Ek moet vanoggend eers vertel van die probleem met die woord problema.
Want ek het al vertel dat ons met die gebruik van dié ou woordjie probleme met die verkeerspolisie in twee dorpe kon oplos, naamlik in ons dorp en in Shemonaigha.
Ons verstaan mekaar nie omdat hulle nie Engels of Afrikaans magtig is nie en ons te min Russies ken om ‘n gesprek te voer. Om te verstaan wat die probleem is.
Ek kon egter al twee keer die probleem oplos. Deur een van die min Russiese woorde te gebruik wat ek ken. By gebrek aan kennis oor hoe om dit in ‘n sin te gebruik, sê ek net: Problema? met ‘n vraagteken op my gesig.
En beide kere het die verkeerspolisie die aftog geblaas met Njet! Ne problema (Nee, geen probleme).
So vertel ek Saterdag vir ‘n Qazaq wat saam met manlief werk dat die woord Problema ons elke keer help.
As ek dit vra, se hulle net nee en laat ons gaan. Omdat hulle, volgens my, nie weet hoe om die probleem te verduidelik nie.
Hy lag uit sy maag uit en ek verstaan nie waarom nie. Dan lag hy net al hoe harder. Toe hy uiteindelik kan praat, stotter hy dat ek dit nie moet gebruik nie, ek sê basies vir die polisie: Do you wanna fight!
En dan lag hy weer. Natuurlik sal hulle die aftog blaas en nee sê, volgens hom, want hulle is beslis nie fighters nie!
Genade tog, ek ook nie. Ek kon nie uit hom kry wat ek dan moet sê nie, in elk geval nie in Russies nie. Volgens hom moet ek vra: What is wrong? en nie Problema nie.
Hoe om dit in Russies te sê, kon ek egter nie uit hom kry nie. Dus is dit een van die volgende sinne wat ek moet aanleer, om te vra wat fout is eerder as om te vra of daar probleme is.
Skielik het ek die tannie by ontvangs se houding verstaan. Sy het die middag in Russies vir ons verduidelik dat daar ‘n probleem met die hysbak was. Of so het ons verstaan. Dat hy op en af ry na een vloer. Bo gekom sien ons dat die knoppie op ons vloer vasgehaak het. En manlief laat dit los. Onder gekom verduidelik ek met my min woorde vir haar.
Problema? Etash vosem (probleem 8ste vloer) en verduidelik met handgebare dat die knoppie vashaak en losgemaak is. Haar vriendelikheid was egter weg. Ek dog dit is omdat st nie verstaan nie. Ek het dan mos ‘n fight met haar gesoek? O my genade!
Ek het reeds geskryf dat ek die Russe nie verstaan nie, hierdie is net nog ‘n voorbeeld om te oortuig waarom nie.
Vir my is daar geen verskil tussen probleme en fout nie. Dit is soos Vinkel en Koljander, die een is soos die ander. Eende van dieselfde dam is die Qazaqs en ons beslis nie.
Dit laat my nou aan ‘n staaltjie dink wat my jongste suster vertel het toe hulle na Australië getrek het.
Haar kinders was Afrikaans, was in Afrikaanse laer- en kleuterskole by Harties. Engels was ‘n vreede taal wat hulle skielik in hulle nuwe tuiste moes gebruik om maats te kan maak.
Haar middelste is ‘n sagmoedige reus, van klein tyd af. En toe gebruik hy sy beste Engels om met ‘n maatjie te probeer gesels. Weet nie waar hy daaraan gekom het nie, seker maar TV-stories, maar toe vra hy: Do you want a piece of me? om maats te maak.
Die ander outjies was verstom. Soos die polisie hier in Ust. Die Ausie maatjie: Nee gits man, ek wil maats maak. Ust se polisie: Nee, gits man, ek doen net my werk! Jy kan gerus maar die vuiste bêre, We make love not war!
Ek moet natuurlik eers gaan uitvind of die Rus wat saam met my man werk, nie sommer twak praat nie. Voor ek gaan probeer om nuwe sinne te leer. Daardie woordjie bring my by ‘n nuwe staaltjie.
Ek sê die een dag vir ‘n Engelsman in my Afrikaanse klas by Welkom High Ag, twak man!, toe hy met my stry oor iets. Wat die klas na hulle asem laat snak het en een dolla laat sê het sy het nie geweet ek sal so in die klas praat nie.
Ek kon eers nie verstaan nie. Eers toe verstaan ek dat hulle nie maar toe kliek ek dat hulle ‘n platvloerse woord met drie letters gehoor het, een waarvan twee letters dieselfde is en ‘n a wat die twee skei.
Nodeloos om te sê moes ek die woord twak verduidelik en het ek dit nooit weer in die klas gebruik nie. Net so met die woord Vak. Hoe mens dit ookal uitspreek, die moedswilliges in die klas hoor dit in Engels.
Wat mens ook met ‘n rooi gesig laat. Watter onderwyser sal daardie woord in die klas gebruik?
Ek wil afsluit met my vraag nou die dag of die tolke nie dalk ‘n groot rol gespeel het tydens oorlogverklaring tussen Rusland en ander lande nie.
Dalk het die ander lande se tolke ook Wat is fout? met Problema vertaal en die Russe het dit as Let’s fight verstaan. Hoekom dink ek so?
Hierdie land se mense soek nie met mens moeilikheid nie. Hulle is nie vriendelik op straat nie, maar hulle soek ook nie skoor nie. Inteendeel, hulle ignoreer mens totaal geheel en al op straat. Maak geen oogkontak nie. Mind their own business. Soos ekke verkies.
EK is 100% oortuig dat alle problemas begin met ‘n gebrek aan tolke…goeie tolke!
LikeLike
Moet wees
LikeLiked by 1 person
Jy het my nou lekker laat lag. Ek sal liewer my mond styf toehou in ‘n ander land, want ek het die slag om mense verkeerd op te vryf – in my eie land, in my eie taal. Weet nie hoe sal dit gaan in ‘n vreemde taal nie.
LikeLike
Ek sê jou Hester, hoe meer mens hoe probeer, hoe groter word die probleem
LikeLiked by 1 person