Gepubliseer in Reisjoernaal

Brief aan ons gemeente: NHK Die Kruin

Vanoggend kry ek op Facebook ‘n boodskappie van ons predikant, Ds. Kobus Pienaar. Met ‘n versoek om so bietjie meer oor die lewe hier in Qazaqstan te vertel. Ons is steeds deel van die gemeente, selfs al gaan ons in drie jaar seker nooit daar uitkom nie. Omdat beide van ons, as ons iets sou oorkom, verkies dat ds. Pienaar ons begrafnisse sal lei.

Ds. het laat weet dat die preke vir ons opgeneem sal word sodat ons steeds kan luister.

Gewoonlik kies ek self die onderwerpe waaroor ek hier wil skryf, maar ek gaan tog probeer om aan die versoek te voldoen.

In Desember 2018 het my man op LinkedIn ‘n lang e-pos uit Qazaqstan (skuus, maar ek sukkel nog self om aan die nuwe spelling van Kazakhstan gewoond te raak) gekry. Met ‘n posbeskrywing en ‘n aanbod om by ‘n myn in die Oostelike Provinsie van Qazaqstan te kom werk. Ek het heftig daarteen geskop, ons is naby aan aftrede, my kinders bly naby my en ek kan my kleinkinders sien wanneer ek wil. En daar was geen manier waarop ek in Rusland sou wou kom bly nie.

Om die waarheid te sê, Rusland en oosterse lande soos Indië en China was nog nooit op my lys van lande wat ek sou wou besoek nie. Laasgenoemde twee is steeds nie op my lys nie, selfs al grens ‘n groot deel van Qazaqstan aan China … en selfs al is China van waar ons bly, skaars meer as 150 km ver weg.

China is agter die berge

Maar, dit het toe nie so uitgewerk nie. Ek kon sien hy hunker na die uitdaging. Terwyl ons gesinsfoto’s geneem het, het hy so affens agter my rug met die kinders daaroor gepraat. En beide was van mening dat ons ondersoek moet kom instel.

Dus het ek in Januarie gevra dat hy reël dat ons eers kom kyk. Die maatskappy het ons twee vir een week oorgevlieg om te kom kyk. Einde Januarie 2019. So oor ons huweliksherdenking. Ons sou die geld terugbetaal as hy die aanbod nie aanvaar nie. Maar, ons het in die een week verlief geraak op hierdie yskoue land wat ons met ‘n ysige -38 grade Celsius begroet het.

In plaas daarvan om afgeskrik te word, het ek my verwonder aan die sprokieswereld wat om my ontvou het toe ons die lughawegebou van Oskemen (Ust-Kamenogorsk) verlaat het.

Ons is terug huis toe, het halfpad uit die huis getrek en hom in die mark gesit. Met die hulp van vriende se kinders is die huis bewoon en het hulle my honde versorg tot hulle kan oorkom. Maar dit het ook anders uitgewerk. My seun het huis gekoop en die honde kan nou by hulle bly tot ons terugkom.

En so het ons op 2 Maart 2019 die kinders op OR Thambo gegroet en die lang pad na Qazaqstan begin. Ons is darem met ‘n besigheidskaartjie bederf en sal weer so teruggevlieg word wanneer ons die dag terugkom huis toe.

Hier aangekom, het ons eers in ‘n hipermoderne woonstel buite Oskemen ingetrek. Omdat die honde daar saam met ons kon bly. Dit was egter erg om so verlate te wees. So erg dat manlief dit na die konsentrasiekamp herdoop het.

Inkopies doen is ‘n interessante uitdaging omdat hulle soos ek oor Engels voel. Bykans niemand verstaan Engels nie. Dus is inkopies ‘n probleem as ek iets soek wat nie op die rakke is nie. Soos goue stroop (hulle bied vir my konfytstroop aan, weet nie van stroop nie). Ons maak meestal op handgebare staat om te kommunikeer! Soos babas …

Bykans alles op alle verpakkings is in Russies. En soms is mens so dankbaar as produkte soos Lays chips en bekende handeroomhandelsmerke op die rakke is. Ek hoef mos nie te lees nie, vat net die kleur wat ek altyd tuis gevat het. Met onaangename verrassings as mens dink jy het reggekom. Soos om handewasseep op jou arms te smeer in plaas van room – lekker dik, so dik dat ek in die bad moes klim om dit afgewas te kry. Blou Lays is ook nie sout nie, dit is een of ander ander smaak. Sleg as mens sout verwag het, maar eintlik ook lekker.

Botter is, anders as ander produkte, duur. Hulle eet skoon brood, sonder botter. En ek het die naweek gesien dat hulle ook mayonaise op brood eet. Maar mens kry aangename (of onaangename) verassings as jy broodjies koop, dit kan met konfyt, appels, vrugte en sjokolade gevul wees.

En vleiskoop is ‘n nagmerrie. Ons het dit nog nie reggekry om goeie vleissnitte te koop nie. Daar is skaars meer as twee snitte, en die beeste word met ‘n byl opgekap om die snitte te kry. Die splinters sit nog op die vleis vas. En die been is gebreek en nie netjies gesaag nie. Hoender, vark en skaap is darem nader aan ons snitte … Dus gaan ons rooivleistande waarskynlik in die slag bly …

Kar koop is ook vreemd. Dié kon ons eers verlede week bekostig. Dit is nie goedkoop nie en mens koop jou kar kontant. Dus was ons die eerste maand op taxi’s aangewese en die ander maand en ‘n half het ons voetgeslaan na winkels toe omdat ons ‘n woonstel in die stad gekry het. As die pakkies te veel of te swaar was, het ons taxi’s bestel om huis toe te kom. In ons dorp kan die kar nie op jou eie naam geregistreer word nie, dus is ons verlede week Almaty toe om daar kar te koop. Dit is op ons naam, ons het ‘n geel registrasienommer omdat ons nie burgers is nie. Ons is die eerste buitelanders van die maatskappy wat dit so gedoen het. Die ander se motors is op burgers se name geregistreer.

Daarna moes ons die 1050 km huis toe met ons eie kar aandurf. Wat ‘n reis, ek sal later op my blog meer daaroor vertel.

Kos is goedkoop en baie lekker. Ook in restaurante. En hier is onder elke gebou winkels of restaurante. Ek is ongelukkig laktose weerstandig, daarom moet ek baie mooi kyk wat ek eet, as ek nie goed siek wil word nie.

Kinders is welkom. Oral. Hulle speel in die parke wat vir kinders gebou word, hulle stap alleen skool toe en kom veilig terug na skool. Hulle ry bus en trems en treine. En hulle pa’s speel met hulle in parkies, dra hulle op hulle skouers en gaan saam met hulle na feeste toe. En hier is ‘n hele paar daarvan in Qazaqstan.

Stap is veilig. Sodra ‘n voetganger naby ‘n voetoorgang kom, stop karre dat hulle stap. Wat maak dat ons redelik vinnig stap, want ons is gewoond om te wag tot geen kar naby is nie om veilig te wees.

Bestuur is vreemd, links in kar, regterkant van pad. Maar daaraan raak mens gou gewoond. Ek dink regs gaan verkeerd voel as ons eers weer terug is. En om in die linkerbaan te ry.

Ons dorp is koud, baie koud. Dit het byvoorbeeld vandag weer gesneeu, al is dit veronderstel om middellente te wees. In die winter is dit belaglik koud, maar nie onoorleefbaar nie. Ons het reeds -38 oorleef. Mens loop dan soos ou mense, kyk mooi waar jy loop en lag verlig as jy dit sowaar reggekry het om balans te hou as jou voete op die seepgladde swart ys onder jou uitgly.
Manlief het een keer geval. En ek moet bieg, ek het gelag! Maar darem eers toe ek sien dat hy niks gebreek het nie.

Klere is egter vir die plek gemaak. En ek dra sowaar ‘n jas met nagemaakte pels om die kappie! Omdat dit yskoue kappies van jou wange af weghou. En jou snoesig warm hou.

Huise is warm, ek weet nog nie wanneer die sentrale verhitting begin nie, maar ons dorp s’n is eers ‘n week gelede afgesit. Dit werk met warm water wat by ‘n sentrale plek gemaak word en deur pype na huise gevoer word. Dit kom deur dunner pype in die huise in en dan is daar teen die mure verwarmers waardeur die water loop. Die huise het nie geysers nie, die tweede stel pype bied warm water vir badkamers en wasbakke.

Die winkels is snoesig warm, het ook sentrale verhitting. Dus kry mens soms te warm as jy ingaan as jy vir die koue buite aangetrek was.

Tegnologie is duur, maar steeds goedkoper as in die RSA. En hier is Apple en Thermomix kan ook hier gekoop word. Myne het saamgekom …

En dit is onbekostigbaar om ‘n pakkie Suid-Afrika toe te stuur. Sou my met DSL R6700 gekos het om ‘n klein pakkie met drie pakkies tee, drie sjokolades en twee klein geskenkies aan te stuur. Toe laat ek dit maar vaar. Pakkies sal maar saam met ons moet vlieg wanneer ons die RSA besoek. En dit sal ons jaarliks kan doen. Met kinders en vriende wat kan help om te bring of te vat.

Ons lag. Baie. Omdat ons nie verstaan word nie. Ek kan die rooi taal praat, maar verkies Afrikaans. Hulle kan nie een van die twee praat nie en kom deur ons vir die eerste keer met Afrikaans in aanraking.

En hulle is verstom dat ek wit is. Ek is dan van Afriki. Ons het begin om in Afrikaans te praat as ons sukkel. Beide Afrikaans en Engels het woorde wat in Russies verstaanbaar is. Soos toffie (net soos Afrikaans) en vele meer. Ek het al ‘n hele paar bloginskrywings onder reisjoernaal op my blog gemaak dus gaan ek nie hier ook daaroor vertel nie. Lees maar self as jy wil. Dit is my manier van sin maak van ons lewe skaars 100km onder Rusland se suidelike grens.

Twaalfuur sit die kantoorwerkers hulle penne neer en gaan eet tot eenuur. Dus is manlief vandat ons in die stad bly elke middag tuis vir middagete. Vyfuur sit almal weer alles neer en dan gaan hulle huis toe.

Vir die winkelwerkers is dit ‘n ander lewe. Winkels is van 10 tot 10 oop. Dus is daar nooit spitsverkeer (lag) in die winkels nie. Wat ‘n vreugde …

Hoe hou ek van Qazaqstan? As my kinders hierheen sou verhuis, sou ek aanbly. Vir altyd. Hier is vrede. Jou kar staan buite in die straat en is nog daar as jy ‘n week later huis toe kom. Vrouens stap tienuur in die aand op straat, met hulle kinders. En niemand val hulle aan, besteel hulle of verkrag hulle nie. Hier word ek aanvaar.

Wat mis ek? Om my kleinkinders vas te hou en nie net op ‘n skermpie na hulle te kyk nie. Om my ouers en susters te gaan besoek. Dalk help dit juis om verhoudings reg te hou, as mens eers so ver weg van mekaar is. My kinders. Sondae in die kerk. Kerk.

Hier is Christelike kerke, maar ek kan steeds nie die taal praat nie. Wat ‘n frustrasie om so te sukkel om te leer. Dus is dit nie die moeite werd om te gaan sit en niks te verstaan nie.

My hondekinders. Die huis by die rivier.

Wat mis ek nie? Die dinge wat die besluit om na ‘n veilige land te kom makliker gemaak het. Ek hoef dit nie te noem nie, dit sal dan lyk asof ek die RSA wil sleg praat. En dit wil ek nie doen nie.

Van hier af wonder ek net waarom my voorouers nie eers hierdie deel van die wêreld kom uitkyk het voordat hulle ons saadjies aan die suidpunt van Afrika gaan plant het nie. Dit is koud, maar oorleefbaar. En die naweek op die pad tussen Almaty en hier het ons vele kere in verwondering gesê dat die deel van die land ons aan ‘n sekere deel van die RSA herinner het. Dit is amper soos die pad tussen Kaapstad en Johannesburg, maar baie uitdagender om dit te reis. Nie oor veiligheid nie, oor heel ander redes wat ek later in ‘n bloginskrywing op my blog sal vertel.

Ons het pret. Ons lag vir mekaar en ek vermoed ek en my man kom soveel nader aan mekaar. Omdat ons van die enigste mense in die stad is wat Afrikaans praat. En erg op mekaar aangewese is. Hier is so drie ander mense in die groep wat op die myn bly of in Almaty woon en so paar Engelses, maar daar is min mense om mee te gesels.

O ja, en hulle voel soos ons oor Chinese produkte. “Don’t buy, it is cheap, but you pay once, you pay twice ….”

Wat het ek geleer? Dat ons Afrikaanssprekendes en die Russe baie in gemeen het. Ons is lief vir ons kinders en vat hulle oral saam, ons is tradisievas en ons hou van sing. Dit is ook verrassend dat hulle tradisionele musiek baie soos Afrikaanse musiek klink. Ek verstaan die musiek en hulle hou van ons s’n. My soort musiek, soos Steve en Bok en so aan, klink vir die jong Russiese meisie wat die naweek saam met ons op die pad was en net Afrikaans in die kar kon luister, soos lalla-musiek (die musiek wat mens vir jou kinders sing om hulle rustig te maak ….

Ek hoop ek het die lewe hier in ‘n neutedop vertel. Vra maar in die kommentaar as ek iets beter moet verduidelik. Ek skryf ook elke week iets oor die lewe hier. Miskien om myself later as ek nie meer so goed kan onthou nie, weer aan hierdie dae te herinner!

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

5 gedagtes oor “Brief aan ons gemeente: NHK Die Kruin

  1. Sjoe sien ons die wêreld deur jou oë. Geniet dit daar die verre. Dink nie ek sou die koue kon oorleef nie. Ek hoor van ‘n kouefront dan kry ek koud.

    Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.