Gepubliseer in Reisjoernaal

Ust-polisie kan nie ‘n geel nommerplaat uitlos nie!

Ek het al vertel dat ons probleme met die polisie kry. Omdat ons ‘n geel nommerplaat het. En dit moet ons hê, omdat ons expats is. En daar is min geel nommerplate in Ust. Daarom staan ons soos ‘n seer oog uit.

Ek het ook vertel ons moes baie opoffer om Dusty op ons eie naam te registreer. Maar genade tog, ons het nie geweet die polisie gaan ons nie uitlos nie.

Saterdagoggend is ons op pad na die karwasplek. Wat ons nog net een keer besoek het. Lank gelede. En ons kan nie presies onthou waar dit is nie.

Ek wil hê ons moet rivierlangs soek, omdat dit in een van die stegies agter ‘n woonstelblok versteek is. Het ek al vertel dat alle woonstelblokke soortgelyk lyk? Grys met toegeboude stoepies?

Mens kan dus nie sommer onthou watter een dit is nie. Jy moet aanwysings hê. Of soek. Ek wil so ry want daar is ‘n nuwe restaurant langs die rivier. Twin rivers. En ek wou sien waar dit is.

Manlief is egter steeks. Volg sy bekende roetes. Verby sy werk, links by Imperator. Regs net voor Kolos, rivier se kant toe. Toe ons regs draai, ontmoet my oë dié van ‘n passasier polisieman in sy polisiekar. As mens dit ‘n kar kan noem? Lyk eerder soos ‘n baie outydse vorm van ‘n SUV. Dit is Lada SUV’s, sien ek vanoggend toe ek van ‘n ander een ‘n skelm foto neem.

Hy kyk vir my en ek sien sy houding verander. Iets soos Mr Bean wat ‘n ingewing kry.

Ek het al vertel dat misdaad hier beperk is. Dus is ‘n expat in Ust seker iets om te wantrou. Hy kyk vir my soos daai ouens in 007-flieks.

As hulle so pas ‘n skelm ontdek het. En ek en manlief sien hoe hulle ‘n U-draai maak en ons volg.

Ek vra vir manlief of hy iets verkeerd gedoen het, al weet ek voor my siel hy het nie. Ek sê hy moet aantal draaie ry om hulle af te skud, hulle volg stadig. En het nie ligte aangesit nie. Hy weier. Draai by die rivier links in die hoofstraat in. En soek die ingang na die karwas. Manlief is op ‘n ander misie.

Het ek al vertel hoe dit werk? Mens ry tussen woonstelle deur en dan ontdek jy garages vir motors wat in buitebandplekke, karwasse of wat ookal verander is. Hier sal karwassers dooi as hulle in ‘n oop karwasplek soos in die RSA moet werk.

Die polisiemanne draai ook links, volg ons. Kom agter ons in. En sit die ligte aan. Manlief moet stop. In die vinnige baan. In die verkeer. En manlief wag in die kar.

Die polisiemannetjie kom na sy deur. Manlief praat Engels. Ken nie Russies nie. En ons weet al dit help as hulle ons nie verstaan nie.

Ons verstaan hulle regtig nie. Manlief sê gedienstig hallo en vra met sy hande of die man sy dokumente wil sien.

Die polisieman kyk kwaai oor manlief na my wat gevaarlik baie soos hierdie land se mense lyk. My groen oë word seker maar aan die nukleuraktiwiteite in die dorp toegeskryf? Dit is nie bruin nie, maar pla hom min.

En hy raas met my in Russies. Daarvan het ek ook al genoeg gehad. Geen gejanepanêmajo Poruski (ek verstaan nie Russies nie) kom oor my lippe nie. Dan dink hulle mos dat ek lieg, ek spreek die enkele sinnetjie so perfek uit!

Ek sê net: Excuse me? En manlief verduidelik in Engels dat ek nie Russies verstaan nie. Wat die polisieman natuurlik ook nie verstaan nie.

Hy wys met sy hande manlief moet uitklim. En na sy kar gaan. Ek kyk nie, ken mos al die ritueel. Manlief praat Engels, hy Russies. Verstaan mekaar nie, hy gee bes en laat ons gaan.

Ek probeer net ‘n selfie neem, met sy kar agter ons kar.

Bril op die neus, want ek en my tweede jongste sus is in ‘n WhatsApp gesprek. Dit werk nie, ek sien nie wat agter aangaan nie en ek gesels verder met my sus.

Ek kom nie agter dat manlief lank weg is nie, ek tik boodskappe vir my sus.

Toe staan manlief by sy deur, buk in en vra sy foon. Hy lyk bekommerd. Ek vra waarom en hy sê die man sê hy is gesuip.

Nou kyk, toe het manlief al my aandag. Dit is ‘n ernstige aantyging.

Nie alleen kan jy jou lisensie verloor nie, hulle het ‘n 0-toleransie vir alkohol. Dit is groot probleem.

En manlief is soet as hy bestuur. Nugter soos ‘n spook! Hy drink nie as hy gaan bestuur nie. En gisteraand se bier is al uitgewerk? Of is dit?Manlief sê hy gaan vir Ruslan sy tolk bel om ons uit die gemors te kry. Hier is woorde beslis nodig. En gou!

Ek spring aan my kant van die motor uit en vergeet skoon dat ek ‘n kort rompie aanhet. Sien die polisieman se gesig toe ek opkyk en hoop maar dat hy niks gesien het nie. Te vies omdat hy ons oggend bederf.

Manlief gaan staan by die polisieman en begin bel. Die man kyk op sy foon, sien die naam Ruslan en sê wag.

Buk in die kar en gee al manlief se kaarte terug. Die ander ou skryf nog goed, hy vat en gee terug. Verskonend. Wys ons kan ry en sê Garashô! Wat enige iets met goed te doen beteken.

Soos ek al vertel het, is garashô bykans die enigste woord wat manlief verstaan. En gebruik. Hy vat sy kaarte en stap na sy kant van die kar.

Maar vir my is dit nie garashô nie. My stert is in ‘n krul gepluk. Ek gee hom ‘n vuil kyk, swaai op my hakke om en marsjeer na ons kar. Pluk die deur oop en slaan hom toe. Manlief raas nie eers nie.

Ons ry weg en bespreek die geval. Hoe het jy geweet hy sê jy is gesuip? Vra ek. Want manlief verstaan regtig niks. Ek vang nog woorde, hy doen nie.

Hy het Vodka bly sê.

Genade tog, my man is ‘n bierman. Het nog nie eens sy mond aan Vodka gesit nie.

Ek het, toe ek my eie vanilje essens wou maak. Dit is baie sleg! Moenie probeer as jy nog nie het nie, ek skat spiritus proe ook so!

Manlief vertel dat hy sy alie afgeskrik het. Omdat hulle daarop aangedring het dat hy in die kar by hulle klim. En aangehou het met die Vodka! Vodka!

Ek sou ook, as ek in die spieëltjie gekyk het. Wat sou ek maak as hulle weg is? Met hom? Soos mis voor die son? Omdat ek met my foon besig is? Waar sou ek hom gaan soek?

Soos ons verstaan is daar polisiemanne wat omgekoop wil word. En ons dink dit is wat hulle wou hê.

Ons gaan dit nie waag nie. Het niks verkeerd gedoen nie, hoe gaan mens jou omkoopgeld verduidelik? In ‘n land waarin amper geen mens ons gaan verstaan nie.

Ons kan nie op Google Translate staatmaak om ons uit so ‘n gemors te kry nie! Wie sê sy ken al die regte woorde?

As ek in die spieëltjie gekyk het, sou ek nooit gewys het my stert is in ‘n krul gepluk nie. Tot volgende keer. As ons weer afgetrek word …

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

17 gedagtes oor “Ust-polisie kan nie ‘n geel nommerplaat uitlos nie!

    1. Dit is waar, maar dit is baie erg as hulle kwaai is. En ons nie weet wat hulle sê nie. Tog bly ons lekker hier. Dit gebeur so een of twee keer per maand. Nogal baie as mens in ag neem dat ons die kar net naweke gebruik. Ek wonder of hulle baas se naam ook Ruslan is?

      Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.