Ek het nie op hoërskool aandag gegee in die voorligtingklas nie. Nie die boeke gelees om ‘n beroep vir my te soek nie.
Was nie afgeskrik toe meneer sê dat onderwysers nie ‘n goeie salaris kry nie. Want, ek het vandat ek die dag skool toe is geweet, dit is wat ek gaan word. ‘n Juffrou.
My graad 1 juffrou was ‘n ouerige vrou, sagte stem. Kwaai. Maar ons was nie bang vir haar nie. Ek wil-wil nou dink dat haar van Maartens was. Marie Maartens. Maar ek gaan moet seker maak. Sy het deur die manier waarop sy haar werk doen ‘n liefde vir skool in my gekweek.
Smiddae het ek in die kamer agter in die slaghuis gaan sit. Boekies gemaak vir my susse, net twee kon toe al saamspeel. En hulle moes sit en werk.
Dan het ek gemerk en geraas as dit verkeerd is. Sterretjies geplak as die werk goed was. En hulle toegelaat om pouse te hou. Dan moes hulle weer kom werk.
Genade tog, siestog, hoop nie ek was die rede waarom my sus net na my skool gehaat het nie. Ek twyfel darem. Want sy het geheue soos olifant, sou my beslis al lankal daarvan verwittig het. Sy wou hoeka ook eerder speel as in my boekies werk.
Dan moes my poppe maar haar plek inneem. Op die stoeltjies sit en luister. Ek het die werk vir hulle gedoen. En een het foute gemaak en raas gekry. Die ander een was tog so soet, het sterretjies vir haar mooi werk gekry.
Want sien, ek het tog geweet dat daar kinders in die klas is wat werk. En wat nie wil nie. Dissipline was egter nie ‘n probleem nie. Een besoek aan die hoof en rammetjie-uitnekseuntjies was weer mooi op hok. Hoekom kan ek nie onthou dat meisies ook uitnek kon wees nie?
In matriek het ek aansoek gedoen om in Madelief, Tukkies, te gaan bly. Om laerskooljuffrou te word.
Meneer Hoek, my Aardrykskunde onderwyser was my registerinderwyser en moes die vorms teken. En hy het daarop aangedring dat ek die aansoek verander, na sekondêre onderwys.
Toe het ek gedink dat ek nie wil nie, ek het klein susters en wou nie met hulle grootte kinders werk nie. Maar hy het gesê dat ek daarmee ook laerskooljuffrou kon wees. En nie andersom nie. En so het ek besluit om tog BA(Ed) te doen.
Met Aardrykskunde en Afrikaans en Opvoedkunde as hoofvakke. Ek het Duits en Zoeloe en Sielkunde ook geneem.
Duits binne twee weke gelos en na Afrikaanse en Nederlandse Kultuurgeskiedenis verander. Want genade tog, die kort mannetjie met die rooi neus het in tale gepraat wat ek na die vyf jaar op hoërskool nie kon verstaan nie. Blykbaar skei hy die kaf van die koring so. Maar ek kon nie ‘n toekoms saam met hom sien nie.
Sielkunde gelos toe die seniors terugkom koshuis toe en ons vertel van ‘n besoek aan een van die plekke vir mense met geestesongesteldhede. Ek sal nou nie weet of hulle twak gepraat het nie, maar hulle het vertel van goed wat ek liewers nie wou sien nie. Waarmee ek nie sou kon saamleef nie. En ek het die vak ook gelos, om liewer die volgende jaar met Zoeloe aan te gaan.
Tog het ek nadat ek my meestersgraad gedoen het by Unisa vir Sielkunde 1 en 2 gelyk ingeskryf en goed geslaag. En Sielkunde 3 die volgende jaar gedoen. Wou die drie gelyk doen, toe sê hulle dat die een op die amder volg. Die eerste twee sou hulle toelaat, drie moes apart gedoen word.
Ook maar goed, die handboeke vir Sielkunde drie was baie. En baie dik.
Ek is dankbaar dat ek Opvoedkunde as hoofvak gehad het, dit het later vir my werk verskaf. As Opvoedkunde dosent by Vista Universiteit. Hoe ek daar beland het, is ‘n storie vir ‘n ander dag.
Daarmee dan waarom ek onderwys gaan studeer het. ‘n Beroep wat my tot 1994 besondere plesier verskaf het. Ek kan nog baie staaltjies oor die beginjare vertel.
Na 1994 het kinders “regte” gekry. Kon ‘n skoolhoof later nie meer boudjies afstof om seuns maniere te leer nie. Het ouers ook begin vergeet dat ‘n ongemanierde mens ‘n vreeslike wese is. En het onderwysers al hoe meer die spit afgebyt as hulle oor ongeskikte, ongepoetste kinders kla.
En op ‘n dag het ‘n enkele insident met ‘n ma die emmer laat oorloop. En my laat insien wat manlief lankal geweet het.
Dit is nie my werk om haar dogter maniere te leer nie. Dit is nou die een wat in my klas gesit het en vir die seuns vertel het watter kleur haar panty was. En toe wil sy sowaar weet hoe ek gehoor het toe ek vra of dit nodig is dat hulle weet!
Want sien, ek was besig om werk te verduidelik. Sy het sommer so daaroor bo-oor my stem vertel. Haar punte was swak omdat sy nie oplet nie. Nie omdat ek nie van haar hou nie. Sy was te besig om te luister hoe om die opdrag reg uit te voer.
Sou ek haar ma van die kleur vertel? My lus om te help was weg. Haar kind haar probleem. Veel erger dinge het in die klaskamer gebeur. Goed wat mens te skaam is om oor te vertel. Hierdie was die laaste strooi.
Ek het net geweet dat ek nie meer ‘n juffrou by ‘n skool wou wees nie. Ek kon met my kwalifikasies iets anders doen. Skoolhou is nie die begin en die einde nie. Drome verander.
Ek glo mos God help mens om te sien dat daar ander deure is wat oop wil gaan. As mens net stilstaan en luister.
Nadat ek bedank het, het ‘n goeie vriendin gesê dat mens net bedank omdat jy nooit ‘n passie vir die onderwys gehad het nie.
Sy is verkeerd. Ek ken baie onderwysers wat in die beroep bly omdat hulle nie ‘n ander uitweg raaksien nie. En hulle passie word stuk-stuk weggevreet. Totdat hulle nie meer weet hoe hulle deur die volgende dag gaan kom nie.
Ek het my bedanking ingegee, drie maande kennis gewerk, die jaar met my klasse en hokkiespanne klaargemaak. Om hulle nie te ontwrig nie.
Ek het reeds die dag toe ek die bedanking ingedien het gevoel hoe kettings van my lyf losgly. En drie maande gehad om te groet. Afstand te doen van my lus om juffrou te wees. Die hoof wou dit nie aanvaar nie, het my hoofde na my gestuur om te vra dat ek bly. Ek was klaar, daarom het hy later geteken.
Want sien dit was nie ‘n noodroep nie, dit was die laaste strooi. Nie wat die kameel se rug gebreek het nie. Maar dié een wat my rug sterk gemaak het. Om my menswees op ‘n ander manier te gaan uitleef.
In volgende vertellings sal ek van die lief en leed van die onderwys vertel. Soos ek dit onthou. Ook hoe ek my passie vir die onderwys uitleef. Buite die onderwys.
Want sien, hulle interpreteer die wette verkeerd. Met elke voorreg gaan ‘n verantwoordelikheid saam. Jy kan nie op jou voorregte aandring as dit ander se voorregte misken nie. En dit sluit klasmaats se voorreg in om in ‘n rustige atmosfeer te leer.
Die juffrou in my is nie weg nie. Sy leef haarself steeds uit. Soos om my hondjie te leer langarmdans.
Wat die titel betref. Het ek nie meneer Hoek se raad gevolg nie, was ek as juffrou Christa en selfs tannie Christa bekend. Hoërskool onnies word op die van genoem. Dus was ek juffrou van Staden. Van die begin af. Omdat ek as getroude vrou die onderwys betree het.
Wonder waar die tradisie sy oorsprong het.
Ek het ook van kleinsaf geweet dat ek ‘n onderwyser wil wees. Oor die jare het ek van kleuterskool tot universiteit klasgegee an weet steeds dat die onderwys streek binne in my is. My kleinkinders is nou my leerlinge 🙂
LikeLiked by 1 person
Myne ook Anne, en my woewe.
LikeLike
Dankie vir die saamgesels
LikeLike
Onderwyser op Worcester was op die departementele Rooi Tapyt oor sy opmerking dat ‘n graadnegedogter se hormoontelling twee maal so hoog as haar IK is.
Ek wou graag gaan skoolhou maar kon nie universiteit bekostig nie. Nou kan ek my TEFL-sertifikaat bekom en aanlyn Engels gee. Dis baie beter! Tans kort ons BAIE mense om dit te doen, dis beter as om met hormoonstorms te werk. Ek het reeds vyftig aansoekers maar dis te min.
LikeLike
Sjoe, dit klink interessant. Vertel meer
LikeLiked by 1 person
Sal op my blog moet skryf dink ek. As iemand wil klasgee, awethentiq@gmail.com
LikeLike
Ek het ook al in hierdie rigting gedink. Ek sal vir jou ‘n e-mail drop.
LikeLiked by 1 person
Welkom.
LikeLiked by 1 person
Jy klink presies soos my dogter van haar kleintyd af. Sy gee skool maar kry net so swaar. Sy is altyd doodmoeg… nie oor klasgee nie maar oor kinders se gedrag. Haar al gevra of sy nie weer wil teruggaan en seketarieële werk by ‘n firma doen nie… maar dis nie in haar bloed nie.
LikeLiked by 1 person
Dit is nie meer kinderspeletjies nie. Die kinders het nie maniere nie.
LikeLiked by 2 people
Sommer so terloops… sal maar nie vir haar sê jou van is van Staden nie. Sy het baie slegte herinneringe rondom dié van. Was baie bly toe sy die dag hare kon verander. Niks persoonliks nie…. sommer net by my opgekom. 😊
LikeLike
Sê maar Fourie. Ek is so jammer om dit te hoor, daar loop baie skelms buite rond.
LikeLiked by 1 person
Sy was met ‘n van Staden getroud. Alles rondom daardie huwelik (skoonfamilie ingesluit) was ‘n nagmerrie. Na al die trauma het sy ‘n sterker vrou anderkant uitgekom.
LikeLike
Ek hoop darem dit is nie familie van ons nie. Aan die Van Staden kant is ons nie familirvas nie. Kuier met boetie, wat darem gelukkig getroud is. En net ‘n dogter het. Sy naam as ek mag vra? Nie dat dit my veel sal help nie, die Van Staden’s is ‘n groot familie aan manlief se kant.
LikeLike
Nie seker wat sy volle name was nie… seker Frederik, want ons het hom Frikkie genoem.
LikeLike
Sterkte jong.
LikeLiked by 1 person
Kontak my gerus via my kontakvorm asb. 🇿🇦🌹
LikeLike
My dogter gaan deur loutere hel, met graad agt en nege leerders. Sy het twee jaar in Sjina, twee jaar in Rusland en een jaar in Viëtnam skool gehou en hierdie is ‘n totale skok op haar sisteem.Absolute gebrek aan respek!
LikeLike
Dit is regtig onaangenaam. Skoolhou was hemels toe ek begin het. Sterkte vir haar, Perdebytjie
LikeLiked by 1 person
Sy soek nou werk by ‘n laerskool… weet nie of dit beter sal gaan nie.
LikeLike
Privaatskole is goeie idee. CVO skole ook.
LikeLiked by 1 person
Ek is net baie bly ek het skoolgegaan in die tyd wat ons nog respek gehad het vir onderwysers, en nog beter, toe onderwysers respek en liefde gehad het vir hulle leerlinge. Ons het wonderlike onderwysers gehad.
LikeLiked by 1 person
Stem met altwee saam.
LikeLiked by 1 person
Ek bewonder mense wat onderwysers is, hulle moet hare op hulle tande hê en deesdae het almal meer regte as die onderwyser. Ek sou daai bloedjies stil-stil vermoor het, is maar goed ek werk in die korporatiewe wereld
LikeLike
Positief, daar is wonderlike kinders. Ongelukkig maak die ongemanierdes onderwysers se lewens nag. As die hoof nie sterk staan nie.
LikeLike
Daar is ‘n gebod wat my keer om skool te hou. Nee, nie die egbreukgebod nie. Want jy kan bearbei en bearbei en bearbei tot jy moet bemoerbei.
LikeLike
Interessant…baie raakpunte met myself en passie vir onderwys…
Mense mens bly maar deel van ons. Interessant.
LikeLike
Inderdaad Philip, inderdaad.
LikeLike