Gepubliseer in Joernaal,Reisjoernaal

As ongevalle dokters vir jou seer lag …

In November 2019 het ek, net voordat ons na Suid-Afrika toe is vir ‘n week, ligte vriesbrand in al tien vingers opgedoen.

Ek wou dadelik dokter toe, want my vingers het nog nooit so gepyn en gebrand as hulle koud kry nie.

Manlief het gedink dat ek simpel is. As dit frostbite was, sou my vingers swart geword het. Dit het nie. Ons is twee dae later op die vliegtuig.

Op die vliegtuig het ek teen die skerm gedruk. Ons Astana-vliegtuig het TV-skerms gehad! Hoe wonderlik! En toe voel my duime se punte sag. En bly dit ingeduik waar ek op dit druk.

Het jy al daardie paniek beleef? Die adrenalien wat deur jou are pomp? Daardie wat wil hê jy moet veg of vlug? Beide kan jy nie op ‘n vliegtuig nie. Ek was lam van skok.

En natuurlik is ontkenning eerste in jou kop. Dit kan nie! En twyfel. Kan dit?

Ek het oor die saak gaan oplees en daar is regtig te min oor ligte vriesbrand geskryf. Die fokus is op uiterste gevalle waar vingers blase maak. Swart word. Afgesit kan word.

Net soos my lae bloeddruk en lae bloedsuiker is ligte vriesbrand ook nie vir medici ‘n probleem nie. Mens moet mos hoë bloeddruk, hoë bloedsuiker en swart vingers hê voordat daar aandag aan jou nietige probleem gegee word.

Vir ons wat dit het, daagliks daarmee saamleef, is lae bloeddruk ‘n probleem. Ons voel lam en tam en soms duiselig as ons opstaan. En dit beïnvloed ons lewens, kan self lewensgevaarlik wees as jy op die verkeerde plek duiselig word.

Lae bloedsuiker is ‘n probleem want ons bloedsuikervlak, wat reeds laag is, spike na gevaarlike lae vlakke waar mens in ‘n koma kan ingaan. As ons te veel suiker inkry. Soos in ‘n glas wyn.

Mense aan tafel verstaan selde waarom ek nie drink nie. Daardie gevoel wanneer dit voel of jy in ‘n swart massa insak, is alles behalwe lekker.

Net so met ligte vriesbrand. Ek het nie die uiterste simptome gehad nie. Maar my vingers het seergekry.

Aan die kante van die voorste lid van verskeie vingers het die vel ‘n soort van blasie gevorm. Nie ‘n blaas wat oopbars nie, net opgehewe gedeeltes. En ek het snags wakker geword van vingers wat verskriklik koud was. Met moeite warm gemaak kon word. En pyn.

Al my kneukels was rimpelloos, glad en half geel as ek my vingers reguit maak. En seer.

My wysvinger aan die linkerhand het ‘n groot blaas onder die vel gemaak, diep binne sodat dit op die oppervlak net opgehewe lyk. As ek egter met die vinger probeer tik het, het dit gevoel of ek op ‘n sakkie vloeistof druk. Wat my absoluut paniekerig gemaak het.

Veral omdat die twee duime ook so gevoel het. Platgedruk kon word. En so gebly het waar dit gedruk is.

Toe ons in Almaty land, vra ek om dokter toe gevat te word. Twee dae is verby en ek het die derde een gevrees!

Manlief was dikmond. Hy sal gaatjie in my vingers kon druk om te wys dat hulle reg is, want daar is bloed. Die vingers is rooi.

Ek wou dokter se raad hê omdat my vingers volgens my agteruit gaan.

Daar bevestig die dokter my vermoede. Ek het wel ligte vriesbrand opgedoen. Aangesien elke vingerpunt koud en warm kan voel, moet ek my vingers mooi oppas en warm en vogtig hou en drie dae later ‘n dokter in Suid-Afrika gaan sien.

En hy waarsku my: Volgende keer kan jy maar los om dokter toe te gaan as jy drie dae wil wag voor jy een sien. Dit sal te laat wees.

Eerstehulp is onmiddelik nodig. Wat manlief gedink het dom is om te gaan.

Die eerstehulp het ek so half en half gedoen. Vingers onder lou water warm gemaak. Die ding is dat dit vier keer per dag vir 40 minute warm gemaak moet word. Ek het nie. Ook nie so lank nie.

Drie dae later besoek ek ‘n dokter wat weer kyk en bevestig dat my vingers nie ernstige skade opgedoen het nie.

Sy is bekommerd oor ‘n swart strepie oor my vinger. En ‘n kolletjie swart. Ek sê dit kan ink wees, ek het met ink gewerk.

Toe ek egter later die dag ‘n swaar skinkbord in my ma se huis optel, pyn my linker wysvinger, die een met die diep blasie onder die vel, asof ek hom stukkend gesteek het waar die houtskinkbord teen my vel gedruk het.

‘n Reguit blou lyn het oor die skuinste van die vinger gelê. Daar waar die dun swart strepie die oggend was.

Die blou kolletjie bokant die lyn het soos die bloedblasie lyk wanneer mens jou vinger vasgeknyp het. En daardie kolletjie het al groter geword terwyl dit geklop het. Asof dit uit wil kom.

Ek besluit toe om terug te gaan na die dokter, maar sy is op ete. Want al die vingers word al seerder, al tien vingers was weer ysig koud.

My ma se veldokter sê toe dat ek na Midstream Mediclinic moet gaan omdat sy nie kennis oor vriesbrand het nie. Ongevalle.

Daar gekom moet ek ‘n hele klomp geld inbetaal omdat die hospitaal meer vra as wat die medies dek. En wag.

Terwyl ek wag, gaan ek badkamer toe om die vingers onder warm water te hou. Mens bid onophoudelik terwyl jy wag. En glo die merk is net ink.

En ek moet die merk op my vinger probeer afwas. Dalk was dit net ink? En verbeel ek my die vingers pyn so?

Mens is ook angsbevange om wel te vryf. Dit is een ding waarteen elke webblad met raad waarsku.

Die vryf onder warm water het die merk ligter gemaak en toe die dokter my uiteindelik kan sien, was daar ‘n duikie op my vinger waar die blou was.

Die dokter kon dus nie die simptome van die rede waarom ek dokter toe is sien nie.

Ek wys waar die blou was, maar sy lag net. Die duik in my vleis.

Dit was seker ‘n vuil merk of inkmerk op my vinger. O ja, en daardie vinger word meer as ander gebruik, dit is waarom daar ‘n duikie in die vel is, hoor ek by my gesin na die tyd.

Sien, wys hulle vir my. Hulle het ook merke oor hulle vingers. Ek het verniet om hulp geroep. Dan raak mens stil. Jy wat elke dag met daardie vingers werk, weet daardie duik was nie daar nie. Dit sit waar jou vinger ‘n uur gelede gepyn het. En blou was.

Ewenwel, ek wys vir die ongevalle dokter die ander tekens dat my vingers seergekry het. Daardie tekens wat die dokter in Almaty as vriesbrand herken het.

My duime se vel wat induik en nie terugkeer na die regte vorm nie.

Die opgehewe dele aan die kante van die voorste lede van al my vingers wat soos die begin van blasies lyk.

En die pienkerige blaas op die kneukel wat goed seer was.

Sy sit haar hand met knobbels langs die voorste lede van haar vingers langs myne, lag onbedaarlik en sê dit is deel van ouderdom. Almal se vingers word so soos wat ons ouer word.

Myne nie. Ek het nie sulke knobbels aan die kante van die lede gehad nie. Dit is waarom my brein uitfreak! Haar nie wil laat vertel dat sy spoke sien nie. Ek roep tog nie wolf as dit ‘n skaap is nie?

Die gelag oor my seer het ons meer as R3 000 uit die sak gejaag.

Met ‘n bloedtoets wat darem bevestig het dat ek nie meer as die normaal aantal dooie selle in my bloed het nie. Dit het darem troos gebring.

Die doktertoeganery het egter ook veroorsaak dat die mense na aan my gedink het dat ek wolf skree as daar geen wolf is nie.

My vingers is nie vol waterblase nie, sê hulle. Wys vir my foto’s van uiterste gevalle. As dit frostbite in die ergste graad was, sou my vingers teen dag drie al swart gewees het. Ek is net dankbaar dat my gebede gehoor is.

En ek praat nie meer oor my vingers nie. Vir grappe sien ek nie kans nie, die vingers was twee maande later eers beter.

Bly warm as ek hulle warm hou.

Maar, as ek uitgaan, selfs met my dikste handskoene net ‘n paar dunneres daaronder, skree hulle wolf! Dat hulle nie warm genoeg is nie. En voel hulle punte dooierig as ek aan iets vat.

Sodra ek buite kom as die temperatuur laer as -10 is, is die pyn onmiddelik in elke vingerpunt terug.

Voel hulle daarna ysig en voel ek die waterblasie-effek as ek tik.

Drie maande later is die blasies langs al my vingers se voorste lede opgeklaar, byna weg. Lyk my vingers weer soos hulle vroeër gelyk het. Sonder die knobbels wat volgens die ongevalle dokter deel van my verouderingsproses is.

My kneukels is nie meer glad nie, hulle het weer rimpels!

Die ding wat die meeste pla, is dat die vrou vir my gelag het.

Asof ek vol iepiekonders is. Ek is nie die een wat die tekens misgelees het nie.

Onkundig was sy beslis.

Het vir my vertel dat dit die eerste keer is wat sy met so iets te doen gekry het. En dat sy net so bang soos ek was toe sy hoor dat so ‘n geval in SA is.

Daardie verstaan ek, mens kry mos nie hierdie probleem in Suid-Afrika nie. Wat ek nie verstaan nie, is waarom my geval dan nie vir haar as leerproses kon dien nie. Sy kon tekens van ligte vriesbrand leer herken het.

Want sien, dit is ‘n onverantwoordelike ding om te aanvaar dat die knobbels aan die kante van vingers knobbels is. Net omdat ek ‘n ouer vrou is. Alle ouer vrouens se vingers is nie vol knobbels nie!

Wat ek eintlik wil skryf, dink ek, is dat ligte vriesbrand definitiewe tekens het.

Wat met die blote oog gesien kan word.

Hoop dit help iemand wat eendag in my posisies sal wees.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

22 gedagtes oor “As ongevalle dokters vir jou seer lag …

          1. Dit gebeur ook dat daar so baie ongevalle is en net een werklike dr dat die dr net nie kans het om te dink nie. Na my val moes ek meer as n half uur wag voordat ambulansmanne my kon oorhandig aan hospitaal en daarna was dit nog maklik n dertig minute voordat die werklike dr my kon sien. Daar was moeilike oordosis gevalle wat voorkeur gekry het. In tussentyd het die suster al die nodige vrae gevra en antwoorde neergeskryf. Toe was dit nog n lokum dr uit Skotland ook.

            Like

          2. Darem pynpille gekry en is huistoe om drie dae later my dr te besoek wat my vir catscan te doen. My neus was toe gebreek. Daaraan kan nie veel gedoen word nie. Net wag om te kyk hoe dit aangroei(wat darem redelik reguit gagroei het; nie nodig om hom te breek en reguit te maak nie).

            Like

          3. Dit gebeur in n oogwink en dan sit mens met die gebakte pere. Na n jaar is my neus met tye steeds gevoelig. Jou liggaam werk mos met die seer plekke en beskerm dit deur ekstra kraakbeen te vorm(artritis!) Selfde met jou vingers. Jou liggaam is steeds besig om daaraan te werk. Hanng af hoe groot die skade is. Sterkte maar vir jou en jou vingers ook. Die gevoeligheid/doodsheid sal maar altyd daar wees

            Like

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.