Gedigte Wat Dink, een van my vriendinne in die bloggemeenskap vra gister vir my om ietsie te skryf oor wat manlief in Qazaqstan maak.
Ek praat baie oor hom, maar het nog nie my hand daaraan gewaag nie. Ek is nie seker of dit sy goedkeuring gaan wegdra nie. Hy lees nie my blogs nie. Dus gaan ek tog daaroor gesels. Maar, dan begin ons by die begin.
Nou moet ek eers iets vertel daaroor vertel. Ek het by Welkom High skoolgehou, En aan die begin van die jaar vir die kinders gevra om vir my meer oor hulself te vertel. Dat ek hulle kan onthou.
Die een laaitie vra of hy by die begin kan begin. En hierdie groentjie juffrou het geen idee dat seuns onmoontlik kan wees nie. Dus sê ek ja.
En hy val weg met ek het geswem en geswem en geswem … met arms wat beduie hoe hy swem. Ek het nie verstaan nie en die meisies het gewys ek moet keer. Die seuns het gelê soos hulle lag. En ek moes keer voor hy woorde gebruik wat nie in ‘n klas en voor sy skaam juffrou gebruik mag word nie. Om sy geboorte te vertel!
Wonder soms hoe die storie sou wees … Met beperkte Afrikaanse woordeskat. Soos myne nou. Ek begin manlief se storie nie so ver terug nie.
Manlief is ‘n mynbou-ingenieur, het aan Tukkies afgestudeer in 1984. Nogal ‘n slim man, min van die mynboustudente voltooi hulle grade in vier jaar. Anders as die meeste van sy klasmaats was hy eers weermag toe, toe het hy twee jaar op die myn gewerk terwyl hy mynboudiploma gestudeer het. Sy werk het hom ingeroep, gesê hy mors sy tyd met die diploma omdat hy ‘n toppresteerder was en toe stuur hulle hom met vol salaris om graad te vang. Dit, en sy ouderdom, het waarskynlik tot sy akademiese prestasie bygedra. En dalk ook die feit dat hy my kêrel, verloofde en man was. Dit is mos in ons juffrouens se gene om mense aan te moedig om te presteer.
Ek het manlief aan die begin van my tweede jaar ontmoet. By jool. Hy was toe in sy tweede jaar van sy mynbou-diploma. Ek wou nie jool toe gaan nie, my kêrel het my so pas gelos. Wie was dan lus vir jolig wees? Maar my vriendinne in Madelief het aangedring en ek is saam.
Een van hulle het een van haar skoolvriende raakgeloop, wat weer saam met sy vriende in ‘n kring op die gras gesit het. En hulle het ons genooi om by hulle te sit. Ek was skaam, maar wou ook nie alleen verder stap nie, dus het ek gaan sit. En soos dit dan gaan, wou almal weet waar almal vandaan kom.
Voor ek kon antwoord, het my vriendin gesê Ermelo Hoërskool. Manlief, wat volgens hom in Ermelo Hoërskool was, het dit bevraagteken en gesê dat hy beslis sou weet as ek in sy skool was. Toe nie.
Die skool het op daardie stadium 1200 leerders gehad, met tien klasse per standerd. Ek was twee jaar na hom. Het nie aan aktiwiteite by die skool deelgeneem nie, reguit huis toe gegaan om die plaaslewe te geniet. Maar hy het my ondervra.
Wie is die hoof? Wie kan ABK van Zijl vergeet!Wie bied Biologie aan? En nog baie meer. Toe ek dit kan antwoord, verklaar hy dat iemand my kon vertel het. Hy sou weet as ek in sy skool was.
Yeah right, ek het Geskiedenis tot matriek gehad, maar van name en datums het ek genoeg gehad toe ek die skool verlaat het. Eintlik irriteer mense wat met my stry my.
Ons het huisvriende met die van Strydom gehad. En ek het altyd gespot dat ek nie met iemand met so ‘n van sou trou nie. Stry maar bly dom. As hulle ons geterg het dat hulle ons Fourietjies op ‘n knop gaan jaag. Tog het hy my met sy glimlag betower, het ons twee afgepaar en het hy my later die aand koshuis toe gevat.
Nommers kon ons nie uitruil nie, dit was voor selfone. Hy het ‘n afspraak gemaak, ek moes die volgende dag saam met hom by sy ouers gaan kuier. Die volgende dag, toe ek in die kar klim, moet ek hoor dat hy sowaar in die jaarblad gaan kyk het of ek jok! Ten spyte van die aanvanklike wantroue het ons ‘n langafstandverhouding begin want hy het in Evander op ‘n goudmyn gewerk en ek was ‘n onderwysstudent.
Vreemde sameloop van omstandighede, ek het altyd, as ons van Ermelo verby Evander gery het, gesê dat dit een werk is wat my man nie sal doen nie. Myner.
Want hoe kry ek hom weer as die myn toeval? Hy het my egter gerus gestel, dit gebeur nie sommer nie, daarvoor sorg ouens soos hy, wat mynbou studeer.
Hy het Woensdae deurgekom en dan het ons gekuier tot ek twaalfuur in die koshuis moes wees. En teruggery Evander toe. Naweke het sy ouers hom baie gesien, sodat hy by my kon kuier. Aan die einde van daardie jaar het sy werk hom gestuur om mynbou te studeer, soos ek vroeër genoem het.
‘n Jaar en ‘n half later, op my 21ste verjaarsdag, het ons verloof geraak. Nie op die partytjie nie, die man het met die ring in sy sak rondgeloop, maar was te bang vir my pa om ouers te vra!
Dié het hy eers twaalfuur in die nag gevra, toe my ouers al in die bed was. Na baie koppies koffie in die kombuis. Hy wat een koppie koffie drink. Soggens.
Ons is net voor die aanvang van my derde jaar op 30 Januarie 1982 getroud. Sodat ons eers ‘n week in Amanzimtoti kon gaan vakansie hou. Daar het hy bewys hoe bekermend hy is toe ons by die supertube afgaan en die water my halternek kostuum tussen my borste invou. In plaas van help met die kostuum, het my my kop en al onser die water gedruk! Hy was aan die begin van sy tweede jaar.
Ek was nog altyd deel van sy Tukkie-mynboumanne vriendekring. Was reeds sy meisie toe hy begin studeer het.
Ons is na sy studies na Welkom verplaas, waar hy homself van die grond af moes opwerk, graad en al. Dit het hy goed gedoen en ons is gereeld verplaas. Soos hy bevorder word.
Sy passie is produksie van goud, maar hy is ook baie goed met mynbouprojekte. Dit is juis hierdie afdeling van sy kennis wat daartoe bygedra het dat hy genader is om aan die hoof van ‘n projek in Qazaqstan te kom staan.
Hy was opgewonde oor die uitdaging, ek was bekommerd. Ons sou 10 000 km van ons kinders af kom bly, dit vat twee tot drie dae per vliegtuig om hier te kom, maar ons het ook geglo dat die Here se hand in die aanbod duidelik was.
Ek het oor die land opgelees en gesien dat die temperatuur in die winter in ons dorp na minus 40 grade Celsius kan daal. Daarom het ek daarop aangedring dat ons kom voel of mens kan oorleef in sulke uiterste temperature.
Dit het ons in Januarie gedoen en die Here het my deeglik laat voel. Die kwik het na -39 gedaal terwyl ons hier was. Ons het egter gesien dat die land goed ingerig is, dat ons nie dood gaan vries nie en gekom.
Dit is dan wat manlief hier in Qazaqstan doen.
Geniet hy sy werk?
Ek dink genoeg om die volle drie jaar hier te bly om die projek te voltooi.
Daar is uitdagings aan die werk verbonde. In Suid-Afrika word koue lug ondergrond gestuur, sodat die mense nie aan hitte-uitputting beswyk nie, hier word warm lug ingestuur om te keer dat die mense as gevolg van blootstelling aan sulke lae temperature beswyk.
In Suid-Afrika word kontrakte in een taal gedoen, hier word kontrakte, jy sal so wraggies nie glo nie, in vier tale gedoen, naamlik Russies, Qazaq, Engels en Sjinees. Ek sou so dronk soos ‘n tor geword het as ek dit moes beheer. Kontrakte is dus lywige dokumente. Self is manlief slegs een van die vier tale magtig.
Wat hy presies doen, weet ek nie. Ek weet net dat hulle nog ‘n skag sink, en dat baie van die bogrondse werk moet klaar wees, voor die sneeu in Oktober begin val.
Geniet ons dit? Ek kan eerlik sê dat ons die beste van ‘n slegte saak maak. Sleg om so ver van ons naastes te wees. In ‘n land wat ek nie eens presies geweet het waar dit is nie. Omdat dit agter die ystergordyn versteek was. En amper dertig jaar gelede eers sy bande van Rusland losgemaak het om ‘n onafhanklike republiek te word.
Rusland, Sjina, Indië was nooit op my lys van moetsiens nie. Europa en Amerika was. Dubai was die verste wat ek dié kant toe sou kom.
Maar, ek is nie spyt ons het gekom nie. Ons lewens is verryk. Min mense kry aan die einde van hulle loopbane sulke geleenthede. Ons maak die beste van die saak.
Ek vertel gereeld van ons doen en late hier. Saam.
Baie van die vrouens los hulle mans alleen hier en gaan vir maand of twee huis toe. Ek kan nie. My huis is waar my man is. En tans is dit hier.
Gister was ek by ‘n verjaarsdagpartytjie en die twee ander SA vrouens praat oor al die lande om ons wat hulle nog wil besoek. Elke keer wat manlief verlof het, is my enigste versoek, Suid-Afrika asseblief. Na my kinders en kleinkinders toe!
Ek net dié foto Sondag geneem toe hy saam met my is om foto’s van die sonsondergang te neem. Ek vra al so lank daarvoor, maar die son gaan eers onder nadat ons aandete gehad het. En dan moet ons nog wag …
Dit was die moeite werd …

Ek geniet jou lewensverhaal…altyd romanties om te hoor hoe mense mekaar ontmoet het.
LikeLike
Dankie Perdebytjie. Dit moes bestem wees. Ek sou nooit alleen by hulle gaan sit het nie. En hy was vir die aand saam met pelle by jool. Moes weer terug werk toe.
LikeLiked by 1 person
Dis ñ lekkerlees storie…van die begin af….😀….insiggewend. Baie dankie.
LikeLike
Dankie Philip
LikeLike
Ek het jul storie nou baie geniet, Christa, en sal met meer insig jou skrywes kan verstaan en waardeer.
LikeLike
Dankie Una.
LikeLike
Hoe verskil jul tyd van ons s’n? Dis nou half 3 hier.
LikeLike
Dit is halfsewe in die aand hier, ons is vier ure voor Suid-Afrika
LikeLike
🌹🌹🌹🤗
LikeLike
Baie dankie! Ek het my verlees! Baie interessant!
LikeLike
Dankie Gedigte, genoeg gesê?
LikeLike