Ongemaklike oomblikke op ‘n Qazaq-troue se dansbaan

Ek het eergister vertel dat ons na ‘n Kazakh-troue genooi is. En dat ek ‘n mooi rok vir die troue kon koop, in ‘n land waar valletjies en kantjies en plooitjies hoogty vier. Hou van die foto wat van ons maatskappy se gaste geneem is.

Ek sal later van die troue vertel, want ek het baie foto’s en video’tjies geneem, wil die bruid net eers kans gee om hare vir die wêreld te wys.

Ek kan egter van ‘n paar ongemaklike oomblikke op die dansbaan vertel.

Ek het al vertel dat ek eers leer dans het toe ek ‘n koshuisbrak van Madelief, Tuks, was. In my eerste jaar was ons verplig om elke Saterdagaand by die manskoshuise te gaan dans. Kollege-huis se manne het die lekkerste gedans.

Nadat ek my man in Maart van my tweedejaar per toeval by jool raakgeloop het, was hy my permanente dansmaat. En hy kon dans! Ons het by verskeie mynbou-ingenieurstudentefunksies tot die finaal deurgedring wanneer daar ‘n uitdanskompetisie was. Langarmdans.

Intussen het ons al minder ge-langarm want rugby is ongenadig op die manne se knieë. Toe leer ek Sobek, my een Schnauzer, om te langarm. Die afgelope vier maande is daardie oplossing ook op ys gesit. Dus het ek baie lanklaas gedans.

Dit was dus onvermydelik om ‘n paar ongemaklike oomblikke op die Qazaq-troue se dansbaan te beleef.

Die eerste rede is dat ons langarm verkies en afstap as almal los dans. Saterdag het almal los gedans. En ons was vrywillig verplig om saam te dans, die gaste is gasvry en betrek die expats. Maar ons is ook nie toegelaat om die dansbaan te verlaat as ons moeg is nie. Hulle stuur jou terug in die kring. En hulle word blykbaar glad nie moeg nie …

Tweedens verstaan ons nog nie Russies nie en hulle praat ‘n nog vreemder taal, Qazaq. Manlief se PA het nie hier groot geword nie, sy het vir ons Russies vertaal en kon, volgens haar, net 10% van die aand verstaan. Meer as ons, ek het nie die woorde gehoor wat ek al geleer het nie.

Derdens was almal, soos by alle partytjies, aan die begin van die aand kuis, elkeen het op sy eie kolletjie gedans. Maar die kelners was vrygewig, al die glasies was die hele tyd tussen driekwart en vol. Dus kon die mammies nie telling van die drankies hou nie. Daar is vier glasies by elke persoon gedek. Water, koeldrank (pruimedantesap), rooi wyn en ja, jy het reg geraai, Vodka!

Manlief was op die koeldrank en waterkarre omdat hy bestuur. Hier geld ZERO-tolleransie vir alkohol in die bloed. En die straf is swaar, almal wat bestuur is ook vir die aand geheelonthouers. Ek is een want my bloedsuiker val in so mate dat ek lomerig raak as ek ‘n slukkie alkohol neem. Dus is ons twee baie nugter.

Hoe die Qazaqs die Vodka so maklik afsluk, weet ek nie. Het gekoop om vanilje-essens te maak, en ‘n vingerpuntproe, het my asem weggeslaan. Maar hulle doen. En hulle raak al hoe gulhartiger en joliger soos wat die aand na twaalfuur se kant toe aanstap. Ons het eers na elf daar weggekom.

Ek het op een stadium op my arm gekyk waar my horlosie afwesig was. En ‘n vrou het my aandag getrek, kop geskud en oor die plek waar haar horlosie sit gevee. Ek het al verduidelik dat ek ballettaal verstaan. Hier is vanaand geen tyd nie, ook nie wanneer jou bene lam raak van die alleendans, so op een plek.

Die buitekante van my dye het soveel oefening gekry dat hulle, en my kuite, vanoggend styf is. Het sommer op die dansbaan al geprotesteer, al dans ek met minimale bewegings omdat ek net te skaam is om voluit te gaan. En hulle het gedink ek kort so bietjie van ‘n jump start.

Eers het ‘n kort, jolige vroutjie skielik van agter deur my arm gehaak, op die maat van baie vinnige musiek wat aan Zorba die Griek herinner. Voor ek kon keer, swaai sy my vinnig in die rondte. Sy gemaklik met vorentoe treë, ek biddend dat ek nie val nie, want ek moes teen ‘n spoed agteruit dans.

Ek sien ‘n paar gaste wat my geamuseerd dophou terwyl hulle hulle lywe op die maat van die musiek draai en swaai. En ek weet die show is on. Een van die vrouens het reeds geval, maar ek sou nie so grasieus soos sy kon val of opstaan in my stywe rokkie nie. Gelukkig het manlief my gereeld, teen my sin, in beide rigtings gedraai as ons langarm. My voete het die pas gevind en ek kon myself bevry toe die musiek ‘n stadiger ritme kry. Ek het geglimlag, na manlief beweeg en weer losgedans.

Later die aand het een Qazaq my as sy aangewese dansmaat uitgekies. Tot vermaak van die ander mans omdat hulle my ongemak raakgesien het.

Eers het hy, soos sy vrou, by my ingehaak en ‘n paar passies saam gedans, beide van ons op die vorentoe voet. Daarvan het ek seker gemaak! My dansvernuf gaan ek nie twee keer in een aand toets nie.

Ander kere het hy voor my kom dans, en prettige passies gemaak en my genooi om ook so te maak. Stel jou voor? Ek wat skuins na die een kant leun, my een been in die lug, al dansend op die een been? En dan weer op die ander een, net om te wys dat daai een nie per ongeluk was nie. Toe het die ligte van die saal nog gebrand.

Later die aand het hy tussen die musiek met my gepraat. Ek het nie die vraag verstaan nie, eers besef hy vra iets toe hy vra ôkeeeiii? Aangeneem hy vra of ek dink hy dans goed, want hy het soos pou gepronk en my kop instemmend geknik. Kon verkeerd gewees het.

Tydens ‘n volgende danssessie het ek en manlief ver weg aan die kant gedans, maar die Qazaq het my kom opsoek, my hand geneem en my laat tiekiedraai. Ek kyk altyd verwonderd as my dogter en haar man dit doen, ek het nog nooit. En hy is korter as ek, dus was die stesvlakke weer hoog. Maar, dit gebeur toe so half vanself en ek slaag sy toets met vlieënde vaandels om weer alleen te dans.

Tydens die laaste danssessie is ons weer na die dansbaan verplig, al was ons op pad. Die Qazaq het weer om my kom dans. Die keer was ek verleë. Want hy het my vas in die oë gekyk en sulke wulpse bewegings met sy wilgerlatonderlyf gemaak, uitgedaag om dit ook te doen.

En dit gaan ek beslis nie doen nie. Ek voel soos nie soos die mot wat om die kers dans nie, maar eerder soos ‘n goggatjie op ‘n spinnerak. Beperk my bewegings, want die gevaar is naby.

My oë soek manlief s’n, maar ‘n vrou het tussen ons kom dans, ‘n wilde rukkende alleendans. En ek sien my benoudheid in sy oë toe ek sy oog vang.

Hy kom aangedans om my ridder te wees. Maar, die Qazaq besluit dat ek sy dansmaat is, beweeg tussen ons twee in, sy rug na my gekeer, sy oë op my man.

En hy dans ‘n dans wat my herinner aan die uitdagende dans wat kropduifmannetjies uitvoer op die dak van die gebou onder ons. As die kapokhaantjie van die twee vir die ander een wil laat verstaan dat dit sy wyfie is.

Ek kyk oor sy kop na manlief se gesig, hy glimlag vir die Qazaq en wys met die kop dat ons moet gaan. Die Qazaq draai om, glimlag vir my, wys met sy skouers dat hy die aftog blaas. En ek lag dankbaar terug.

Op pad na die tafel sê manlief so half verbaas vir my: Hy het my uitgedaag, het jy dit gesien?

By nabetragting dink ek die man het net ‘n balletstorie vertolk. Ons leef in ‘n land bekend vir sy ballet. Maar ek gaan nie stry nie.

Manlief het na die partytjie gekom om sy damsel in distress te red. En dit is te lekker om daaroor te stry.

Advertisements

17 comments

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.