Verlede week kry ek die blink plan oor hoe om brood in Qazaqstan vars te hou. Voorheen het ek twee keer gebak, maar die helfte van die brood word weggegooi omdat dit oud is. En ek doen nie al daardie moeite om brood weg te gooi nie. Dus het ek intussen vetkoek gebak en twee-twee gevries om dit vars te hou. So het ek vars vetkoek vir drie dae lank op die tafel gesit voordat ek weer moes bak.
As ek dit met vetkoek kan doen, kan ek dit mos met brood ook doen? Twee-twee snytjies vries, in die oggend uithaal en teen middagete was dit so ged soos vars op die tafel? Toe bak ek brood en gee vir Mia, my vriendin hier, vier snytjies om tuis te gaan proe.
Mia het dadelik gevra of ek vir haar elke Maandag sal bak.
Wat natuurlik nie ‘n probleem sal wees nie omdat Thermie al die kniewerk doen. Maar toe dink ek aan ‘n beter plan. Wat van ons bak saam?
So laat weet ek hoeveel sy van watter bestanddele nodig het, watter grootte bak nodig is vir die deeg om in vrede te rys en watter grootte pannetjie sy moet gaan koop, ook waar dit te kope is.
Gister sou ons eerste bakdag wees, maar toe is haar dogtertjie siek. Toe skuif ons na vanoggend toe. So teen halftien was sy en baba voor die deur, al die benodigdhede in die stootwaentjie gepak. My deeg was reeds aan die rys sodat ons aandag aan hare kon gee.
Natuurlik dat sy ook sommer kans kry om met Thermie te werk, watter pret sal daarin wees om sy net moes kyk hoe ek met my speelding werk? Sy is huis toe dat baba kan slaap en ons het so per WhatsApp seker gemaak dat sy al die stappe mooi volg.
Ek is nie van die soort vrouens wat resepte halfpad deel sodat ander dit nie so goed soos ek kan bak nie, dus gaan ek vir Mia vra om haar foto’s op Instagram te deel en die skakel in die kommentaar te deel. Haar brood lyk baie, baie mooi!
Ek deel dan sommer ook so in die gesels die resep vir die brood, wat soos egte plaasbrood proe.
Ek het op plaas grootgeword met ‘n ma wat ‘n brood kan bak, daarom gebruik ek nie broodmeelblom nie, maar eerder koekmeelblom.
Bestanddele
- 250 g water
- 30 g botter
- 15 g gis
- 5 g sout
- 340 g koekmeelblom.
- 20 cm broodpan
Metode
- Voeg water en botter in die Thermomix
- Stel as volg: tyd: 1 minuut, hitte: 37, spoed 1 om die water en botter te verhit.
- Voeg dan in die volgende volgorde by: eers die gis, dan die meel en dan die sout
- Stel as volg om te meng: tyd 8 sekondes, spoed 7
- Knie die deeg vir 3 minute
- Gooi oor in die gesmeerde bak, maak met Glad Wrap toe en laat rys tot dubbeld die volume (ongeveer 1 en half uur)
- Vorm ‘n brood met die deeg en sit dit oor in die broodpan
- Sit iets hoogs bo-oor om plek te maak dat dit weer rys, maak seker geen lug kom in nie anders gaan dit hard word
- Bak vir 30 minute by 180 grade Celsius
- Keer brood op klam lap uit, draai toe en draai dit dan in ‘n broodkombersie toe om die kors sag te maak.
Ek deel foto’s van my brood op Instagram en sal vir Mia vra om ook so te doen. Haar eerste probeerslag lyk baie goed, ek is nie verniet ‘n juffrou nie!
***
Ek sny my brood dadelik in snytjies en vries dit twee-twee, maar mens kan dit ook net so in die broodkombersie hou tot dit opgebruik is.
***
Is dit nie maklik nie? Die ding sal ek nie sonder my Thermomix aanpak nie, ek hou nie van ‘n kombuis vol meel en seer arms as ek ‘n brood self probeer knie het nie. Maar wie kan nou kla as dit minder as 5 minute neem om ‘n brood te knie?
Nou vra jy seker waarom ek begin brood bak het? Ek wat nie wou leer bak toe ek ‘n kind was nie? Wel, mens kry nie vars brood in Ust nie, of altans, ons het in ses maande nog nie gekry nie. Soms koop mens dit so warm van die rak af, net om dit die aand weg te gooi omdat dit oud proe. Ek weet, dit is omdat hulle nie preserveermiddels ingooi nie.
As ek nie begin bak het nie, het ek en Mia nie so ‘n lekker kuieroggend gehad nie …
Daardie preserveermiddels, dit, is wat die gif is, dan blameer hulle gluten.
LikeLike
O jitte! Ek kan dink!
LikeLike
Jy’s reg, Danie. Ek en winkelbrood kan mekaar nie vind nie.
LikeLike
Manlief hou nogal daarvan, sal seker na Albany teruggaan as ons weer terug is.
LikeLiked by 1 person
Maar dis juis die Albany (dalk net in KZN?) wat my so die harnas injaag. Die meel is grof en onsmaaklik en die brood oud nog voordat ek by die huis kom. Ek koop B&B vir my man. As ek winkelbrood moet eet, moet dit gerooster wees.
LikeLike
My man ook, rooster dit.
LikeLiked by 1 person
Hester, ongelukkig, sluuit dit lekker gebak, koeke, terte ens ens in. Nogal ‘n rukkie gelede, die toetse vir allergieë laat doen, ook vir gluten en daarvolgens het ek nie’n probleem nie. Dalk die suiker?
LikeLiked by 1 person
Ek verstaan ook suiker is ‘n pes.
LikeLike
Ek het nie ‘n mediese reaksie op enige gebak nie – dis net dat die gehalte en smaak so agteruitgegaan het. Of dalk raak ek net meer vol nonsies hier op my oudag.
LikeLike
Ek is dom met daardie reaksie van my liggaam. Wat ek wel agterkom, indien daar ‘n moontlikheid is, om van daardie lekkerny te eet, ek net ‘n half teelepel koeksoda, in water opgelos, neem, dan is daar geen probleem nie. Hier smaak alles nog baie lekker, ongelukkig.
LikeLiked by 1 person
Dit is goeie raad, hier is koeksoda!
LikeLike
Ongelukkig, nogal 😂
LikeLike
Christa, ek wens jy was my buurvrou. Ek gebruik ook koekmeel om brood te bak in my Hussell Hobbs broodmasjientjie. Die ongeluk is net, die brood is so lekker dat ek hopeloos te veel daarvan eet. My vetkoeke koop ek by die viswinkeltjie hier onder in die hoofstraat – daardie Indiese vroutjie bak “fat cakes” to die for.
LikeLike
Ons sou lekker saamgebak het. dalk moet ons plan maak in Rebusfontein?
LikeLiked by 1 person
O ja, in Rebusfontein kan ek selfs kolwyntjies bak.
LikeLike
Daardie druppels teen die ruit maak dit so snoesige foto
LikeLike
Dankie Dromer, dit het gereën, was nogal bekommerd dat die deeg gaan sukkel om te rys.
LikeLike