Na vier maande in Qazaqstan gaan ek baie goed mis as ek huis toe gaan

Na vier maande in Qazaqstan is daar reeds ‘n paar goed wat ek baie gaan mis wanneer ons teruggaan. ‘n Paar daarvan sal ek so stuk-stuk terugneem, om daar te geniet tot dit klaar is. Ander sal net in my herinneringe wees.

Tee. Hulle het die lekkerste verskeidenheid. Myne bestaan al uit 20 soorte, en ek het nog nie alles gekoop nie. Die lekkerste vrugtegeure. En rooibos, maar iemand het hulle aan die neus gelei. Dit is nie rooibos nie. Ek hou niks van black tea (gewone tee) nie, daarom drink ek in Suid-Afrika rooibos tee. Ook nie van groentee nie, al drink ek dit omdat dit vir my goed is. Ek bou ‘n voorraad op om huis toe te vat, en sal drink tot dit klaar is. Kan nie laat aanstuur nie, dit kos ‘n arm en ‘n been om goed van hier daarheen te stuur.

Vrugte. Ek stap elke tweede of derde dag mark toe. Om so by die straathandelaars my voorraad aan te vul. Kersies. Piesangs. Spanspek. Aarbeie. Perskes. Appels. Pruime. Druiwe. En dit kan ek nie saamneem nie. Daarna sal ek net kan verlang. Ek geniet dit veral vandat ek ontdek het dat dit baie langer vars bly, as ek dit in die yskas hou en nie as tafelversiering gebruik nie.

Groente. Ek koop terselfdertyd my groentes wanneer op by die mark is. Tamaties. Uie, Slaaiblare. Bossies kruie. Aartappels. Wortels. Beet. Hier is nie pampoen of pampoenerige groentes nie. Soos butternut. Daarvan gaan ek sommer baie in Suid-Afrika eet. Al hou ek nie eens baie daarvan nie. Die aartappels hier is geel, baie, baie lekker. Wortels is soet. En neute en gedroogde vrugte word sommer so per kilogram aangekoop!

Kousies. Genade tog, maar die mense dra mooi kousies. Ek koop en koop. En dit gaan saam as ons Suid-Afrika toe gaan. Sommer pakke daarvan, al loop mens heel dag daarop, word dit nie vol gate nie … My ma het, nadat sy hare gekry het, sommer bestellings by die kerk geneem. Ek gaan baie moet saamvat, ook vir die wat wil koop as hulle myne sien …

Veiligheid. Ek neem soveel foto’s, my foon se geheue gaan opraak. 124GB. Want ek kan my foon sommer in die hand dra. Niemand wil dit by my steel nie. Ons kar staan op straat. Geen begerige oë staar daarna nie. Inteendeel, die mense ignoreer mens sommer op straat. Mind their own business. Ek lief dit, ek doen ook.

Warm huise in die winter. Genade tog, Suid-Afrika is nie so ingerig vir die winter nie. Ek het saans gevries toe ons onlangs daar was. Daarom gaan ek idees saamvat as ons huis toe gaan en nuwe plek bou. Dik buitemure. Dubbele buitedeure. Dubbele vensters. Muurpapier. En dalk ‘n donkie. Om warm water te stook wat deur pype my huis inkom om oral warm te maak. Om in die winter snoesig te slaap.

Vriendskap. Hier werk dit soveel anders. Omdat ons oral kan stap omdat ons veilig is, kuier ons baie. Genade tog, dit gaan ek in die RSA mis. Om sommer gou-gou by ‘n plekkie te ontmoet nie. Of saam te stap mark toe nie. Hier is drinkplekkies in elke gebou, te veel om van te kies.

Die klein winkeltjies onder elke gebou. Waar mens enige iets kan koop. En wat net so goedkoop of duur soos die groot winkels is. Want hulle mag nie doodgedruk word nie. Die lekker van ‘n kommunistiese verlede. En natuurlik om mense te beskerm ten uitbuiting tydens die lang winters. Alles is sommer naby aan die woonplekke beskikbaar.

Goedkoop en veilige publieke vervoer. Die taxi’s, trems en busse is betroubaar, al is hulle baie oud. En goedkoop. Mens betaal in sente (tenges) daarvoor. Tagtig (27c) vir die bus en sestig (20c) vir die trem. Jy klim op, betaal en daar gaan jy! Waarheen die spore lei. Ek gaan dit nog doen. Ry tot waar die spore klaarmaak. En terug.

Apteke. Hier is bykans onder elke gebou ‘n apteek. Waar jy baie van die Suid-Afrikaanse medisynes wat net per voorskrif beskikbaar is, oor die toonbank kan koop. Selfs anti-biotika. Maar, een pil op ‘n slag. En daai een pil maak elke kiem dood. My vriendin moes nog nie teruggaan nie. En ek verstaan die logika, hulle ken die medisynes. Dokters nie.

Restaurante. In ‘n radius van twee kilometer het ek te veel keuses om op te noem. Daarom loop en toets ek en my man bykans almal. En ons ontdek steeds. Behalwe vir perd eet hulle soos ons. Lekker. Alhoewel hulle nie mooi van slaai weet nie. En droë brood aanbied. Tee word ool swart aangebied. Waaroor ek aanvanklik dankbaar was. Want hulle drink – ja jy het reg gelees – perdemelk!

Die mooi plekkies in en om die stad, waar mens veilig kan gaan sit en droom. Sonder die vrees om aangeval te word. Al werk jou SA-veiligweesradars steeds oortyd, raak mens daaraan gewoond.

Om saans ‘n paar treë te stap om vermaak te word. By die sentrale plein se musikale waterfonteine. Genade tog, dit is mooi. Hierdie video en hierdie een is geneem toe die son al amper onder was, nege-uur in die aand! Dit voel na aan die hemel om 10 uur in die nag veilig op straat te wees. Ons gaan nie elke aand nie, maar hoor die musiek so hard waar ons bly dat mens vensters moet toemaak as jy nie wil hoor nie.

Petrol. Klink snaaks, né? Maar ons betaal R6 vir petrol. Gooi in en vergeet om weer in te gooi. Gelukkig waarsku Dusty mens.

Die kostes verbonde aan uiteet. Ons betaal onder R200 by die meeste van die restaurante. Vir kos en drank, myne ‘n pot tee. Het nou die dag 20 000 tenges (R800) by nuwe restaurant betaal, gaan nie weer daar eet nie. Ons is hier om te spaar.

Die stilte van politici. Dit is hemels, geen grootbekke wat die son en maan en aarde belowe en dit dan nie gee as hulle voor die kospotte van Egipte staan nie. Geen opstokers om stemme te kry en dan vergeet van die beloftes as hulle met hulle ingevoerde skoene rondloop nie. Hier kom en gaan stemdag bykans ongesiens vir ons wat nie stem nie.

So, wat is daar om na uit te sien as ek teruggaan?

My kinders en kleinkinders en honde. Ek verlang my dood, dus hou ek my baie besig. Om die tyd om te kry. En gelukkig kuier ek hulle op as ek daar is, om die liefdestenkies van ouma en oupa weer mooi op te vul. En van pa en ma.

Om in Afrikaans met ander te praat. Ek gaan sommer min Engels praat die eerste ruk. Hier praat net my man met my Afrikaans, ek mis vriendinne wat my taal kan praat.

My kerk en my dominee. Ek mis dit om in die kerk te gaan sit en stil word. Voor die preek begin. Die preke wat aangestuur word maak die verlang darem minder.

Om in winkels verstaan te word. O my genade, Russies is moeilik! Dan sukkel ek liewer met iemand wat die meeste van my woorde verstaan.

Om vleissnitte te kan koop. Fillet. Steak. En natuurlik wors. Al sê manlief dat my eerste poging om wors te maak, lekkerder is as al die wors wat hy al geëet het, wil ek tog net kan instap en wors kan koop. En biltong. Al eet ek self min daarvan. Die reuk daarvan sal altyd lekker wees. Ons maak self biltong, maar dit is net nie dieselfde nie, ek moet nog die slag kry met hierdie vreemde asyn in Qazaqstan.

Pap. Om wit meel te gaan koop en maak. Ek koop nou grofgemaalde geel mielies, wat lyk soos hoenderkos en maal dit met Thermie fyner om pap te kan maak. Hulle ken nie pap nie.

Goedkoper klere, hier word alles ingevoer. En die verskeidenheid is baie beperk, omdat hulle van kant en valletjies en plooitjies en blommetjies hou. Ek kan darem mooi kry as ek soek. Maar rokkoop is weer ‘n ander storie.

Publieke toilette, langs paaie. Ja ek weet, dit klink belaglik. Maar as die nood druk, werk die land se toilette op die paaie nie vir my nie. En dan kies ek maar die bos.

Materiaalwinkels, ek het een ontdek. Met ‘n baie beperkte keuse. Sal materiaal moet inbring as ek wil klere maak. My Russiese vriendin het my van nog twee vertel, ek gaan netnou ondersoek instel.

Om vroeg in die winkels te kan wees. Hie maak winkels eers 10 uur oop. Gister maak ek eers huis skoon, terk mooi aan en toe gaan ek winkels toe om vir my vriendin ‘n geskenk te koop. Sy verjaar. Maar, o my jitte, toe ek daar kom, moet ek ‘n halfuur rondstaan, want die winkels maak eers 10 uur oop. Seker oor die winter, want dan is die son skaars op. Dit maak darem ook eers weer 10 uur in die aand toe. Dus is daar selde spitsverkeer by die kassiere.

Maar ek kla nie, ek verel net. Daar is een ou liedjie waarmee ek saamstem:

My huis is waar jou hart is, en dit is waar manlief is. Dus is tuis tans hier, en geniet ek dit hier. Wanneer ons terug is, gaan tuis daar wees, want manlief sal daar ook saam met my wees. Dit wat ek hier geniet, sal na die agtergrond skuif. Dat ek daar ook geniet. En my veiligweesradars net in oortyd laat werk.

Ek wonder of die Russe en die Weste nie per ongeluk in oorloë betrokke geraak het nie. Hoe betroubaar was hulle tolke? Want Google Translate is nog nie betroubaar genoeg om op haar staat te maak dat sy sê wat ek skryf nie … Wat is die kans dat die tolke oorlog wou maak …

8 comments

  1. That was a great read, I so enjoy hearing your views about Kazakstan. Enjoy the fruit and vegetables while they last, in winter ‘die kiese is min’.

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.