Gepubliseer in Joernaal

Ontslae van VVVs?

Ek dink almal wat my ken weet dat ek doodbang is vir vlermuise, waarna ek as vreemde vlieënde voorwerpe (VVVs) verwys.

Ons het ‘n huis langs die Vaal wat ons redelik min besoek. Aanvanklik was ons amper elke naweek daar, dit was naby, so uur se ry van ons huis in Welkom. Toe trek ons Ruimsig, Roodepoort toe, en word die reis langer en tyd om hierheen te kom minder. So drie ure hierheen. En toe trek ons Pretoria se kant toe, oms nog so halfuur reistyd by te voeg, indien mens spitsverkeer tref, veel meer. En kom ons nog minder …

In hierdie tyd van ver weg bly het ‘n potensiële koper so drie jaar gelede hand en tand beloof hy gaan die plek koop. Om ons so twee weke gelede te ontnugter, die man het soveel skuld dat hy die plek nie gaan bekostig nie – ons praat van miljoene.

Nog voordat hy die aanbod gemaak het, het vlermuise reeds hulle intrek in ons huis geneem. Dit maak my woedend dat dit is asof ek nie van die vlermuise kan onthou nie. Eers as ons hier stop en ek die mis op die vloere sien, sak my moed in my skoene. Maar ons geduldige wag en tuinman staan, nadat ek een dag ‘n geweldige tantrum gegooi het, reg om eers uit te vee voordat ek die huis se vloere was.

Ek weet nie of iemand die peste in hulle huise het nie. Dit is mos nie net die poef nie, dit is ook wit kolle pie regoor die vloere, wat sukkel om afgewas te word. Meubels en tafels en stoof word met lappe beskerm wat buite uitgeskud word.

Die “koper” het ‘n plan gekry wat halfpad gewerk het. Hy het die huis gereeld met Dettol kom spuit. Maar, as die reuk weg is, is die VVVs terug. Meer as voorheen, of ongeskikter, want die hoop wat mens opvee is dan ook groter.

Hulle het ‘n tweede plan gekry, naamlik swembadchloor, blykbaar verpes VVVs die reuk. Wel, net tot op ‘n punt, dan is die peste dit gewoond en word die hope poef weer meer.

En toe lees ek die beste raad ooit iewers raak. VVVs hou nie van bloekomolie nie. Glad nie, kan ek julle verseker. Hulle word wakker daarvan, en is woerts by die openinge uit waar hulle my huis betree. Hierdie vrou se huis stink beslis te veel na hulle smaak. Ek weet egter dat die reuk nie gaan hou tot ek weer kom nie en dan is die peste terug.

Toe onthou ek iets uit die dae toe ons nog elke naweek hier was. Hier was nie VVVs nie, maar hier was massiewe spinnekoppe! Ek het die huis elke keer gefumigate voor ons ry. Maar, ek het ook motbolle gebruik.

So skeur ek ‘n net in repe, sit handvol motbolle in pakkies aan elke kant van ‘n reep en drapeer dit oor die balke van die dak. Hierdie motballe se reuk verdamp nie, dit hou tot die balletjies op is … en dit kan baie lank wees.

Nou hang daar sulke sakkies balletjies aan die balke en dit lyk asof die VVV wat gisteraand in my kamer was, sy laaste swanesang gedoen het. Hy het nie vanaand kom skoor soek nie. Daar is ‘n bak balletjies in my kamer op die hangkas en in die badkamer, net om seker te maak.

So van gisteraand gepraat. Ons slaap onder muskietnet. Nie omdat ek bang is dat muskiete gaan byt nie, maar as ‘n VVV op my land, gaan ek dit nie maak nie. Daardie muisgevrete met die vlerke soos eende se pote sal my die horries gee, om nie eens te praat oor die moontlikheid dat die goed kan byt en siektes kan oordra nie.

Ek het onlangs besluit om die net sommer oor die bed te hou as ons weg is. En dan vou ek dit net terug oor die kopstuk as ons kom, om dit saans weer oor hele bed te span.

Dit is mos veiig, nê!

Later die dag lê ‘n VVV op my bed, maar ek dink nie verder daaraan nie, manlief moet hom net buite gaan sit. Baie ver van die huis af. Ja, ek weet die goed kan nie van die grond af vlieg nie, hulle moet uit lug val om te vlieg. Daardie is nie ons probleem nie. Hy was op grond, om verskeie redes waarvan een siekte is. So, hy word so buite gelos, moet maar self sien en kom klaar. Hulle het mos pote om te kan klim. Daar is baie bome. Maar, ons het ook ‘n nonnetjiesuil en sy soek kos …

Later die middag sit ek lekker onder die teruggevoude net toe iets swarts my oë vang.

Om te ontdek dat twee vlermuise ‘n heerlik slaaplek gekry het … onder die net! Bokant my kop!

Manlief was dorp toe, ek was alleen by die huis. Maar, die net met vlermuise moes uit. Nadat ek bloekomolie druppels op die net se opening gegooi het. Dit het hulle wakker gemaak, daar was wragtig drie!

Of ek nou bang is om alleen hier op die plek te wees of nie. Ek het ‘n knoop onder gemaak dat hulle nie kan uit nie, die hek oopgesluit. En hulle toe so buitentoe gedra, in die net. Manlief het hulle ook ver van die huis gaan uitskud, tussen die bome waar hulle kan boomklim om in die lug te kom. Of bly waar hulle is … kos vir die nonnetjiesuil wat huis gemaak het op ons stoep. En die meerkatte wat een op die grind agter die huis gevang het …

Dieuil poef ook, erg, maar dit is buite die huis. Daar is ook gereeld uilopgooi, ek het altyd gedink dit is massiewe poef. Wel, nou het ek geleer dat dit opgooi is … bene en hare en goed wat nie verteer word nie …

Ek sal later kan vertel of die motballe werk. Werk wel vir spinnekoppe, die goed lê bene opgekrul op die vloer. Vlieë voel ‘n veer, maar lyk of muskiete ook maar vlug. En dan natuurlik dalkies net die VVVs ook.

Ek kan nie wag om weer ‘n skoon huis te hê as ek hier land nie!

Terloops, die bloekomolie werk baie goed … Hulle vlug uit my huis uit, dit stink vir hulle!

Unknown's avatar

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

Sleutelwoorde:

7 gedagtes oor “Ontslae van VVVs?

  1. Ek deel beslis jou vrees en afsku vir die VVV’s! Vroeër vanjaar toe ons by Ngenya was, kry ons so ‘n vreemde reuk in ons chalet. Presies toe die son sak en ons heerlik op die stoep ontspan, begin honderde van onder die dak uitpeul en koers kies oor die rivier. Ek was buite myself, nie soos die ander wat rustig gestaan en kyk het nie. Ek het vanuit die veiligheid van die deur die spulletjie dopgehou!

    Groot probleem as hulle iewers intrek. Hoop hulle is vort voordat ons aanstaande jaar weer gaan

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.