Ek kry vandag so Pinterest e-pos oor plasings wat my kan interesseer. En die een interesseer my toe sowaar dat ek verder gaan lees. Daarvolgens kan die tanien in tee die opname van yster in bloed in so mate beïnvloed dat dit tot bloedarmoede kan lei.
Dit het dadelik my aandag getrek. Want ek is mos verlede jaar met ernstige bloedarmoede gediagnoseer. Die ystertelling moet tussen 18 en 30 wees en myne was slegs ses. Dus amper niks. Volgens my verpleegster suster kon sy nie verstaan hoe ek nog regop kon wees nie. Mense word gewoonlik in die hospitaal opgeneem vir bloedoortappings.
En kom ek wees nou maar eerlik oor die saak. Ek bid dat ek nooit ‘n bloedoortapping moet kry nie. Nie nadat soveel mense in die ry gaan staan het om met ‘n ekperimentele stof keer op keer ingespuit te word nie. Die impak daarvan moet maar eers deeglik bestudeer word.
Gelukkig het my twee Coke-drips goed gewerk en het my yster na 16 opgeskuif.
‘n Tweede dokter het na die tweede toets van ystervlakke aanbeveel dat ek die ysterpille staak. En toe ek weer sien, word ek weer gou moeg. Dus het ek so twee weke gelede weer my ystervlakke laat toets. En dit het weer gesak. Dus drink ek weereens ysterpille.
My verpleegstersuster het daardie dag ook aanbeveel dat ek moet laat toets waarom my ystervlakke so laag is. Want dit kan nie vanself so laag daal nie.
En nou lees ek vandag op Pinterest dat tee die opname van yster in bloed in so mate kan beïnvloed dat dit tot bloedarmoede kan lei!
Dit het sin gemaak.
Ek het nog nooit die probleem gehad nie. Ek het niks van tee gehou nie. Maar, toe moet ek weens laktose weerstandigheid en die nare gevolge daarvan ophou melk drink. En koffie sonder melk was te sleg. Dus het ek in Kazakstan oorgeskakel na tee, juis omdat koffie in ons stad ‘n vreemde verskynsel was.
Dit het net sin gemaak dat tee wel ‘n verband met my lae ystervlakke kon hê. En nou sal jy seker wonder waarom ek glo dat dit my probleem kan wees.
Wel, ek drink 8 – 10 koppies tee per dag. Water is vir my besonder sleg en my lyf moet blykbaar 2 liter vloeistof per dag inkry. Dan moet tee maar die werk doen …
Dit gaan blykbaar oor die vlak van tannien in tee.
In Kazakhstan het ek swart tee gedrink, wat hoog in tannien is. Maar hier drink ek rooibostee, wat veronderstel is om gesond te wees. Teen 8 koppies rooibostee per dag, is dit dus moontlik dat ek te veel tannien inkry en dat dit die opname van yster beïnvloed.
Veral as mens soos ekke ‘n pot rooibostee saam met my etes drink – of eintlik voor ek begin eet …
Natuurlik wou ek eers daarvan seker maak. En tik ek toe in my blaaier “tea+impact on iron in blood.” Om deur die resultate geskok te word!
Daar is reeds verskeie wetenskaplike studies gedoen wat daarop dui dat dit wel waar kan wees. Daar word ook aanbeveel dat mens ‘n uur moet wag nadat jy ysterryke kos geëet het om seker te maak dat die tee nie die opname van yster beïnvloed nie. Ek sal maar die raad volg en kyk of my ystervlakke verbeter as ek nie na aan ysterryke etes tee drink nie …
Want … ek kan nou maar eenmaal net nie onthou om elke dag ‘n pil te drink nie.
Ek het al selfs van daardie 7-dae pilhouers gekoop en my pilletjie netjies daarin gesit om elke dag daaraan herinner te word. En as ek weer sien, het die dag sy loop geneem, nog so paar ander ook. En wag die pilletjies vir my …
‘n Aanklag teen my …
Ek het n tannie wat ook bsie kae ystervlakke het: inspuitings en pilke het gevolg… ek sal haar inlig! Dankie hiervoor.
LikeLiked by 1 person
Dit is regtig nogal insiggewend. Verskeie studies bevestig dit. En as mens so baie tee soos ek drink, is dit lyk my die gevolg. Wat het die ou mense altyd te vertelle gehad? Te veel van ‘n goeie ding is ongesond …
LikeLiked by 1 person
Ek dink meer navorsing is nodig – ek drink baie min rooibos, maar toe ek nou ‘does rooibos tea inhibit iron absorption’ vir Google gevra het, het ek verskillende antwoorde gekry 🙂
LikeLiked by 1 person
Dankie Anne, ek het op Google Scholar gekyk en daar is nogal heelwat wetenskaplike studies wat verband tussen tanien en bloedarme gevind het. mens se lyf het natuurlik ook ander faktore wat rol speel, Ek beperk nou vir eers die hoeveelheid tee wat ek drink. En het klomp water gekoop om myself te probeer forseer om water te drink. Dan gaan ek kyk wat dit maak as ek weer yster laat toets. As my ystervlakke styg, gaan ek maar minder tee drink.
LikeLike
Dit is nou baie interessant. Ek is ook op yster aanvullings, wat ek gereeld vergeet om te drink.
LikeLiked by 1 person
Ek is so bly daar is mense soos ek wat vergeet om ysterpille te drink. Ek vergeet glad nie op Maandae, Dinsdae en Woensdae as kleinkind by my is nie. Ek voel dadelik beter as ek ysterpille gedrink het. Watter een drink jy?
LikeLike
Ek drink ‘n oplosbare poeiertjie, QuadroFER.
LikeLiked by 1 person
Ek is die tee drinker in ons huis – ek meng so tussen gewone (Engelse) tee en Rooibostee. Ek drink nou wel nie so baie tee soos wat jy hier noem nie en het ook nie lae ystervlakke nie (sover ek weet) … maar jou artikel laat mens tog so bietjie dink. Ai ja, daai se-ding van “te veel van ‘n goeie ding” – dis altyd so fyn dans om balans te hou tussen alles!
LikeLiked by 1 person
Jy weet dan. Ek sukkel daarmee om nie te veel van ‘n goeie ding te wil drink nie. Ek het 78 verskillende soorte tee, die meeste van Kazakhstan af terug gebring. Maar nou is ek sooooo suinig om dit te drink of met ander te deel …Ek gaan maar sny op die tee en meer water drink. Hoe ek dit gaan inkry weet ek nie …
LikeLiked by 1 person
Sjoe 78!! Wat van as jy die water so ‘n bietjie “op jazz” … jy weet, ‘n paar suurlemoen skyfies ingooi of pepperment blare? Ek is ook nie mal oor water nie (veral nie in die winter nie), maar dit is seker die gesondste van alle drankies … wel, behalwe ‘n glasie rooiwyn, maar mense sal jou dalk vreemd aankyk as jy 10 uur in die oggend met ‘n glasie rooiwyn rondstap 😁.
LikeLiked by 1 person
Daai is natuurlkik waar, veral as ek kleinkind rondstoot in sy waentjie. Ek hou van die suurlemoen idee, ek sal dit eerser probeer.
LikeLiked by 1 person
Volgens google is daar nie tannien in rooibostee nie. Ek het so gedink, rooibos is veronderstel om net goed te wees, maar ek wou wers seker maak. So as jy rooibos drink, is jou yster nie veronderstel om geaffekteer te word nie
LikeLiked by 1 person
Dit bevat wel tannien. https://www.medicalnewstoday.com/articles/323637. Minder as swart tee, maar dit bevat wel. My probleem is dat ek tee in oormaat drink, en die bietjie hoop dan op om baie te word. Soos ‘n pot rooibostee in plaas van koppie per keer. Ek gaan dit egter wel toets, en sorg nou dat ek nie binne ‘n uur van ysterryke kos tee drink nie. Moeilik!
LikeLike
Ek het nou weer gegoogle. Blykbaarmiso 4% en swart tee oor 11% en groen tee so 2%. Wat van appeltee? Sny nbappel fyn en gooi kookwater op. Jy kan ook n sruppel auurkemoensap bysit vir meer smaak as dit te flou proe. Jy k stokkie kaneel bysit ens. Eksperimenteer- en vertel ons!
LikeLiked by 1 person
Dankie, vriendin, ek maak so en sal vertel.
LikeLike
Ek sukkel ook om die pilletjies te onthou … jy kan dalk kyk na Vit C. Help dit nie met die opname van yster nie? En B12 inspuitings.
LikeLiked by 1 person
Toortsie, dankie vir die raad. Ek het ‘n voorraad, vergeet om pilletjies te drink. En die enigste lekker vita C vir my is Calcvita
LikeLiked by 1 person