Gepubliseer in Reisjoernaal

Ons maak maar self biltong in Oskemen

Ons is nou amper twee maande in Kazakhstan en my man se lus vir biltong hang behoorlik uit. Die biltong masjien het saamgekom, maar toe word ons verras met vreemde vleissnitte. Kan nie sien of dit gebraai moet word of gekook moet word nie en die locals verstaan nie wat die probleem is nie.

Gits, hoe verlang ek nie sommer nou om in ‘n slaghuis in te stap en rump of enige ander soort steak te vra nie. Die vleis word op die mark in massiewe stukke verkoop. Twee soorte, die een het ‘n ronde been iewers in die middel rond en die ander een het ‘n been wat soos ‘n hoofletter T lyk, met vleis aan weerskante. Die eerste een het ek agtergekom is sagter en kan met moeite gebraai word. Die twee een sukkel om te sny en is moet ‘n ruk gekook word voordat dit vir ons smaaklik is, of eerder nie taai is nie. En daardie twee stukke vleis het een hele maand gehou, met bietjie hoender en vis en uiteet tussenin.

So neem ons die naweek die groot besluit. Dit is tyd om biltong te maak. Maar eers moes ek my ma bel om te vra wat alles moet in en wanneer om op te hang. Maar ek weet darem dat die slaghuis in Noordheuewl, Suid-Afrika, se biltongspeserye is die enigste bestanddele vir biltongmaak is nie.
Mens sal nie glo ek het in ‘n slaghuis grootgeword nie.

En daar lê weer stories wat eers vertel moet word.

As oudste kind was dit my werk om my twee kleinsusse op te pas. Die Witbrick-slaghuis naby Westonarea het twee deure gehad. En ek moes agter die een deur op ‘n stoel sit met ‘n babasus op die skoot. Self was ek jonger as standerd 2. So kla ek toe een dag en my pa vat oor dat ek kan gaan speel. En hou hom baie snaaks om my ‘n les te leer. Terwyl ons buite speel, word die een sus, wat haarself plat kon vou as sy vooroor sit, in bruin papier toegedraai en so verby my gedra na die een oom se kar. En daar gaan hy met haar! Net vir ‘n entjie, en toe stop hy. Ek was baie kwaad en het die oom nooit weer gegroet of vertrou as hy naby die slaghuis kom nie. Seker daarom dat ek steeds baie beskermend oor my kleinsusters is.

Dit laat my sommer aan een dag van skade in standerd 3 dink, ook by ‘n slaghuis. Die naam het my nou ontgaan, maar hy was weer aan die ander kant van Westonarea, so op die Potchefstroompad uit en dan onderdeur die treinspoor. Die slaghuis en die Jood se winkel het saam een gebou gedeel. Ons het een aand die swaar staaldeure laat sak en sommer so in die donker vir my pa gewag wat gou pakkies gaan afgee het. Goeie genade, dit is natuurlik iets wat mens nie vandag kan waag nie! Skielik sien ek Harry Weinstein en sy ouers aangery kom. Nou ja kyk, ek hou nie van Engels nie, maar Harry het beslis aan my hartsnare geroer. Al sou ek dit nooit erken nie. Sy ma was ‘n modepop en volgens haar, wat enkele Afrikaanse sinne kon praat, was alles wat mode is mooi! Ek vlieg toe om sodat ek nie soos ‘n springhaas in hulle kopligte vasvang word nie, en stamp my oogbank teen die vierkantige blou pilare van die stoep voor die slaghuis oop. Dit was nie seer nie, maar die klammigheid het my ma die swaar deure laat oplig om te kyk. Bloed! My arme pa, wat reeds moeg was, moes my eers dokter toe vat vir steke. Ek was die volgende oggend so ontsteld oor die blou oog dat ek geweier het om skool toe te gaan. My ouers het mooi gepraat en my sowaar oortuig om die tweede dag skool toe te gaan – met ‘n oogklap! Net om te hoor hoe seuns van die seerower praat! Maar dit was fine, wat agter die klappie aangegaan het was my geheim tot die blou weg was. En die steke uitgehaal is.

Ek skat ek sou vandag weer daai besluit neem. Veral na episode so 8 jaar gelede in Heidelberg. Ek het een aand in die badkamer flou geword. Nadat my bloedsuiker te laag gedaal het. En dieselfde oog weer blou en stukkend geval. Nie stukkend genoeg vir steke nie, maar hard genoeg dat ek weer ‘n blou oog gehad het. Teen die hoek van die toiletrol as daar ‘n hele badkamer is sonder ene. Gedagtig aan die standerd 3 episode met die oogklappie op, besluit ek toe om met blou oog en al dorp toe te gaan. En in Clicks tot stilstand geruk te word deur ‘n opgesmukte vrou wat na my wys, vir haar dogter iets fluister en sowaar saam vir my lag. Sê nou maar ek was ‘n mishandelde vrou? Wat het die ma toe vir haar snip geleer? Die oog is darem die afgelope dekade veilig omdat ek ver van skerp goed bly as my suiker te laag daal. Sommer sit as dit moet.

Maar, ek het weer afgedwaal! Soos ek vertel het, sal mens nie kan vertel dat ek in ‘n slaghuis grootgeword nie. Maar dit is nie heeltemal waar nie. Ek kon na die vreemde snitte van die vleis kyk en een vat wat lyk asof dit biltong kan maak. En die nat vleis lyk beslis soos biltong in wording.

Christa Van Staden se foto.
Eerste poging vir biltong maak so op my eie

O ja, ek het nog iets nuuts per ongeluk ontdek. So met die biltongmaak saam. Ek moes gaan asyn koop en die vrou bied vir my ‘n piepklein botteltjie aan. Ek vra groter een en haar houding is een van vat of los, daar is nie groteres nie. Toe vat ek maar twee. Gelukkig proe ek toe aan die speserye met die asyn in. Dit het amper my asem weggeslaan en beslis aan die binnekant van my mond gebrand. En toe onthou ek wat ‘n vriendin wat langer as ek hier bly, vir een van die locals gevra het. Oor die sterk asyn. Dit moet verdun word! Die vleis is gou uitgehaal en die oortollige asyn weggegooi. Ek skat dit sou besonder slegte biltong gemaak het.

O ja! Die biltongmaker is in ons tasse saam hierheen.

Christa Van Staden se foto.

Ons biltongmasjien voel maar pieperig …

Spesiaal gekoop. Dus sal ons teen vanaand kan ophang en oor vyf dae kan weet hoe goed (of sleg)ons met die makery is. Vir nou hoop ek maar dat ek die regte stuk gekies het vir ons eerste probeerslaggie in die vreemde.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.