Gepubliseer in Reisjoernaal

‘n Geëerde gas wil ek nie in Qazaqstan wees nie

Ek het nie fitterig oor kos grootgeword nie. Ek kon self opskep, maar, die kos wat ek opgeskep het, moes ek opeet. Dit het, as ek reg onthou, met my pa se grootwordjare te doen gehad.

My pa vertel ‘n storie van kinders wat nie spinasie wou eet nie. En toe huilend vir hulle ma gesê het sy moet proe. Daarna was dit taboe in die huis, want die ma het, nadat sy geproe het, gesê: “Spoeg, kinders, spoeg”.

Spoeg mag ek nie aan tafel nie. Daarom wil ek nie ‘n geëerde gas in Qazaqstan wees nie. Die rede? Die twee delicatessens wat vir geëerde gaste aangebied word. En geëerd is ek teen wil en dank omdat dit blykbaar status verhoog as ‘n expat aan jou tafel sit.

Die eerste dis wat ek gaan weier, is skaapkop. Hemel tog, ek voel al klaar of ek in ‘n Halloween movie rondstap as ek vleis op die mark gaan koop. Met die skaapkoppe wat netjies in ‘n ry vir my kyk.

Gaargemaakte skaapkop is nie vir my ‘n vreemde verskynsel nie, ek onthou so iets uit my kinderdae. My oupa het die oë geëet en ek het my opgegril. Kon net nie kyk nie. En ek verbeel my tog daar was skaapkop op oupa se tafel. Maar ons is dit gespaar. Ek moet asseblief hierdie prentjie aan tafel gespaar bly.

Die Qazaqs het ‘n hele ritueel aan die opskep van skaapkop en die uitdeel van afval.

Die ouer man of mees gerespekteerde gas aan die tafel moet dit opkerf en as volg uitdeel.

Die ore gaan aan die kinders om beter te luister of aan jong mans om versigtiger te wees. Juffrouens kry die tong om sagter met kinders te werk (dus gaan hulle nie weet ek was een nie). Die tong word ook aan jong meisies voorgesit om ywerigheid aan te moedig.

Getroude vrouens kry die nekbene (seker omdat hulle die kop beheer?), dit sal ek eet. En kinders kry niertjies en hart, maar nie brein nie omdat dit hulle brein sal verswak. As hulle dink ‘n meisie gaan nie trou nie, kry sy ‘n gewrig. En jong mans kry die borsvleis.

Ek het my lus vir niertjies verloor omdat ek Biologie tot matriek gehad het. Juffrou Louwrens, ons Biologie-onderwyseres by Ermelo Hoërskool, het daai tand getrek. Sy het dit nie geëet nie, daar was volgens haar heeltemal te veel haarfyn are in die niere om haar te laat glo dat alle urine uitgewas is. Ek het dit daarna ook nie geëet nie.

So van urine gepraat, dit bring my by die tweede Qazaq delikatessen vir geëerde gaste. Ek het reeds vertel dat hulle perd eet. En dat ek dit nie sal eet nie. En amper per ongeluk perdewors ingekry het. Omdat ek nie geweet het dat mens dunnes ook kry nie. Het net van die dik kazy geweet. Wel, ek het nie geweet hulle eet die hele perd nie, insluitend die deel wat die urine uitlaat en vir voortplanting gebruik word!

Ek wil nie snaaks wees nie, maar wie by sy volle positiewe eet geslagsdele? Beslis nie ek nie. Aangesien ek hulle nie verstaan nie, sal ek ook nie sommer weer fillet koop nie, net vir ingeval. Geen idee hoe die watsenaam lyk nie, maar kan my voorstel dat dit met fillet verwar kan word.

Ek het al vertel dat ek op ‘n plaas en in ‘n slaghuis grootgeword het. Dus praat ek vanuit die kennersoog van ‘n slagter se plaasdogter.

Daai deel van skape, beeste en varke is nie in ons slaghuis verkoop nie. Ook nie eens as pieces vir honde nie. Wat daarvan geword het, weet ek nie.

Maar ek gaan beslis ontevrede wees as ‘n gasvrou dit vir my op my bord aanbied. En my uit die voete maak voor ek net daar, voor haar, naar word.

Dit bring my die Qazaq-troue waar ons nou die dag was. Die gasvrouens het spesiaal vir ons goed aangedra wat in blokkies gesny is en aangedring dat ons moet eet. Met ‘n vurkie in om te eet. So bruin blokkie omder en wit bo-op.

Dit het soos niks gelyk wat ek al gesien het nie en ek wou nie vat nie. Ek het nog nie van die twee delikatessens geweet nie, maar al die vleis op die tafel was perd. Goed vir my dieet, ek sal maklik ‘n vegan word.

Ek wou weet of dit perd is en die tolk het gevra wat dit is. Hulle het gesê dit is lewer. Beeslewer. Dus het ek gevat en in my mond gesit, al hou ek nie meer van lewer nie.

Toe ek daaraan byt, weet ek dat dit nie lewer is nie. Lewer het nie grein nie.

Die verskriklikste geur het in my mond ontplof. Iets soos vet wat galsterig geword het. Wat klou aan mens se wange, al het ek nie gekou nie.

My tande het geweier om te kou, my keel om te sluk. En my oë het vuur gespoeg. Want ek kon sweer hulle glimlag omdat hulle my so amper gevang het. Met wat ookal aangebied is. Ek het my servet gevat ek gespoeg!

Wat dit was, verkies ek om nie te weet nie. Want die smaak en geur wou nie weggaan nie. Het ek al vertel dat hulle nie van brandkos hou nie. En eintlik ‘n amper te ligte hand vir geurmiddels het? Wel, die goed het gelukkig nie geurmiddels gehad nie!

Koeldrank wou nie help nie, ‘n hele glas vol water ook nie. Kon dit uiteindelik met piesang uit my mond gespoel kry. En met kersies.

Ek dink ek skuld hulle een. Hulle eet nie goggas nie. Ek ook nie. Maar waar kan ek mopaniewurms te koop kry? Of krieke? Of slange? Dit sal moet saam!

Noudat ek dit so opnoem, klink niks so onaanvaarbaar as ‘n perd, of enige ander dier, se geslagsdele nie. En ek wonder wat juffrou Louwrens daaroor sou sê. Dit word beslis nie net vir urine gebruik nie.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

26 gedagtes oor “‘n Geëerde gas wil ek nie in Qazaqstan wees nie

  1. Ek het grootgeword met afval en is mal daaroor. Ek was die jongste in die huis en het regtig die afval gekry. Maagvelletjies en die pootjies. Nig nooit skaapkop net so geëet nie en sien ook nie kans nie. Mal oor lewer en niertjies, maar daai deeltjie waarvan jy praat? Aikona. Nie vir my nie dankie.

    Like

    1. Ek het ook met afval grootgeword. My ma skrop dit spierwit voor sy dit kook. Sy het as stadsnooi op ‘n plaas gaan bly toe sy haar ridder gekry het. En hy het met afval grootgeword. Ek het egter iewers my smaak vir warm afval verloor. Maar brawn is my gunsteling koue vleis. Steeds. En my ma kan brawn maak. Sy het dit leer doen as vrou van ‘n slagter.

      Die watsenaam van ‘n perd sal ek egter nie in my momd kan sit nie. Dan eet ek maar gras, of gaan ek maar dood van die honger.

      Liked by 1 person

      1. My man het weer nie daarmee grootgeword nie. Hy vertel graag dat hy dit eet, maar die keer wat ek dit gaargemaak het, was daar altyd ‘n së soos dat dit nie kos is nie. Ek kook dit kankal nie meer nie.

        Like

      1. My ma het die tong geneem, dink ek. Pa het van die wange en goed gehou. Oudste broer kry die sakkie mer harsings terwyl tweede broer en ek dikmond us daaroor. Ek kan nie onthou wat broer nr 2 gekry het nie en al wat oor was, was die maagvelle en pote vir my. Een keer gee hulle vir my die harsings om my stil te kry. Ek kon dit nie opeet nie. Tot vandag verkies ek die pote. 😊

        Like

    1. Dankie vuurvliegie, ek is bly jy stem saam, ek sal die skaap nog kan eet as die kop nie op die tafel is nie. Maar die hele perd sal nooit geëet word nie. Ek kan nie presies sê waarom nie, maar dit sal ek nie eet nie.

      Like

  2. Ma sê daar is sy saam met jou. Sy kan nie eers vir so gebakte skaapkop kyk nie, wat nog van eet. Pa wil hom altyd doodlag as ons by sy familie gaan kuier het en hul maak die skaapkop gaar. Dan het ma verdwyn. 😅

    Ma sê sy sal ook nie perd eet nie. Sy sê ‘Haai shame, hoe kan mens daai mooi diere eet?” Sy is baie lief vir perde, so sy dink dis maar goed sy bly nie daar nie. 😀

    Ek is natuurlik baie lief vir lewer en niertjies, maar geslagsdele eet? Nee dankie. Ek sal dan maar eerder gaan gras eet as dit al is wat hulle vir my gaan gee om te eet. 😅

    Ek en Ma dink beslis jy skuld hulle een. Krieke en mopaniwurms sal die ding doen. Ma sê sy wens sy kon ook kry om vir jou te stuur. Kan jy hul gesigte sien as jy dit vir hulle aanbied? Hahahahaha! Dit sal hulle leer ja! 😀

    Like

    1. Hi Rambo, my oupa sal saam skaapkop eet. Ek kan nie, nie as ek die dier se kop so op my tafel sien nie. Ek is lief vir beestomg, maar as iemand dit aan tafel uit die skaapkop moet haal, gaan ek naar word.

      Ek is bly jy stem saam dat geslagsdele uit is. Daai dele moet maar liewer op ander maniere tot niet gaan. Ek strm saam met jou, dan eet ek liewer gras. En vir ons altwee is gras iets wat nie tans in ons dieet is nie.

      Perd sal ek en my man bly weier. Ek kan nie presies sê waarom nie. Dalk omdat perde wild is? Maar dan voel dit verkeerd om bees te eet net omdat hulle mak is. Dalk omdat hulle soos ma sê mooi is? Maar beeste is vir my net so mooi, alle koeie het die sagste warm oë. Behalwe wanneer my pa se Brahmane kalfies gehad het. Gits jong, dan was hulle oë baie kwaai, ek is seker dit was dan rooi en nie meer bruin nie.

      O ja, my woewe slaap by my in die kamer, ek voel hoe my liefdestenk weer vol raak. Gaan hulle nou nog meer mis as ons teruggaan.

      Groete aan ma en droë soene vir jou.

      Liked by 1 person

      1. Sê vir jou oupa hy en my pa sal dit baie geniet maar hulle sal dit moet doen waar Ma hul nie kan sien nie, want sy eet nie eers skaapvleis nie. Sy sê as sy daai skaapvet ruik is sy sommer siek. Ma eet ook nie beestong nie. Ek dink as dit nie vir Pa hulle was wat so lief is vir vleis, sou sy lankal al ‘n vegetariër gewees het en ek is maar bly as ek my vleisie kan kry. Ek dink ek sal sommer saam pa hulle aan daai skaapkop gaan smul want ek hou van bene! Ek sal dit maar net moet doen waar ma my nie sien nie. 😂

        Ja, ek dink ook ‘n gras dieët gaan ons aan die skraal kant hou. 😅

        Ma sê sy dink dis omdat ons maar altyd perde as spogdiere sien of resiesperde en dan is hulle ook spoggerig. Hoe kan jy dink om so spogdier te eet? ‘n Bees is nie spoggerig en het nie sulke mooi maanhare nie en is ook nie so statig nie. Ek wonder nogals hoe gaan ‘n bees of koei lyk as hul wil pronk? 😂

        Nee, ma sê dis heeltemal verkeerd om perde of selfs donkies te eet. Daar is mense ook wat kameelperd en krokodil eet en sy dink dis ook nie reg nie. Ma eet ook glad nie wildsvleis nie. 😀

        Ma sê Brahmane is baie, baie mooi en sy sal ook nie ‘n Brahmaan wil eet nie, want hulle is gemaak om mee te teel en te spog, nie te eet nie. Ek kan dink hoe rooi daai oë moes wees van kwaadgeid. 😀

        Ag, hoe lekker! Ek kan net dink hoe bly hul was om jou weer te sien. Jy moet hulle maar inpak en saamvat. 😀

        Groete vir julle ook en ma sê dankie. Hier is vir julle almal baie nat soene en drukkies 😘😘😘💕💕💕

        Like

  3. O my wêreld!!! Ek fiemies ook nie sommer nie, maar hier sal ek saam met jou spoeg!! Ugh…dan klink ‘n mopanie wurm eintlik al heel aanvaarbaar.

    Like

      1. Ek wonder, hoe jy hom gaan eet, sonder om hom op die tafel te sien? Daardie ding van die perd, nee. Al baie gewonder, oor perdevleis? In Europa, is dit tog volop, met ‘n mooi rooi kleur.

        Like

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.