‘n Paar minute in Aspoestertjie se skoene …

Eergister kom manlief tuis met ‘n raai wat? Ek is besig om kos te maak en nie lus om te raai nie, dus antwoord ek met: Vertel maar, ek dink nie ek sal kan raai nie. En toe wys hy die pragtige kaartjie, ons is na ‘n Kazakh-troue genooi, die bruidegomgedeelte van die troue. En ek is baie gek oor die meisie wat gaan trou, sy werk vir my man.

Ek kan nie onthou wanneer laas ons na ‘n troue genooi is nie. My vier susters se kinders het nog nie daardie paadjie geloop nie en Edna, my skooldogter wat my na haar troue toe genooi het, is voor my jongste getroud. Dus kry ek die gedagte dat my jongste se troue die laaste troue is waar ek was.

Dadelik onthou ek die gesprek wat ek en Mia verlede week in die park gehad het. Mia het vertel dat tradisionele Kazakh-troues uit twee dele bestaan, die een deur die bruid aangebied en die ander een deur die bruidegom. Ons word na die bruidegomgedeelte genooi. Ek het al daarvan gehoor, toe my man se tolk en sy Natalja die 1100 km saam met ons gery het om kar te koop in Almaty. En amper dadelik verdamp my opgewondenheid om na ‘n troue genooi te word.

Ek sit in Kazakhstan, wat gaan ek aantrek? In Suid-Afrika was dit nie ‘n probleem nie. Ek spaar myself gewoonlik die verdriet van rokke soek en aanpas, stap deur die rakke vol materiaal in my twee gunsteling winkels, koop ‘n lap waarvan ek hou, bypassende gare (en ek is baie kieskeurig oor gare want dit moet vir altyd hou, ek maak nie stukkende klere reg nie), gaan huis toe, droom wat sal werk en begin sny.

Ek het al vertel dat my ma my leer klere maak het en dat ek patrone kan aanpas om te werk. Maar ek het nie vertel dat ek gewoonlik uit my kop uit sny nie. En dat ek aan my klerepop pas totdat ek tevrede is nie. As ek die dag baie lui is, speel ek sommer self mannekyn. Hier gaan ek nie die klere op sulke kort kennisgewing kan maak nie.

My Elna en my Bernina staan by die huis. Ek het, toe ons in Januarie kom kyk het, gedink dat hier baie materiaalwinkels is. Ek was verkeerd.

Al die winkels wat tegniese goed verkoop, verkoop naaimasjiene, hier is selfs ‘n Janome-winkel. Ek ken Janome nie so goed nie, maar manlief het gemeen dat dit vir ons beter gaan wees om ‘n naaimasjien hier te koop as om myne te probeer saambring. En ek is geneig om saam te stem, as die spanning uit is na die reis, weet ek nie of ek hier iemand gaan kry wat aan daardie twee make kan werk nie. Ek sien baie soorte naaimasjiene, dink dit is Sjinees, en ek ken dit nie. Tot my teleurstelling kon ek tot dusver slegs een winkel opspoor wat kleremateriaal verkoop.

Ek kry op die mark stalletjies wat gordyn- en linnemateriaal verkoop. Rokmateriaal is ‘n ander saak. In my gedagte stap en deur die winkeltjie. Dit gaan nie help om gou ‘n masjien te gaan koop nie, ek het nie aandrokmateriaal, ‘n goeie skêr of goeie gare gesien nie.

En ek het ‘n aandrok nodig. Want sien, die gaste hier dra pakke en aandrokke, volgens dr Google. Om doodseker te maak, het ek die menslike hulpbronnebestuurder geWhatsapp met Help asseblief en Jip, dit is reg, ek het ‘n aandrok nodig en die haartjies moet gedoen word. Die hare sal ek self doen, hulle luister nie vir haarkappers nie.

Die rok is ‘n probleem. Ek het aandrokke, rokke wat net een of twee keer gedra is. Rokke wat niemand hier nog gesien het nie, want dit is juis die rede waarom ek al my aandrokke self maak. Keuses in Suid-Afrika is gewoonlik so beperk dat ek verkies om my eie klere te maak, anders kan ek en ‘n ander vrou by ‘n geleentheid opdaag met dieselfde rok. As ek nie bereid is om ‘n arm en ‘n been vir ‘n rok te betaal nie.

Die probleem is dat my aandrokke en blink sandale met hoë hakkies in Suid-Afrika in kratte verpak is. En dit is 10 300 km van hier. So ver weg dat ek nie vandag op die vliegtuig kan klim om dit te gaan haal nie. Dit vereis twee dae en drie vliegtuie, baie gewag op lughawens en drie ure per kar Bothaville toe om by my aandrokke te kom. En dieselfde om weer terug te kom, dus sal ek nie net doodmoeg wees nie, maar ook te laat vir die troue terug wees.

Die klere in my kas is nie geskik nie. Ek het langbroeke en kort rompe gebring. Ek moet ‘n rok en skoene kry, voor Saterdag. En ek weet dat ek gaan sukkel. Hier het ek al by die deftige restaurante gesien dat die vrouens tof. Maar nie my soort tof nie. Dus moet ek nou eers van die rokkies hier vertel.

Ek dink die rokkies wat hier te koop is, is juis gemaak om die somer te vier. Want die somer is kort, ons het nog nie regtig warm gekry nie en die aarde het reeds die 22ste Junie besluit dat Qazakstan genoeg son vir die somer gekry het, ons beweeg terug na die langste nag. Want hier begin dit in Oktober sneeu en die sneeu was eers teen einde April gesmelt. Die tyd om rokkies te dra is kort, seker daarom dat dit blommetjies en valletjies is, met rekkies in die middel en van baie sagte, vloeiende materiaal. En hulle hou baie van rompe met waaierende permanente plooie, daai soort wat mode was toe ek op universiteit was. Dit is van fyn materiaal gemaak, maar mens moet baie dun wees met geen heupe om mooi te lyk in rokkies met valletjies en die soort rompies.

Die lengte van die rokkies wissel van net onder die laagste merke van onderklere (darem net in uiterste gevalle) tot vloerlengte. Dit is blink en bont en ek sien hoofsaaklik swart en rooi en blou. En ek weet sommer ek gaan moet soek.

En ek haat aanpas, maar my pop is nie hier nie en sy sou in elke geval nie kon saamgaan winkels toe nie. Dus is ek gister die winkels in. Om ‘n rokkie te gaan soek.

By die eerste winkel kry ek ‘n donkerblou kantrokkie, een van daardie met die soom wat agter langer is as voor. Maar ek pas nie aan nie, ek is nie seker dit is wat ek soek nie. Geen moue en op my ouderdom moet mens maar ‘n effense moutjie dra. Maar ek hou van die rokkie en veral van die materiaal en die snit. Sterk kant, nie die onderkleertjiessoort nie.

By die tweede winkel kry ek ‘n pienk bloesie met deurskynende moue wat sal kan werk. Maar ek weet sommer ek gaan soos ‘n ou tannie voel. En pas nie aan nie. Bietjie bling, maar ek wil ook nie soos die bruid se ma lyk nie.

By die derde winkel sien ek twee lang rokke wat my aandag trek. Die naam van die materiaal ontgaan my nou, maar dit is rekkerig en blink, asof kolletjies blink in dit geweef is. Is dit Lurex? Ek het ‘n bloes wat daarvan gemaak is wat vreeslik krap, dus is ek nie lus om te pas nie. Dit voel egter baie sag en trek aan my hartsnare.

Die verkoopsdame, wat geen woord Engels verstaan nie, is by om te help omdat sy sien dat ek teruggegaan het na die twee rokkies toe. Ek kies die korter een, wat oor die middel oorvou, met ‘n bling gespe op die een heup. Sy vra dié een met haar gesig en beveel die langer een aan. Wys met haar hande dat dit my lyf beter sal pas. Ek skud my kop met ‘n Njet, en wys na die korter een, as ek moet pas, sal dit nie korter een wees.

Die aanpaskamertjies trek dadelik my aandag. Twee langs mekaar met die gordyntjies wat nie mooi toetrek nie. Daar lê in al twee skoene rond. ‘n Paar rooies met helder blomme , spykerhakke en ‘n platform waarvan ek dink my dogter se balletjuffrou van lank gelede sou hou. Hemelhoog. Ek het altyd hoë skoene gedra, maar dié spykerhakkies is selfs vir my skrikwekkend hoog. En ‘n paar lelikerige sandale met dik band oor die voet en net so ‘n dik sool.

Ek kies die een met die rooi skoene wat lyk of hulle beter dae geken het, en stap in. Weet nie wie se skoene dit is nie. Sien niemand anders in die winkel nie, dus sal die eienaar dit hopenlik nie kom opeis as ek halfnaak staan nie? Probeer die gordyn dig trek terwyl sy verduidelik dat ek nie die ritssluiter moet optrek nie, sy sal dit doen. En ek trek die gordyn so dig soos wat ek kan.

Sy klop aan die kant van die hokkie toe die rok skaars oor my kop is en ek spring om die rok oor die nodige plekke te trek om so min as moontlik ontbloot te wees. Die rok pas, maar dit is nie my rok nie.

Sy neem my om ‘n groter prentjie te kry. Slim, want aantrekkamerspieëls is bedrieglik. Dit is minder formeel omdat dit korter is, maar ek weet dit is nie die rok nie. En dit is effens wyd om die heupe, omdat die middel oor die heupe gaan en nie oor die middel nie. Sy beduie na die langer een en ek dink, waarom nie? Ek was nou klaar half naak met die rok wat agter oopgegaap het tot sy die ritssluiter opgetrek het, ek kan net sowel die ander een ook aanpas.

Ek weet, jy sal seker nie verstaan nie. Omdat ek in ‘n gesin met vyf susters grootgeword het. Maar, ek is privaat. My klere word so gekies dat ek nie my boops vir ander vertoon nie. En ek dra onderklere wat seker maak dat niemand daai simpel Kry jy koud of-grappie kan maak nie. En as ek buk, maak ek seker dat ‘n hand keer dat iemand per ongeluk ‘n glimps daarvan kry. My rompe en kortbroeke se lengte is van so aard dat ek gemaklik kan wees, en kan buk en buig sonder om my lyf uit te stal. Ek verkies om te dink dat ek nie aantrek om soos mutton dressed as lamb te lyk nie. Maak dit daar gelaat.

Ek is skaam en sal eerder self in aanpashokkies met die ritssluiter sukkel as om oop te maak dat iemand help. Maar hier het ek nie keuse nie, die gordyne laat my nie inhok nie.

Ek beduie ja, ek sal aanpas en stap soos skaap ter slagting na die aanpashokkie terug nadat sy die regte grootte namens my gekies het. Ek kyk die rokkie so en dink dat hy te klein gaan wees. Ek het al manlief se hempkoopstorie vertel, hierdie verkoopsdames is goed met skat.

Ek trek die gordyn met minder presisie toe, help in elk geval nie. Hou my romp aan vir beskerming en trek die rok oor my romp. Vra dat sy die ritssluiter optrek omdat dit agter oopgaap. Moes so gedink, die rok is te klein vir my! Terwyl sy die ritssluiter optrek, kyk ek in die spieël hoe die rok haarself rek en trek om perfek om my lyf te pas. Die rif van my romp se rek pla my nie, ek weet dit is my romp se rek, die rok pas soos ‘n handskoen, langer as vloerlengte, met ‘n spleet op die linkerbeen tot by my knie. En ek voel of ek regmaak om op die Oscars se rooi matte te loop, poniestert en al.

Sy is egter nie tevrede nie, wys na die belaglik hoë rooi skoene en beduie dat ek dit moet aantrek. So waar? Is dit waarom die skoene daar is? Om saam met rokke aan te pas? Ek kyk dit so en dink dat ek vandag ‘n nek gaan breek en nie vir manlief gesê het waarheen ek gaan nie, wil weier, maar sy is Russies en ek het nie die woorde om te verduidelik waarom nie.

Ek gehoorsaam weer soos ‘n skaap ter slagting. Buk om die moeggepaste skoene aan te trek, gril by die gedagte dat baie voete daardeur is en is sommer spyt dat ek nie kousies ingesit het nie. Die skoene se hakgedeelte is so saggebrei van pas aan verskillende groottes voete dat dit soos ‘n balletskoen oor my hak wil glip, maar nie heeltemal nie.

Ek wil uitskop, maar sy buk af en trek die skoen verder oor en ek voel so bietjie soos Aspoestertjie, wetende dat sy met die tweede skoen ook gaan moet help. Ek balanseer myself op die hemelhoë hakke, bekommerd omdat dit hofskoene is en nie ‘n bandjie het om vas te maak nie. Huiwerig balanseer ek op een been, bekommerd dat die hak net so moeg soos die skoen gaan wees en kan besluit dat hierdie aanpas haar swanesang gaan wees.

Ek sien in my gedagtes die bloedjong studente wat in 2012 tydens my doktorale gradeplegtigheid hulle eerste grade gekry het. En die hemelhoë plafonskoene wat ons almal gedra het. Hulle wankelrig oor die verhoog, ek nie. Ek en hoë hakskoene was toe nog soos boude, ek het selfs met hulle seunshokkie afgerig. My tweede jongste sus vertel juis die week vir my dat sy nuwe respek vir haar ousus gekry het toe ek saam met my kleinkinders ‘n dag by God Reef City kon spandeer – op baie hoë spykerhakke. Die tweede skoen is aan, ek wyfel maar die gordyn is vir die laaste swanesang oopgetrek en ek moet wals.

En toe stap ek met my donkergrys rokkie en bloedrooi geblomde skoene na die groot spieël waar sy wil hê ek moet kyk. Maklik! Skoenedra is soos fietsry. As jy kan dan kan jy. Die rif van my romp onder die rokkie duidelik sigbaar. Sy kyk, voel en buk af en trek my rompie af. Tot op my skoene.

Ek het geweet dit is my romp en dat ek nog mooi toe is. Sy was verstom, het gedink dit is die rok se onderrok en toe glip dit mooi af toe die rekkie oor my heupe is. En ek kan nie help om te lag nie.

Dit vat my mooi terug na my dae as juffrou by Welkom High School. En dit moes tussen 1996 en 2002 gebeur het. My klas was op die tweede vloer. En die buitestoep met die gangetjies waar die kinders stap het langs die klasse geloop. Ek het gou na die rekenaarkamer gegaan, wat ‘n paar klasse verder was. Gelukkig tydens klastyd. En toe gee my onderrok se rek mee. Sonder waarskuwing. Hoe ek ookal probeer keer het, het die sagte materiaal sy pad na die vloer gekry. Ek het omgekyk, vorentoe gekyk, niemand gesien nie, uit die ring van die onderrok gestap, gebuk, haar opgetel en in die asblik gesmyt. Daarna het ek al my onderrokke self gemaak, die rekke ingewerk en nie ingeryg nie. Aangesien ek reeds oefening daarin het, het ek afgebuk, uit die romp getree, dit opgetel en met die stukkie lap in die hand my rok bewonder.

Ek was reeds tevrede, maar ek het op die rok verlief geraak. Plein soos ek daarvan hou. Langer moutjies, band in die middel, kraag wat in ‘n V oor my bors vou, spleet tot op die knie. Speldjie nodig om die soom van die kraag in toom te hou. ‘n Soom wat nie afgewerk is nie, maar ragfyn kantdetail bied. En fyn soom om die spleet en die onderkant van die romp en moue. Lank tot op die grond. My soort mooi.

Ek lyk nie soos mutton dressed as lamb nie. Ek lyk elegant in die pragtige eenvoudige rok sonder valletjies en kantjies en bont materiaal. Die deftigheid van die materiaal, die tekstuur en rekbaarheid daarvan en die perfekte snit verander my daar voor die spieël in ‘n storieboekprinses. Aspoestertjie sien nie eens die besonder lelike skoene raak nie.

Sy is opgewonde en wil net hê ek moet koop. Maar ek het toe nog nie uitgevind dat ek ‘n aandrok moet dra nie. En ek praat op my Google Translate met haar. Ek is mal oor die rok, sal môre terugkom. Met my man. Ek wil dit graag vir hom wys. En sy verstaan.

Gaan ek teruggaan om die rokkie koop? Ek dink so. Het gisteraand daaroor gewonder, maar vandag dink ek ek moet dit tog gaan koop. Dit gebeur selde in my lewe dat ‘n rok sommer net pas. Asof ek dit vir myself gemaak het. Nou moet ek manlief oortuig …

20 comments

  1. Christa, jy weet dat daar reeds ń klomp blogs geskryf is om jou meer oor Rebusfontein en die Towerinne te vertel? Ons almal wag in spanning vir komentaar van jou af.

    Like

      1. Una, ek sien ek het nie verkeerd gelees nie, ek moes op elke prentjie gaan kliek om almal se bydraes te lees. Ek werk daardeur, maar my dorp het inwoners wat my hartsnare pluk. Ek verstaan nog nie lekker hoe mens vir elkeen dankie sê nie, maar ek toets en kliek en druk en ek sal dit regkry.

        Like

  2. Klere maak is groot pret en die Janome masjiene is wonderlik hoor. Ek verkies ook om my klere self te maak en het altyd vir die seuns hul eie sweetpakkies gemaak toe hulle klein was en natuurlik ons almal se truie self gebrei.

    My ouma het vir my een jare gelede gekoop en dit het gehou tot verlede jaar en ek het dit vir meer as 10 jaar gehad. My hart was so seer want hulle is maar prysig.

    Ek haat ook klere aanpas in winkels. En nes jy kan ek ook nie my boops vir ander vertoon nie en ek verkies ook om gemaklik te wees in my klere, daarom hou ek nie van die nuuste fashions nie. 😀

    Sonder valletjies en kantjies is ook my keuse en jou rok klink perfek vir jou. Ek is seker jy gaan manlief maklik oortuig en ons almal wil daardie mooi rok sien hoor. 😀

    Like

      1. Jy kan beslis hoor. Kyk, Singer is die beste maak maar soos ek sê, my Janome het my baie lank gehou. 😀

        Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.