Gepubliseer in Joernaal,kleinkinders

Kleinkindpret: Ons stry oor alles …

Oupa merk op dat kleinkind ewe skielik oor alles stry. As jy sê ons gaan nou loop, dan sê hy: “Ons gaan nie nou loop nie!” Ek sien dit pla oupa, maar hierdie ouma geniet dit te veel, want sy was ‘n taalonderwyseres.

Ek verluister my aan sy taalgebruik en ek wens ek het Russies op twee aangeleer, hy doen dit so maklik.

So gaan haal ons hom nou die dag by die skool. Hy sit op my skoot en wys met die vingertjies: “Op en af, links en regs”

So wraggies, leer mens op twee amper drie waar links en regs is? Maar, ja, mens doen, want ‘n paar dae later loop hy voor my in die kombuis en sê ons moet die slakkies buite gaan soek. Dit is nou die einste slakkies wat net leë doppe is omdat ek met blou pilletjies slakkemoord gepleeg het toe ek lees watse siektes dit alles kan veroorsaak.

Ek sê ons gaan agter soek, want hy mik na die voordeur. Om daar te kom moet hy links draai. En so waar, daar moet ek hoor:

“Nee, nie agter nie, voor. Draai links!”

En hy draai sowaar na die regte linkerkant toe, iets wat ouma nog steeds aan haar ringvinger en werkhand meet. Ringvinger links, skryfhand regs. En wat my onlangs baie verleë gelaat het toe die dokter vir my kyk en sê ek moet op my linkerbeen staan, terwyl sy sommer wys en op hare staan. Natuurlik het ek die verkeerde linkerkant gekies, die een tooroor hare opgelig. En hier doen ‘n amper driejarige dit so maklik …

Vra ek of hy “milkshake” wil hê, sê hy: “Nee, ek wil nie mikshake hê nie!” Net om later wel daarvoor te vra.

Vra ek of hy ‘n worsie wil hê, kry ek ook die perfekte dubbel-nie antwoord.

Vra ek of hy met die blou karretjie wil speel, antwoord hy ook kordaat:

“Nee, ek wil met die geel karretjie speel!”

En ek dink net daaraan hoe ek gesukkel het om graad 8-12 Engelssprekende kinders te lees om die negatiewe of ontkennede vorm so perfek te gebruik. Hulle verstaan mos nie die rede vir ‘n tweede nie nie.

Ons leer hom dit nie, hy vang op en leer homself!

Maar, ek speel so lekker met hom terwyl hy die taal oefen. Ook wat teenoorgesteldes betref.

As hy in die bad sit, sê ek “Op en af, links en regs, in en uit, vinnig en stadig” en hy na-aap my na elke paar. So lag ek en seun alte lekker toe ek nie aan nog teenoorgesteldes kan dink nie. Want, ek is mos ‘n taaljuffrou. Maar soms staan my brein net stil, dalk moet ek na goed kyk om aan teenoorgesteldes te dink.

Ons speel ook speletjies op my iPad. Of liewer hy speel en ek mag net kyk en antwoord as hy vrae vra:

“Kom dit hier, Ouma?” as hy weet dit kom op ‘n ander plek. Dan moet ek saamspeel en sê: “Nee, dit kom nie daar nie.”

Dan lag hy en speel so tot hy uiteindelik dit op die regte plek sit. Dit is nie “trial and error” nie, hy is eerder verveeld omdat hy al weet waar alles kom. Dan speel hy met my en toets of ek weet dit is reg. Of verkeerd.

Ek wonder of sy onderwyser hierdie slim seuntjie raaksien. En hoe mens kan seker maak dat die worsmasjien hom nie heel insluk en stukkend uitspoeg nie.

Ek gaan bietjie video’s deel waarin hy speel, net om te wys hoe vinnig hy speletjies kaf draf. Hy wil nou leer Uno speel …

En ek sien al dat hy dit gaan kan doen …

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

6 gedagtes oor “Kleinkindpret: Ons stry oor alles …

  1. Ek lag ook altyd lekker vir die dubbel nie in ‘n sin … Engelssprekendes kan daai een net nie verstaan nie (sien, daar gebruik ek dit nou sommer sonder om aan dit te dink 😄). Geniet jou kleinkind – ‘n mens leer weer van voor deur hulle ou kleine ogies!

    Liked by 1 person

  2. Dit is wonderlik om die groei van taal gebruik te ervaar. Ek dink ons was seker te besig toe ons eie kinders groot geword het om dit te besef Met kleinkinders het ons meer tyd.

    Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.