Vleiskoop is van dag een af ‘n uitdaging in Öskemen blykbaar ook in die res van Qazaqstan. Hier is nie slaghuise soos in Suid-Afrika nie, vleis word op markte aangekoop. En dit is ‘n anderste belewenis.
Ons verkies Fresh Market, een van die nuwe markte in Öskemen, hoofsaaklik omdat die vleisafdeling afgeskort is.
Mens loop al om die tafels of toonbanke en verkieslik nie te naby nie. Sodra jy te naby kom, word jy in Russies aangemoedig om te koop. En ons verstaan nie wat hulle sê nie. Dus loop ons effens verder van die toonbanke om op ‘n afstand ‘n stuk met die oog te kies en dan gaan ons eers nader om die stuk met handgebare te koop. Voordat iemand indruk en dit vat!
Bees word hoofsaaklik in twee massiewe snitte opgekap. Naamlik een wat soos massiewe romp lyk met ‘n been in die middel.
Uit ondervinding het ons geleer dat die vleis aan hierdie been verkieslik gekook moet word. Volgens ons Russiese vriende vir ses uur lank. En een wat uit die boud gekap word.
Dit lyk klein, nou vertel almal vir my dat dit ‘n skaapbouchop is. Dus het ek die maand ‘n beter foto geneem, met ‘n broodmes en spaan by om jou te help om te besef hoe groot die stuk vleis inderdaad is. Ons het uit hierdie een stuk nege skywe biltong en 13 groot sosaties te maak!
Mens moet mooi met die vleis werk anders kan die gekapte been nogal seer steek! Soos ek reeds geskryf het, word die vleis met byle opgekap.
Ek het nog altyd gewonder of die boere dit op hulle plase kap. Vandag aan die ander kant van die muur in die varkafdeling geHOOR hoe dit gekap word.
Die vark word in ‘n aparte afskorting verkoop weens die geloof van die land, wat hoofsaaklik Moslem is. Iets soos 94% van die Kazakhs hang die Moslem geloof aan.
Ons is gister vir die eerste keer in die varkafdeling in en toe ontdek ek iets wat ek in twee maande nêrens kon koop nie. Wors!
My pa was ‘n slagter, daarom is ek baie fitterig oor wors. En daar moet koljander in wees om soos wors te proe. Dus was die smaak van koljanderlose wors onaangenaam nadat ek nie kon wag om by die huis te kom dat ons dit op die vuur sit nie.
Skaap word ook opgekap in boud, blad en ribbes. As jy kleiner wil hê, word dit sommer daar voor jou met ‘n byl deurgekap!
Hoender is genadiglik soos ons dit ken. En dan is daar perd!
Perdevleis gaan ek nie eet nie. Daarom maak ek doodseker dat ek weet hoe dit lyk. Donker vleis en duurder. En dikwels vreemd rond omdat hulle massiewe wors in vreemde wit derms of iets maak wat met rugstringvleis gevul word. Dié word dan in skywe opgesny en het ‘n spesifieke “look” wat ek beslis nie in ‘n restaurant sal miskyk nie. My amptelike verskoning was tot laas naweek dat ons dit nie eet nie, in ons land is perde troeteldiere. Dié verskoning is nou weg en ek gaan maar volstaan met dat ek nie wild eet nie. Volgens die eetplekeienares wat ons by een van die klein eetplekkies op ons pad terug van Almaty ontmoet het, maak hulle die hoenders ook vet en ons het nie ‘n probleem met hoender nie?
Soos ek elke keer skryf, ons lag baie. Soos gister toe ons tot ons verstomming sien dat vleis sommer buite die vleismark by stalletjies verkoop word …
Ek is seker die vleis is goedkoper as binne. Ek het egter nie die maag om dit te gaan uitprobeer nie.
Maar ek kla nie. Mens is nooit te oud om te leer nie. Ek gaan egter wel, wanneer ek terug in die RSA is, slaghuis toe gaan en foto’s neem. Sommer baie. Om hier te wys waarom ek sukkel om te verstaan wat ek koop. En veral, hoe om dit wat ek gekoop het, gaar te maak.
8 gedagtes oor “Vleiskoop in Qazaqstan is uitdagend”