Gepubliseer in Joernaal

Hoe het ek ‘n towerin geword?

Ek gaan nou eers moet bieg, op een of ander manier het ek hierdie uitdaging misgelees, misgekyk. Om te vertel hoe ek een geword het. Gelukkig lees ek my maats se blogs en het ek dit wel raak gelees. Ter verdediging mag ek dalk noem dat ons pak. En dit laat my kop oral probeer vastrapplek kry. Hier kom my verhaal.

Lees voort “Hoe het ek ‘n towerin geword?”
Gepubliseer in Joernaal

Die VVVTT vat ons vir kuier op Rebusfontein

Scrapy vertel die week van haar woef wat nierstene het en ek vra hoe weet mens. Nog voor sy kan antwoord, bel seun met die nuus.

My BB moet Maandag vir ‘n operasie gaan. Sy het nierstene ontwikkel. En ek is regtig so dankbaar sy bly by seun en skoondogter, ek wonder of ek sou agtergekom het dat sy so baie piepie. My arme kindjie, sy moet seker vreeslik pyn verduur. Maar kla sal sy nooit nie kla nie. My prinsessie tussen al die manne op die erf.

Ek is deur ‘n virus vasgavang in Qazaqstan. En ek moes dringend by die huis kom. Dus het ek die noodsein uitgestuur, ek moet dringend by die huis uitkom. Iemand moes die V(Vlieënde)V(irus)V(lugtende)T(owerin)T(ent) stuur om my te kom haal.

Ek misbruik darem nie die geleentheid om die VVVTT te gebruik nie, want een van my towerinmaats het die week in Rebusfontein aangekom. En ek moet daar aangaan om met my towerinmaats te gesels.

Dus het ek vir Toortsie ‘n boodskap gestuur. Moenie oor afstof of vuil komkommer nie, stuur asseblief die VVVT, ek moet dringend huis toe gaan.

Toortsie het nie op haar laat wag nie, toe ek weer sien, hang die tent voor die venster van ons woonstel in Almaty. Wat opo die veertiende vloer van ‘n wolkekrabber is.

Ek het gou geloer, maar manlief was soos gewoonlik besig met sy foon, ek wou nie pla nie. Kan vanaand boodskap stuur, hy sal verstaan. Dalk selfs bly wees dat hy bietjie alleen kan wees. My BB is siek en ek moet daar wees om haar handjie, ek bedoel pootjie, vas te hou.

Dus wip ek sonder om te groet of te dink op die vensterbank en by die venster uit. In die tent in. Want ek dink liewe Toortsie weet nie dat ek doodbang vir hoogtes is nie.

En ek word verras. Om my staan die towerinne wat tyd kon maak om saam te kom. Letty-Ann, Appeltjie, Seegogga, Frannie, Una, Positief, Woordnoot en Sonell. Toortsie is agter die beheerpaneel, sy verander vinnig die buitekant van die tent dat dit soos ‘n wolk lyk. Ons wil nie in die moeilikheid kom nie, ons is heeltemal te veel vrouens by mekaar. En weg is ons. Terwyl die towerinne babbel oor die mooi land waarin ek bly.

Watse groot wiel is op die berg agter jou? wil Seegogga weet. Ja, beaam Una, daar is ‘n groen kenteken waarop Kok Tobe staan.

Kok Tobe is ‘n aantrekkingskrag met restaurante en mens kan allerhande snuisterye daar koop. Mens kan met ‘n bus teen ‘n kronkelpaadjie opgaan, met jou eie motor opry, of jy kan met die kabelkarretjies opgaan.

Snuisterye? wil Woordnoot weet. Soos Russiese poppies? Jy wil so graag een kry wat uit 5 poppies bestaan.

Ek grou in my sak en haal die twee poppies uit. Wel, Woordnoot, jy moet enetjie kies. En sy het geskiedenis hoor, sy is Vrydagaand bo-op die berg by Kok Tobe gekoop.

Ons is die middag op die berg, sal ander dag meer van die plek vertel. En ek wys so paar foto’s om hulle vir daardie bloginskrywing in die toekoms lus te maak.

Sonell, Una, Positief, Letty-Ann, Frannie en Appeltjie kyk egter nie na die foto’s nie. Hulle weet mos ek sal weet vertel. Hulle staan by die vensters en vergaap hulle aan die berg agter Almaty. Wat Qazaqstan van Krygystan en Sjina skei.

Toortsie vat die pad oor Dubai en Afrika, dat ons darem ook aarde. kan sien en nie net see nie. En toe ons weer sien, land ons op Rebusfontein.

Dit is nag en almal is na hulle huisies, Frannie na haar Toringhuisie wat so pas ‘n naam gekry het.

Ons moet slaap, want Seegogga het ons oorgenooi om daar te kuier. En dit gaan ‘n lang, uitgerekte kuier wees. Al die towerinne is mos nou so saam met my in die VVVTT. Ons gaan ‘n hond uit ‘n bos kuier. Want Frannie en ek het lekker ver gekom vir ‘n goeie kuier.

Dan gaan ek al die bestanddele saamvat om hulle te leer om tee te drink soos ons dit hier in Qazaqstan leer drink het. Ek het onthou om heel gemmer en lemoene en suurlemoene en verskeie pakkies tee saam te vat. Ek sien so uit om hulle te leer dat tee baie, baie lekker is.

Gepubliseer in Joernaal

Die vinnige trek na nr 17 Towerinstraat, Rebusfontein

Hierdie bloginskrywing wyk van my ander af en vorm deel van ‘n prettige kammawêreld in die blogwêreld waarin mens uitgedaag word om oor iets spesifieks ‘n eier te lê, met ‘n kink. Ek het, en hierdie is my eerste opdrag, om my alterego of ander persona aan die res van die inwoners van die towerdorp bekend te stel, op so ‘n wyse dat ek hulle by die vertelling betrek.

‘n Opdrag wat amper soos ‘n navorsingsartikel gevoel het, want ek moes veel erger kophou om hulle so vinnig te leer ken. Hier gaan ekke in die vreemde vaarwaters in.

Lees voort “Die vinnige trek na nr 17 Towerinstraat, Rebusfontein”
Gepubliseer in Reisjoernaal

Tyd vir vere regskud in nr 17 Rebusfontein

Hierdie skryfstuk vorm deel van die Towerinne se Rebusfontein avonture. Ons is die hoofkarakters in ons eie vervolgverhale (natuurlik) en ons fantasie stories is vir ander ondenkbaar, ondoenbaar en onverklaarbaar. As jy die verhaal wil volg, moet jy op die onderstaande skakel kliek om die hoofstukke te lees. Na myne sal daar gereeld nuwe hoofstukke bygevoeg word. Totdat ‘n ander fantasie ons aandag vereis. Dan begin ‘n nuwe vervolgverhaal, ek bedoel avontuur. Die ander hoofstukke kan hier gelees word

Ek het reeds vertel dat ons besig was om te toer toe die nuus inkom: Rebusfontein, ons skilderagtige dorpie in Suid-Afrika, het, net soos hy verskyn het, weer in die niet verdwyn.

***

Maar toe begin ons so huiwerig daaroor gis. En ons babbel en gesels in ons WhatsApp groepe en op die kommentaar van die hoofstuk waarin Rebus verdwyn het. En ons besef:

Dit is mos nie hoe dit werk nie. Dit is juis die lekker van ons vervolgverhale.

Elkeen bied aan om ‘n hoofstuk te skryf, afhangende van jou eie omstandighede. Soms het mens nie tyd nie, ander kere het jou muse so bietjie ruskans nodig. Ek maak tyd en dan raak die spanning in ons huis hoog as ek sukkel om werk binne sperdatums klaar te maak. Maar, towerinne altyd eerste as dit my beurt word.

Iemand gebruik elke keer die geleentheid om ‘n kinkel in die kabel te maak. Wat die skryfster na jou noodsaak om haar hoofstuk aan te pas wat reeds ver beplan was.

***

Toortsie, ons towerin wat haar nie deur inperkings laat hiet en gebied nie, het eerste met die nuus gekom, Rebusfontein is nie weg nie, dit het net tydens die inperking vreeslik verwaarloos. Ons is mos al maande in ons regte huisies vasgevang. In so mate, dat Rebus verwaarloos het. Siesa vir ons!

Sy en haar man het die nodige briewe en toestemming gekry om Rebus te mag besoek. As sy alleen was, was dit easy peasy, maar dit is so effens van ‘n probleem om die mans van een plek na die ander te vervoer. Hulle wil self bestuur.

Hulle wou gaan groet, afskeid neem, en wat ontdek hulle twee? Broodina het die brief geskrryf, niemand anders nie. Sy het ons vir ‘n aap gevat. Of soos die Kaapse mense sê, vir ‘n pop. Ampertjies het ons almal haar geglo!

Rebus se huisies was net leeg, want almal was of op toer, of ingeperk.

Seegogga het nie op haar laat wag nie, sy is dadelik in die pelikaan se bek saam met meneer Krap na Rebusfontein.

En sy het skoongemaak en die allermooiste hoofstuk geskryf oor hoe sy haar huisie gaan regpak het.

Una het vir ‘n vale gaan werk, mens sal nie sê sy is op die oomblik ‘n baie besige vrou nie. Maar sy het dit terdeë geniet, niks so lekker soos om op Rebusfontein te gaan skoene uitskop, hare los te maak en in vriendskappe te belê nie.

En twee nuwe inwoners het die dorpie binnegeval, letterlik, want ons het hulle op die toere raakgetoer. En ek dink ek bewoord almal se gevoelens as ek sê dat ons twee hartsmense bygekry het. Soms wen mens vriendskappe, soms verloor jy weer. Hierdie twee gaan sommer gou agterkom. In Rebus wen mens meestal vriendskappe … ons vriendskappe is nie duur nie.

Dit is die absolute lekker om deel van die towerinne te wees. Hierdie groepie vrouens kan met woorde toor. Die woord sal seker nog in die woordeboek opgeneem word? Dit is ‘n nuutskepping wat verwys na vrouens wat met woorde kan toor en ‘n hele dorpie met sy inwoners laat verskyn. Maar meer nog

Ons vriendskappe is regtig egtig. Eg.

Ons leef ons ook in mekaar se werklike lewe in. Daar waar ons die towerin mantels afskud om kykies in ons ander lewens te bied. ‘n Groepie vrouens wat vir mekaar omgee, mekaar se gevoelens in ag neem en saamvoel as iemand seer het. Ons troos waar ons kan, ons lag saam, ons het ongelooflik baie pret saam.

En dit is heerlik. Want, ek sukkel met vriendinne wat soos stekelballetjies is. Jy weet, daardie soort wat jy graag wil koester, maar watter aanslag jy ookal probeer, kry hulle wel ‘n kans om ‘n seer steek in te kry.

Ek besef sulke mense het iewers seer, maar daardie steke is soos turksvy dorings. Jy sukkel om die dorinkies daarna uit te kry. Goeie les by my suster se kind geleer toe hy nog ‘n kleuter was. Tannie, ek kan nie nou praat nie, ek is te kwaad. Soms moet mens egter juis die kwaad weggesels, uitredeneer. Dit is nie baklei nie, dit is groei. Omdat mens onwetend op baie seer tone kon getrap het. En moet aanvaar dat jy ook verkeerd kon wees.

Vriendskap gaan nie oor reg of verkeerd nie, ook nie oor kante kies nie. Dit gaan oor ons is vriende … ten spyte van … en ons gesels dit uit ter wille van groei en nuwe hoogtes in die vriendskappe.

Iemand sê onlangs dat vriendskap duur is. Ek heg geen monetēre waarde aan vriendskap nie. Vriendskap is vir my kosbaar, en ek sal soms agter die gordyn werk om vriendinne weer te laat onthou dat hulle vriendinne is … Oudste sustersindroom …

Dus, liewe vriendinne, dankie vir die vensters Toortsie, die huis ruik sommer weer vars. Dankie dat jy die goggas verjaag het, jy weet hoe bang ek vir hulle is. En ek weet hoe bang jy is. Ek is jou ewig dankaar, die spinnerakke het gelig …

Appeltjie en Aalsie, ek geniet die manier waarop ek julle twee leer ken. Dit is absoluut heerlik om julle twee as buurvrouens te hê. Veral omdat ek so aangemoedig word om my huis te kom regmaak.

Positief, ek het heerlik saam met jou gaan kuier toe jy jou huisie gaan regskud het.

Kameel, Auf Wiedersehen, ek skat jy gaan nie te lank kan wegbly nie. Daar is dinge om te doen, plekke om te sien.

Tannie Frannie, ek hoop die seer is sommer gou oor. Gelukkig het die donkie jou nie weggevat nie. Ek was bekommerd toe hy so weghol, maar hy het jou mooi teruggebring.

Perdebytjie, Woordnoot, Scrapy, Virgo, Bondels en Sonell, dit is lekker om saam met julle in Rebusfontein te bly. Wanneer kom julle vir ‘n vinnige kuier?

Ek het so pas ingevlieg, dit was ‘n besonder lang reis met al die reëlings op lughawens. Het nooit geweet dit kan so sleg wees om te reis nie.

Dan gaan ek persente uitdeel …

Dan gaan ek aan die werk moet spring, daar is ‘n huisie wat ‘n regskud nodig het.

Tyd vir verandering, groei is belangrik, ontwikkeling ook.

Ontwikkeling beteken egter nie dat ek bereid is om my vriendskappe te verwaarloos nie. Dus is dit lekker om te sien hoe ons vriendskappe hegter geword het. Daar is niks so lekker soos om in vriendskappe te belê en saam te groei nie.

Daardie huisie moet mooigemaak word om my so bietjie aan Qazaqstan te herinner. Dankie vir die idees …

En dankie vir die opneem van ons motto, wat Bondels as ek dit reg onthou, die eerste keer tydens een van ons onlangse reise gebruik het. Ek sien ek was verkeerd, ek het dit by Woordnoot raakgelees.

All for one!

Uitgebrei na Brakkenjan se stelling: Een vir almal en almal vir een …

Hoe laat dit my nou na my kinders se kinderstories van toentertyd verlang? Toe ek die kenwysie van ‘n spesiale nuwe vriendin kry, het ek dadelik daarop aan die dans gaan. Ek kan my lekker in stories inleef …

Die lewe is goed en mooi en reg.

One for all and all for one …

Foto: My BB met ‘n doek om die mannetjies van haar weg te hou. Algehele vrede in die huis gewees, dan stuur die twee mannetjies, wat haar kinders is en so bietjie vergeet, nie hulle klaagliedere die hele wye wêreld in nie. Sy gaan elke keer saam Rebus toe, Shilo en Sobek ook.

Gepubliseer in Joernaal

2020 se kerstafel by Rebusfontein …

Hierdie hoofstuk vorm deel van die Towerinne/Goue Vroue se avonture. Ons is die hoofkarakters in ons eie vervolgverhale (natuurlik) en ons fantasie stories is vir ander ondenkbaar, ondoenbaar en  onverklaarbaar. As jy die verhaal wil volg, moet jy op die onderstaande skakel kliek om die hoofstukke te lees. Na myne sal daar gereeld nuwe hoofstukke bygevoeg word. Totdat ‘n ander fantasie ons aandag vereis. Dan begin ‘n nuwe vervolgverhaal, ek bedoel avontuur.Lees die ander bloggers se bydraes by ons InLinkz-skakel https://fresh.inlinkz.com/party/1109950914194acc97921a784266b3ec

***

Hierdie jaar het vol belofte begin. Ons was expats (wat ‘n lelike naam), ons was pas terug van kersfees in Suid-Afrika, ons sou Maart weer huis toe kom om ons jongste kleinkind te ontmoet. Die ses vlugte was reeds bespreek. Hy is op die laaste dag van Maart gebore. En toe gebeur die ondenkbare … alle lande in die wêreld sluit hulle grense. Ons ses vlugte heen en weer word gekanselleer. En ons sit tot 4 Oktober 2020 vasgevang in Kazakhstan. Eintlik moet ek skryf dat ons tot 3 weke voor die 4de Oktober nie geweet het of ons vir kersfees 2020 sou kon huis toe kom nie.

Die eerste twee maande na 17 Maart 2020 was soos iets uit ‘n bangmaakfliek.

Ons het kaartjies gekry wat ons toegelaat het om ewe dae uit ons huis te gaan. Net om kos en medisyne te koop. Wat minder as 500 m van ons af beskikbaar was. Naweke was ons opgesluit in die stad. Polisie het seker gemaak dat ons nie die stad verlaat nie. En niemand van die platteland kon in die stad kon inkom nie.

Ust’-Kamenogorsk – ala Öskemen – het ons tronk geword.

Mens was bang om in ‘n hysbak te wees. Het skielik nie meer mense gegroet nie. Ons moes met maskers loop. En ons hande oral laat skoonmaak. Dit was sowaar skrikwekkend om in ‘n apteek te wees. As iemand hoes. Want die virus was onbekend.

Later kon ons enige dag winkels toe gaan. Maar naweke was winkels gesluit. En nog later was winkels naweke oop, maar vakansieplekke steeds toe. Dit was ‘n anderste tyd. Ons was basies vry om te doen wat ons wil. Behalwe om oor die grens huis toe te gaan. Suid-Afrika se grense was steeds toe.

Einde Junie het ons Almaty toe getrek. En kon ek oor die stad uitkyk tot diep in die binneland in. Vanuit die vensters van ons woonstel op die 14de verdieping.

Toe bid ek by my oop venster terwyl ek oor die stad uitkyk:

Vader, help ons om kersfees te wees waar ons hoort. By ons kinders en kleinkinders.

En so val alles in plek sodat ons permanent huis toe kon kom. My hart loop van dankbaarheid oor. Anders as wat ek verlede jaar gedink het, sal kersfees nooit vir my vol sneeu moet wees soos in Kazakhstan nie. Ek soek geen wit kersfees nie.

Ons het ons eerste kersete Donderdagaand die 17de Desember in Umdloti gevier. Soos elke jaar as al my kinders nie kersdag by my kan wees nie.

En my tafel was maar karig gedek. Met wat in die gastehuis beskikbaar was. Ons het, anders as gewoonlik, potjie geëet. Geen kalkoen, geen gammon, geen klappers, geen kersboom met liggies. Ons was maar versigtig om winkelsentrum toe te gaan.

Want daar is stories dat matrieks ‘n groot fees in Umhlanga gehou het. En ‘n gogga laat versprei het. Ek is siek vir die naam daarvan, daarom net gogga. En daarom moes ons maar versigtig wees. Dis geen lersversierings gekoop nie.

Ek wou goed saamvat, maar ons het in Julie 2019 ons huis opgepak dat hy kan verkoop. En ek weet nie in watter boks die kersfeesgoed by die rivier verpak is nie.

Ons gaan kersfees saam met dollatjie en ons drie kleinseuns by die rivier hou. Seun en baba en skoondogter is steeds by die see, kom eers net voor nuwe jaar terug. Daar is wel kersversierings by die rivier. En dollatjie sal haar liggies saamvat.

***

En toe kry ek die skok van my lewe.

Mede-towerin en goue vrou Una dink ek is netjies en georganiseerd. En stel my sowaar aan om die kerstafel by Rebusfontein vir ons Goue Vroue te dek.

Wel, Una, ek het ‘n skok wat op jou/julle wag. Want hierdie vrou is nie so georganiseerd as wat jy/julle dink nie. Ek ly wel aan oudstekindsindroom, daarom sal die tafel gedek word. Ek waarsku net dat dit ‘n wilde rit – ek bedoel tafel – gaan wees ..

***

Eerste goed eerste.

Alhoewel Toortsie en Appeltjie die manne in hulle lewe saamgevat het Rebus toe net nadat dit kastig in die niet verdwyn het, word die kerstafel gedek sonder plek vir mans. Dit is tyd om te gesels sonder om aan mans se fiemies oor kos te dink. Dié tafel is net vir vrouens gedek.

Vroegoggend is ek reeds op om die tafel te gaan dek. Boerboelmodel Markus gevra om my net na vyf te kom wakker klop. Wie kan nou sukkel om wakker te word as hy voor my na die meent stap?

Mensig, ek hou baie van die Boerboel kleertjies wat hy dra. Veral omdat dit van voor nie so styf sit soos van agter nie …

Hy dra een massiewe ronde tafel op sy skouers, soos my pa altyd ‘n sak mielies oor sy skouer kon gooi. Ek dra die sakke met besonderhede waarmee die tafel versier gaan word. Daarna dra hy die messegoed en breekgoed aan.

Terwyl ek die bloedrooi tafeldoek in die lug opgooi dat die briesie dit oor die tafel kan sprei.

Dié takie moes ek meer as een keer herhaal omdat hy my aandag aftrek as hy wegstap om nog goed te gaan haal. Dan land die tafeldoek op die grond en nie oor die tafel nie.

Daarna is daar nie meer tyd om te ginnegaap nie. Die tafel moet gedek word. As die goue vroue aka towerinne opstaan, moet die tafel vir hulle wag.

Die piepklein kersboompies word in die middel van die tafel geplaas. Wittes, om my aan die sneeu te herinner wat nou dikker as ‘n meter in Öskemen (Ust’-Kamenogorsk) in Kazakhstan lê. En my daaraan te herinner dat my kerstyd nie weer so sal lyk nie. Dankbaar dat die Here my gelei het om in die vlees in Suid-Afrika te wees. Kersgety te vier saam met my gesin en die goue vroue.

Vrolike plekmatjies word gedek vir al die goue vroue wat reeds aangekom het, wie se liggies in hulle huisies gebrand het toe ek gisteraand gaan loer het. Feestelike prentjies wat die kersverhaal uitbeeld op elkeen gedruk. ‘n Wegneemgeskenkie vir my maters.

Nadat ons van die piekniek af terug gekom het, het ek probeer seker maak wir almal daar gaan wees. Ekke, Una, Toortsie, Appeltjie, Aalsie, Trommeltjie, Positief, VirgoC, Woordnoot, Seegogga, Sonell.

Ek weet ook Frannie wil bitter graag saam wees, maar sy is steeds in Amerika vasgevang. Ander het ook nog nie na Rebus teruggekeer nie. Die matjies vir die wat nie daar kan wees nie, word op ‘n tafel geplaas waar Toortsie die kos gaan uitpak. Dalk verras hulle ons?

Daarna volg die wit borde, vrolike rooi servette, ragfyn silwer servette om die rooies af te rond. ‘n Stukkie luuksheid wat ek ons gun na die jaar wat ons vir ‘n lang ruk vn ons geliefdes geskei het.

Die silwer messegoed met die fyn goue afwerking in die stele daarvan het ek spesiaal van Kazakhstan gebring. Asook die glase met die goue afwerking aan die rande daarvan.

In die middel van die tafel word plek gemaak vir die lemonades wat ek reeds gemaak het. Sitrus, met die lemoenstukke en gemmer en naeltjies wat daarin dryf om die smaakkliere te prikkel. Veselperske, wat ek vir die eerste keer probeer maak het, ek wonder hoe dit gaan proe. Komkommer, mint en gemmer is ook ‘n eerste probeerslag, dit herinner my aan die hitte van hierdie mooie land van ons. Peer, appel, bessies en aarbeie, elkeen met sy eie geheime bestanddele om die goue vroue te betower. Dit is soveel anders as die Suid-Afrikaanse lemonades, min gas, baie geur. Hulle staan in my yskas en wag om later uitgebring te word.

Oor elkeen van die stoele word kersvaderbaadjies gedrapeer, met die bande wat dit om die stoele hou. Dan word ‘n kersvadermussie oor die stoele gedrapeer.

Markus staan saam met my na die tafel en kyk.

Laat hom na die plaas verlang, het hy te vertelle. Kersfees saam met sy gesin. Dan raak hy haastig, hy moet sy ma en ouma gaan help tafels rondskuif.

Die tafel is gereed vir die goue vrouens wat netnou sal ontwaak. Toortsie sal vir die kos sorg.

Wel, Una, ek hoop jy hou daarvan. Ek het lekker gespeel met gedagtes.

Gepubliseer in Joernaal

Hoofstuk 18. Die sondes van die vaders

‘n Volgende hoofstuk in die gesamentlike blogverhaal van die Towerinne. My tweede hoofstuk. Die vorige hoofstukke kan hier gelees word.

***

‘n Hele aantal geraamtes is ontdek en daar is verklaar aan wie elkeen behoort. Tannie Frannie het in die vorige hoofstuk verklaar waarom die twee kinders se geraamtes in ‘n kis in die tonnel onder die herehuis Eden was. Hier volg my hoofstuk.

***

My drie Miniatuur Schnauzers het in die toring van Frannie se huis saam geluister, en bly luister lank nadat ons klompie towerinne huiswaarts is om die nuutste ontknopings te verstaan. Ons koppe het gedraai.

Una, Kameel en Vuurvliegie het my woewe aangemoedig om mooi te luister wat die ander woewe en katte kon uitvind. Sodat ons die geheime vir eens en altyd kon uitpluis. Virgo C, Hester en Positief het gesê dat hulle sukkel om alles te verstaan, ons moet rus ook.

Toortsie en Trommetjies het saam met my huis toe gestap. Toortsie omdat sy ook vir die donker bang was. Trommeltjies omdat sy geweet het dat ons twee vir die donker bang was. Ek moes egter die laaste deel van die paadjie alleen stap, maar het gesien dat Lorenzo op ‘n afstand saamstap. Dus het ek op ‘n wolkie huis toe gestap. Mooie man daai ene!

Die volgende oggend was die towerinne dou voor dag uit die bed. Almal het op my huisie se stoepie kom plek soek om te sit.

Sommiges het maar lekker deur die blare gelyk, hulle hou mos van sonsondergang, die son kom vir hulle heeltemal te vroeg op. Lekkervurig en Perdebytjies was amper laat. Perdebytjie het haar kamera vergeet. Seegogga het gegaap, maar dit probeer wegsteek. Bondels het weer prentjies geteken, sy kan die werk van die tekenaars in die hof oorneem, so vinnig doen sy dit. Scrapy het haar aan die prentjies sit en verwonder. Frannie was angstig, sou my woewe so goed soos hare geluister het? Woordnoot het aangemoedig, kom nou BB, ons wil nou weet! almal is hier.

***

BB het soos gewoonlik grootmejuffrou op my skoot kom sit. Half bo-oor my, soos sy gewoonlik maak. Sobek het oor my een hand kom staan sodat ek hom kon krap, en Shilo oor die ander een. Hulle het geluister hoe hulle ma vertel. Soms reggehelp as sy van die spoor afgedwaal het. En dan het sy haar eers vreeslik gewip. Ongeskikte kinders!

En so het ons towerinne verder gehoor wat daardie laaste dae op Eden gebeur het.

***

Sophia was baie omgekrap omdat meneer Hardy die geheim oor die kinders so ongenaakbaar op Klara se sestiende verjaarsdag bekend gemaak het. Ook dat hy hulle oupa is en die kok hulle ouma. Koel en berekenend. Watter soort oupa doen dit?

Jou ma is nie jou ma nie, Charlotte is. Jou pa is jou pa. En ek en tannie Marks is jou ouma en oupa.

Klara was platgeslaan. Het na haar toe gehardloop. Om getroos te word. Sy kon nie jok nie.

So? Haar pa is ‘n rondloper. Hy en Charlotte was haar ouers. En nie Sophia en hy nie. Die vrou in die kelder was haar ma! Wat al die jare lank vir haar weggesteek het dat sy haar ma is. Watter soort vrou doen dit?

Vir haar moes sy van haar verjaarsdagkoek vat. Gif sou dalk beter werk. Maar sy is af, het die koek gevat. Op haar sestiende verjaarsdag.

Charlotte het nie geweet dat meneer Hardy vir haar vertel het nie. Sy het die trappies skoorvoetend afgeklim. Wou die koek net neersit en loop. Het niks gehad om te praat nie.

Maar Charlotte wou nie hoor nie. Moes toe probeer om haarself te verontskuldig.

Dit was probleem daardie tyd, Klara, het nog in haar ore geklink toe sy teen die trappies op gehardloop het.

En toe is Charlotte se hand op haar skouer. sy wou haar keer om weg te hardloop. Sy kon die gevoel nie verdra nie, het tyd nodig gehad om dit te verwerk. En toe stamp sy haar weg. Sy het gehoor hoe Charlotte val, maar nie omgedraai om te kyk nie. Sy moes daar wegkom, sy het tyd nodig gehad om te dink.

Haar ma was so ‘n goeie mens. Soms wens sy sy was nie so ‘n goeie mens nie. Klara was die hele week daarna in ‘n toestand. Wou nie uit haar kamer nie. Toe stuur haar ma haar om vir Charlotte te gaan kuier. Op daardie noodlottige dag.

Sy het ja gesê, maar haar hele wese het daarteen geskree. Sopia is haar ma.

Sophia het eers vir haar, Klara, buite-egtelike dogter van haar man Joseph, as haar eie grootgemaak. En toe ook die tweede buite-egtelike kind, ‘n seun, haar boeta Thomas.

Ek haat Charlotte en ek haat my pa! Ek is dankbaar hy is nie nou hier nie.

Toe is sy af kelder toe. Wat daarna gebeur het, is reeds vertel. Behalwe dat Klara, toe sy die vrou in die vreemde posisie op die kelder se vloer gesien het, geweet het dat dit haar skuld is. Haar skuld dat Charlotte dood is. En toe het sy waansinnig geword.

Intussen is Sophia na die skape toe. Daar was ‘n skaap wat gehelp moes word. Die mans was nog weg, maar sy het geweet wat om te doen. Sy was bekommerd oor Klara.

Wat sy nie weet nie, dink Sophia, is dat die twee van die babas ontslae wou raak, dit het vir hulle net oor die lyflike plesier gegaan. Vriende met voordele. Sophia kon dit nie toelaat nie. As plaasmeisie het sy gehelp om baie diertjies in die lewe in te bring, te versorg en groot te maak. Sy kon nie self kinders kry nie. Sy sou nie toelaat dat hulle ‘n menselewetjie neem nie.

Haar son het lank agter ‘n digte wolk verdwyn, maar die blondekop babadogtertjie het ‘n liggie laat opflikker. Sy het haar Klara genoem. Haar sonskynkind. Klara, het so helder en mooi geklink. En so was haar poppie se laggies tot op haar sestiende verjaarsdag.

Terwyl sy Klara versorg het, was sy salig onbewus van die verhouding wat steeds aangaan. Sy het Joseph aanvanklik geglo. Dat hy lande toe was. Sy was so besig met die babatjie.

Maar sy moes geweet het ‘n jakkals verander nie van streke nie. Hoe sê hulle: Een maal ‘n egbreker altyd een. Sy was nie eens geskok toe die twee egbrekers ‘n jaar of wat later aankondig dat nog ‘glipsie’ gebeur het nie. En weereens het sy haar eie hartseer en skok en ongeloof diep gaan bêre. Die seuntje se naam het haar diep getref.

Thomas. Wat die naam ookal vir ander die ander beteken het, vir haar was dit met ongeloof verbind. Hy was nie ongelowig nie, sy was. Sy het Joseph daarna verfoei, met haar take aangegaan, hom haar kamer verban.

Die butler en die kok het geweet, maar sy het nie omgegee nie.

Sy het saans gehoor hoe sy kamerdeur oopgaan, hoe hy in die gang afsluip om na sy loslyf te gaan. Waarom dit ‘n liefdesnessie genoem word, sal sy nooit kan raai nie. Liefde is tussen twee mense wat trou aan mekaar beloof het. Wellus is ‘n beter beskrywing. Wellusgrot? Dit sou beter beskrywing vir die plek van hulle dade wees.

Lief soos sy vir die plaas is, was sy doodbang vir die tonnels onder die huis. Die kinders gereeld gewaarsku dat hulle nie in die tonnels moet speel nie, wie weet watter gevaartes kan van die waterval se kant af in die tonnels inkom?

Later het sy aangedring op ‘n deur in die kelder om die kinders te keer om in die tonnels te speel as sy nie naby is nie. Vir hulle sou sy ‘n leeu kaalhand vermoor. Haar kinders beskerm soos net ‘n leeuwyfie kan. Die twee rondlopers het die deur egter gereeld oopgelos.

Sy het twee sleutels laat maak. Joseph het die een aan ‘n kettinkie om Charlotte se nek gesit. Die ander een het sy self aan Joseph se stel sleutels, wat altyd in sy sak was, vasgemaak.

‘n Week na Klara se sestiende verjaarsdag het haar grootste vrees waar geword.

Sy het van buite ingekom, dit was ‘n moeilike geboorte maar die lammetjie is gered..

Dit was grafstil in die huis. Meneer Hardy en die kok was ook nêrens te sien nie.

Sy het eers weer na buite gehardloop, oral gesoek. Geroep en later geskree. Almal was in rep en roer. Die kinders was weg.

Sy is af na die kelder, sy het mos vir Klara gestuur om haar ma te gaan besoek.

In afgryse het sy na die lyk van Charlotte gestaar, haar neks was gebreek, die hangertjie met die sleutel was om haar nek.

Toe sien sy dat die tonnel se deur oopstaan.

Sy het meneer Hardy eers gehoor en toe in die bek van die tonnel gesien. Hy het hygend en skreeuend geslaan en geslaan. By sy voete was die verminkte lyf van ‘n swart slang. Mamba? Die adder was lankal vermorsel, maar hy het steeds geslaan.

Agter hom het sy ‘n kermende vrouefiguur uitgemaak. Die kok? Mevrou Marks? Wat maak sy in die tonnel?

Hulle het haar nie gesien nie. Gekerm oor testamente en slange en die kinders.

Die kinders? Sy sien hulle nie.

Waar is die kinders? het sy geskree.

Weer en weer en weer. Tot hulle opkyk.

Sy het nie die waansin in meneer Hardy se oe gesien toe hy opkyk nie. Eers die gevaar besef toe hy die yster in die lug swaai. Op pad na haar toe …

***

Die Towerinne het na hulle asem gesnak!

Seegogga het opgewonde op en af gespring. Uiteindelik was dit haar beurt om verder te vertel.