As manlief koeksisters belowe …

Ek was op universiteit gek oor koeksisters. Was van 1979 tot 1981 in Madeliefkoshuis by Tukkies. En ek is werklik dankbaar dat die Universiteit van Pretoria Madelief se naam laat bly staan het. Want in my tyd het ons Madelief se kleuterjare gevier. Sy het drie en vier en vyf geword en elkeen daarvan het met partytjies gepaard gegaan.

Skuins oorkant die pad was ‘n kafeetjie, dink die eienaar was ‘n Griek. En my sakgeld het daar ingegaan en nadat ek ‘n lekker, lang koeksister gekies het daar agtergebly. Ek het gereeld eers gou daar ingestap op pad terug van die kampus af.

Tot my ma my een keer iewers in die middel van my eerste jaar kamer toe geroep het om vir my ‘n rok te wys wat sy vir haar gekoop het. Mooi rok, haar smaak. En my aangemoedig het om dit aan te pas.

Ek was verstom, dink sy regtig haar rokke gaan vir my pas? Maar ek moes pas. En die rok wou-wou pas. Ek het dit so gekyk en die besluit geneem. Volgende keer sal my ma weet dat haar rokke nie vir my pas nie!

Dit was die laaste van die koeksisters. Hulle skuld dat ek gewig opgetel het. En die drie keer per dag etery. In die eetsaal wat ons met die koshuis oorkant die straat gedeel het.

Dink die naam was Asterhof. Jasmyn voel verkeerd. Madelief deel vandag ek uit koshuis is met Magrietjie. As ek reg gehoor het. Daardie tyd het jy opgestaan, aangetrek oor die pad gestap en jou kos gekry. Alles was ingesluit by die prys. Vandag werk dit ook seker anders, as ek aan my eie dogter en Pukke dink. Toe moes ons geld op ‘n kaart sit om seker te maak dat ons kind kos het.

Toe ontmoet ek vir manlief. En manlief was lief vir koeksisters. Ek het elke oggend vir die tannies by die kombuis gevra om kospakkie in te pak, ek kan nie terugkom koshuis toe nie. Dan het ek my kos vir manlief, wat ‘n dagstudent was, gegee. En gemaak of ek nie honger was nie. Sodat hy kon eet. Ek het mos weer aandete kos gekry. As arm studente kon ons nie koeksisters bekostig nie.

Manlief maak planne as hy ‘n ding lus. Dus het ek gereeld na sy woonstel gegaan en die kniewerk gedoen. En hy het gebak. Ek het in die stroop gedruk en alles om ons was taai en met meel bestrooi. Groot werk om kombuis na koeksisters weer skoon te kry.

Vir die liefde het ek geknie en maar nie vir my ma vertel nie. Want sy het my probeer leer brood bak, maar ek het geweier. Wou nie voorarms soos Popeye s’n kry nie. Ek weet, syne is te danke aan spinasie, wat ons gelukkig nie hoef te geëet het nie. My pa eet dit nie. Dus was my werk om die botter te karring. Wat ‘n saligheid was dit nie om onder die lukwartboom te sit en droom terwyl ek die room in botter verander nie.

Maar terug by die knie, ek moes die koeksister deeg knie. Saam het ek en manlief het ‘n gedugte span gevorm. Totdat ons die een keer gaan loer het hoe die Bulle op TV speel. En vergeet het van die olie met laaste koeksisters op die stoof.

Was nogal geïrriteerd toe iemand klop. Het niks geruik nie. Maar toe ek verby die kombuisdeur loop om te gaan oopmaak het ek sommer siek gevoel en manlief gestuur om sy deur oop te maak.

Dit was een swart wolk rook. Buurvrou wou net of ons okay is, met al die rook lyk dit of die plek afbrand! Sy moes op die stoep by ons kombuisvenster verbyloop om by haar woonstel uit te kom.

Vanoggend vra manlief of ek die koeksisterbakkery uit ons vryersdae kan onthou. En ons lag lekker daaroor. Want dit was, tot ons Qazaqstan toe getrek het, ons laaste koeksister bakdag.

Ek vra of hy dink dit is omdat ons die plek uitgerook het dat ons nie weer wou probeer nie. Hy sê nee, hy dink ons het net besig geraak. Ek met skool, hy op die myn, die kinders was altyd besig. Dus weet my kinders nie eens dat ek en pa koeksisters kan bak nie.

Hier in Qazaqstan het ek my Thermie se Afrikaanse resepteboek uitgehaal en op koeksisters afgekom. En toe moet ek manlief net bedank dat hy een tas klere opgeoffer het om Thermie al die pad van Suid-Afrika te bring. ‘n 32-uur lange vlug. Deur skandeerders en met ‘n besliste ek sal self na ons masjien kyk het hy op die vliegtuig in Johannesburg geklim. En haar veilig hier aangebring.

Dit was aanvanklik ‘n nagmerrie om koek in Qazaqstan gebak te kry. Hier is nie vanilje essence nie. Ek moes self leer maak. Mens kry twee soorte meel, goeie (blou) en minder goeie gehalte (rooi). As jy so bietjie vergeet is die deeg klei. Bakpoeier word in teeleelgrootte pakkies verkoop, dus het ek gelyk of ek winkel gaan oopmaak as ek genoeg bakpoeier koop. Dit was nou nadat ek met moeite uitgevind het wat bakpoeier en gemmer en kaneel en alle speserye in Russies is!

Nadat ek al die bestanddele opgespoor het is Thermie staangemaak om te knie. Toe manlief tuis kom, was die deeg gereed. Maar ons was nie so tevrede met die resultate nie.

Ons het te min stroop gemaak en ek moes die helfte van die deeg vries vir later. Ons het die deeg later weggegooi om plek vir die vleis in die piepklein yskassie te maak.

Die tweede keer het ons genoeg sous gehad, maar ek was nog besig om te vleg as manlief se vier wat gebak is gereed vir die stroop was. Hy het gebak, nie in die stroop ook gedruk nie.

Dan moes ek hol, koeksisters vir 30 sekondes onder stroop hou, terughol tafel toe en vleg vir ‘n vale. Om noggereed te kry om gebak te word. Ek het gesukkel om voor te bly.

Dus was sommiges nie mooi vol getrek nie. Ons het vier van die mooies uitgehaal en vir manlief se tolk en sy meisie gegee, om te bedank dat hulle saam met ons almaty toe was om ons kar te gaan haal.

Wat my by die rede vir hierdie inskrywing bring.

Verlede Vrydag stap ek tot by manlief se werk. Dat ons half drie lughawe toe kan gaan vir my verjaarsdag. Interessant is dit nie? In Suid-Afrika het ek oral heen gery. Hier maak ons soos die Qazaqs. Ons stap oral, ry net met die motor of taxi as dit moet. Soos om lughawe toe te gaan. Dit is nogal ver, so 17 km uit die stad uit.

Toe ek instap wou Ruslan, die tolk, weet: Where is the koek something? Ek het die Engelse woord nie verstaan nie en Ekskuus gesê.

You know the kooooeeeek sissssters you gave me the other day?

Ek het gelag en gesê dat ek hom liewer sal leer bak, dan koop ek by hom. Want ek was nog nie weer lus om te maak nie, dit is ‘n sticky job. Hy was teleurgesteld, maar dankbaar dat ek hom sal leer bak. Toe sê ek ek sal hom betaal as hy maak. Hy het sy eie bakkerytjie. Hy was tevrede.

In die taxi vertel ek manlief en hy sê dat Ruslan hom in die week gevra het en dat hy gesê het ons sal maak.

So, dit is waarom die twee bottels stroop vanoggend in die vrieskas in is.

Thermie het die kniewerk in 2 minute en 20 sekondes gedoen. Ek skat dit is waarom ons nie as getroudes koeksisters gemaak het nie. Ek haat knie met ‘n passie. Alles is vol meel en deeg as ek klaar is. Nou is Thermie vuil en sy word in ‘n japtrap skoongemaak.

Ek het vandag aangedring dat alles eers alles gevleg word voordat manlief begin bak. Ook maar goed ek het eie vlegsels op skool gevleg. Dogter s’n toe sy nog vlegseltjies gedra het. Dit raak na die twintigste een ‘n vervelige werk. En teen die vyftigste een was ek dankbaar dat alles klaar is.

My vriendin sê ek kan ‘n besigheid begin. So lekker was laas keer s’n vir haar. Wonder wat sy van die nuwes gaan dink, hulle is besonder lekker.

Maar nee! ons gaan nie daarmee geld maak nie. Dié werkie is een van daai wat mens net vir die pret en die liefde doen.

Dit is ‘n taai werk. Dit vat presisie. Dit vereis dat mens vir die tydperk wat gebak en gestroop word al jou aandag aan ‘n pot met olie en ‘n bak met stroop gee. Dit vereis dat manlief die koeksister vinnig uit die olie en in die stroop moet kry. Dat ek my vingers in die yskoue stroop moet druk, ‘n hele 30 sekondes lank. As een van die stappe nie met perfek gevolg word nie is die koeksister ‘n flop!

Moeite! Dit is wat dit is. Lekker moeite wat ons nou al die derde keer in vyf maande doen. En die bak met twintig koeksisters wat wag om more saam te gaan werk toe.

Die res is in pakkies van vyf toegezip. Vir eie gebruik.

Interessant hoe Qazaqstan my gereed maak vir die trek na ons plasie as ons teruggaan. Ons wortels is in Suid-Afrika!

Ons bak Koeksisters en maak ons eie biltong. Ons maak nou ook ons eie wors om te verseker dat ons nie per ongeluk perdevleis inkry nie.

12 comments

  1. Dit is ‘n groot werk, maar saligheid vir die persoon wat dit graag eet. Ek het as Voortrekker op skool baie koeksisters gebak vir geldinsamelings en as volwassene net geweier om dit weer te doen. In Pretoria het ons daardie allerheelikste Boerstra koeksisters gekoop – sulke langes wat gedraai was, nie gevleg nie en druppend van die stroop. Na elke koeksister moes jy eers hoofpynpille drink – dit was so soet dat dit jou kop seer gemaak het.

    Like

      1. Skielik verlang ek na Voortrekkerkampe, saamsing, koffie om die kampvuur – heerlik. In matriek het ek en my vriendin ook kastig offisiere geword, maar was so onmoontlik stout dat ons kort-kort afgegradeer is.

        Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.