Daar is twee soorte telwoorde, naamlik hoof- en rangtelwoorde. As jy die regte vraag vra, is dit maklik om tussen die twee soorte telwoorde te onderskei.
1. Hooftelwoorde
Hooftelwoorde kan uitgeken word as jy die vraag: “Hoeveel?” vra. Daar is twee soorte hooftelwoorde, naamlik bepaalde en onbepaalde hooftelwoord:
a) Bepaalde hooftelwoorde dui ‘n spesifieke getal aan, byvoorbeeld:
- Hoeveel kinders was daar? Daar was tagtig kinders. (nie 80 nie, dit is ‘n syfer)
- Hoeveel meter het hy gehardloop? Hy het honderd meter gehardloop.
b) Onbepaalde hooftelwoorde dui nie ‘n spesifieke getal aan nie, byvoorbeeld:
- Hoeveel mans was daar? Daar was baie mans.
- Hoeveel mense was dakloos? Talle mense was dakloos.
- Hoeveel het belanggestel? Weinig het belanggestel.
- Hoeveel woorde het hy al geskryf? Hy het min woorde geskryf.
- Hoeveel spelers kan wen? Verskeie spelers kan wen.
2. Rangtelwoorde
Rangtelwoorde kan uitgeken word as jy die vraag: “Hoeveelste …” vra. Daar is ook twee soorte rangtelwoorde, naamlik bepaalde en onbepaalde ragntelwoorde.
a) Bepaalde rangtelwoorde dui ‘n presiese volgorde aan.
- Hoeveelste was hy? Hy was derde.
- Hoeveelste was sy? Sy was drie-en-veertigste.
b) Onbepaalde rangtelwoorde dui nie die presiese volgorde aan nie, byvoorbeeld:
- Hoeveelste was hy? Hy was laaste.
- Die hoeveelste kind is sy? Sy was die middelste kind.
- Dit is die soveelste keer wat ek moet verduidelik.
- Dit is die hoeveelste keer wat hy oor daardie stomp val.
Daar is ‘n paar dinge wat jy ingedagte moet hou.
i) Telwoorde kan selfstandig gebruik word, byvoorbeeld:
- Bring albei boeke saam.
- Sy het honderde boeke verkoop.
- Sommiges werk nooit.
- Ons het etlike meters ver gehardloop.
ii) Soms word die meervoudvorm gebruik vir die selfstandige naamwoord na ‘n telwoord en ander kere die enkelvoud. Dit is dus nodig om aandag aan die volgende voorbeelde te gee:
- Hy het die naelloop in 10,2 sekonde afgelê.
- Ons het drie en ‘n halwe dag daaraan gewerk.
- Ons moet nog duisende kilometers aflê.
- Daardie tou is etlike meters lank.
iii) Telwoorde kan los of vasgeskryf word.
- honderd-en-agtien of honderd en agtien
- honderd-en-tweede of honderd en tweede
- breuke: nege en drie sesdes
- sewehonderd vier-en-tagtig of sewehonderd vier en tagtig
- nege-en-dertig of nege en dertig
Oorspronklik gepubliseer by https://doktorvanstaden.com/2018/11/23/telwoorde-afrikaans/#more-2459
Wat is korrek of kan mens beide gebruik. Is dit agt of ag.
Die Gr1 juffrou bevestig hulle leer kinders ag om verwarring te vermy met uitspraak van agtien sodat hulle nie dink dis 2 t’s nie .
LikeLiked by 1 person
Agt word meer algemeen as die korrekte spelling aanvaar, alhoewel ag ook gebruik word. Die juffrou se rede vir die gebruik van ag is belaglik. 1) Agt beteken 8 en klaar. Ag het baie ander betekenisse: aandag gee, aandag, aanmerk, beskou, haal, hou, oordeel, reken, skat, tel, vind. Dit sou die kinders veel eerder verwar as wat die spelling van agtien hulle verwar. 2) Hoe leer sy hulle om een (ELF) twee (twAALF)), drie (dERtien), vier (vEErtien), sewe (seweNtien), nege (negeNtien), en tien (twintig/dertig/ens) te spel? Ek sou daarop aandring dat my kind leer om agT reg te spel.
LikeLike