Om te soen of nie

Ek loop gister so en luister na Leanie May wat sing:

Jy soen my nie meer nie, soen my nie meer nie en ek onthou hoe dit was …

En dit raak, soos elke keer as ek daarna luister, aan my hart.

Daar is min goed so lekker soos om ordentlik gesoen te word. Nie ‘n hallo en koebaai piksoentjie nie.

Ook nie die uiterste vorms van soen nie. Sommer net om met gevoel gesoen te word.

Daardie soort soen wat mens laat weet dat die persoon wat soen graag by jou wil wees.

Daarom kan ek die rede agter die liedjieskrywer se woorde verstaan.

Hierdie plasing volg op ‘n inskrywing wat ek vandag gelees het wat ek in 2012 op Facebook gemaak het, of liewer ‘n plasing waarin ek die beweerde bevindinge van navorsing oor die waarde van soen gedeel het.

Daarvolgens is soen vir depressielyers 10 keer effektiewer as voorgeskrewe medisyne en berading.

Ek het egter afgesluit met: So, soen my!

Ek lees dit gister in verstomming. Gelukkig het niemand simpel kommentaar gelewer nie.

Nege jaar later kan ek nie dink waarom ek dit geskryf het nie. Dit is persoonlik.

Selfs uitdagend?

Dalk het ek depressief gevoel?

Dalk was ek en manlief vies vir mekaar?

Die betrokke stukkie inligting kan ek nie weer opspoor nie. Dit was op Twitter.

Dalk was dit fopnuus, dalk het die groot kokkedore gesorg dat die stukkie inligting in die vergetelheid verdwyn om geld te kan maak uit ander mense se emosionele pyn.

Wat ek wel weet, is dat dit vir my waar kan wees. Om beter te voel as ek gesoen word. Want soen is vir my lekker.

Dit is vir my lekker om my kinders en kleinkinders te soen.

Seun sal eers kyk of ek lipstiffie aanhet en dan sal hy besluit of die soen op die mond of die wang gaan wees. Ai tog, die sondes van ‘n ma.

Dit maak nie saak dat ek nou die soort koop wat ‘n deurskynende lagie oorhet nie, hy vertrou dit niks.

Want sy ma hou van rooi lipstiffie. Die soort wat daglank hou.

Hoe sal hy nou weet hoe sleg die ander soorte vir ‘n juffrou is?

Jy maak die prentjie mooi, staan voor die klas, praat dat die spoeg so spat (darem nie regtig nie) en teen pouse hardloop jy gou by die kleedkamer in.

Om die nodige te doen. En uit te vind dat die gesiggie asvaal is. Geen teken van lipstiffie nie. En die lipstiffie is in die klas. In my handsak.

Ek het eers daardie goedkoop soorte gekoop, dink dit kos nou nog skaars meer as R10 een. Groen en blou en oranje en swart houers as ek reg onthou. Met lipstiffie waarvan die kleur verander as dit met die suur of iets op jou lippe meng. Ek het altyd die groen gekies, dit het ‘n mooi rooi geword wat die hele dag kon hou.

Maar dit het ook op my seun se lippies afgegaan as ek nie gewag het tot dit droog is nie. En hy verpes dit nog steeds.

Later het ek ander ontdek. Koop myne gewoonlik by Clicks of Woolies. Een kant is die kleur en aan die ander kant is deurskynende vloeistof. Jy sit eers die kleur aan en dan sit jy die deurskynendes bo-oor aan om glans te gee, maar ook om ander te red van jou kleur rooi lippie.

Omdat dit nie alte mooi oorgedra word nie …

Ek kry dit nie hier nie, dus koop ek voorraad as ek in die SA is. ‘n Vrou hou by dit wat werk.

Ek geniet my kleinkinders se tjoklitbeksoentjies.

En die drukkies wat daarmee gepaard gaan. Voel sommer verneuk as hulle siek is en ouma op die wang moet soen. Nie my reël nie, ek sal die kans vat. Hulle mamma s’n om te keer dat ouma saam siek word.

En ek geniet dit om manlief te soen. Hy kom nie weg met ‘n piksoentjie nie, hy moet darem sy arms om my lyf sit om die soen ‘n soen te maak.

Ek soengroet familie, net omdat ek moet. ‘n Drukkie is vir my veel waardevoller as die piksoene wat met familiesoene gepaard gaan.

My een tannie gee so ‘n harde, stywe lip soen. Dus moet mens net genoeg mik om nie seer tande te kry nie.

En ek sal ook makliker op die wang as op die mond soen.

Na my mening is ‘n wangsoen lekkerder as ‘n mondsoen wat familie betref. Dit gaan met drukkies gepaard en nie met presisie om die oomblik van impak te versag nie.

Ek kan nie regtig sê dat ek daarvan hou om ander mense te soen nie.

Tog is daar uitsonderings. Oor die algemeen sal ek daarvan hou om soos ‘n man te groet, met ‘n skud van die hand.

Wat my by die Qazaqs se manier van groet bring.

Vrouens gee vrouens ‘n drukkie en in die lug langs die wang soen. Dit voel soos behoorlik gegroet.

Mans groet anders. Die mans skud elke oggend hand as hulle by die werk kom. En weer as hulle huis toe gaan. Al die mans. Hulle skud hand as hulle by mekaar kom en weer as hulle gaan.

Die vrouens word totaal geïgnoreer.

Miskien ‘n kopknik, dalk ‘n deswidanje (totsiens), maar geen handskud en geen aanraking nie.

Ek het die eerste keer maar gaan handskud, net om te wys ek het dan beter maniere as die persoon wat my ignoreer.

Dit was met verstomming gade geslaan.

Ek het dit nog nie weer gedoen nie.

Staan nou maar en ander pad kyk, asof ek nie omgee nie. Maar ek doen. Dit voel ongeskik. Asof vrouens nie geag word nie. Dit is egter nie ongeskik nie, dit is tradisie.

Net soos dit tradisie is om nie ‘n gas te groet terwyl hy of sy oor die drempel tree nie. Jy kan buite die deur groet, anders wag jy tot die persoon in jou huis is.

Net soos dit tradisie is om deur ‘n deur te stap as iemand dit vir homself oopmaak.

Dit is blykbaar goeie maniere van die persoon wat die deur oophou.

Ek het dit aanvanklik as ongelooflik ongeskik beskou. So ongeskik dat ek die deur sommer gelos het. Dat die persoon maar self oophou.

Ek is nie ‘n lakei nie.

Ons deure is swaar deure wat moeilik oop en toe maak. En by elke gebou is daar twee stelle sulke swaar deure, met ‘n kleinerige opening tussen die twee.

Die rede daarvoor is om te keer dat die koue saam met mense in geboue inwals in die winter.

Want jy moet die een deur eers los as jy in is om die tweede deur oop te kan maak. Kan nie met een slag gedoen word nie.

Het ek nou geleer om ‘n lakei by ‘n deur te wees?

Nee …

As ek aankom en iemand staan binne en wag dat ek die deur oopmaak, staan ek buite en wag dat die persoon eers uitkom.

Sommer deur altwee deure. Net vir ingeval.

Want mens kan in die proses ‘n stamp met ‘n handsak, stootwaentjie, trollie of enige iets anders kry.

As jy nie ook daarin slaag om jouself onsigbaar klein te maak nie.

Om terug te kom by soen. Ek dink nogal dat ek kan verstaan dat soen vir depressielyers waardevoller as medisyne en terapie kan wees. Dus sou ek tog wou weet of daardie plasing die waarheid of ‘n wolhaarstorie was …

10 comments

  1. O gits, Christa, hier gaan ek nou van die wa af val. Ek is glad nie ń soener nie. Glad nie. Ek sal soengroet as ek moet, maar druk veel eerder. Seker weer deel van my onromantiese aard.🙊

    Liked by 1 person

  2. Eish…nou gaan ekke innie sop wees, maar ek soen nie. Nie eers die klein kindertjies nie. Dis seker my yskas persoonlikhied wat daar deur kom…..ek kom agter dat ek ook my lippe op sulke stywe lyne trek as em die dag moet soen, of ek knyp my mond toe…..

    Like

  3. Hier by ons, is soen op die mond, net toelaatbaar tussen man en vrou of ‘n paartjie, wat ‘n verhouding het. Vir die mense, is dit vreemd, dat ons mense, so op die mond soen en hulle raak baie agterdogtig. Sommiges van ons, glo mos dat dit so hoort. Ek hou ook nie daarvan om elke San Rap en haar maat te soen nie, dus gee ek maar baie gou die hand.

    Like

  4. Ek verkies ook ‘n drukkie wanneer dit by groet kom. Die soen en bladskud kan ook maar verbyhou. Ek het per ongeluk ‘n boek met die naam Soen uitgeneem 😀 wonder waaroor handel dit presies. Ek is vandag besig in en om Margate, maar hoop om tyd te kry vir lees.

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.