En so kry Dusty haar wit nommerplate …

Ons het van die begin af geweet dat Dusty ‘n Russiese dame is, dat sy hier gaan moet agterbly as ons huis toe gaan. Ons het haar hier in Almaty gekoop en ek het van die proses vertel om haar op ons naam te kry. En ons het geweet dat dieselfde proses op ons wag as ons haar verkoop, want sy is nou so bykans drie maande terug in Almaty.

Ons het gestres oor hoe ons haar verkoop gaan kry. Maar die Here is die hele tyd by ons. Die dag toe ‘n vriendin haar vir ons adverteer het sy ‘n koper gekry. Ons was so verstom, die Here is goed vir ons. Die Bybelverse word so een vir een waar. As die Here aan ons kant is, wie kan teen ons wees?

Alex [nie sy regte naam nie om sy identiteit te beskerm], die jong man wat haar nuwe eienaar is, wou haar al Maandag op sy naam oordra. Maar manlief het te veel vergaderings gehad. Toe word die afspraak vir Dinsdag gemaak. Vieruur die middag, naby die einde van die werksdag. Soveel keer anders as die vorige keer, mens maak ‘n afspraak. Sal dan seker gou gaan?

Gulnara, ons HR dame van wie ek al vertel het, is saam met ons na die verkeersafdeling. Soos die dag in 2019 toe ons Dusty hier in Almaty op ons naam moes sit. Dit is ‘n proses en sy help ons met al die wetlike aspekte van die verkoop van die kar en tree as tolk tussen ons en die koper op. ‘n Jong Kazakh wat wel Engels verstaan, maar nie genoeg om ons te help met die vrae van die Kazakh(s) agter die toonbanke nie.

En daar is baie tafels en toonbanke waar mens moet gaan sit en doen wat gedoen moet word.

Ons is nie na dieselfde plek buite die stad waar Dusty geregistreer is nie. Hierdie plek is iewers in die stad. Naby die lughawe, nie te ver van ons af nie, 11 km.

By die gebou aangekom, beduie Gulnara waar ons moet gaan parkeer. Ek sien geen parkeerplek nie en dat ons ons vas gaan ry, maar skielik sien ons die rede daarvoor. Die nuwe eienaar het vir ons ‘n parkeerplek gevind en oopgehou. So voor ons neus probeer iemand uit ‘n sygang reguit in die parkeerplek inry, maar hy beduie die man moet stop, die plek word gehou.

Manlief draai reg om in trurat in te ry, maar net toe Dusty se boudjies in die parkeerplek is, maak Alex die deur oop. Syne. Ons moet uitklim, manlief moet alleen inry. En ek weet sommer dat hy baie mooi na Dusty gaan kyk. Hy weet net nie dat ons ook doen nie – ek stamp nooit met my deur teen ‘n ander motor nie.

My eerste eie motor het ek in 1996 by manlief gekry. ‘n Bloedrooi Hundai Elentra. Daardie wat soos sportmotors gelyk het. Nie die nuwe lelike vorm nie. Sy het nooit ‘n eie naam gekry nie, sy was Elantra. Mooi genoeg. Maar sy het my tot raserny gedryf. Haar bakwerk was papierdun. In Welkom stamp mense hulle karre se deure oop. En dan sit die duik met die verf in Elantra se deure as ek by die kar kom. Ek het myle van ander karre stilgehou, ver geloop om inkopies te doen. Amaar sy was ‘n tropdier. As ek by die kar kom, staan een aan elke kant. En die duik sit waar die deure teen haar oopgemaak is.

Dusty se bakwerk is nie papierdun nie. En sy het maatstawwe in plek om te keer dat deure teen haar oopgemaak word. Hulle word deeglik gestop. Maar, ek gee Alex sy sin. Dusty is in goeie hande.

Binne moet ons by die eerste toonbank op die grondvloer gaan staan. Daar word gekyk of al Dusty se registrasies op datum is. Dit is, manlief se Ruslan het dit vir ons gedoen, Manlief het nie die papierwerk daarvoor nie, want Ruslan het betaal omdat die bank oorbetaling een groot gesukkel was. Dit is dus ook nie op sy banktoep beskikbaar nie.

Foto’s: verkeersafdeling, ingang, bord waarop nommers verskyn, krisis, manlif het verkeerde foon by hom, nommerplate word vernietig, in helfte gesny met ‘n groot tang (ek het so effens langer na die sterk man gestaar, wie het gym nodig as dit jou dagtaak is), en Dusty in haar parkering onder die boom wat vir haar gehou is.

Ons gesigte wys ag wat nou? Maar Gulnara het die oplossing. Gaan op die e-gov toep van die land in, tik manlief en Dusty se besonderhede in en kry die antwoord. Dit is op datum. Dus word die minder vriendelike meisie agter die toonbank ingelig. Kyk op die stelsel, dit is op datum. Ons het ook geen boetes nie.

Daarna moet ons na die kassier gaan om bykans R400 te betaal. Weet steeds nie waarvoor nie. Ons neem aan dit is vir die proses om Dusty van ons naam af te haal.

Manlief en ek is toe uit na Dusty toe. Want die res van die proses vereis dat ons met haar nommerplate in die hand verder gaan. Nommerplate is hier ‘n belangrike deel van die proses. Joune word ingeee en vernietig. Dusty kry nuwe registrasienommer. En die keer sou haar plate wit wees, nie geel nie. Sy is nie meer in die besit van ‘n uitlander nie.

Terug in die gebou kry ons verrassing van ons lewe. Hulle het ons tydgleuf aan iemand anders uitgegee. Ons moet nuwe afspraak maak.

Nou kyk, ek het vertel dat manlief nou drie fone het. Drie wat almal gebruik word. Sy werksfoon is die nommer op die stelsel waar hy gekontak kan word. Ons het dit nooit na sy privaatnommer verander nie.

Dit is nie ‘n probleem nie. Mens stuur net via Telegram ‘n boodskap op die stelsel dat jy afspraak wil maak. Dan kry jy sms met die tyd. Alex vra manlief se foon dat hy die Telegram boodskap kan stuur, maar manlief het nie Telegram op sy foon nie.

Ek weet nie dat dit die rede is nie en bied my foon aan. Die toeps wat op my een foon is, is op my ander foon ook. Hy gerbuik my foon, tik die boodskap op Telegram, maar geen sukses. Die stelsel ken nie my nommer nie, dus is ons terug by square one. Red my asseblief, wat is die korrekte Afrikaans hiervoor?

Weereens red Gulnara ons. Op haar foon gaan sy met ons besonderhede in die stelsel in, verander manlief se kontakbesonderhede na die privaat Kazakh-nommer en ons is weer reg vir aksie. Ons kan nuwe afspraak maak.

Toe nie, die persoon wat ons tydgleuf uitgedeel het, het dit nie van die stelsel verwyder nie. Ons kan nie afspraak maak nie, dit moet nou maar eers van die stelsel af kom. so neem Dusty ons en Gulnara veilig huis toe. Om die volgende dag weer te probeer. Dit is nou nadat manlief eers Dusty se nommerplate opgesit het. Dusty mag nie daarsonder op straat wees nie.

Die afspraak is weer vir vieruur, die keer is ons baie, baie vroeg daar. Halfuur betyds, ons kan nie weer hoor ons tydgleuf is uitgedeel terwyl ons die betalings gedoen het wat hulle vir ons laat doen het nie.

Dit het nie veel gehelp nie, ons het een uur gewag dat ons nommer op die bord kom. Toe moet hulle na ‘n tafel gaan waar die nommerplate ingegee word, foto van manlief geneem word en die tegniese kaart ingegee word. En toe gaan die stelsel af. Net die een rekenaar s’n, die ander werk heerlik om ons, maar ons wag. Uiteindelik kry hulle plan, nuwe eienaar se besonderhede kan op ander vrou se rekenaar gedoen word.

Ons is haastig, het afspraak met vriend van Aktobe af vir sewe-uur en ek moet nog ander klere gaan aantrek. Uiteindelik het die nuwe eienaar sy tegniese kaart. Nog net die nommerplate, wat daar gemaak word. Jy kan dit nērens anders kry nie, dus moet jy dit soos goud oppas.

Ons is uit om die sleutels vir hom te gee, die $ te ontvang en vir hom te verduidelik waar die navigasiestelsel se nommer is. Dit is ‘n ding as die battery af gaan en jy die stelsel weer wil aansit. Sy soek haar kode en basta daarmee. Ek vra of ek hom maar mag kiek en hy is erg verleë, vertel hom ek skryf daaroor. Sy Engels is redelik goed. Toe is dit al half ses en ons laat weet die vriende ons gaan eers halfagt by die restaurant wees.

Foto’s: Op pad na verkeersafdeling, ons wag vir vieruur, ons nommer word geroep (rooi ene bo), Dusty staan kaalbas saam met ander en wag vir nuwe nommerplate, en die nuwe eienaar van Dusty. Oulike jong man.

Alex is terug om te hoor of ons kan gaan, want ons moet volgens hom 10 tot 15 minute wag. Dat ons weet alles is in plek. Hy laat weet alles is reg en ons bestel taxi. Terwyl ons wag, laat weet hy dat ons die taxi moet kanselleer. Hy bring ons huis toe.

Hoe oulik is dit nie? Dit is hoe die Kazakhs is.

Ek is baie erg oor hierdie land se mense. Die Kazakhs. As hulle jou vriend is, is hulle jou vriend. Ons het spesiale vriende met hulle gemaak.

Nog ‘n paar laaste foto’s van die uitstappie.

Foto’s: Op pad verkeersafdeling toe. Kyk die mooi blomme langs die pad in blombakke word deur ‘n watertrok natgespuit wat stadig in die straat afry. Manlief se Russiese hoed in die spieëltjie, sonsondergang terwyl die nuwe eienaar ons huis toe neem, die nuwe eienaar geniet sy nuwe kar, Dusty se tegniese kaart wat altyd by haar en jou moet wees. Kyk ons van: Lyk soos ВАН СТАДЭН (Van Staden). Ek kan maar deel, dit is vernietig. Sy het nuwe kaart met nuwe eienaar se besonderhede op. Ons het haar dus bietjie meer as 16 maande gehad.

Dankie vir al die mooi herinneringe, Dusty. Ongelukkig moet ek erken, jy lyk baie mooier met jou nuwe wit nommerplate. Ek gaan nie die foto deel nie, dit is privaat. Maar glo my, dit skakeer in. Die geel het soos seer tand uitgestaan.

Hooffoto: Dusty se winterbande in haar kattebak. Ons motors het mos twee stelle bande. Winter en somer. Die spykers (studs) van die winterbande lawaai vreeslik as die teer nie sneeu op het nie.

20 gedagtes oor “En so kry Dusty haar wit nommerplate …

  1. Wat ‘n ervaring, maar dit is goed dat Dusty ‘n nuwe eienaar het. Julle is seker baie besig om alles deur te gaan en op te pak – vir ‘n GOEIE doel: om huistoe te kom.

    Liked by 1 person

  2. Sit nou by garage en wag dat my vaal Ford gediens word. Ai ek en hy is pasmaats en bestuur en parkeer soveel makliker as die bakkie wat ek vantevore gery het. Sê wat julle wil, masr mens bou ‘n verhouding met jou voertuig. Do ek is bly Dusty het ‘n mooi man om haar op te pas.

    Liked by 1 person

  3. Jy’s nes ek. Ek het my Honda gehad – tweedehands gekry, maar met bittermin kilos op – die (middeljarige) ou (nooit getroud) het hom bitter min gery, want hy het sy geliefkoosde bakkie gery. Ek was lief vir my Honda en toe dit moes kom dat ek hom moes verkoop, was ek so bly dat my een sus die kar wou koop. Ek het so gevoel oor my Honda soos jy oor Dusty. Toe, ‘n 2de keer, my oulike rooi Toyota, dieselfde, gelukkig ook ‘n oulike ou wat dit gekoop het. My karre ‘groei’ op my, hulle is soos my kinders. My man wil iets oorkom. 🙂 Ek het lekker gelees en ek dink deurdat jy alles so in detail opgeskryf het, het ook gehelp om Dusty se ‘weggaan’ te verwerk. Ek is baie bly dis so oulike ou wat haar gekry het. Jy sal nou rus en vrede he en Dusty sal altyd veilig wees.

    Liked by 1 person

    1. Ag dankie, Nikita, ek het jou saamgesels baie geniet. Rooi karre, ek en jy. Dit is interessante ooreenkoms. Daarna wou ek nie weer rooi nie en ook nie weer privaatnommerplate hê nie. Mens word oral gevolg, dit is allesbehalwe lekker.

      Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.