Gepubliseer in Joernaal

Wie sou dit kon raai?

Ek het nie met rugby grootgeword nie. Het nie broers nie. En my laerskole was so klein dat daar nie rugbyspanne was nie. In standerd 5 was ons hele klas minder as 10. By Chrisssiesmeer Laerskool.

Ek was wel van standerd 6 tot matriek in Ermelo Hoërskool, met sy magtige rugby, maar as plaaskind is ek na skool huis toe. Het so nou en dan gekyk as die eerstespan speel, maar rugby het my verveel.

Toe ontmoet ek die rugbymal manlief van my. Saterdae het ons op Loftus gesit. Omdat hy na my kom studeer het, was ons lank op Loftus.

So lief vir die Bulle dat ons van Welkom af sou ry om te gaan kyk hoe hulle speel. So erg dat 21 jaar in die Vrystaat ons nie Cheetahs kon maak nie. Ons kinders is ook Bulle.

As ons skoolkinders in rugbydrag kon klee, was juffrou in haar Bulls trui, ook toe ons later in Johannesburg was en die kinders vir de Leeus geskree het. Twaalf jaar in Johannesburg kon ons ook nie verander nie.

Daardie liefde het getaan. Soos mis voor die son verdwyn. Om baie redes. Waarvan ek geen gaan noem nie. Behalwe om te sê dat manlief niks met die afwatering te doen het nie.

My Bulls klere het nie saamgekom nie, het die meeste daarvan vir my suster se dogter gegee.

Die Bokklere ook nie, dit is in kratte verpak. Om waarskynlik later weggegee te word. Dalk nie, daar is herinneringe aan tye saam met my gesin aan verbonde.

Maar ek is steeds lief vir rugby. Kyk wanneer manlief kyk. My lojaliteit het net geskuif.

Ek was lankal ‘n Crusaders aanhanger, tot hulle teen die Bulle speel. Nou is hulle my hart se punt.

Net voor die vorige wêreldbeker het my hart die All Blacks gaan kies. Omdat die Bokke ‘n beseerde kaptein bo fikse spelers gekies het. En, soos mens kon voorspel, kon hy nie die mas opkom nie.

En dit is nogal lekker om te mag kies. En nie blindelings lojaal te wees nie. Tog sal ek niemand tart omdat my nuwe spanne wen nie.

Dit kon ek nog nooit verdra nie. Maar dit is lekker om vir ‘n span te skree wat sy hart uitspeel. Verstommend dat so klein landjie soveel talentvolle spelers het.

Daarom staan ek elke keer verbaas as Facebook vir my herinneringe opdiep.

Het ek regtig soveel kommentaar op westryde gelewer? Regtig gedink dat ‘n naweek volmaak is as die Bulle wen? Regtig gedink niks is lekkerder as ‘n Saterdag op Loftus nie? Regtig gespog my bloed is blou? Regtig kwaad geword as mense nie vir Suid-Afrikaanse spanne skree nie?

My foon se geheue bevestig my diep betrokkenheid as toeskouer. Ek het nou die dag duisende foto’s wat ek van die paviljoen af geneem het, uitgevee.

Tans is daar soveel beter dinge om naweke te doen. Soos om TV reekse saam met manlief te kyk. In die natuur rond te ry. By die kinders te kuier. Samesyn te geniet. En kerk toe te gaan na ‘n rustige Saterdag saam net manlief en die kinders. As ons in die land is …