Kleinseun het gister (en toe natuurlik vandag ook) by my gebly omdat hy baie siek was. Koors het by 38’s gedraai en ek het groot geskrik.
Want hy weier toe om Neurofen te drink. Of Calpal wat nou die dag nog vir hom lekker was. Hy spoeg as ek net probeer om die spuiting naby sy mond te bring.
Maar, hy is so moedeloos dat ek nie verder karring nie. Ook nie met die setpil wat mamma saamgestuur het nie. Hy vra so mooi dat ek dit nie in sy boudjie moet sit nie. En daarom dink ek dat mammas en pappas dit moet doen, nie oumas en oupas nie …
Ek koel hom dus eerder in koelerige water af en gebruik nat lappies om hom af te koel.
So voel ek vandag nie lekker nie. My rug is seer, ek het ‘n spierverslapper gedrink wat mens eintlik saans moet drink (dokter het gesê ek kan drie maal per dag drink) en ek is duiselig. Toe ek gaan toets, is daar goeie rede daarvoor, my bloeddruk is laag, sommer baie laag (102 / 53) rede om regtig nie lekker te voel nie.
Ek lê by hom op bed en hy kyk stories.
En hy eet, sommer baie vandag nadat hy gister niks wou eet nie. Hy drink ook.
En toe bestudeer die tweejarige (amper 3) my. Nadat hy my uitgekyk het, onthou hoe hy hoe ek hom verpleeg het:
“Ouma, jy warm, jy baie, baie warm”
En toe ek wil opstaan:
“Jy moet lê.”
Ek lê en hy is uit die kamer.
Ek gaan soek hom, want hy kan mos al baie goed doen. Deure oopmaak ook, al weet ek ek het die voordeur se sleutel weggesteek, moet ek kyk waar hy is
Hy is vies, raas met sy pasiēnt:
“Gaan jou bed.”
“Lê!”
Ek nie so met hom gemaak nie. Nie geraas hy moet lê nie, hy het sommer vanself gelê. Siestoggies, hy was baie siek.
Ek sê ek sal op die bank lê en hy is tevrede en uit is hy by die stoep, waar hy mag.
Terug kom hy, handjie in vuis gevou.
“Maak oop jou mond ouma.”
Ek vra wat dit is en hy antwoord:
“Jou syne ouma. Jy gaan beter voel.”
O toggie, hoe oulik, daai is wel my woorde.
Ek wil nie, het geen idee wat in die handjie is nie en ek voel al klaar duiselig. Net-nou is dit iets wat my laat hol vir die toilet.
Ek stuur hom om oupa te gaan wys, dat oupa maar vir my laat weet dit is eetbaar.
Maar, hy gaan en vra nie. Die medisyne moet ek inkry.
Ek besluit om ander taktiek te toets, gaan haal vyf Smarties uit my handsak, sê hy moet een vir my gee, dit is my medisyne.
Maar nee, Smarties is syne en hy weier, hou almal in die vuisie vas.
“Myne Marties!”
Daar wen hy weer, ouma het steeds meds nodig en ek dink aan iets anders.
Toe sê hy vir my:
“Draai om, Ouma”
“Bhoekie af!”
En toe ek omkyk, kyk ek vas in handjie wat gereed staan om die Smartie vir sy ouma as setpil te gee. Soos ‘n wieletjie vasgehou!
Ek het so gelag dat ek amper verstik het.
En toe vir hom verduidelik ek het mos nie vir hom ‘n setpil gegee nie?
Hy het die Smartie so gestaan en kyk en besluit dat hy dit dan maar liewer gaan eet.
Dankie, tog.
Ek is absoluut mal oor die manier waarop hy met my speel.
So, Smarties doen sy naam gestand …
Watalotigot!
Julle sal verbaas wees tot waar dit kan strek, Smarties!
Ha ha! Christa!
LikeLiked by 1 person
Smarties gaan my beslis altyd laat lag. Wonder wat hy sou maak daarmee as ek die opdrag uitgevoer het?
LikeLiked by 1 person
Wat ‘n oulike storie!
LikeLiked by 1 person
Ag, Anne, ek kan die mannetjie opeet!
LikeLiked by 1 person
Dis te kostelik.
LikeLiked by 1 person
Ek het sop gelag, dit was baie, baie snaaks.
LikeLiked by 1 person
Wat ñ kosbare storie, een wat julle nog baie jare oor sal lag.
LikeLiked by 1 person
Oe, Una, ek het juis vandag gedink ek gaan vir hom ‘n boek maak met ons oomblikke en foto’s om te bewaar.
LikeLiked by 1 person
Jy moet dit defnitief doen, jong. Gelukkig het mens dit ook op jou blog.
LikeLiked by 1 person
Mens het, mens het beslis.
LikeLiked by 1 person
Smarties was ook ons medisyne toe ons klein was! Ek het nou lekker saam met jou gelag – dis pret om te sien hoe hy groot word!
LikeLiked by 1 person
Ag dankie, hoor. Ek geniet hom verskriklik baie.
LikeLiked by 1 person