Gepubliseer in kleinkinders

Mens kan nie met jouself praat nie, Ouma!

Kleinkind is siek, en seun vra toe of hy Woensdag by my kan bly. Natuurlik sal ek nie weier nie, ek sien al lankal uit na ‘n langer kuiertjie met hom. Sy pa het hom skaars afgelaai toe hy my daaraan herinner dat ek ‘n Lego-stel beloof het.

Nie sommer enige een nie, maar ‘n monstertrok. Dit is nou nadat ek Maandagaand beloof het ek sal een koop toe hy vir my sy boot wys. Natuurlik het ek geen idee gehad wat dit gaan kos nie, maar Ouma het belowe. En nie geweet hoe gou die belofte gestand gedoen sal moet word nie.

Ek wil nie met hom ry nie, en oortuig hom dat ons kan gaan sodra oupa tuis is. Toe oupa by die huis kom, word ek opgekommandeer, al het ek al weer van die belofte vergeet tussen eet, stories kyk en speel. ‘n Belofte is ‘n belofte, dus is ons in die kar om ‘n stelletjie by Makro te koop. Nie dat ek seker is mens moet verkleinwoorde gebruik as die einste stelletjie my, na pensionaris afslag, steeds R449 uit die sak gejaag het nie.

Oupa vra of hy moet las, en kleinkind sê hy sal met sy blou-ogies-geld betaal. ‘n Nuwe ding is sy gesinnetjie, hy het al ‘n protea en ‘n roos verniet gekry as sy ouers vir hulle s’n moet betaal, of dit net vir vrouens is – wat hy natuurlik nie is nie.

Iewers op pad terug huis toe, praat ek met myself. Dit het ek by my pa aangeleer as kind. Hy het so in die huis ingestap, al pratende met homself oor die dag. Of as ons ry. Of as ek saam met hom in die vragmotor moes ry om beeste af te laai …

Iedergeval, ek het skaars ‘n sin gesê, toe wil hy weet met wie ek gesels. Want sien, ek kyk by die ander ruit uit en hy sien niemand nie.

Ek erken toe maar met myself, al is ek daaroor ongemaklik as mense my sowaar hoor!

Net om te hoor ‘n mens kan nie met jouself praat nie, Ouma!

Ek sê dat mens kan, waarop hy my aan die mou vat, oor my arm vryf en sê dit is myself. Myself het nie ‘n mond nie, jou lyfie kan nie praat nie, Ouma!

Wel, ek het gelag en saamgestem. As mens so na die saak kyk, is dit beslis onmoontlik!

Nagedagte: Die Lego monsterkar was die moeite werd! Oupa, pappa en hy moes daaraan bou. Volgens pappa is dit 7+, iets waarna ek nie kyk as die aspatat iets vra en ek bereid is om dit te koop nie. Toe sê ek maar ek moes, hy tree soos 7+ op. Die opmerking was om my te laat besef dié kar was dalkies net bo die vuurmaakplek van ‘n 5-jarige. Veral as oupa eers gebou het, iets nie wou werk nie en pappa terug moes werk om die fout op te spoor …

Unknown's avatar

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

8 gedagtes oor “Mens kan nie met jouself praat nie, Ouma!

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.