Gepubliseer in Joernaal

Boelie bly boelie (Marnus van Staden)

‘n Kort storie uit die pen van my seun, ma mag maar hier plaas.

***

Hier sit ek weer in die stof en ek weet my ma gaan alweer met my oor my vuil klere raas. Terwyl ek my knope optel om later vas te werk, wonder ek of dit ooit gaan stop. Ek weet net nie meer wat om te doen nie. Ek weet nog minder wat ek ooit aan Tiaan gedoen het dat hy so op my pik. 

Dit was nie altyd so nie, ons was eens op ʼn tyd goeie vriende. Ons was saam in die kleuterskool en het altyd lekker gespeel. Die fabriek waar sy pa werk het ʼn ruk terug toegemaak en hy is nou heeldag by die huis. Maar dis nie my skuld dat mens nou die gate in Tiaan se kouse kan sien omdat sy broek te kort vir hom is nie. Hy het begin uithang met ander groepe by die skool en hulle geniet dit om die kleiner kinders rond te stamp. 

Ek verstaan nie hoe dit lekker of snaaks kan wees nie, want niemand wat hulle teiken staan ʼn kans teen hulle nie. Ek staan nie ʼn kans teen hom nie en al gebeur daar ʼn wonderwerk en ek kry hom onder, staan sy hele groep gereed om in te spring. Gelukkig hoef ek hom nie oor ʼn naweek te sien nie en kan ek net lekker swem en speel vir die volgende twee dae. 

Ek het al probeer om net uit sy pad te bly, maar ons skool is nie baie groot nie. Ek het ongelukkig ook nie oë agter in my kop nie, want dit is gewoonlik die rigting vanwaar hy my betrap. 

Vandag was wel anders. Oppad na die snoepie het ek Tiaan hoor roep: “Hey Wurm!” hoor ek my bynaam by hom. Hy dink dis snaaks omdat dit amper soos Willem klink. “Ag, gee my jou snoepiegeld, toe? Ek is te moeg om dit vandag te vat.” Hy is reg, want gewoonlik sê hy nie te veel voor hy my op die grond stamp en my geld vat om kos te koop nie. 

Ek weet nie of dit is omdat ek vir die eerste keer ʼn kans gekry het om iets te sê nie, maar voor ek myself kon keer antwoord ek: “Vat jy myne omdat jou pa nie vir jou geld kan gee nie?” Hy het my antwoord nog minder as ek verwag en die skok op sy gesig het vinnig in trane verander. Hy het weggehardloop terwyl sy vriende gelag het. 

Ek het ook geglimlag, maar meer uit verligting. Ek was verlig dat ek vir die eerste keer in ʼn lang tyd iets lekkers by die snoepie kan koop en nie met stukkende klere huis toe is nie. Maar, ek het vir die res van die dag ʼn nare kol op my maag gehad. Vir die res van die week het Tiaan my ook nie gepla nie en sy vriende het elke keer vir hom gelag as hulle my sien. 

ʼn Week later het ons ʼn groot byeenkoms in die skoolsaal gehad waar Jo-Ann Strauss met ons oor boelies kom praat het. Terwyl Jo-Ann ons vertel het hoe sleg dit is om te boelie en ander seer te maak, het Tiaan en sy nuwe maats gesit en gesigte trek. Hulle het heeltyd gelag vir die stories wat sy vertel, tot Jo-Ann vertel het hoe seer woorde kan maak. 

Sy het verduidelik dat boeliegedrag ook kan gebeur wanneer jy jou woorde gebruik om ander seer te maak. Skielik kry ek weer daai nare gevoel op my maag en ek sien uit die hoek van my oog hoe Tiaan sy gesig tussen sy knieë wegsteek. Ek verstaan nou dat my gedrag niks beter as syne was nie. Ek het uit woede opgetree en nie in die oomblik omgegee oor die nagevolge van my aksies nie. Ek was niks beter as ʼn boelie nie. Jo- Ann het gedurende die aanbieding ons aangeraai om met ʼn grootmens te praat as ons boeliegedrag sien, maar nou is ek ook skuldig. Ek is seker my ma sal my kan help.

Ek het vir my ma als vertel wat gebeur het en gesê dat ek nie weet wat om nou te doen nie. Sy was eers teleurgesteld dat ek nie vroeër vir haar vertel het dat Tiaan die rede was dat my skoolklere gereeld stukkend was nie. Ek weet nie hoekom ek dit nie voorheen erken het nie. Sy was meer teleurgesteld toe sy hoor wat ek vir hom gesê het. Sy het vir my verduidelik dat sy gesin deur ʼn baie moeilike tyd gaan en al verskoon dit nie Tiaan se gedrag nie, is dit hoekom my woorde hom so seer gemaak het. My ma het voorgestel dat ons Tiaan en sy ma ontmoet om die situasie te probeer reg stel. ʼn Oproep later het ons ʼn afspraak om Saterdag by ons huis te braai sodat ek en Tiaan alleen kan praat. 

My ma was reg, die atmosfeer is baie ongemaklik tussen my en Tiaan. Ons ma’s het eers saam met ons gesit en vertel dat ons optrede nie aanvaarbaar is nie voor hulle ons gelos het om self verder te praat. Tiaan wil eers nie vir my kyk nie en ek wag heeltyd vir hom om vir my jammer te sê. Toe onthou ek dat ek ook skuldig is en dat ek nie ʼn goeie vriend was toe dit moeilik gegaan het met sy gesin nie. 

“Ek is regtig jammer. Wat ek gesê het, was aaklig, ek was ook ʼn aaklige vriend,” kry ek uiteindelik uit. Weer kyk Tiaan vir my met skok in sy oë, maar hierdie keer is die trane nie my skuld nie. “Ek was die aaklige vriend.” kry hy tussen die snikke uit. “Ek het nie geweet wat om te doen nie en ek het nie geweet hoe om te stop toe ek eers begin het nie.” Die res van die braai was aansienlik meer aangenaam en hulle is eers laat huis toe, lank na ons gewone slaaptyd. 

Dis nou ʼn paar weke later en dis weer lekker om by die skool te wees. Ek en Tiaan het by die braai planne gemaak om Jo-Ann se boodskap uit te leef. 

Ons het al ʼn paar van sy nuwe vriende gekry om op te hou om te boelie. Almal het hul eie rede gehad vir hul optrede, maar was meestal gefrustreerd dat hulle niemand gehad het om mee te praat nie. 

Juffrou Visagie het met ʼn program begin waar die kinders met haar kan praat om hulle met hulle frustrasies te help en raad te gee waar sy kan. Na die braai het my pa ook vir Tiaan se pa gehelp om by sy maatskappy werk te kry. 

Ons kuier nou meer gereeld oor naweke saam en gaan binnekort vir die lang naweek weg om te kamp. Ek dink wat ek deur die hele situasie geleer het, is dat dit van tyd tot tyd moeilik gaan wees in jou lewe. Daar is wel altyd mense wat omgee vir jou, maar hulle gaan nie weet hoe om te help as jy nie vir hulle sê dat jy sukkel nie.

***

Unknown's avatar

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

4 gedagtes oor “Boelie bly boelie (Marnus van Staden)

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.