Gepubliseer in Reisjoernaal

Om ‘n bankrekening in Qazaqstan oop te maak, is ‘n ander ding

ABSA en Nedbank vra my ‘n plaas se prys as hulle my Rande in Tenges omsit. Iets soos R78 op R398. En dit is belaglik. Dus vra ek manlief om vir my ‘n rekening oop te maak en my geld daarin te sit. Dat ek nie so beroof word nie. Hier kan ek baie met R78 doen.

So is ons Saterdag bank toe, en die dame het ‘n besonder beperkte kennis van Engels. Soos die meeste inwoners van Ust. Die tolk het gesê ons sal self regkom, moet net sy paspoort en sy INN (inkomstebelastingnommer vat).

Hier word alles wat jy doen teen jou belastingnommer aangeteken. Sy het die paspoort bekyk en baie min verstaan, ons letters lyk mos anders as hulle s’n. Of liewer, die meeste van die letters verskil. Sy het ‘n vertaling gevra en ons het dit verstaan.

Ek het probeer help. Familja gesê en gewys na ons van. Maar sy moes dit reg in Russies se alfabet skryf. Dus is ons vandag met die vertaling terug bank toe. En land weer by die arme vrou.

Sy het skoon verdwaas gelyk toe sy sien dit is weer hierdie twee wat enkele Russiese woorde ken. My man het in Engels verduidelik dat ons Saterdag daar was en dat ons nou die vertaling van die paspoorte het. Sy het niks verstaan nie.

Hy het van card gepraat. En sy het kart verstaan. Sy het verstaan dat ons rekening wil oopmaak.

En dit was ‘n tydsame proses. Ek en manlief het so deur die wag gesels. In Afrikaans. Oor die dag, want hulle verstaan geen woord Afrikaans nie. Mens moet egter versigtig wees.

Die Afrikaanse woord goeie, wat ons twee nogal baie gebruik, is baie, baie ongeskik in Russies. Moet dit nie eens aanleer nie, dit is erg. Gelukkig moet mens dit reg kan spel om dit in ‘n woordeboek te gaan opsoek …

Ek het gesukkel om my lag te hou. Mens kon basies sien hoe sy in haar brein soek na die Engelse woorde om vir ons vrae te vra. As sy dit nie kon kry nie, het sy die vrae op getik en Google het vir manlief vertaal.

Raas maar, ek het al vertel ek kan nie help om op verkeerde oomblikke te lag nie.

En ek lag omdat ek seker net so lyk as ek met hulle in beperkte Russies probeer praat … Dus is ons in dieselfde bootjie. Ek lees juis nou die dag:

Moenie vir iemand lag wat geradbraakte Engels praat nie, hulle ken ten minste meer as een taal.

Selfde hier, ek probeer, maar glo my, Engels is baie makliker as Russies. ‘n Selfstandige naamwoord soos appel is nie net appel nie, dit kry goed agteraan om die betekenis te verander, ses verskillende soorte voegsels.

Maar ek dwaal af, ek het nie gelag nie. Die duiweltjies het net in my oë gedans en ek het hulle op enige iets anders laat fokus as haar oë.

Manlief raak moeg gewag en vra of hy geld kan insit. Sy wys nee, ons moet 5-7 dae wag vir die kaart. Hy sê goed, gaan sy bel?

Sy verstaan nie en hy hou sowaar sy foon teen sy oor en wys na haar en hom om te vra of sy gaan bel. Ek sien hoe sy die woorde in haar brein soek en probeer dink wat sy wil antwoord, maar ek kan ook nie dink nie. Dan onthou sy sms, ons gaan ‘n sms kry.

Buite lag ek en manlief, soos altyd as ons met handgebare en Google Translate iets gedoen kon kry.

Ek vra: Regtig, foon teen die oor? En spot met my kop getilt en my hand by my oor, my foon was tuis om te laai.

Hy was juis vies omdat hy al die pad op moes kom om te vra of ons gou bank toe kan gaan. Om my rekening oop te maak. Omdat ek nie sy boodskap gesien het nie.

Hy lag verleë en ek lag hard. Vra of hy by die werk ook so kommunikeer. Want ek is beïndruk met sy kreatiwiteit. Want sy Russies is nog meer beperk en hy werk elke dag met die mense.

Ek sou gek raak as hulle paat en praat en praat en ek verstaan geen woord nie. Darem garasho (goed) en spasieba (dankie) en so aan. Tog kry hy verduidelik wat hy gedoen wil hê.

En kry hy antwoorde op die vrae wat hom pla.

Het ons die regte rekening oopgemaak? Dit sal ek nie kan sê nie. Sy wou weet of dit vir wages of individual was. Ons het individu gekies, het ander rekening vir salaris. Sy het gesê dit begin met 980 tenges in die rooi, wat ons moet betaal wanneer ons die kaart kry. Omdat dit ‘n VIP-kaart is.

En ek hoop van harte dat dit nie soos die geel nommerplate is nie, bedoel slegs vir expats. Want daardie nommerplate kan die Ust-polisie net nie uitlos nie.

Ek soek nie soortgelyke drama as ek geld wil trek of iets in ‘n winkel wil betaal nie. Ek sal teen volgende naweek weet of hierdie kaart ‘n rooi teiken op my rug sit … Fotokrediet: https://www.suiderkruis.co.za/die-vyand-se-gewildste-teiken/

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

3 gedagtes oor “Om ‘n bankrekening in Qazaqstan oop te maak, is ‘n ander ding

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.