As kleinkinders ouma help huis oppak

Ek het my drie kleinkinders so gemis toe ons in Qazaqstan was. En hulle vir ouma ook. Daarom het hulle vir vier dae en twee oorslapies by ons gekuier, terwyl oupa en ouma huis oppak. Na amper veertien jaar in een huis. En dit was pret!

Al drie kleinkinders is my dogter s’n. En al drie is seuntjies wat sonder TV moes klaarkom, want ouma en oupa het die DSTV gestop. Oor die vendetta teen Steve Hofmeyer.

Ons twee is vir Afrikaans soos die drie musketeers se spreekwoord. All for one and one for all, as ek nou reg onthou. ‘n Geboelie deur ‘n polities-gedrewe uitsaaier gaan ons nie ons nie steun nie. Sal eers as hulle vendetta het teen mense wat geweld aanmoedig. En dié kry die hele tyd spreektyd.

Intussen doen ons baie met R12 000 per jaar in ons sakke. Ons het byvoorbeeld Netflix ontdek. En reekse wat jy kan kyk sonder om vir die volgende week te wag. Maar ek dwaal af.

Die punt is, gewoonlik sit hulle by ouma en oupa en TV kyk. En nou moes hulle daarsonder klaarkom. En het dit hulle gepla?

Glad nie, ons het pret gehad. So tussen die pakkery en sekondlange broedergevegte deur. En onmin was daar wel, seker so een keer per dag, tussen twee jonge broertjies.

Ek het dan maar gou my juffrouskoene aangetrek. En nie kant gekies nie, want oumas mag dit nie doen nie. Dus het ek na altwee kante van die saak geluister. En dan gelag.

Skuus, ek weet dit is nie mooi nie, maar teen die tyd wat een of twee van hulle huilend kom kla, is die probleem uitgesorteer.

En dit werk so. Iemand het iets aan iemand gedoen, maar die iemand het reeds die gereg in eie hande geneem. Ek moet net hoor dat daar wel onmin was …

In die res van die vertelling, wat oor pret tydens die pakkery handel. gaan ek oudste kleinkind (8) se name vir elkeen van die kinders gebruik om van prettige oomblikke te vertel omdat ek hulle nie wil identifiseer nie.

Ek het van die manier van vertel by oudste kleinkind geleer toe hy vir my ‘n storie vertel oor iets wat by hulle gebeur het. Aangesien die twee ander daar gesit het, praat hy toe van die kleiner boeties as middelste (pas 5) en jongste (pas 3) dat hulle nie moet verstaan hy praat van hulle nie! Ek gaan dit dus so gebruik, al dink ek dat daai twee broers presies verstaan het! Hulle het dit dan beleef.

Ek beskryf eers die drie kleinkinders van my.

Oudste is ‘n blonde seuntjie met die mooiste vorm blou ogies. Langerig en wilgerlatlyfie, daai lyfie en knit one slip one tandjies kenmerkend aan graad 2’s. Hy hou daarvan om te weet dat ek dink dat hy oulik is. Maar haat spesiale aandag. Pure ouboet, vat gereg in eie hande as die twee jongstes pla, maar as ek met een van hulle wil raas, tree hy onmiddelik vir hulle in die bresse met iets soos Ouma, hy is nog klein!

Middelste is ‘n donkerkop, soos sy ouma en ma. Ook wilgerlatlyfie, het nog al sy tande. Anders as ouboet hou hy baie van aandag. Lyk net soos sy mamma as kind gelyk het, so erg dat dit soms voel of ek in jare teruggeloop het. En na my meisiekind kyk en haar vashou. Sy het net groen oë. Hy is ‘n sagte ou dingetjie. Vol drukkies en soentjies vir sy ouma en sy hartjie word gou seer.

Jongste is ‘n blonde kop, met blou ogies. Baie vriendelik, maar mens moet ook nie met hom sukkel nie want hy is ‘n stewige knapie. Hy kan sy boeties boelie as hulle sy goed vat. En tree nie vir hulle lengte terug nie. Hy het, as ek moet skat, gewigsvoordeel. Hy hou baie van aandag en hy hou baie daarvan om sy ouma te vermaak. Glad nie op sy bek geval nie, mens kan grootmensgesprekke met hom voer.

En nou die pakkery.

Oudste was soos ‘n masjien. Hy het die hele tyd gewerk. Bokse onder toegeplak, gehelp vol pak en weer toegeplak en bo-op geskryf. Eers wou ek nie dat hy dit doen nie, maar hy het my gou oortuig hy is baie beter as ek daarmee. En hy was so trots op sy werk.

As ouma vra vir 5 minute rus, was dit 5 minute al bedoel sy twintig of meer.

Ek het ‘n baie groot verskeidenheid boeke, rakke vol lêers vol papiere wat al weggegooi moes word, maar die tyd was te min om deur te gaan. Dus is alles gepak En het hierdie kleine lyfie het elke boek, lêer en swaar universiteitboek van manlief, ons seun en myself aangegee. Teen ‘n spoed. En toe dit op die tafel ophoop, het hy gehelp sorteer in bokse: Afrikaans, Geografie, Wiskunde, mynbou (oupa), ekonomie (seun) en opvoedkunde (ek). En alles op die bokse geskryf. En tyd vir gesels gehad.

Wat is Opvoedkunde (reg gespel en hy is graad 2) ouma? Nie verbasend nie, hy is deur na die derde rondte van die spelkompetisie. En lees boek vandat hy sy oë op die aarde oopgemaak het. Eers het ons vir hom gelees. En as hy die woord nie ken nie, moes ons eers verduidelik. Soos nou. Dit is die boeke wat ouma moes lees om te leer om kinders te leer. Jy onthou mos dat ouma ‘n juffrou was? Ja, ouma.

Een boks was vol goed wat ek gou sal wil kry, maar nie tyd het om te sorteer nie. Ek sê toe hy moet sommer deurmekaar daarop skryf. Hy het my so skeef uitgekyk, gekyk wat in die boks is en ‘n lysie gemaak. Deurmekaar werk nie vir hom nie.

Tussen die boeke deur het hy boeke ontdek wat nie in bokse moet wees nie. Dit moet na sy huis gaan. Wiskunde-handboeke. Kan ek die boek vat, Ouma. Nee jong, daai is nie leesboeke nie. Dit is skoolboeke. O, nee dan wil ek dit nie hê nie. Gits. Hoop nie ek het hom afgesit van skoolboeke nie …

Tussendeur het hy ‘n boek gelees. Goosebumps. En by ouma vergeet. Wat dit in laaste ongemerkte bokse gepak het. En nou nie kan kry nie want alles is in die stoor op die plaas geberg. Tot ouma oor twee jaar plaas toe trek as sy van Qazaqstan terugkeer.

Ek het ook baie tydskrifte, opgegaar tot so vier jaar gelede toe ek digitaal gegaan het. Omdat ek nie ‘n tydskrif kan weggooi nie. Dié keer het ek, en die drie boete het ‘n groot sleepwaentjie vol (ek sê mos ek het baie) vir oupa met die trappe afgedra en langs die waentjie gepak om weggery te word.

Ek het aangeneem ek sal die meeste moet dra, maar hulle het alles afgedra en middelste het nog kom soek met: Ouma, is daar nog? Dit is lekker om vullis te maak. Aan my dogter: Dit is die wagwoord om hulp met opruim te vra!

Middelste het ook baie gehelp. Met swaar lêers. Bo-op blad gestaan en aangegee. En ek het my verwonder hoe sulke kleine lyfies sulke werk kan doen sonder om moeg te word. Ek was doodmoeg en my lyf het gekla. Hulle s’n nie, hulle wou net meer en meer aangee. Hy het tussendeur gespeel, soos dit ‘n 5-jarige betaam. En geteken. Want juffrou oumas het baie papier, baie tekenboeke en baie penne en skryfgoed. Hy leer ook lees by die kleuterskool. En hy kan skryf.

Tussendeur het hy drukkies kom bedel. En kom kla as ouboet hom Issie noem. Ek sou ook kla, dus het ek geraas daaroor.

Jongste het so nou en dan kom help. Anders het hy net by ons gesit en teken. En toe ouma se skoolhuffrou stempels ontdek is, het hy alles om hom gestempel. Of hy het blokkies gebou en dan het middelste saam gebou.

Die Tenga (is dit nou reg?) blokkies het vir huil en pret gesorg. Ek rus op bank by hom. En hy vra of ek saam sal bou. Onthou, hy was twee weke gelede nog net twee. Ek sê dit is te moeilik. Want ek wil net kyk en rus. Het nie soveel energie soos hulle nie. Hy sê: Dit is maklik, Ouma, kyk, mens bou net so. In lyne. Goeie genugtig, goeie beskrywing van hoe om te bou. Ek sou wys, maar nie noodwendig so beskryf het nie.

Die blokkies het ook vir oorlog gesorg. As oudste wil saambou en vir hom ‘n paar vat. Dan het jongste sommer probeer tande inlê, gelukkig het oudste dik baadjie aangehad wat ouma en oupa uit Qazaqstan saamgebring het. Want hy het gebukkend oor sy buit wag gehou. Ek moes dan met al twee raas. Moenie byt nie, dit is baie lelik. En baie seer. Moenie jongste se blokkies net vat nie, vra om saam te bou.

Jongste mag drie wees, maar hy is stewiger as middelste en oudste gebou. En kan hy nie sy man staan nie.

Ek maak kos en oudste en middelste kom kla dat jongste die klere wat hulle wil aantrek vol melk spuit. Ek glo hulle, het dit in die kar beleef toe hy die vasgemaakte oudste en middelste met melk bespuit het. Darem in mamma se kar, ek sou minder vriendelik gewees het.

Sê hulle moet vir jongste gaan roep. Hy kom skoorvoetend aan, weet hy was stout. En ek geniet die oomblik te veel en vra kwaai: Waarom spuit jy hulle klere met melk? Hy stry nie, sê net Want hulle sê vir my Poepoes. Met ‘n pruilmondjie.

En ek lag, soos ‘n heks. Uit my maag uit. Hulle staan altyd verstom as ouma daai lag uitpluk. Nou staar al drie seuntjies vir my. Ek sou hulle ook natgespuit het. En jongste lag eers sag en dan hard saam.

Ek is verstom oor jongste se taalgebruik. Vol sinne, ek dink my dogter word vies as ek gereeld moet seker maak hoe oud hy is. Want sy taalgebruik is beslis gevorderd. En hy plaas die woorde reg in sinne.

Soos met Hansie Slim. Hy verander Hans is in die huis nie meer na Hans is nie meer in die huis nie!

Dié kleinkind van ons is die eerste een wat sing. Op aanvraag of sommer so op sy eie. Terwyl hy speel. So lekker dat die ouboete saamsing. Wat nooit vir ouma skoolliedjies wou sing nie.

Ek het in ‘n huis met singende sussies grootgeword. Ek het al vertel dat ons in kar moes sing as ons wou baklei. Ek dink my dogter moet dit ook probeer. Wie kan veg as hy moet sing?

Kleinboet is nou ses maande in die kleuterskool, maar hy sing Vader Jakob, Hansie Slim, Twinkle twinkle litte star en verskeie ander liedjies. Met handgebare. En gesiggie wat storie vertel. Ek wil hom opeet. En dan val die ouboete in. Leer hom waar hy vashaak. En ek is verstom, hulle ken sowaar al die liedjies!

Etenstye het ook vir onthou-oomblikke gesorg. As oupa klaar gebid het, het middelste gesê: Sjoe, oupa bid vinnig! Ek neem aan sy pappa of mamma het ‘n baie langer tafelgebed as oupa. Of oupa s’n is net nog vreemd op die oortjies.

Die een oggend wil middelste nie sy eier eet nie. Oupa sê hy kan nie opstaan voor hy klaar geëet het nie. Ouma weet dit nie, want sy het goed gaan haal om te was. Hy ambush haar huilend dat hy nie die eier wil eet nie. Ek sê vies: Nou los dit dan, dit is nie rede om te huil nie. Oupa kom uit kombuis en raas met ouma, hy het gesê eet klaar. Ek was onbewus daarvan en ons twee kyk kwaai vir mekaar.

Ek wen en gooi die eier met boog in die asblik. Trots op my standerd ses netbalvaardighede. Vies vir oupa omdat hy met my raas. Dankbaar rede vir huil lê in asblik.

Jongste sit nog en eet, kyk my so kwaai uit, en sê: Ouma, mens gooi nie kos in die asblik nie. Ek gee kwaai kyk, dit is nie die rege oomblik om ouma tereg te wys nie. En hy vervolg: Dit is nie reg nie! Middelste voeg by: Ja, mens mors nie met kos nie! Nog voor ek kan antwoord dat hy die rede is, val oudste in met: Mens eet die kos wat ouma spesiaal gemaak het!

O, my genade, het ek gesukkel om my lag weg te steek! Kry ouma van driejarige raas. As sy kwaai is! Middelste staan by hom al is hy die rede en oudste beskerm ouma!

En is jongste pret om op te pas! Hy is, net soos sy broers, vol dinge. En ‘n Vanhelsdingen. Kom by my aan met bloed op die vingertjie en ek sê: Huil jy nie? En hy sê: Nee. En ek sê: Jy maar, daar is bloed. En die lippietjie wil net bewe, maar dan lag ek en sê: Sjoe, jy is ‘n groot seun. En hy lag saam.

Dominee was daar, het vinnig kom huisbesoek doen, so hy kan getuig dat ek die waarheid praat. Die mannetjie het nie gehuil nie.

Ons het natuurlik lekker gelag. Hulle is in Mosaïek-kerk, ons is stoere hervormers. Ek sê vir hulle, toe dominee opdaag, dat ek hou afgaan, dominee is daar. Dit is ‘n woord wat middelste nie ken nie, ek weet nie wat noem hulle die dominee van hulle kerk nie, en hy sê: Ouma, ek kom saam, ek het nog nooit ”n dominee gesien nie!

Ek lag en vertel dit so met die afstap van die trappe vir dominee. Wat ons almal verras toe hy met ‘n Ninja-sprong opspring, hande voor hom land en sê: Nie?Ek weet nie wat hy vir sy mamma oor dominees gaan vertel nie, maar ek het dominee ook nog nie so gesien nie …

16 comments

  1. Van een ouma na ń ander, dit was heerlik om ń stukkie van jou kleinkinders te kon deel, my tone het sommer omgekrul van lekkerte vir jou part.

    Like

  2. Dis heerlike leesstof. Die kinders is te dierbaar vir woorde. Ek het net een kleinkind van twee en n half. Sy is so spontaan en begin nou voluit praat en alles vertel. Sy het gister haar twee toontjies moes laat opereer, een aan elke voetjie. Vandag is sy katjie van die baan. Sy en Pappa het na n “Ware house” gegaan om verf te koop. Pappa vertel sy het die hele tyd uit volle bors gesing. Sy het net nie opgehou nie.

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.