Ons eie wors in Qazaqstan

Ek het al vertel dat my pa eers ‘n blokman was en later sy eie slaghuise besit het. Ek het ook vertel dat ons basies in slaghuise grootgeword het. Want ons kinders is nooit alleen gelos nie. Waar my ouers was, daar was ons.

Ek het nie vertel dat my pa later jare ‘n slagkamer op die plaas gehad het nie. En dat ons dikwels op die plaas geslag het, wat die maak van biltong en wors ingesluit het. Ek is dus goed vetroud met die worsmaakproses.

Van die gesoute derms wat eers uitgeryg moet word en die wêreld vol sout spat, tot by die oopsper van die derms om water by die een punt in te tap, die oortrek van die derm oor die tuit van die masjien, die seker maak dat die derm goed gevul word. Nie te veel nie, maar beslis ook nie met leë kolle tussenin nie.

Ons is egter nooit toegelaat om die speserye te meng nie. Ek onthou egter die reuk van die speserye wat my pa gemeng het, die opsy van die vleis in blokkies. Die opsny van blokkies spek om saam gemaal te word, nie te veel nie, maar beslis ook nie te min nie. Ek onthou daar kom asyn by. En bietjie water. En koljander.

Verbeel ek my nou dat my pa dit eers effens gebak het? In die oond? Gits nou is ek nie seker nie.

Ek onthou die lekker as die gesnyde vleis en spek deur die masjien gemaal word om met gemak deur die oop derms te gaan. Die derms wat krul en draai terwyl hulle gevul word. Die smaak van rou wors.

Ek en my pa kon dit so rou toets, my ma sou net daar omkap as sy dit moes doen. Dus kan ek nogal sê dat ek weet hoe die proses werk, maar self het ek nog nie wors van die begin af gemaak nie.

Manlief, wat nie in ‘n slaghuis grootgeword het nie, het op die plaas gehelp met die worsmaakproses, al het hy hom opgegril vir rou vleis. Dus was ons twee so effens geskool in die maak van wors. Om te kan besluit om ons eie wors te maak.

In ‘n land wat so wraggies dink dat kazi (perdewors) wors is. Hulle ryg die rugvleis van ‘n perd in ‘n dik, wit omhulsel, wat in ‘n u-vorm gebind word en dan noem hulle dit wors.

Ek kan nie daarvoor kyk nie. Loop myle weg daarvan in die mark. Proe sal ek nie en gee regtig nie om of dit lekker of sleg is nie. Ek het al vertel hoe opgewonde ons was toe ons wors in Ust-Kamenogorsk ontdek het.

Die wors was in die aparte varkafdeling van die mark. Want hulle is oorwegend Moslem. Maar ek het ook vertel dat ons die tweede keer wat ons wors gaan koop het so ampertjies dun perdewors, so dun soos skaapwors, gekoop het, as die man nie wou seker maak dat ek kaniena (perd) wil koop nie. Nodeloos om te sê, daarna het ek die varkafdeling nie meer vertrou nie!

Daardie dag het manlief sy sin gekry. Hy wou lankal vir my ‘n maalmasjien koop. Ek het geweier. Het in ‘n slaghuis grootgeword. Weet watse vetterige gemors dit is. En hoe mens sukkel om die masjiene weer silwerskoon te maak.

Dié dag is ek egter saam met hom na die Mega-winkel oorkant Fresh Market. Om iets anders te koop. En toe roep die Bosch masjien my. Want sy het ‘n tuit gehad. Vir wors!

Al die vorige masjiene het net gemaal. En kon ek wegkom met ek sal koop, as dit word kan maak. En dit kon die masjiene nie doen nie.

Dié dag het die worsmaker my gelok. Ek wou hom hê. Maar o wee! Dit is Qazaqstan.

Wat nie van boerewors weet nie. Nie die regte speserye verkoop nie. En geen idee het waarvan ek verduidelik as ek worsderms vra nie. Casings werk nie! Hulle maak nie wors nie.

Ek kan die derms via Amazon bestel. Maar Amazon lewer nie derms hier af nie. Toe ek die Turk kontak wat invoere doen, het hy my laat weet dat ek sommer by sy ma kan koop. Sy maak persewors!

O my jitte! Kan jy jou boerewors in daai massiewe perdeworsomhulsels voorstel? En hoe sal mens dit braai? Dae lank?

Hy kon nie verstaan wat ek wil hê nie, dus was die worsmakery op ys.

Toe gaan ons onverwags en gouer as wat ons sou terug Suid-Afrika toe. En word die speserye en derms deel van die vrag wat moes terugkom Qazaqstan toe.

Hierdie naweek moes ons die ander deel van worsmaak trotseer: die aankoop van die regte vleis.

My dae as dogter van ‘n slagter help my darem om die vreemde vleissnitte hier in Qazaqstan te bekyk om te sien wat gekook en wat gebraai moet word.

Ek het dus ‘n massiewe ovaal stuk vleis gekies. Lekker dik ene, want ek wil die vleis in blokkies sny vir die wors.

Die spek is reeds die vorige keer by die Fresh Market gekoop, want ek gebruik dit wanneer ek sosaties maak.

Die een deel van die stuk vleis is uitgehou, want sien, dit is een ding wat ek beslis in my pa se slaghuis leer maak het. Sosaties met stukkies spek tussenin geryg. Vir smaakgenot.

Die vleis het 2 500 tenges per kilogram gekos, vir diegene wat oor pryse vra. En die stuk wat ek gekies het, het so onder 2 kg geweeg. Dus het ons so R150 vir 2 kg vleis betaal.

Tuis het die sak met vleis vir my staan en uitdaag. En moes ek eers die moed bymekaarskraap om my hand aan worsmaak te slaan.

Die massiewe stuk vleis is stuk vir stuk in kleiner blokkies gesny. Ek het reeds vertel dat een deel sosaties gewors het.

Daarna het die mes gemaklik deur die spek gegly om genoeg blokkies spek te maak. Toe volg die spesrye met die asyn en water.

Baie min asyn, want ek het al vertel dat die asyn hier belaglik sterk is. Mens koop dit in piepklein botteltjies. Soos gif. En dit hou vir ewig.

Ek het nie soos gewoonlik aan die speserye geproe nie, my tong was die vorige keer toe asyn daarop beland het ‘n ruk lank gevoelloos.

Daarna het ek die mengsel een keer deur die grofste sif van die maalmasjien gevoer.

En agtergekom dat daar nog dinge is wat ek kort. ‘n Voorskoot. En so my so in die proses ingeleef dat ek nie agtergekom het dat ek vol sous gespat het nie!

Sal môre materiaal gaan koop. Manlief sê ek moet sommer ‘n Voorskoot koop, ek dink dit moet my eerste Janome projek word. Ek kan nie onthou dat die vleis so gespat het wanneer dit deur die sif gedruk het nie, maar ek moet erken dat ek beslis meer as ‘n dekade laas by was toe wors gemaak is. Tog onthou ek gladde slaghuisvloere waar wors gemaak is. Dus is dit een van die nadele van worsmaak.

My hemp en romp was vol spatsels. Wat ek eers gesien het toe dit te laat was. Ek dra mos nie voorskote nie.

Toe ek gereed was met die gespeseryde, gemaalde vleis moes manlief my Bosch-masjien afhaal. Daarna het ek die gesoute derms uit die yskas gehaal, die vakuumverpakking oopgesny en gevoel hoe herinneringe oor my spoel toe die sout oral spat terwyl ek drie derms uitryg.

Lyk nie mooi so nie … Ons slagter in Noordheuwel (Krugersdorp) het dit, soos ek dit onthou, in ‘n bondel aan ons verkoop. Volgens hom kan dit 30 kg maak. Ek het drie derms gereed gemaak, water deur die derms laat spoel en toe oor die tuit gestoot. Daar was net plek vir een. En toe sommer ook onthou dat mens ‘n raps op die boud kon kry as die masjien stoot en die volgende derm is nog nie opgeryg nie!

En toe word manlief, wat hom opgril vir rou vleis, opgekommandeer om die masjien te voer terwyl ek seker maak dat die derm mooi vul. Hy het eers gegril, maar toe ook nie vir die nat derm kans gesien nie. Al is hy die een wat aan rou wors vat. Om dit vir ons te braai.

En voor ons oë het die gemaalde vleis deur die derms gestoot, om soos die ware Jakob te lyk.

Een derm was genoeg vir ‘n kilogram, ek moet sê dat daardie een besonder lank was. Die ander twee is weer gesout. Om te wag vir volgende keer se worsmakery.

Voor ek vergeet, ek het nie boontoe vertel dat ek lankal nie meer aan rou wors proe nie. Daarvoor kan ek ook my Biologie-onderwysers bedank. Wat mens van allerhande wurs vertel het, wat in jou maag kan beland. As jy rou vleis eet!

As dit klink of ek spyt is dat ek Biologie gehad het, ek is nie. Was naas Geografie my gunstelingvak op skool.

Manlief het ons kuns soos ‘n kosbare skat in die regte groottes vir braai gedraai. En ek het drie-drie verpak. Die vier pakkies selfgemaakte wors wag vir ons in die vrieskas. Om môre aand getoets te word. As ons weer ‘n vuurtjie op ons babastoepie maak.

Ek kan egter skat dat dit goed gaan wees. Want ek is nie verniet die dogter van ‘n slagter nie.

My pa se tradisies rondom die maak van wors het so met die vleis wat in die masjien agtergebly het, en die wat uitgedruk het toe die wors gedraai is, vanself na die oppervlak gekom.

En dit smaak goed. Nie net omdat ek weet dat daar slegs vleis, spek en speserye in is nie. Ek skat my pa sal ook daarvan hou.

En toe weet ek hoe om te proe sonder om rou wors te eet. Dit is vandag op die stoof gaargemaak. Soos maalvleis, maar ons weet dit is eintlik ons wors!

14 comments

  1. Ek dink ook nie ek sal kan wors maak nie, maar ek eet vandag nog rou wors. Dalk is dit goed dat ek nie in dok sê biologie klas was nie! Wat die oor nie hoor nie maak die maag nie seer nie hehe

    Like

  2. Daar is niks lekkerder as lekker wors op ‘n vuurtjie nie. Ons kry deesdae ons wors van ‘n span kerkmanne wat naweke wors maak om inkomste te kry vir hulle kerkprojekte. Dus sal ek nie my hand aan tuisgemaakte wors waag nie – maar ek haal my hoed af vir jou.

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.