More dominee Kobus en die gemeente en bloggers wat lees.
Eerstens wil ek vir Corrie bedank vir die preke wat sy so gereeld aanstuur, maar veral omdat sy my per e-pos herinner dat sy dit per Wetransfer gestuur het.
Want Wetransfer gaan kruip iewers weg en lig my nie in as ek die preke kan gaan aflaai nie. Ek moet daardie instelling sommer vanoggend regmaak, ek neem aan ek moet Wetransfer ‘n belangrike kontak maak. Dankie dat jy die laastes weer gestuur het, Corrie.
Ek en manlief luister Sondae na die preke, nie ander dae nie, dit voel net reg om Sondae daarna te luister. Aangesien dit in groepe aangestuur word, luister ons ook na die oudste ene eerste, dus hoor ons ‘n paar weke nadat dominee klaar gepreek het.
Sondag se preek is egter om ‘n ander rede gekies. Dit was die 11de Augustus s’n. Die rede sal later duidelik wees.
Ek het Sondag gaan kommentaar lewer op die Kruin se Facebookbladsy, dit was besonders en het mens se gedagtes laat gaan oor slawerny. Veral omdat daar mense is wat uit ander se leed munt. Die middelmanne wat mense vang en verkoop.
Die middelmanne is vir my ‘n doring in die vlees, word al meer. Veral as mens lees hoe hulle daarvoor sorg dat onderwysers na lande gelok word en nie terugkom nie, omdat hulle waarskynlik in ‘n net van sluikhandel in mensorgane gevang is.
As daardie storie waar is, want daar is deesdae soveel fopnuus dat mens moeg raak om eers te gaan seker maak of dit waar is. Jy lees en vergeet. Want wie het tyd om alles wat ander skryf te gaan ondersoek. Ek is besig genoeg met navorsing oor die dinge waarin ek belangstel. Maar, dit plaas tog die fokus op mense wat geldmaak uit ander se leed.
Daar dwaal ek weer vreeslik af.
Ek wil eintlik vertel dat dit na ses maande in Qazaqstan steeds met ons goed gaan en ek wil sommer net ‘n paar goedjies uitlig wat dit baie lekker en baie sleg maak om hier te wees. Misien moet ek met die sleg begin.
My seun en sy vrou is binne die eerste maand in hulle nuwe huisie beroof. Hek oopgebreek, voordeur oopgebreek, TV en rekenaar en juwele gesteel. Goed waarvoor hulle moes spaar om dit te kan bekostig, onvervangbare juwele omdat die meeste daarvan sentimentele waarde het.
Soos die horlosie wat ek vir hom gekoop het omdat hy my seunshokkiespannetjie afgerig het. Ons kon nie gaan help nie, dit vat ons 32 uur om in Suid-Afrika te kom. Gewoonlik sou ek en manlief daardie aand reeds by hulle gewees het om te ondersteun. En te help regmaak.
Ons huis het ‘n koper gekry en ons is in Julie huis toe om alles uit te trek, in die geloof dat die koop sou deurgaan. Toe is dit ‘n skelm, wat die agent gebruik het om vir twee huise se koop alle papierwerk vir die bank gereed te kry. Ons huis was nie op sy prioriteitslys nie.
Ek kla egter nie, ons sou eers September huis toe gegaan het. Dit was hemels om die kleinkinders te sien. Hulle het ouma en oupa help pak en vier dae lank gekuier al is mamma en pappa in die stad. Dit gebeur selde, dus was ek tot in die afgrond bederf.
Dit het ook veroorsaak dat ek ‘n heel ander kant van dominee gesien het. My kleinseun se kerk praat nie van ‘n dominee nie, dus wou hy saamgaan ondertoe toe dominee huisbesoek doen om te sien hoe ‘n dominee lyk. En het dominee nie daarin geslaag om beide van ons te verras nie? Ek het ook nie geweet dat dominees met Ninjaspronge opspring om te groet nie!
Ons kry swaar met die taal. Ek het gedink ek gaan teen nou kan Russies praat, maar ek ken steeds net Zdraztwietje (hallo), Dubreh Utroh (goeie more), dezwidanje (tot weersiens), paka (baai), prievi-et (hi), spasieba (dankie), prohbleema (probleem?), Kahk Diela (Hoe gaan dit?), garasjoh (goed), en so paar ander. Dit word nie so gespel nie, ek spel dit soos dit uitgespreek word. Hulle het ‘n ander alfabet.
Van ander alfabet gepraat. Waarom sou die Russe mens so wou verwar? Hulle het letters wat soos ons s’n lyk, maar anders is, byvoorbeeld, ‘n H is ‘n N, ‘n C is ‘n S. En as ek nie mooi konsentreer nie, lees ek Pestaurant, in plaas van restaurant. Eers dan kliek ek die fout. Ai tog. Voordeel is dat daar nie ‘n verskil in die getikte letters se hoofletters en kleinletters is nie, die kleinletter word net kleiner geskryf. Maak seker sin?
Probleem is dat hulle dit nog geniet om met die hand te skryf. In lopende skrif. Want die letters kan anders lyk as wat die getikte letters is. ‘n Lopende skrif M is ‘n lopende skrif T. Genoeg om ons te laat besluit om maar liewers nie daardie een ook te probeer nie.
Fout as mens by die hysbak van die woonstel staan en nie kan lees dat daar ‘n kragonderbreking gaan wees nie. Almal weet, behalwe ons. In ons guns: Sou ook nie saak gemaak het as dit in drukskrif was nie, ons ken die taal nie om dit te verstaan nie.
Ons braai op ‘n babastoepie, al is dit ‘n nagmerrie om vleis te koop. Ons doen nuwe goed hier wat ons nie in die SA gedoen het nie.
Ons maak ons eie wors om te verhoed dat ons perd inkry. Daarvoor was die vinnige reis na die SA ook voordelig, ons kon derms en speserye koop. Ons kla dus nie oor die onnodige trippie nie. Hulle maak nie wors nie, die derms is nie hier beskikbaar nie. Om in te voer, gaan ‘n fortuin kos, nou kom ons maar met derms hierheen.
Ons bak koeksisters, maar die tannie in die kerk wat die koeskisters bak, hoef nie bekommerd te wees nie. Ek koop veel eerder by haar as om die taak oor te neem.
Die Qazaqs ken nie koeksisters nie, wou by manlief weet waarom is dit nie taai aan die buitekant nie, hoe kom die stroop binne? Een het sowaar geraai dat ons ‘n inspuitingnaald gebruik. Ek weet, ek spog so bietjie. Na die derde probeerslag is hierdie baksel na aan perfek. Het so vir manlief gelag toe hy van die werpsel praat, wou hom nie eintlik reghelp nie.
Ek bak brood en vetkoek. Vetkoek is hier te koop, maar ons waag dit selde. Mens kan enige iets daarin kry, tot aartappels. Manlief dink dit is nie te sleg nie, ek sal dit nie kan eet nie.
Maar, hy kon nou die dag sweer syne het perdevleis in. Aangesien dit moontlik is, bak ek maar liewer ons s’n. Hulle brood is oud voor mens by die huis is, dit is blykbaar goed, want dan het dit min preserveermiddels in. Probleem is dat hulle nie groot brode soos ons maak nie, die brood is klein. En die klein vierkantjies pas nie maklik in ‘n rooster in nie. Tog is die broodroosters groot soos ons s’n.
Ons het al so bietjie gaan ondersoek instel na hoe die land lyk.
Ons was twee naweke gelede in die huidige hoofstad, Nur-Sultan. Pragtige vermenging van stokou geboue en hipermodernes. Ek sal bietjie op my Instagram deel, my handvatsel is cvanstaden as iemand wil gaan kyk.
Ons gaan hierdie naweek Astana, die ou hoofstad besoek. Van daar is Suid-Afrika net twee vliegtuie en minder ure weg. Van hier is dit drie en baie lang ure op lughawens.
Ons raak bekend by die lughawe se personeel. Hulle weet nou manlief se ysterknie laat die masjiene afgaan. Daarom behandel hulle hom nie meer soos ‘n skurk nie Ek waardeer dit besonder baie.
Ons het kar gekoop, hoe kan ek dit vergeet? Was ‘n groot ding om dit in Almaty te gaan koop, die pad tussen hierdie twee stede is 1000 km lank. En die meeste daarvan is baie slegte pad, of sommer grondpad wat besig is om teerpad te word. Dit was egter ‘n ongelooflike lekker ervaring. Ons het die pad oor drie dae gedoen.
Aanvanklik het die polisie ons nie vertrou nie. Die geel nommerplate, wat uitbasuin dat ons expats is, het veroordaak dat ons gereeld afgetrek is.
Ek het my basiese woord gebruik en gevra Probehma? en die ou het ons dadelik laat gaan. Die aand eers gehoor dat ek daarmee eintlik vir die man gevra het of hy lus is vir baklei! Nou gebruik ek die woord ook maar met omsigtigheid.
Ons verlang. Na ons kinders en ons kleinkinders en my ouers en susters en familie en vriende. En nuwe vriende wat ek deur die blog ontmoet en graag sal wil ontmoet wanneer ons terug is in die land.
Ons verlang na die kerk. Ek weet ons twee het nie vriende gemaak nie, geselsies gemaak nie, maar dit is hoe ons is. Ons is stil, vorm deel van die agtergrond.
Ons geniet dit egter om saam met julle in een kerk te wees, saam te luister as dominee preek, saam te lag as hy lag. En so by the way dominee, jy het ‘n interessante lag as jy so half oor iets spot.
Dit werk, ons ore is hier in Qazaqstan ook dadelik gespits om verder te luister.
Ek wil graag vra dat jullle die preek eers stop nadat die afkondigings gemaak is, ons het daarna ook altyd geluister. En dan weet ons waarvoor ons alles kan bid as ons hier in die vreemde is. (Ek het ook gemis om te hoor dat ek in die week verjaar, dit is gewoonlik een van die hoogtepunte in my jaar).
Laat ek verduidelik. Ek is skaam, nogal baie. En dit is regtig vir my erg om uitgesonder te word. Alle dae van die jaar. Behalwe die Sondag waartydens afgekondig word dat ek in die volgende week verjaar. Dus gaan ons beslis in Februarie wil hoor wanneer manlief gelukgewens word met die verjaarsdag wat kom.
Die Qazaqs wens glad nie voor die tyd geluk nie, dit bring ongeluk. Ek is so dankbaar dat ons nie sulke bygelowe het nie.
Hoe bly ons hier? Ek neem aan dat dit duidelik is. Ons woon lekker, ons leer goed doen wat ons gereed maak om al meer vir onsself te sorg om geld te spaar as ons afgetree het. Ons maak ook boerekos. Maar ons verlang. Baie.
Die herfsblare het begin val, dit is koeler soggens en saans. Maar, op ‘n windstil dag wil die son mens steeds verskroei. Of nee wag, ek jok. Mens sweet en vergeet dat die son jou verskroei, veral omdat die wind bykans altyd waai. Dus het ek nie witter geword nie, ek is oral waar iets uitsteek bruiner as toe ek laas in Suid-Afrika was.
Die weer voorspel dat die eerste sneeu reeds einde Oktober gaan val. Wat beteken dat die kwik in die volgende maand en ‘n half van 30’s na zero moet val. En dan gaan dit tot in Mei volgende jaar ‘n witbedekte landskap wees.
Was mooi toe ons in Januarie kom kyk het, was koud toe ons in Maart hier geland het en die laaste sneeu het in Mei nog geval. Wat veroorsaak dat ons twee mooi moet loop om nie te val nie.
Die sleg ten spyt, dink ons twee darem steeds dat dit ‘n goeie besluit was om ons pensioen te kom aanvul. Al is dit in ‘n land waar die kwik tussen +40 en -40 grade Celsius styg en daal. Ons het in die somer tot +38 gegaan en ons het in Januare gevoel hoe -38 voel.
Intussen sien ons vreeslik baie uit, Marnus en Grace kom Desember vir ons kuier. Ons kan nie wag om alles vir hulle te wys nie.
Die land is mooi. Die land is skoon. Die land is veilig. maar, die land gaan dan ook so koud wees dat die hele aarde gevries is. Behalwe die strokies wat mense oopskraap. Om te kan ry.
Dit word ook nie oral gedoen nie, in sommige strate ry mens op witgesneeude strate. Waar ons bly, in die middestad, sal die paaie egter oopgeskraap wees. Dit is iemand se werk om dit skoon te maak dat mense kan gaan werk.
Groete tot weersiens.
Die Van Stadens
Ek is nou nie die dominee nie maar het jou skrywe baie geniet.
LikeLike
Dankie Kameel.
LikeLike
Dis mooi Christa…ek is seker jou dominee geniet hierdie net so baie soos ek!
LikeLike
Dankie Woordnoot
LikeLike
Christa,
Baie dankie vir jou “brief aan die gemeente” … jou opskrif laat my baie dink aan Paulus se briewe! Dit is aangenaam om jul belewenisse mee te maak in die vreemde land, waar selfs die alfabet verskil! Mag die warm son in jou gemoed die yskoue winter laat smelt!
Groete,
‘n Gemeentelid.
(Carina)
LikeLike
Hallo Carina, baie dankie. Ek sal nogal son nodig hê wanneer die son begin skyn. Mooi wense vir jou ook, dit was aangenaam om die briefie te kry.
LikeLike