Gepubliseer in Joernaal

Die kamers van my hart

Soms laat ek myself inkatrol, om gelei te word deur die voorstelle vir bloginskrywings. Hierdie een is dus deel van so ‘n uitdaging. Scrapy se uitdaging. Om oor kamers te skryf.

Scrapy vra dat ons oor kamers skryf. En ek dink ek wil dit simbolies maak, die kamers van my hart.

My hart het ‘n hele aantal kamers, dalk te veel om deur een mens hanteer te word. Ek gaan nie oor almal skryf nie, maar daar is tog ‘n paar wat ek vandag wil beskryf.

Daar is ‘n kamer vir my man. Die ene wat al amper 40 jaar aan my sy is. In hierdie kamer is daar normaalweg rus en vrede. Liefde. Ons gaan op die oomblik deur ‘n effens onrustige tyd, want ons moet vinnig van goed ontslae raak, alles kan nie saamgevat word huis toe nie. En ons moet besluite neem. Wat bly, wat gaan saam, wat kan verkoop word en wat moet ons liewers weggee? Dit veroorsaak hier en daar ongelukkigheid. As brein oor hart moet baasspeel. Dit word egter oorheers deur die vreugdevure wat in ons brand. Ons gaan ons kinders een van die dae sien. Ons gaan huis toe. Die Here het grense oopgemaak. Ons gaan veilig huis toe. Dit is juis my kinders wat in die tweede kamer woon.

In die tweede kamer pas ek my kinders en hulle geliefdes en my kleinkinders in. Hierdie kamer se mure word gereeld groter gedruk. Daar was twee, toe drie, toe vier, toe vyf, toe ses, toe sewe en nou is daar agt inwoners in die kamer. Hulle word nie in apart kamers gesit nie, want ons verkies ons gesin so. Ek en manlief is gereeld in die kamer, maar ons laat hulle ook alleen daar. As ons die dag nie meer daar is nie, moet ons weet dat ons kinders en kleinkinders steeds mekaar se geliefdes sal wees. Ons meng nie in dat hulle nie van mekaar hou nie, altans ek hoop so. Vir my is elkeen van hierdie inwoners net so belangrik soos die ander een. Hulle is die agt punte van my hart – ek dink daar gaan nog punte kom.

Daar is ‘n kamer vir my ouers, een wat ek die afgelope jaar bietjie afgeskeep het met ons koms na die land. Die ou tweetjies is so oulik met mekaar, ek weet darem hulle is veilig. Was so pas Kaap toe op ‘n blommetoer. My ma het die jaar alleen 80 geword, my pa 87. Dit is ‘n voorreg om ouers te hê wat so vir hulself kan sorg. En ons in hulle gebede hou. Elke liewe dag.

In die volgende kamer is my susters [en hulle gesinne]. Daardie kamer is ‘n woeilige een, maar dit is lekker om gereeld daar kop in te steek. Soms is die kuier kort, ander kere lank. Soms is daar erge wrywing, my vriendinne lag egter en vertel – dit is soos dit met susters gaan. Ek weet darem nie, ons het in die huis nie so gewoel nie. Om deel van vyf susters te wees is ‘n interessante lewe, veral as jy die oudste ene is.

Daar is ‘n kamer vir my woewe, drie Miniatuur Schnauzers. BB, Shilo en Sobek. Ek is lief vir hierdie kinders van my. Kan nie glo ek het my met soete woordjies laat lok na hierdie land en hulle agter gelaat nie. Weet net as dit nie vir seun was nie, was hulle hier by my. Hy en skoondogter kyk selfs beter as ek na hulle. En ek weet die Here het ‘n hand in die besluit gehad dat hulle bly. Dit sou nag wees om hulle nou, so gou uit die land en in my land terug te kry. Hierdie kamer het plek vir my kinders se hondekinders ook. Daar is vier ekstra wat Desembers saam met ons vakansie hou. Selfs meer as seun se skoonma se kinders saamkom. Hulle kuier almal Desembers saam – een lekker groot familie.

Daar is ‘n kamer vir vriendinne. Min van hulle ken mekaar en min gaan mekaar ooit leer ken. Dit is die vrouens wat my belange op die hart dra, soos ek hulle s’n op die hart dra. Sommiges het ek nog nooit ontmoet nie, dit is nou al my blogvriendinne. Ander het saam met my skoolgehou. Of skoolgegaan. Nog ander het ek deur manlief of die kerk of my kinders of my ouers ontmoet. Tot my skande verwaarloos ek soms van my vriendinne, ek moet beslis aan hierdie kamer meer aandag gee. Ek kan maklik tred met tyd verloor as ek eers met navorsing besig is.

En nou klink ek soos een van daardie gesegdes: My hart is soos ‘n Suid-Afrikaanse taxi. Altyd plek vir nog een.

Maar dit is waar, daar is altyd plek vir nog ‘n familielid. Nog ‘n vriend/in. As een wegraak, is sy ook altyd welkom om terug te kom. Ons sal aan die begin maar bietjie soos twee boksers wees wat skerm, maar die vriendskap kan wel herstel word. Mits … my man en kinders nie deur ‘n vriend/in se toedoen skade berokken is nie.

Ek dank die Here vir die mense wat die kamers van my hart bewoon. Hulle weet dit is net onder my ribbekas, deel van my binnegoed. Plek waar salf nie help nie, maar waar vriendskappe die goue drade is wat ons in ‘n ondersteuningsnetwerk verweef.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

35 gedagtes oor “Die kamers van my hart

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.