Dominee is in die hospitaal

Gisteraand blaai ek so deur my Facebook en kom op ‘n inskrywing van dominee Kobus Pienaar, ons predikant by Kruingemeente in Krugersdorp af.

Afgeneem in die hospitaal. Luisterend na Brahms op sy oorfone. En sy kwinkslag en fyn gebruik van taal is in die inskrywing. My Kruin verander na My Kroon. Ons kroon is siek.

As taalonderwyseres vang dit my oor dadelik. My Kroon. Maar my brein wil daai drama se titel nou sowaar nie oproep nie. Ek weet, ek sal dit seker môre-oggend onthou. Want dié brein hou mos aan met probeer onthou as sy weet sy het geweet.

Ek dwaal af. Ek het nie geweet ons dominee is siek nie. Ons was mos Februarie laas in die kerk. Voor ons hierheen gekom het. Die preke word egter gereeld vir ons aangestuur. Om hier in die vreemde in Afrikaans na die Woord te luister. Uit die mond van ons dominee Kobus.

Vriende hier kan nie verstaan waarom ons na ‘n podsending van die preek luister nie. Ons kan mos na een van die preke op die TV kyk en luister. En ons kan ja. Met ons Apple TV kan ons. Maar ons wil nie.

Die meeste van die TV-dienste is soos ‘n vertoning. Dit is nie soos ons kerk nie. Voel nie soos ons kerk nie. Nie soos ons dominee nie.

Ons dominee speel met woorde, toor eintlik daarmee. Ons dominee speel met sy stem. Lag soms as hy iets sê. En speel ook met sy lag om ons aandag te hou. Want soms wil hy juis met die lag ons bedag maak op goed wat verkeerd is. Nie gedoen moet word nie. En dan is lag eintlik onvanpas-vanpas.

Ons dominee is plat op die aarde. Ken elkeen van ons op die naam. Groet ons op die naam. Besoek ons wanneer ons in die hospitaal is. Hou ons in sy hart. Soos ons vir hom en sy Nadia.

En ek moet net dadelik weet, is hy ok? Waarom is hy daar?

Die antwoord is verpletterend. Hy is al drie weke siek. En ek het nie geweet nie.

Ek het Vrydag juis vir Corrie ‘n e-pos gestuur. Met ‘n lysie van die preke wat ek het. En ‘n versoek om nog te kry. Sy het laat weet die lysie is soos wat sy het, sal vir my ouer preke aanstuur.

Want sien, Corrie het ook nie geweet dat ek nie weet dat dominee Kobus siek is nie. En nou is ons so ver weg, ons kan hom nie in die hospitaal gaan besoek nie.

Ek glo darem dat die gemeente hom gaan besoek. Omdat hy altyd vir ons daar is.

En dan wonder ek. Is dit telepatie? Dat mens tog op ‘n manier weet dat daar fout is met die mense wat na aan mens se hart is. Nie presies weet wat nie, maar eerder ‘n aanvoeling.

Omgesit in jou eie woorde as ‘n verlange om nog preke te kry. Want jy verlang na die stem wat die Woord aan jou verklaar. En daardie stem is op die oomblik siek. Het ons voorbidding nodig.

En ons bid aan die kant van die aarde, 10 000 km weg van ons.

Liewe Here, U ken die omstandighede, maak die dokters se hande asseblief sterk, hulle breine helder, dat hulle U gekose herder gesond kan maak, om ons met sy kwinkslae en musiek weer veilig na U te lei. Amen.

Nadat ek dit geskryf het, gaan soek ek foto van hom om hier te deel. En lees ek die nuutste inskrywing raak.

Sien, ek moet dit net deel, hoop nie jy gee om nie, ds. Kobus, dit som jou beter op as wat ek bo beskryf het.

Ek sit gister en kyk na my brein – die MRI skanderingsresultate. Die fraktiele geometrie val my op. En ek dink is dit nou dit, is dit my teater waar ek karakters skep, laat praat en dans en lag en huil en hoop en wanhoop. Is dit waar al die komplotte afspeel? Is dit ek? Is dit die apparaatjie waarmee ek dink ek dink.

Carina Malan kom ingestap. Sy vra “wat is dit dié?”. Ek sê “dis ‘n kiekie van my brein”. Carina merk verbaas op:”So jy het sowaar ook ‘n brein”.

Carina spot lekker, ons weet daar is ‘n goeie brein.

Ek mis sy preke. Hy vra nou die dag of ons luister, ons doen ja. Hy sê hy het nog nooit daarna geluister nie. Ons het nie vertel dat ons ook na sy stem luister as hy saamsing nie. En dat ons nie geweet het hy kan sing ook nie. In die kerk hoor mens die gemeente, ons hoor dominee. Wat ‘n voorreg om in die voorste stoele te sit van die teater, waar hy die karakters laat leef.

Ons ken hom nog nie lank nie, het in Februarie 2018 na sy kerk gegaan. Nadat ons so ruk van die NHK weggedwaal het. Ons kon egter nie holte vir ons voete in die NG kerk of Mosaïek vind nie. Mosaïek te veel van opvoering, NG-kerk help nie lidmate om attestate te kry nie.

En ons s’n het weggeraak toe St Helena in Welkom met Riebeeckstad saamgesmelt het. Ons ds. Maarten Fouche het gehelp om die probleem op te los. ‘n Man soos ds. Kobus, plat op die aarde. In die stad het ons sy soort ds in ds Kobus kom vind.

In die kort tydjie het hy deel van ons lewens geword. Ek het nou die dag vertel hoe hy ‘n Ninja-groet vir my kleinkind gespring het. En ek het ‘n brief aan die gemeente en ‘n tweede een geskryf. Omdat hy my aangemoedig het om van die lewe hier te vertel. Dit is eintlik hoe die reisjoernaal spoed begin kry het.

Bid asseblief saam met my vir sy herstel.

Foto: Ds se foto op FB geleen. Van hom en Nadia.

11 comments

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.