ek het ‘n kat gehad. En in die toekomstige tyd: Ek sal ‘n kat hê. Dus moet dit ‘n werkwoord wees. In die verlede tyd geskryf sal dit wees. Ek het (hulpwerkwoord van tyd) ‘n kat gehad (verlede tyd van het). Die woord kom van die stam hê af. Hê – het gehad – sal hê. Ek gaan uitvind en terugkom na jou toe, want ek is nie seker nie.

      Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.