Almaty is die eerste hoofstad van Qazaqstan wat op 16 Desember 1991 onafhanklik van Rusland geword het. As ek reg onthou, is Astana in 1997 as die nuwe hoofstad verklaar. As ek moes kies, was Almaty steeds die hoofstad (sien foto).
Hierdie ou stad gee die gevoel van Kaapstad, maar die berge is hoër en omring die stad sover ek kon sien. Met lowergroen lanings bome langs die strate in die somer. Dit het egter nie ‘n see nie en die stad is met sneeu bedek in die winter. Maar ek dwaal af, ek wil eintlik van onaangename verrassing in Almaty vertel.
Ons het verlede week die 1050 km daarheen afgevlieg om ‘n kar te koop en dan weer al die pad na Oskemen terug te ry. Die “locals” het ons probeer waarsku teen die pad, maar die behoefte om ‘n kar op ons eie naam te registreer was net groter. Toe neem ons die sprong! Ek sal daarvan ook later vertel. Ek wil eers van die onaangename verrassing vertel. Dit het tydens die registrasie van die kar gebeur.
Ons is saam met die HR bestuurder, die verkoper en die Kazakh wat ons gehelp het om die kar te vind na die registrasiekantore. Waar dit soos een groot deurmekaarspul lyk, amper iets soos wat die aandelebeurs vir my lyk. En soos die duiwel dit wil hê, het ek ‘n nood.
Ek kon net twee manstoilette onder sien, een aan elke kant van die toonbank en geen een vir dames nie. om my was enkele dames, dus moes daar wees?
As dit moes, sou manlief maar net voor die deur moes staan en “kawie” hou dat ek ingaan, maar toe sien ek die bordjie op die tweede vloer (ons eerste vloer) van onder af.
Ek is die trappe op daarheen om weer die verrassing van ‘n vloerhoogte toilet te kry.
Anders as ander toilette is die mure nie tot bo nie en kyk mens oor die afskortings tussenin na die bure in nood. Terwyl hulle die voor of na prosesse volg … Daarom kyk mens maar voor jou. Vir die muur en vir die deur.
Die middelste proses is gelukkig vir vrouens onsigbaar omdat hulle op hulle hurke is. Ek was, toe ek in is, die enigste vrou in nood. Toe hoor ek iemand inkom en die deur gaan toe. Ek dag nog so by myself dat die vrou ‘n massiewe nood moes hê, dit het amper soos ‘n vendusie-os geklink. En ek sal weet, ons plot was oorkant die vendusiekrale in Ermelo toe ek op hoërskool was. En gereeld vir my pa by die vendusie gaan kuier het. Dit was opvallend hoe groot die nood van die diere was. Myne sou ook wees as ek geweet het waarheen my paadjie daarna waarskynlik sou lei …
Toe ek opstaan, kan ek nie help om links oor die afkorting te kyk nie. Die persoon was ook op. En ek was nuuskierig om te sien hoe sy lyk. Vas in die oë van ‘n manlike Kazakh! Honderde gedagte hol deur my kop! Hoe kon ek so verkeerd kyk? Maar ek oortuig myself ek is reg, hy is verkeerd! Wetende dat die broekoptrek of toemaakdeel aan my en sy kant nog in proses is!
Ek het nie oor die woordeskat beskik om hom te skel nie! Goed soos Uit! Wat soek jy? Kan jy nie lees nie? Daar is ‘n vrou op die prentjie op die deur! Maar toe twyfel ek ook! Het ek verkeerd gekyk? Ek het my langbroek opgepluk, die deur so vroulik as moontlik oopgeruk, my hande nie in die kamertjie langsaan gewas nie. Ek moes net uit. Af. Na my man toe. Weg van die verleentheid af. Om van daar op ‘n veilige afstand oor die saak te dink en my gekneusde wonde te lek.
Terwyl ek by hom staan, haal ek die pakkie handwaslappies wat ons die vorige dag by ‘n garage gekoop het uit my handsak en kyk weer na bo. Net betyds om te sien hoe ‘n vrou en ‘n man vir die deur mik.
En sy hom skel. Ek is teen dié tyd goed met stomstreke dus verstaan ek die gesprek. Sy wys na deur en haarself en sê dit is nie vir mans nie. Hy wys na die deur langsaan waarop ‘n groot kennisgewing oor die prentjie aangebring is. Daarop staan volgens hom dat hy die een langsaan moet gebruik. Sy wys nee, soek maar lekker verder aan vir die langsaan. Hier gaan jy nie in nie!
Ek giggel want ek weet toe reeds dat die kennisgewing ‘n probleem moet wees want die mans se toilette is onder. Maar ai, waar was sy toe ek binne was?
2 gedagtes oor “Onaangename verrassing in Almaty”