Om ‘n naaimasjien in Qazaqstan te koop

Ek het ‘n Bernina tuis. En ek lief haar. Was altyd Elna-aanhanger, maar toe bied Bernina beter diens in Roodepoort. Maar my omkapmasjien is steeds ‘n Elna. Die twee moes tuis bly toe ons na Qazaqstan toe kom. Omdat die twee make nie hier te koop is nie.

Hier is Janome groot. En vreemde ander make. Ek het egter al vertel dat hulle ons hier gereeld waarsku. Chinese, you buy once, you buy twice, dus wou ek die ander make nie toets nie. Dus het my hart ‘n Janome puntjie ontwikkel.

Ander naaldwerksters sal verstaan. Jou maak is jou maak. En dit het niks met snobisme te doen nie. Naaimasjiene praat met mens se hart.

Bykans elke winkel wat tegnologie verkoop, verkoop naaimasjiene. Weet nie waarom nie, want ek het my al doodgesoek na rokmateriaal, kopspelde, naaldwerkskêr en die goed wat mens nodig het om klere te maak.

Het wel bietjie lap vir rokke gesien, in ‘n piepklein winkeltjie. En na Metro en my ander gunsteling in Krugersdorp, wat is die naam nou weer? verlang. Op die mark kan mens gordynmateriaal koop, meters en meters daarvan. Maar dit soek ek nie. Dus het lap vir wintersklere, my materiaalskêr en tolletjies gare saamgekom toe ons ‘n week gelede na hierheen teruggekeer het. Die masjien sou ons hier koop. Janome.

En ek het naby ons ‘n Janome verkoper gevind. Lank gelede. Dit het my soos ‘n magneet getrek. Vanoggend wou ek daar gaan inloer vir pryse voor ek dit by een van die ander winkels gaan koop. Maar dit het toe nie so gebeur nie. Voor ek van die koop vertel, laat ek eers vertel dat ek met naaimasjiene grootgeword het.

Ek het geknip, patrone kleiner gemaak, spoeletjies met die hand opgewen en vasgeryg. Ritssluiters ingeryg. My ma het vyf rokke na mekaar gemaak en as ek nie mooi geryg het nie, moes ek lostorring.

Daarom haat ek lostorring. En werk ek noukeurig om nie los te torring nie. Some word ook een keer reg ingesit. Al vat dit langer. Ek verpes dit om some later weet in te sit.

Maar met my ma se Singer mag ek nie gewerk het nie. Dit was haar heiligdom. Toe was ek kwaad, nou verstaan ek. As die spanning uit is of ‘n naald vasslaan, moet ek eers ‘n kenner gaan soek. En daarvoor is ek nie lus nie. So het ek vir my dogter en skoondogter hulle eie masjiene gekoop. Myne is myne.

My ma se Singer was swart. Met elegante lyne en het so parmantig in haar Singer staander ingevou. Weg van dogtertjies se handjies af. En ek het haar net bewonder. My eie eers gekry toe ek getroud is.

Ek het genoeg van kleremaak gehad toe ek getroud is. Wou nie klere maak nie, maar toe spin manlief vir sy ouma Beatice dat ek nie eens naaldwerk kan doen nie. En sy was geskok.

So is ek winkels toe, hekelboek en naald en gare gekoop en toe ek weer by haar gaan kuier, sit ek die fynste goedjies en hekel. En sy raas met manlief omdat hy so kan jok. Hy sê toe: Ja ouma, maar sy kan nie klere maak nie.

Vir sy straf moes hy vir my ‘n masjien gaan koop. Elna. En alles wat ek nodig het om ‘n rok te maak. Patroon ook. En materiaal vir so ‘n n rooie. Met klein jassie wat bo-oor gedra word.

En ek het my alie afgesukkel. Die pylnaat was nie reguit nie, het ‘n 90 grade boog gemaak. En ek moes lostorring. Weer en weer en weer. Ek was swanger met my dogter en nie in ‘n bui om te sukkel nie.

Maar ek het ook nie geld gehad om nuwe materiaal te gaan koop nie. En ouma moes oortuig word dat ek ‘n vrou van formaat is. Dus is die rok klaargemaak, maar my lus vir my masjien het amper gevou.

Maar dit het nie. Ek geniet dit om my klere te maak. Veral my aandrokke. Omdat ek daarvan hou om anders te lyk. Omdat ek die lengte kan kies. Omdat ek dit kan pasmaak, anders as die klere in die winkels. Wat vir poppielywe gemaak word.

Intussen het ek die nodige vaardighede aangeleer om met enige naaimasjien te kan werk. Ek sou sê ek en masjiene is soos bloedsusters. Ons verstaan mekaar.

Ons is vanoggend na die klein winkeltjie met die groot wit naaimasjien op haar dak. Tussen Imperator en Kolos. Dat ons pryse kan kry om by die ander winkels wat ook Janome verkoop, te gaan vergelyk.

En ek het net drie vereistes gehad. Sy moet kan:

  • Reguitstik
  • Sigsagstik
  • Self gare deur haar naald ryg

Laasgenoemde is baie noodsaaklik. Dié paar oë wil nie meer daar onder sukkel om gare deur ‘n naald se gat te kry nie. En dit is mos altyd donker daar. Nee wat, masjiene moet dit self kan doen!

Drie masjiene voldoen toe aan die vereistes, waarvan een dubbeld die prys van die ander is. Omdat sy allergande ander goedjies kan doen. My Bernina kan. Hierdie dame moet nate kan vasstik en some sigsag. Ek gaan nie omkapmasjien koop nie.

Ek kies die goedkoper een met twee knoppe wat gedraai kan word, 60 000 tenges (R2000). ‘n Winskopie teen Elna en Bernina se intreevlakmasjiene.

Sy verstaan geen woord Engels. My Russies is beperk tot hallo en koebaai en so paar ander woorde tussenin. Ek beduie ek soek die ene. Met die swart bergpiek en die rooi voël. Dit kan alles doen wat ek wil doen.

Pure verkoopsdame probeer sy weer. Die ander ene is dubbeld die prys en haar lyne is meer die van ‘n duursamer motor. Maar ek staan vas. Sy gee bes en roep die man om vir my ‘n masjien uit die stoor te gaan haal.

Ek sien, terwyl ek wag, ‘n skatkamer met naalde en gare en ritssluiters en parte en spoeletjies en rek. Kort net ekstra naalde, die res saamgebring. My naaldwerkskêr ook. Maar ek word eers vorentoe geroep.

Het ek al vertel? Hulle haal alles uit verpakkings en maak seker dat alles werk voor jy uit die winkel kan stap.

My masjien is egter ingeprop en wag vir my soos ‘n persent. Op haar lessenaar. In die hoek. Sy praat Russies en beduie met die hande dat ek langs haar moet kom sit en vir die trappie moet oppas.

Ek maak so en toe woon ek ‘n naaldwerkklas in Russies by. Regtig! Die bewys is op die eerste foto onder my masjien se voetjie ingedruk!

En verstaan alles. Omdat sy stadig beduie, soos in ‘n ballet. Met handgebare. En geluide. Dit is nie nodig nie, ek ken masjiene. Maar dit is hoe dit hier is. En ek gaan nie ongeskik wees nie.

Ek kyk apologeties vir manlief. Sê in Afrikaans jammer, want sy sal nie vestaan nie. Maar hy is baie gelukkig en sê: Nee, dit is reg. Ons het tyd. Baie tevrede dat hy waarde vir sy geld kry.

Ek sit en kyk en luister na die Russies. Gelukkig ken ek masjiene en snap ek maklik. Hier en daar verskil Janome van Bernina en Elna, die basiese is dieselfde.

Sy wys my hoe om spoeletjie (klink soos spoeletjie) op te rol, gare deur te ryg. Stop as sy dink ek het ‘n stap gemis, wys weer stadig. Verduidelik al die toebehore en waarvoor watter voetjie gebruik word. Die ritssluiter- en soomvoetjies ook. Met klikgeluide dat ek moet seker maak dat dit inklip. Voor ek werk!

Sy wys ook sommer dat my goedkoper masjien ingeboude patroontjies het, as ek met die rooi SS en die ploes en mienoes speel.

Sy verduidelik hoe om ‘n knoopsgat te maak, en hoe om dit met die quick unpicker oop te sny. En natuurlik ook hoe om hierdie gereedskappie te gebruik. Ek moes my nuwe vriendin saamgebring het. Sy gaan dit gebruik. Nie ekke nie. Ek maak nie knoopsgate nie. En beperk lostorring.

Intussen dink ek aan manlief wat elke dag so tussen die Russe werk. En geen woord verstaan nie. My kop wou raas. Hoe voel syne na ‘n dag op kantoor?

En ek luister na my Janome se sagte gebrom terwyl sy al die opdragte uitvoer. My nuwe kameraad! Ons het klaar band gevorm. En ek het nog nie met haar gewerk nie.

Sy wys vir my waar die toebehore in die masjien gebêre word. En ek glimlag, ek sou dit wel daar gesoek het. Maar ek glimlag ook omdat dit my aan my probleem met die worsmasjien laat dink het.

Ek kon nie twee van die lemme waardeur die vleis druk kry nie. Toe ek gaan kla, wys hulle vir my dat die twee netjies op haar rug verpak is. Daai verkoopsdame het nie gedink dit is nodig om vir my te wys nie. En toe moet ek teruggaan.

En toe is sy tevrede dat ek my masjien ken. En word sy weer verpak.

Laat ek ees gou vertel. Hier is ‘n ritueel rondom bokse. Van swaarder goed. Sodra die inhoud nagegaan is, word dit weer in die bokse verpak. En dan vat hulle kleefband en maak vir jou ‘n handsvatsel.

Om dit te kan dra. Dit maak dra soveel makliker. Ek het al vertel dat almal hier stap en bus of trêm ry. So dra ons ongemaklike bokse, asof dit ons handsakke is.

Nou staan my Janome vir my en wag. Om die eerste tree te gee. En ek is dankbaar ek jan met die masjien werk. Haar handleiding is Grieks.

Lag ek nou eers lekker vir daai Grieks. Ek gebruik dit toe die Russiese teacher my probeer leer. En sy verstaan dit nie! Dit is lyk my eg Afrikaans. Ek moet dit na Russies verander. Weet nie van Grieks nie. Maar Russies is beslis onverstaanbaar.

Maandag gaan ek na die rokmateriaalwinkel vir koel materiaal. Vir koel kleertjies. Want dit is baie warm hier in Ust. Ek kon nie glo dat dit in hierdie koue plek warm kan raak nie.

My nuwe vriendin was opgewonde toe sy my vorige inskrywing gelees het en sien dat ek gare en materiaal saamgebring het. Sy het klere wat kleiner gemaak moet word. En was skoon teleurgesteld toe sy hoor dat die masjiene in die RSA gebly het.

Nou is hy gekoop, maar ek haat dit om verstellings te maak. Dit gee moeilike hoeke waarin ‘n masjien se voetjie nie wil gaan nie. En dan moet daar met die hand verder gewerk word.

Ek maak liewer die hele kledingstuk van die begin af. Sy het egter beloof om die ontrafeling te doen. Die kleiner sny, vassteek en stik sal ek doen. Mos gesê ek is heilig op my masjiene. Erger as manlief op sy motors. Die eerste lang ruk mag ek net kyk en saamry. Daarna kry ek eers ‘n beurt om die motor self te bestuur.

Het ek al vertel dat ons in die RSA gesukkel het toe ons nou daar was? Hier is alle winkels sewe dae van die week oop. Van 10 tot 10. As die nood druk, kan ek benodigdhede op ‘n Sondag gaan koop.

Tog wil ek nie. My pa het dit belet toe ons klein was. Steek die Here met skêr in die oog as mens Sondae naaldwerk doen! En dit het nie gehelp om te sê: Die kalf is in die put nie. Mens beplan ordentlik, Sondae is rusdag.

6 comments

  1. Geluk met jou Jenome! Ek glo julle gaan ‘n wonderlike pad saamloop. Ek glo ook nog in daardie laaste sin van jou, alhoewel ek ander dinge op ‘n Sondag doen wat die oumense sekerlik nie sou doen nie.

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.