Gepubliseer in Joernaal

Afrikaans, my taal, my passie

Ek kry die idee dat ek moet verduidelik waarom ek so pro-Afrikaans is. En vasskop teen die boikot van Steve Hofmeyr se musiek.

Ek, wat op skool so min vir Afrikaans omgegee het dat ek nie die idome geleer het nie. En met ‘n C-simbool in matriek tevrede was. Ek wat, tot my skande as plaasmeisie, geskryf het dat Dit is soos water op ‘n eend se rug beteken dat daar groot moeilikheid is. Wie kan my kwalik neem? Dit beteken mos alewig iets anders as wat mens dink. My onderwyser wou hom slap lag en het sowaar vir my pa gaan vra hoe ‘n plaasmeisie so kan dink.

My pa kon nie verstaan dat ek so dom kon wees nie. Ons het eende gehad en hulle het lekker onder die water geswem, die water het hulle min gepla.

Mens raak egter met verloop van tyd beskermend oor jou taal. As sy vele aanslagte moet teenstaan om te oorleef. Onderwysers van die Kaapse vlakte vertel my hoe Afrikaans in hulle skole uitgefaseer word. En hoe die kinders sukkel omdat hulle Afrikaanssprekend is. Self het ek beleef hoe Afrikaanse skole dubbelmedium word. En dan Engels. Dus het ek rede om bekommerd oor Afrikaans te wees.

Ek het al genoem dat ek de hoenders in is omdat Steve Hofmeyr geboikot word. En daar is twee belangrike redes daarvoor.

Eerstens skryf Steve Hofmeyr boeke wat ek nie kan los tot ek die laaste woord gelees het nie. Wat my doof maak vir versoeke om kos of klere of wat ookal terwyl ek die boeke lees. Steve se stories hou my gevange, en hoe hard ek ookal konsentreer, vang die slot my elke keer onkant. Nogal ontstellend as mens in ag neem dat ek ‘n taaljuffrou was. As jy nog nie sy boeke gelees het nie, lees gerus hierdie oorsig van Laaste dans, Drienie. Ek is nie die enigste mens wat dink dat hy briljant skryf nie.

Deon Meyer se boeke is dik, maar vol wol. Dit kan my nie so boei nie, ek raak verveeld as hy eers vertel van die blommetjies op die tafeldoek en die kleur van die vaas op die lessenaar. Ek gee nie om hoe dit lyk nie, ek wil weet wat verder gaan gebeur.

Tweedens maak Steve Hofmeyr die mooiste Afrikaanse musiek. Hy speel met emosies, klank en woorde om ‘n luisterfees te bied. Ek kan ure aaneen luister sonder om verveeld te raak. Hy praat net so gemaklik met die Here soos wat hy met my hart praat. Ek hou nie van goed in my ore as ek oefen nie (lees 30 minute stap), maar sedert gister luister ek na Steve terwyl ek stap. En skielik voel dit of ek nie my 30 minute klaargemaak het nie. Dieselfde 30 minute wat voorlaasweek nog ‘n berg was. Ek voel nie of ek oor en oor na dieselfde liedjie luister nie want hy wissel af.

Mia, my nuwe Qazaqstan vriendin, vra nou die dag vir my wat my gunsteling lied is. Genade nee, hoe kan sy dit van my verwag? Daar is so baie dat ek ‘n aparte inskrywing daaroor sal moet doen. Tjoklitbeksoentjies is op die oomblik ‘n gunsteling omdat ek die afgelope week in Suid-Afrika sulke soentjies van my jongste kleinkind gekry het.

Vandag wil ek egter skryf waarom ek pro-Afrikaans is. Ek wil nie die taal behou soos dit is nie, dit is juis die aanpasbaarheid van Afrikaans wat die taal sterk laat staan. Dit stuit my egter wel teen die bors dat Engelse woorde al hoe meer aanvaar word as ons pragtige, beskrywende Afrikaanse woorde het en self skep as daar nie is nie. Die taal groei juis omdat haar gebruikers kreatief met haar omgaan en die hekwagters dit besef. Die taal is egter tans onder druk en kan selfs as akademiese taal uitgefaseer word.

Op Tuks het prof AP Grove ons iewers in die laat 1970’s of vroeë 1980’s aangemoedig om akademiese werke in Afrikaans te lewer. Omdat ‘n taal wat nie akademiese werke lewer nie uitsterf en ‘n kombuistaal word.

Ek was nie van plan om ooit weer aan akademie te raak nie, dus het hy volgens my met die res van die klas gepraat. Maar, ek het so na die drie Afrikaans-klasse met 1 500 studente elk op ‘n Afrikaanse kampus gekyk, geglimlag en gedink Jy is verkeerd. Afrikaans staan sterk aan verskeie universiteite. Dit sal nie gebeur nie.

Soos reeds geskryf, wou ek nie verder studeer nie. Ek het die laaste dag van elke jaar by Madelief se skag gestaan en alle aantekeninge afgesmyt om verbrand te word. Waarom sou ek dit na die kar dra om weer iewers te berg? Ek was dankbaar oor elke jaar wat verby is en het geen verlange na nog meer spanning gehad nie.

Tog het ek verder studeer, elke keer gemotiveer deur ander se doen en late. Maar die tema en titel en veld was my besluit. Gebaseer op probleme wat ek in die praktyk ervaar het.

Eers wou manlief sy MA doen, maar ek moes ook studeer om hom by te staan. Ek wou nie, het lekker skoolgehou, maar toe word my dogter as begaafdekind geïdentifiseer. En ons is nie daarin opgelei nie. Dus het ek vir ‘n B.Ed in begaafdekindonderwys geregistreer.

Nog voordat my uitslae bekend was, het die hoof van Harmonie Hoërskool my in sy kantoor ingeroep omdat hy ‘n voëltjie hoor fluit het dat ek verder gaan studeer.

Ek was nie seker nie, het nog nie uitslae gekry nie, maar ek het nie van die vraag gehou nie en gesê dat ek dit oorweeg. Toe stel hy my voor ‘n ultimatum: Of verder studeer, of ‘n pos by sy skool! Dit terwyl ek nie ‘n enkele dag studieverlof gevra het nie omdat my eksamens in Januarie was en die skole in die Vrystaat eers laat in Januarie oopgemaak het.

Daardie middag bel oud-kollega, en vra of ek nie by Vista Universiteit wil kom klas gee nie. Volwassenes? Nee! Ek is ‘n hoërskoolonderwyseres. Maar sy oortuig my. Sy was ook. En sy was toe by Vista.

Ek het aansoek gedoen, hulle het gevra of ek omgee as hulle Unisa bel om my uitslae te kry en ek kon nie weier nie. Toe stel hulle my aan en weet ek dat ek goed geslaag het. Hulle wou my dadelik hê, my aanstellingsbrief se datum was twee dae vroeër.

Ek was bang, dit is een ding om aansoek te doen vir ‘n ander werk. ‘n Heel ander ding as ek al by daardie werk moes wees. Manlief oortuig my egter om 24 uur kennis te gee. Die hoof was rasend en het gesê dat ek onprofessioneel is om so kort kennis te gee en dat ek nie weer ‘n pos as onderwyser sal kry nie.

Ek? Wat van hom? Belet ‘n onderwyser om verder te studeer. Hy was onprofessioneel, vandag word daar van onderwysers verwag om verder te studeer.

Saam met die pos het ‘n nuwe verantwoordelikheid gekom. Daar word van my verwag om verser te studeer!

Vroeg 1991 het ek vir my meestersgraad geregistreer en kon ek steeds in Afrikaans navorsing doen. Oor die selfkonsep van die begaafde seun wat onderpresteer. En toe kom die nuwe Suid-Afrika, word my man na die stad verplaas, kry ek weer ‘n pos as onderwyseres en gebeur die lewe.

Verdere studies was nie in my gedagtes nie, al het ek myself beloof dat ek die rooi jas tog wil dra voor ek 50 is. My man is weer Welkom toe verplaas en weer terug stad toe, einde 2005. Ek het ‘n pos by ‘n groot Afrikaanse hoërskool gekry. Seniors. Afrikaans Huistaal en ek was in my element.

Anders as wat beloof is, het my rooster gewys dat ek net graad 8’s het. Omdat die vakhoof van mening was dat ek myself eers moes opwerk in die skool. Ek was doodverveeld want ek het skielik baie minder werk gehad en baie meer tyd omdat ons jongste universiteit toe is.

En toe byt die gogga om tog die rooi jas te dra toe ek aan die woorde van ‘n kollega by Vista gedink het. Volgens hom was die paadjie eers voltooi as ek die rooi jas gedra het. En nou het ek die tyd gehad.

Toe ek vir my doktorale studies registreer, word ek aangeraai om in Engels te skryf. En ek het geweier, met my professor gepraat en aangedring op Afrikaans. My taal is Afrikaans en ek gaan nie tot die verarming van Afrikaans as akademiese taal bydra nie. Ek was die enigste doktorale student wat in Afrikaans gewerk het, al was die meeste van ons Afrikaanssprekend.

Tydens my gradeplegtigheid, wat die gradeplegtigheid van ander Afrikaanssprekendes ingesluit het, was ek die enigste student wat die hele tyd in Afrikaans aangespreek is. Vandat ek op die verhoog gestap het, deur die buk om oor die kop geslaan te word tot ek aan die ander kant afgestap het.

My prof, Duan van der Westhuizen, staan agter en toekyk terwyl die dekaan, Sarah Gravett, voorlees waaroor my studies gegaan het. Ek het superhoë polvye aangehad, net soos diegene wat hulle eerste grade ontvang het. En doktorale gradeplegtighede is nie kort nie. En ek het op ‘n Afrikaanse wolk geloop! Dit was een van die spesiaalste oomblikke van my gradeplegtigheid. My taal is korrek gebruik op die verhoog.

En ek het meewarig geglimlag vir my Afrikaanssprekende medestudente wat wou weet waarom ek die enigste een is wat in Afrikaans aangespreek is. Hulle is ook Afrikaans. Hoe moes die universiteit weet? Hulle proefskrifte was in Engels.

Wat die proefskrif self betref, moes ek woorde skep omdat baie van die terme nog nie in Afrikaans bestaan het nie. Sosiale-netwerk-analise is maar een daarvan. Dit is moeiliker om in Afrikaans te skryf as al die literatuur in Engels is, maar dit maak ook jou navorsing waardevol en dwing jou om te dink terwyl jy tik. Dit bied die geleentheid om by te dra tot die uitbreiding van Afrikaanse vakliteratuur.

‘n Ander rede waarom ek in Afrikaans skryf, is omdat dit plagiaat bekamp. My medestudente het redes soos Jou werk gaan nie internasionaal gelees kan word nie en Jy beperk jou gehoor aangevoer om my te probeer oortuig om in Engels te skryf.

Hulle is egter verkeerd. ‘n Vinnige kyk na die getal kere wat hulle werk afgelaai is en die getal kere wat my werk afgelaai is, toon dat myne meer afgelaai is. Omdat ek seker gemaak het dat ek nuut dink en nuwe navorsingsvelde betree, soos dit ‘n doktorale student betaam.

Na my doktorale studies het ek artikels in Afrikaans en Engels daaroor geskryf om die bevindinge bekend te maak. So seker gemaak dat die werk wel goed gelees word. Wie het tyd om ‘n hele verhandeling te lees as dit vir jou in artikelformaat verkort word?

Daar is dus geen rede om in Engels te skryf as jou moedertaal Afrikaans is nie. Inteendeel, dit is beter om in Afrikaans te skryf omdat die werk vertaal kan word om in beide tale beskikbaar te wees. En natuurlik bied dit befondsingsmoontlikhede omdat verskeie organisasies navorsing in Afrikaans borg.

Ten slotte, ek is nie een van die mense wat van kleinsaf pro-Afrikaans was nie. Al het ek baie Afrikaans grootgeword. Ons het Afrikaanse radiostasies geluister en reekse soos Patrollie 33 Charlie was ‘n gunsteling. Ons het Afrikaanse musiek geluister en Gé Korsten was my ma se gunsteling.

Maar, ek het Afrikaans as vak gehaat. Kon nooit verstaan waarom juffrou of meneer dink dit is wat die skrywer bedoel nie. Sou graag met die skrywers wou praat en hoor of dit reg is, of dit is hoe hulle dit bedoel het. Voor ek dit vir die waarheid leer.

Toe word hierdie ek bykans elke keer as ‘n Afrikaans-onderwyser aangestel omdat ek Afrikaans 3 het, al het ek Geografie 3 ook.

En word dit my werk om Engelse en anderstalige kinders te leer om Afrikaans lief te hê. Passievol daaroor te wees.

Ek moes ook immigrante lei om binne drie jaar my vak te slaag. En ek kan spog dat geen kind gedruip het omdat hy of sy my vak druip nie. Daardie tyd het mens jou standerd of graad gedruip as jy Afrikaans druip. En leerders moes 40% kry om te slaag.

Ek moes voorgeskrewe werke vir kinders ontsluit. En so ontdek dat daar veel meer in ‘n paar woorde opgesluit is as wat ek krediet wou gee toe ek self op skool was. PG du Plessis se Neklis is steeds een van my gunsteling voorgeskrewe werke.

As taaljuffrou was ek ook geïrriteerd met my kinders se Mixit taal. Onthou jy dit? Of was dit voor jou tyd?

My kinders het woorde verkort en dit het my gegrief, omdat die neiging ook in opstelle voorgekom het. Ek wou net by die skool daaroor raas, nie tuis ook nie. Toe skryf ek maar terug in hulle taal. Aangepas om my te pas.

Geen enkele vokaal in die woorde nie. Onverstaanbaar. En kry raas: Dit is nie hoe dit werk nie. En raas terug: Hoekom nie? Ek verstaan julle nie, julle verstaan my nie. En iets sal gedoen moet word dat ons mekaar verstaan.

Nodeloos om te skryf, my kinders skryf steeds in goeie Afrikaans as hulle vir my ‘n WhatsApp stuur. Dus het ek, sonder dat ek dit beplan het, ‘n kampvegter vir Afrikaans geword.

Ek skat professor AP Grove kan nou rustig verder slaap as hy my glimlag in die klas gesien het. Sy student het tuisgekom.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

10 gedagtes oor “Afrikaans, my taal, my passie

  1. Ek moet tot my skande erken dat ek maar net sowel nie Afrikaanse klasse moes bywoon nie. Sinskonstruksie was aaklig…maar met my beperkte skool kennis is ek trots Afrikaans. Al mix ek my taal. Ek wens soms ek het meer opgelet in juf Parker se afr klas. Maar ek deel jou sentiment. Ek is nie die grootste Steve fan nie maar ek haal my hoed af vir sy baklei vir Afrikaans. Ek is Afrikaans..ek sal Afrikaans dooi…Al is dit net om iets te bewys…

    Like

  2. Ek stem saam met jou. Tog, as ‘n Engelssprekende moet ek vertel dat RSG my gunsteling radio stasie is want, alhoewel dit lyk asof Engels alles oorneem is dit waar dat die Engelse kultuur en idioom ook tans onder druk is. Daar is nie meer ‘n ‘egte’ Engelse radio nie – ook geen TV programme nie. RSG en Kyknet is dus vir my lekker 🙂

    Like

  3. Ek het dit nou baie geniet om te lees hoe die lewe met n mens sy eie loop kan neem. Ek moes Afrikaans aanleer en later ook Engels wat heeltemaal bo my vuurmaak plek was(steeds nog in n mate) Gelukkig is mens nooit te oud om te leer nie. Ek hou ook van Steve se liedjies en manier van sing, verder gee ek nie rerig om hoe sy verdere gevoel is nie(weet te min daarvan af) Afrikaans bly my taal en ek is lief daarvoor. Ek het gister my kleinkind wat net Engels gedurende die dag hoor gegroet met: Sien jou weer later. Sy gee my die antwoord nadat dit die eerste en enigste keer was dat sy dit hoor: Sien jou weer later Ouma! Sy is twee en n half en raak nou heel bekkig.

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.