Toiletkaskenades in Qazaqstan

Hierdie vertelling se tema is so effens van die brug af, dus sal ek probeer om dit so keurig moontlik te vertel.

Soos ek in een van die vorige stories vertel het, het ons twee weke gelede kar gaan koop in Almaty, ‘n hele 1000 km hiervandaan. So ver soos Kaapstad van Johannesburg af is omtrent. En daar sal ons dit nie eens oorweeg het om so ver van die huis af te gaan kar koop nie. Maar ons het, omdat dit die enigste plek is waar ons die kar op ons eie naam kon registreer.

Manlief se tolk wou saam, om ons te help met tolk by die karkopery. En op die pad terug na Öskemen, want die mense op die platteland verstaan nie Engels nie.

Baie min van die mense in Öskemen verstaan so bietjie Engels, dus praat ons sommer Afrikaans. Hulle verstaan ons in elk geval nie. Maar ek dwaal van die punt af.

Die tolk is ‘n jong Kazakh en sy meisie ook. Ek is lief vir die tweetjies, hulle bied aan om ons kinders in Kaz te wees. Eintlik bedoel hulle dat hulle ons twee oppas. En dit is lekker om te weet ons kan op hulle knoppies druk as ons in die moeilikheid is omdat ons nie verstaan nie. Maar saam in een kar vir meer as 1000 km?

Gedagtig aan nommer 1 en 2 wat mens langs die pad kan oorval, en veral die ongenommerde een waarvan diegene wat die nommers gegee het, sowaar vergeet het, het die 1000 km soos ‘n ‘horror’ movie voor my uitgestrek.

Die ongenommerde een het my nog nooit gepla nie, dus het ek my altyd vererg as iemand in die kar dit laat gaan en van vensterafdraai vergeet. Maar, dit is die afgelope twee jaar ‘n belangrike faktor wat in ag geneem moet word. As ek per ongeluk, of soms nie so per ongeluk nie, melk ingekry het. Dus smeek ek manlief om vir die tweetjies te sê hulle hoef nie oor ons bekommerd te wees nie, ons kom tog al twee maande lank reg. Met bittermin mense wat ons verstaan!

Maar hulle is teleurgesteld! Het klaar planne gemaak vir Almaty en sien uit om saam te ry. Ook om manlief te help bestuur! Ek sien rooi ligte want hy laat my nie eens toe om te bestuur nie. Maar daai is die minste van my probleme! Hy verduidelik dat ek probleem met maag het as ek laktose inkry en hulle sê is nie probleem nie! Yeah right! Ek sal dit nie oorleef as ek hulle verkeerd bewys nie, maar nou ja, ons teenargumente help nie. Hulle gaan saam.

Daar aangekom eet ek net vrugte en groente en so min as moontlik. Geen goed wat melk inhet nie. Ook geen vleis nie.

Net vir ingeval iets tog aan melk geraak het, drink ek elke oggend een Lomotil. Piepkleinpilletjie wat my beskerm teen ongevraagde gastro nadat ek melk ingekry het.

En ek en manlief sluit ‘n verbond. As ek vra dat hy stop vir foto’s, impliseer dit die ongenommerde een. En dan word daar dadelik gestop! Al kan almal in die kar sien dat ons al verby vreeslike mooi plekke gery het, sonder om te stop!

En alles gaan vir eers goed. Die eerste 200 km terug, is daar, elke nou en dan ‘n busstop en een van daai gat in die grond toilette langs die pad. Lyk netjies, dus begin ek ontspan.

Daarna is dit egter nag! Die pad is lelik, maar daarteen is ons gewaarsku. Toiletloos is ons nie gewaarsku nie! Met jong Kazakhs in die kar! En ek begin sommer bid. Asseblief, geen nood op hierdie pad nie!

Gelukkig kry die jonge dame eerste ‘n nood. En haar galante heer vra dat manlief by ‘n bos stop. Sekondes later sê hy nee wat, stop nou! By ‘n minder digte bos. En so word die weg oopgemaak vir die volgende 800 km. Die bos sal dit wees as dit moet. Maar ek is skaam, dus sou ek uithou tot ons by ‘n toilet kan stop.

Genadiglik werk my Lomotil en is ek reg om vir ‘n gehuggie (village) se garage en toilet te wag. Net vir ingeval. Maar die ontnugtering is groot!

Van ver herinner dit aan die latrine wat ons op die plaas gehad het toe ek nog klein was. Met bankie waarop mens sit, daai soort met ‘n gat in die bankie.

Maar erg van naby!

Nog voor ek die deur oopmaak, begroet ‘n stank my, met brommers wat om die gat buite die deur saamdrom. Was dit hulle werk? Om so groot gat uit te grou, of val die plek inmekaar? Maar dit is die bos of die plek! En ek is steeds ongemaklik met die bos!

Dit kon ek egter nie betree nie, is dit so moeilik om reg te mik? Dus sou dit die bos wees. Op pad terug kar toe, kyk ek vas in die oë van die baie geïnteresseerde jong mense. En sonder woorde sê ek ek verstaan. Die bos sal dit wees. Die posisie is dieselfde, gehurk. Maar daar is die lug darem vars.

Die volgende aand eet ons in die eetplek van ‘n groter dorpie. En ons het ‘n probleem! Die kelnerin en kelners praat Kazakh! En ons tolk en sy meisie verstaan dit nie so goed nie. Hier praat die Kazakhs Russies, Kazakh is blykbaar baie moeilik. So kry ek hoender met baie roomsous, in plaas van geen!

Ek krap so goed moontlik af, maar vrees sommer klaar vir die gevolge van laktose intolleransie. Die Lomotil keer gastro, maar die ongenommerde een laat haar nie keer nie. Dus stop ons die volgende dag vreeslik baie vir foto’s.

En ek moet neem, om nie my ‘cover’ te blaas nie. Teen middagete is ons by ‘n padkafee! Met ‘n toilet wat beter lyk as die langs die pad.

Net om ‘n groter verrassing te kry! Mens stap by die opening in, met geen deur. En dan is daar regs van jou twee gate! Sonder deure!

Dit sou ek nie waag nie. Kyk jy vorentoe, is dit ‘n onaangename gesig vir iemand wat instap. En agtertoe weet jy nie wie ingestap kom nie! Dus sou dit weer die bos wees.

Ek los die snaakste een vir laaste! Die toilet by ‘n ander padkafeetjie!

Dit is agter hierdie plekkie en lyk van ver af skoon.

En dit is ook redelik skoon. Almal het sover reg gemik. Toe ek opstaan, is daar ‘n geweldige slag! Oorverdowend. Simpel movie tonele vlieg deur my kop, die soort wat dink dit is snaaks om toilette op te blaas of om te stoot. Of dalk ‘n kwaai Rus met ‘n geweer omdat ek die toilet sonder toestemming gebruik het. Daar was tog geen bordjies nie?

Ek pluk alles reg en maak die deur oop en sien niks. En dan sien ek regs van my ‘n massiewe stofstorm.

Ek dink regtig die padbouers kon die oomblik om die rotse op te blaas om hulle pad te bou beter gekies het. Terug by die kar, wat genadiglik aan die ander kant van die gebou gestaan het, lag hulle vir my en vra of ek dit gehoor het!! Yeah right! Wie kon nie?

9 comments

  1. 😂 So ‘n bosablusie is op sy beste maar ‘n sleg besigheid. Ek sê gewoonlik vir my man hy moet asb uitkyk vir ‘n oulike bossie. Nou is dit al ons sêding, selfs in die stad ook as ek ‘n draaitjie wil loop. ‘Sal jy uitkyk vir ‘n oulike bossie? ‘, maar dan is daar nie twee ander jongmense in die geselskap nie. 😊

    Like

  2. O o, ek kan net dink watse spanningsvolle rit hierdie vir jou was! Ek ken van daardie probleem, met my is dit nie net melk nie maar als wat by my mond ingaan. Sjoe, simpatie, Christa, jy het my bewondering.

    Liked by 1 person

  3. EK moet erken, hoe ouer ek word, hoe groter raak die probleem vir my ook want my blaas wil klokslag elke 30 minute leegloop…. so was dit ‘n geknyp vir ‘n vale toe ek en Baaskind laas keer af is Heilbron toe…daar is ook nie juis badkamers op daai pad nie…eish. Jy het al my simpatie.

    Like

  4. 🤣 Kostelik. Ek kry ook soms uit die bloute hierdie ongenommerde een probleem. In my geval word dit veroorsaak deur ouderdom, dink ek. “Velbek raas”, het my pa altyd aangekondig. Maar daardie padbouers se knal op so ‘n ongeleë tydstip is darem ‘n ongenadige poets.

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.