Gepubliseer in Joernaal

Ouderdom

My vroegste herinnering aan gedagtes oor ouderdom het met huisvriende van my ouers te doen. Frans en Susan Fitzgerald.

Ek was matriek. Hulle was jong vriende vir my ouers, dus nie veel ouer as ons kinders nie. Maar hulle was meer as tien jaar ouer as ons. En dit was die goue reël daardie tyd, dan is hulle vir ons kinders oom en tannie.

Wat hulle nie wou wees nie, hulle wou Frans en Susan genoem word. Ek het dus min met hulle gepraat, daai een kon ek nie doen nie. En ek het so na hulle gekyk en gedink: Nee, julle is oom en tannie. Julle is dertig.

Dertig is oud.

Toe begin ek skoolhou. En die ouers mans en vrouens se sterte is in ‘n krul opgetrek as jy vir hulle oom en tannie. Aanvanklik was dit moeilik om hulle op die name te noem. Later leer jy om kollegas op die name te noem en daarbuite steeds te oom en tannie as die mense tien jaar ouer as jy lyk. Wat mense natuurlik die harnas ingejaag het. As jy dink hulle lyk soveel ouer as jy.

Soms het mens sommer ‘n ongeskikte Ek is nie jou tannie nie! in ‘n Winkel in Welkom gekry. Dan leer jy praat sonder om die persoon voor jou te erken. In die algemeen. Want jy ken nie die persoon se naam nie. En gerespekteer wil die persoon nie word nie.

Ek hou van tannie. My kinders by Welkom High al in my twintigs geleer dat ek nie omgee wie gekla het oor mevrou en mejuffrou nie, en wie toe besluit het dat vrouens voortaan ‘n Me is nie. Ek het op ‘n plaas grootgeword en het al vertel waarom ek so vies vir skape is. Ek is nie ‘n skaap nie. Ek is mevrou. Toe wil een stouterd, ‘n oulike swart leerder, by my weet of ek dan tannie is. En soos met elke snaaksigheid in ‘n klas het dit vasgesteek.

Daarvandaan is ek as Tannie in die dorp gegroet. Regoor die breedte van ‘n straat as hulle my sien. En ek het net gelag. Dit is soveel lekkerder as wanneer leerders mens ignoreer as mens in die stad is. Vir my was dit so lekker as hulle die woord reg uitspreek. Tannie. Sag op die tong.

Iewers in my loopbaan as onderwyseres het ‘n jong kollega my baie ongeskik aangespreek. En voor ek kon keer, het ek haar ingelig dat ek voortaan vir haar tannie is, tot sy maniere het. Ek wonder of sy dit kan onthou?

Toe word ek dertig en vind dertig is nie oud nie. En veertig en dit is ook nie oud nie en vyftig en dit was vir my ook nie oud nie.

En nou is sestig besig om nader as vyftig te word.

Manlief het Februarie sestig geword en ewe skielik het sestig soos oud begin klink. Ek is eers volgende jaar ongeveer hierdie tyd daar.

My pa sal klaar begin om my aan mense voor te stel as: Dit is Christa, ons oudste, sy is amper sestig. Ek haat dit, asof die getal besluit wie ek is.

Volgende jaar sal dit wees: Dit is Christa, ons oudste, sy is sestig, nog lank voor my verjaarsdag! Dan verduidelik ek weer: Nee, ek is so oud, ek word eers in Augustus so oud.

En dan sal my pa sê jy is klaar verby die vorige ouderdom. En dan sal ek vra, net om my punt te staaf: As ek vandag doodgaan, wat sal in die boekie staan?

Presies. Sy is op soveel jaar, soveel maande en soveel dae van ons af weggeneem. Nou klink dit seker of ek ‘n probleem met oud word het.

Glad nie. Ek het altyd gesê ek is tevrede met my ouderdom, as ek moet vra om in tyd terug te gaan, sal dit wees tot nadat my kinders gebore is.

En ek weet dat ek twee kinders het, ‘n pigeon pair. Oudste ‘n dogtertjie, jongste ‘n seuntjie. Later sou ek net teruggaan tot waar ek weet my kinders is klaar met skool, universiteit, kan vir hulself sorg.

Toe ek in 2005 met ‘n siekte gediagnoseer is wat, volgens Google, vir my ‘n vyf jaar lewensverwagting gegee het, het ek gebid dat ek gespaar bly tot my twee kinders getroud is.

Dat ek weet dat hulle maats gekry het. Goeie maats. Wat vir hulle soveel omgee en soveel goeie dinge toewens. Soos ek en hulle pa.

Eintlik vreemd om weer daaraan te dink. Aan die begin het ek net aan die vyf jaar gedink wat aftik.

Later het ek, soos wat 2010 nader gespoed het, besef dat dit lekkerder is om te lewe as om daaraan te dink dat die klok ‘n statisties bepaalde tyd aftik.

Enige iets kan in die vyf jaar gebeur, ek kan sterf nog lank voor 2010. Die Here bepaal wanneer ek die aarde gaan groet.

En toe het ek dit so goed in my kop gaan versteek dat ek nou eers weer daaraan dink toe ek oor ouderdom wil gesels.

Ek lewe, soos Annelie van Rooyen sing, gemaak om na liefde te strewe.

En daardie lewe gaan met ouderdom gepaard. Ek sal miskien, soos ek ouer word, verlang na tye toe ek goed kon doen wat ek dan nie meer kan doen nie.

Maar ek vermoed mens se verwagtinge word saam met die ouderdom minder. Hoekom wil mens vinnig stap as jy alles soveel beter kan ervaar as jy stadig stap?

Op daardie punt, ek hou nie baie van stap nie. Soms laat ek toe dat die gier my pak, dan stap ek elke dag dertig minute. Vinnig. Niks meer nie, ek werk die roetes fyn uit dat ek op 30 minute naby ons woonstel is.

Ander dae sukkele ek om 1000 treë vir die dag te stap, in ‘n piepklein woonstelletjie op die agste vloer van ‘n baie groot gebou.

Ander dae stap en en manlief om hier iets te koop en daar iets te kyk en as ek weer sien het ons so saam-saam meer as 10 000 treë vir die dag gedoen.

Dit is hoeveel treë Discovery wil hê ek per dag moet loop. Dan kry ek 100 punte daarvoor.

Ek verkies egter die 30 minute vinnig stap, waartydens ek my hart so bietjie vinniger jaag, om 200 of 300 punte vir die inset te kry.

Daarom wil ek nog vir hulle vra waarom mens nie 300 punte vir 10 000 treë kry nie? Die 100 punte motiveer nie.

Want na ‘n vinnige stap het ek skaars 4 000 tree op die klok. Dit moet meer as verdubbel word om by 10 000 uit te kom.

Gister gesels ek en my ma en sy spot dat sy nou oud word, volgende jaar word sy tagtig. En ek onthou ek is dan sestig, twintig jaar jonger as my ma.

Ons twee kan nooit vergeet hoe oud ons is nie, ons gaan so met die oorswaai na ‘n nuwe dekades saam. In 2000 sal ons 80 en 60 wees.

Al die ander familielede se somme moet ek maak as ek so bietjie vergeet, hulle verjaar nie met die dekades saam nie.

My ma oud? Nee, sy is nie oud nie. Sy is nog vol energie, maak haar huis self skoon en kos vir my pa. Sy WhatsApp en Facebook en e-pos asof sy daarmee groot geword het.

Is my pa dan oud? Nee, hy is ook nie oud nie, al is hy heelwat ouer as my ma. Hy het so pas ‘n knievervanging gehad. En sy dokter sê hy herstel vinniger as mans baie jonger as hy. Hy loop weer soos ek hom ken.

Ek sê nou die dag vir skoonseun age is a number en hy lag vir my.

Daarmee bedoel ek nie dat ek dink dat ek jonk is nie. Ook nie dat ek wil aantrek asof ek nog ‘n jong meisie is nie.

Nie dat ek wil aantrek asof ek ‘n ouer vrou is nie. Ek wil net aantrek en leef soos wat ek voel. Sheep dressed as lamb is ek darem nie. Rokkies en broekies is lank genoeg om alles mooi toe te maak. En ek voel nie oud nie.

Nog nie. Dus is ek seker sestig gaan ook nie oud voel nie. Mens voel elke keer so as jy weet dat die volgende dekade in sig is.

En as jy oor daardie verjaarsdag is, besef jy niks het skielik verander nie. Jy is nog jy. Al het ‘n paar plooie bygekom. En daardie plooie sien ek nie as ek goed doen en beleef nie.

Die mense om my sien dit.

Daarom is dit seker maar goed dat mens se oë so in jou kop gesit is dat jy nie jou eie gesig kan sien nie. En eers aan plooie herinner word wanneer jy in die spieël kyk.

Wat jy nie hoef te doen nie.

Wat my by my goeie vriendin Bertie Swanepoel bring. Sy is so vyftien jaar ouer as ek. En sy sê die ander dag vir my:

Weet jy wat is die lekker van oud word? Dat die oë saam oud word en dat jy vir jouself in die spieël mooi lyk. Omdat jy die plooie nie kan sien nie

Ek het so lekker gelag, maar dit is my wens vir jou vandag. Haal die bril af, kyk in die spieël en geniet die jy wat jy daar sien.

Age is just a number.

Foto: Ek speel met die kleurfunksies van iPhone se redigeerder.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

8 gedagtes oor “Ouderdom

  1. Sestig is nie nuwe jonk 🙂 Terwyl ek hier oor ‘tannie’ lees onthou ek toe ek veertien was en ‘n klein seuntjie van omtrent vier jaar oud wat in die diep kant van die publieke swembad ingeval het gered. Toe ek hom van die water uitgehaal het het sy jong sussie gehuil en aanhoudend vir my gesê “Dankie tannie, dankie tannie!” Ek het huistoe gehardloop en vir my ma vertel “… and she called me ‘Tannie – I’m only fourteen!”

    Like

      1. Lekker leesstof….sjoe …ouderdom is relatief…ñ nommer…maar het verseker ook sy uitdagings. Ek glo vas dat ons nie moet uitstel vir die lekker saamdoendinge nie…mens se tyd saam…of selfs alleen is kosbaar. 60 klink soos die nuwe 50…in diè geval word ek dan 40…een van die dae, D.V.
        😀

        Like

  2. Ons is geleer om nie oom en tannie te gebruik nie maar mnr of mev. Dis maar die “Europese” manier. Dit het egter nie op einde gehelp nie want almal het ge-oom en ge-tannie, ons het dit toe ook maar gedoen al het my ouers baie geraas daaroor. Ek is ook bly dat mens nie jouself heeldag moet aankyk nie. As ek my gesig was het ek nie my bril op nie en die lig is nie te helder nie. Sien nie die plooie raak nie, ha ha.(ek trek al oor die sewentig, daar is beslis heelwat plooie)

    Like

  3. Oooo ek wou glad nie 30 geword het nie, gedink dit is oud en oor die muur. Toe voel ek op 29 nog so jonk en is daardie hele jaar bang ek gaan dood omdat ek so gewens het. Nou is ek in my sewentigs en voel nogsteeds nie oud nie. Vir die swart mense is ek ouma en ek geniet dit. Ek het ‘n vrou geken wat so in haar veertigs n spieël laat maak het soos in soft fokus. Sy het haarself net in daardie spieël bekyk en met daardie beeld van haarself deur die dag gegaan. Ons oë raak ook seker soft fokus soos ons ouer raak.

    Like

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.