Gepubliseer in Joernaal

‘n Plaasvervanger vir When Calls the Heart?

Ons was aan Binnelanders, Suidooster en Getroud met Rugby verslaaf, ek en manlief. Ons het ook die reekse gevolg: Swartwater, Sara se geheim, Fynskrif, daardie een wat aan die Waterfront geskiet is, was sy naam Waterfront? Dan was manlief aan sport verslaaf, enige iets, rugby eerste, dan gholf, krieket, tennis, fietry, die hele kaboedel is op ‘n piepklein iPhone skermpie gekyk. Tot ons Qazaqstan toe getrek het.

Hier het ons ‘n Apple TV ten duurste aangeskaf, dit van Almaty laat kom. Maar die dingetjie wou niks weet nie. DSTV is nie in Qazaqstan beskikbaar nie. En die Apple TV het geweier om met ‘n VPN te skakel. Dus het ons, tot omstandighede buite ons beheer ons verplig het om DSTV te staak, op ‘n piepklein iPhone skermpie staat gemaak om ons reekse te volg. Omdat VPN op die iPhone gewerk het.

Toe ons DSTV staak, was ons rigtingloos. Almal het aanbeveel dat ons by Netflix aansluit, en ek het dit dadelik gedoen. Ontnugterd besef dat Netflix se inhoud van land tot land verskil. En dat Netflix in Qazaqstan geen Afrikaans toelaat nie. Eintlik ook beperk word, baie goed is nie hier beskikbaar nie.

En dan moet mens weet, dit is nie soos om jou DSTV op kykNet in te stel en dan net te bly kyk nie. Jy moet deur duisende goed gaan soek om na iets te kyk. En ons twee hou nie van soek nie.

Dus het ek Netflix betaal, maar ons het nie gekyk nie. Miskien Sondae aande ‘n fliek gesoek, maar die meeste daarvan is so oud dat ons dit al in SA gekyk het. Of op vliegtuie.

Van vliegtuie gepraat. Ek het selde meer as een fliek gekyk, al het ons op drie vliegtuie geklim om tot hier te kom. Intussen het ek ontdek dat die tyd baie vinniger verbygaan as ek die een fliek na die ander inryg. Sommer vier op een vlug, met breektye vir eet en toilet toe gaan. En dit gaan ook met ‘n gesoek om die regte een te kry gepaard.

Dus was Netflix vir ons ‘n pyn eerder as iets anders.

Toe ontdek manlief Dedicated Survivor. Ek het so nou en dan gevolg, hy het gebinge kyk. Die een na die ander, want hy moes net weet wat verder gebeur. Ek nie. Ek het sommer ongeduldig geraak as hy die volgende episode wou kyk as dit lank verby slaaptyd is. Hy was ongelukkig as hy moes wag want dit was op ‘n spesiale plek. Mens moes dadelik verder kyk.

Dit is die nadeel van die reekse op Netflix. Jy kan aanhou kyk, jy hoef nie vir die TV te wag om dit vir jou te wys nie. Dus kan jy binge-kyk.

Ek het in ‘n groep, ek dink dit is op Facebook, gevra wat mens op Netflix kan kyk. En iemand het When Calls the Heart voorgestel. Dit gaan oor ‘n onderwyseres wat na ‘n piepklein dorpie toe is om daar skool te hou.

Baie mense het bevestig dat die reeks die moeite werd is. Een vrou het iets vreesliks gedeel wat in seisoen vyf gebeur. Ek was nogal ontsteld oor wat sou gebeur, omdat ek dit van die begin af sou weet, maar het manlief tog oortuig om die reeks saam met my te begin kyk.

En toe is ons twee aan die reeks verslaaf. Ek het die geheim met my saamgedra, my manlief nie ingelig wat ek weet nie. Buitendien, dit was mos moontlik dat die vrou gejok het? En dan bederf ek die reeks ook vir hom.

In Qazaqstan kan ons seisoen 1-5 kyk, siesoen 6 is nog nie beskikbaar nie, ons suig lyk my so bietjie aan die agterspeen wat bederf betref. Nadat ons die finale van seisoen 5 gekyk het, is ons bederf. Ek vermoed ons is gespeen van Suid-Afrikaanse sepies.

Hierdie reeks word in Kanada geskiet. Wat ons soos ‘n magneet trek, is dat mens so goed voel nadat jy elkeen van die episodes gekyk het. So anders as Suid-Afrikaanse sepies waar hulle jou trek om weer te kom kyk omdat die boef die oorhand het, trek die reeks jou om weer te kyk omdat die goed die kwaad oorwin.

Ek moet bieg dat ek op ‘n stadium gevoel het dat die hoofkarakters so bietjie too good to be true is, daarom het ek nogal van die stoute aktrise in die reeks gehou. Dit was egter juis die hoofkarakter se storielyn wat my episode na episode laat terugkom het om meer te kyk. Sy is pragtig en haar toneelspel is beslis puik. Ek skat kinders sou wat wou gee om so ‘n juffrou voor hulle in die klas te he. Al die karakters is vir my puik.

Nou wil ons iets soortgelyks kyk. Dus vra ek juffrou Google snip watter reekse soortgelyk is. En raai wat, sy kan sowaar help. Want ek is duidelik nie die enigste mens wat nou soortgelyke reekse wil kyk terwyl ek vir die volgende When Calls the Heart wag nie.

Die mense wat die aanbevelings maak, val egter so bietjie van die brug af. Ek dink nie hulle het die reeks deeglik gevolg nie.

Twee van die aanbevelings is sommer na die eerste paar oomblikke se kyk in die asblik gegooi. Die helfte van die aanbevelings is nie in Qazaqstan beskikbaar nie!

Ons het met moeite bly kyk en die eerste episode van Anne with an e klaar gekyk. Was nie heeltemal ontsteld toe dit nie verder wou laai en ons eers die volgende dag kon klaarkyk nie. Met When Calls the Heart sou ons nie gaan slaap het voor die probleem uitgesorteer is nie. Dus het ons dikwels bly kyk en net opgestaan om kos te maak.

Net gister skryf een van my blog vriende, Una, sowaar oor haar biblioteek van reekse. En vra ek of sy al When Calls the Heart gekyk het. Vandag laat weet sy dat sy seisoen 1 het, maar nog nie gekyk het nie. Ai Una, jy gaan verslaaf raak, ek moes jou gewaarsku het!

As jy ‘n reeks volg wat mens laat goed voel as jy klaar gekyk het omdat die goed die kwaad oorwin, wat jou in die lewens van die karakters intrek en jou saam met hulle laat lag en huil, sal ek graag wil weet. Ons het ‘n nuwe reeks nodig. Ek dink ek gan by Una se lys begin en kyk wat ons mag kyk. Ons sukkel om vatplek aan Anne with an e te kry, vermoed sy gaan uitskuif na een keer per week.

Ek dink ek gaan vanaand aanbeveel dat ons begin met Una se gunsteling: A place called home. Voel gepas.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

17 gedagtes oor “‘n Plaasvervanger vir When Calls the Heart?

  1. Ek het ook Designated survivor ge binge kyk…tot soms twee uur in die nag! Dit was vir my baie goed. Ek kyk ook When calls the heart, maar ek pace myself nou want te veel kyk op die klein skermpie laat my migraines kry! Ek het nog n reeks gekyk oor ‘n familie wat ‘n vakansie oord besit en die een broer is so washout, en die intriges rondom dit! Daai ene het ek ook gebinge kyk…..

    Like

  2. Ek is jammer ek het dit bederf toe ek vertel het wat gebeur in seisoen 5…. maar ek het vooraf gewaarsku dat julle nie moet lees as julle nog nie seisoen 5 gekyk het nie. Het nuuskierigheid die oorhand gekry? 😊 Het julle al Downton Abbey gekyk? Dis ‘n uitstekende reeks.

    Like

  3. Ek is ook op soek na ‘n nuwe reeks. Gaan rondloer tussen die voorstelle. Ek kan jou nie blameer dat jy Anne nie verder wou kyk nie. Ek het ook nie baie ver gevorder nie. Die boeke was fantasties; die reeks is so polities korrek dat dit my sooibrand gee.

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.