Gepubliseer in Joernaal,Reisjoernaal

As mens jou ore uitleen …

Jy het seker gewonder waarom ek nie oor ons dik laag sneeu geskryf het nie? En so stil is. Laat ek dan maar vertel.

In Januarie 2019 is ons na Qazaqstan. Om aan die bas te voel of ons in sulke uiterste temperatuur kan oorleef. Toe was dit -38 grade Celsius.

Ek was doodbekommerd dat mens nie sal oorleef nie. Frostbite in die vingers en tone sal kry. As dit nie warm gehou word nie.

Toe is daar vir my gelag, mens moet ure in wind en weer wees om wel bevrore vingers te kry. En dit sou ons mos nie wees nie.

Dit het verlede week Maandag en Dinsdag gesneeu en die wêreld was in ‘n wit kombers toegemaak. Wanneer dit sneeu, is dit warm.

Daarna is dit baie koud. Woensdagoggend was dit -31 grade Celsius. En ek het op my Facebook geskryf dat ek in die nes gaan bly. Nie gaan uitgaan nie. Bietjie later was dit nog -28 grade Celsius.

Daardie tekentjie by now sê ysige wind.

Toe druk die nood. Manlief kom middagetes huis toe. En die botter is op. Dus het ek al die nodige lae aangetrek. Handskoene, mus, alles.

En gestap om melk by Miken te koop. Dit was ysig. Ek het soos al die ander mense my ken in die kraag van my jas gedruk. Soos natgereënde hoender. En verby die mooiste prente gestap. Wat gekiek moes word.

Maar my foon was tuis!

Dus het ek gou die botter neergesit, foon gevat en afgegaan om ‘n paar foto’s te neem.

Presies vier minute tussen die eerste en die laaste van ses foto’s. Met my hande in my handskoene tussenin.

Hierdie man moes gekiek word. Hy het met die spesiale besempie sy kar skoongevee. Kyk net hoe dik lê die sneeu. Ons het 20 cm sneeu gekry.

Kyk ook hoe diep die sneeu om die wiele lê. Dit is verbasend hoe die sneeu so aan die ruite vasklou. Om soos ysige kombers oor kar te lê.

Dit is een van die redes waarom bykans elke kar sitplekoortreksels het. Mens kan net dink hoe koud die leer is. Nog ‘n foto van ‘n gesneeude kar.

Die kersbome het aansienlik meer sneeu opgehad.

En die ou klein enetjie se takke het swaar gebuig onder sy vrag.

Die sneeu het homself oor die trappe gedrapeer. Die hoogte verskil tussen trappies probeer uitwis.

Toe ek deur die tonnel na die voorkant van die gebou gegaan het, was dit baie koud. Maar ek het deurgedruk om die foto te neem van die man wat die sneeu wegvee.

Toe ek die foto neem, het ‘n windvlaag die sneeu opgeswiep. En my hande was binne ‘n sekonde yskoud. Donkerrooi koud.

Toe stap ek vinnig terug huis toe. Maar stop eers om dié foto te neem. Van die kabouterkappies op die bessies

Kyk ook net al die sneeu om die wiele.

Toe ek in die huis kom, was my vingers baie rooi en baie seer.

Ses foto’s geneem. Net ses keer my hande uit handskoene gehaal om vinnig te kiek. Ek kon die foto’s neem toe dit warmer was. Hierdie foto’s kon my vingers kos. Daarvan sal ek later vertel, die skrik lê nog te vlak om daaroor te skryf. Dit kos minder as 4 minute in -28 grade Celsius omstandighede om gevoelige skade te veroorsaak.