Gepubliseer in Joernaal

Doodskisnaels?

Sjoe, ek lees vandag die Huisgenoot op my toep en kry dié hou in die maag … doodskisnaels! Volgens die prentjie het ekke doodskisnaels!

Ek kyk so na die sewe vorms, maar die ander ses is doodeenvoudig nie soos myne nie. Ook nie soos doodskisnaels nie.

Huisgenoot, 17 Oktober 2024

Daar is ronde, ovaalvormige, amandelvormige, stilleto, squoval en vierkantige naels.

Ovaal is vir mense met ‘n breë naelbed wat hulle naels langer wil laat lyk. Rond is “fantasties” vir mense met kort vingers. Amandel is vir breë naelbed en om vingers langer te laat lyk. Squoval is blykbaar bietjie waaghalsig en prakties. Stiletto is waaghalsig en vir mense wat in die mode wil wees. Dink aan stiletto skoene! Vierkantig is vir mense wat van struktuur hou. En dan is daar so wragtig doodskisnaels. Die ander naam is blykbaar ballerina naels, dit is minder van ‘n skop in die maag. Die ses ander naelvorms se benaming is mooi en sag, myne is werklik onaangenaam!

Ek soek en soek, maar dit kon my hand gewees het, dit is my naels!

Huisgenoot, 17 Oktober 2024

Hierdie naels is vir waaghalsige mense, so sê die skrywer, ene Leila Petersen. Ek is nie waaghalsig nie, my naels lyk net so. Die ander soort naels is blykbaar makliker om in stand te hou. Doodskisnaels blykbaar nie!

Volgens haar word die naels bo gelyk gevyl en aan die kante dunner na bo. Hmmm, toe nie? My naels groei vanself, maklik en met geen moeite nie. Ek moet hulle gereeld korter vyl, want hulle word so maklik te lank. As ene breek, vyl ek hom maar gelyk en die ander net effens korter as wat hulle was. En as ek weer sien, is almal weer ewe lank.

Dit is wel soos ‘n skop in die maag as my naels met doodskisnaels vergelyk word – mens se naels groei blykbaar regtig eers verder as mens doodgaan … En dit is nie lekker gedagte nie.

Hierdie vorm van my naels word nie so gevyl nie, dit word eerder deur ‘n vitamien B 12 tekort veroorsaak. Die nael buig effens in aan die agterkant, dit is ‘n teken van ‘n vitamien B12 tekort.

En toe moet ek gaan opsoek, praat die vrou nonsies? Suig sy dit uit haar duim? En ja, sy doen. Daar is blykbaar wel iets soos doodskisnaels, dit is een van die sewe vorms vir naels – dit is nou as jy akrielnaels doen.

Vanaf die internet gekopieer.

En doodskisnaels lyk nie soos op haar foto nie. Dit het werklik ‘n doodskisvorm, vandaar die naam ? Dit lyk ook heel anders op regte hande.

Doodskisnaels

Ek kan verstaan waarom hulle so genoem word, die punte laat mens aan die punte van ‘n doodskis dink. Maar waarom sou iemand net een soort naels so ‘n negatiewe naam gee? Ek kan nie regtig aan ‘n ander naam dink wat gepas sal wees nie, maar steeds?

Iedergeval. Ek is darem lyk my nie waaghalsig nie, my vorm nael groei sommer net maklik so as gevolg van vitamien B12 tekort. Ek dra hulle wel maklik in bloedrooi, my lippe ook. Bietjie kleur op baie vaal. Hulle is tans ‘n baie ligte pienk – die eerste keer in my lewe. My toonnaels ook.

So van toonnaels gepraat …

Ek loop tans met verband om my linkerkantste groottoonnael en stap met moeite.

Ek het ‘n kassie geskuif, op die mat gedraai en toe lig dit met een vinnige beweging my groottoonnael van sy bed. As dit nie vir die onmiddellike pyn en skok was nie, sou ek sowaar gedink het ek verbeel my. Die nael sit nog aan die kante vas. Dit het nie gebloei nie. Dit is nie swart onder die nael nie. Dit is net pers waar my vleis en my nael bymekaar kom.

Manlief sê gaan dokter toe en laat dit aftrek. Ek weier. Skoondogter stem saam, die nuwe nael moet maar onder die nael ingroei tot bo. Tot hierdie een afval. Maar ja, dit is seer. Kloppend seer …

Kleinsus sê ek moet met warm naald gat deur die nael druk om drukking te verlig. Ek drink eerder twee Grandpa pille op ‘n slag – en dit werk toe nie …

My toon is seer. Ek buig dit, so dit is nie gebreek nie. Dit is die liewe nael.

Dit is so seer ek dat ek kruppel loop … dus is ek nie waaghalsig nie, net vreeslik dramaties?

Waarom stamp mens dan ewe skielik die toon wat beseer is teen alles? Waarom trap kleinkind per ongeluk op my toon, as hy nooit, ooit doen nie? Ek weet nie? Steek seker maar soos seer toon uit?

Unknown's avatar

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

20 gedagtes oor “Doodskisnaels?

  1. Daardie doodkisnael laat my gril. Eintlik al daardie vreeslike lang naels. Ek het ‘n naelversorger se droom naels. Daardie toon wat gedurig gestamp of aangeraak word wys hoe baie kere hy geraak word gedurende ‘n dag se beweging sonder dat mens dit voel. Sterkte met die seer toon. Dis ‘n pynlike paar weke waarmee jy saamloop.

    Liked by 1 person

  2. Ek werk te veel met my hande om lang naels te groei. Tuinwerk, huiswerk en so aan beteken dat ek my naels kort hou. Tog hou ek van lang naels op ander vrouens se vingers 🙂

    Liked by 1 person

  3. jy het my hartlike simpatie! Ek het in Desember verlede jaar my toonnael afgeskryf in ‘n watervoortjie by Babylonstoren en dit groei nog steeds uit.

    Lang naels gedra toe ek nog jonk en mooi was, nou beslis rond. Die titel van jou blog het dalk (?) In my onderbewuste vasgehaak, want voor ek flussies wakker geword het, was ek aan’t droom dat ek my naels donker verf 🫣

    Like

  4. Ek begeer lang naels al is dit ook doodskisnaels want ek het nie naels nie. Hul is dun en breek af terwyl hul sommer nog hiperkort is. So geniet jou rooi doodskis naels..⚰️

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.