Gepubliseer in Reisjoernaal

En toe sweef ek oor tyd en ruimtelike grense heen na my kerk in Suid-Afrika

Ons het einde 2005 van Welkom na die groot stad getrek. In Welkom was ons lede van die Hervormde Kerk St Helena, ‘n piepklein gemeente met ouer mense en ds Martin Fouché as ons predikant. Hy het Anja aangeneem en voorgestel en Marnus gedoop, aangeneem en voorgestel.

‘n Nederige predikant, wat ons almal se voete op die grond gehou het. Hy het nie hard gepreek nie, en dit het elke Sondag gevoel of hy al my sondes ken. En net vir my preek. Ek staan dikwels verstom as mense uit die kerk stap en vertel hoe dominee vir dié ene en daai ene gepreek het. Ek dink nie aan ander mense terwyl ek na die preek luister nie, dit raak my lewe en my hart. En dit is waarom ek kerk toe gaan.

In die stad kon ons dit nie weer vind nie. Die imtimiteit. Die predikant wat jou persoonlik ken. En ons het los van die kerk geword. Of wag, dat ek dit anders stel. Nie meer kerk toe gegaan nie. Want ek glo mens hoef nie elke Sondag in die kerk te wees om ‘n Christen te wees nie. Dit moet uit jou lewe straal. Ek probeer reg leef al is ek nie in die kerk nie, sodat ander my nie as verskoning kan gebruik waarom hulle nie kerk toe gaan nie. Daardie een van: “As sy ‘n voorbeeld van ‘n kerkmens is, wil ek liewer nie een wees nie”. Nie dat ek dit altyd reg kry nie, maar ek gaan beslis nie die rede wees waarom ‘n ander een die pad byster raak nie.

Toe een van my man se rugbyspelers in ons jong dae sy meisie na my toe bring met die woorde: “Toe, jy kan ‘n drankie drink, sien sy drink ook een”, het hy na my appelsap in my hand verwys. Dié het ek gedrink omdat die rugbymanne nie ophou kommentaar lewer omdat ek nie drink nie. Daarna het ek egter weer na groen en oranje koeldrank oorgeslaan. Om juis vir meisies soos sy te wys dat mens nie hoef te drink as ander dit van jou verwag nie.

Nadat my skoolkinders vir gespot het dat ek jok dat ek nie drink nie omdat hulle my oor ‘n naweek in ‘n drankwinkel gesien het (om vir manlief bier te koop), het ek geweier om weer in te loop. Vandag nog. Al hou ek die afgelope 11 jaar nie meer skool nie. Maar ek dwaal weer af.

Soos ek geskryf het, het ons nie in die stad ‘n holte vir ons voet gevind nie. Ons het die klein gemeente en ds Martin Fouché gemis en alles anders daarmee vergelyk.

Mosaïek was vir ons te groot. Voel soos ‘n konsert en nie soos kerk nie en die manier waarop babas ingeseën eerder as gedoop word, voel net verkeerd as mens in die Hervormde Kerk grootgeword het. Desnieteenstaande doen die kerk iets reg, gemeet aan duisende lidmate. Nie vir ons nie. Ons verkies die intimiteit van ‘n klein gemeente. Met die dominee wat ons op die naam ken.

Ons het na Muldersdrift NG-gemeente gegaan. Daar het ons meer tuis gevoel, maar ons kon nie lidmate word nie. Hulle vra nie die attestate aan nie omdat ons Hervormers is. En ons kon dit nie self opspoor nie. Dit het verlore geraak toe St Helena gemeente in so mate verklein het dat dit met Riebeeckstad-gemeente in Welkom saamgesmelt het.

En toe besluit ons verlede jaar, net na my man se verjaarsdag, dat dit nonsens is. Ons moet ‘n kerk kry.

Eerste op ons lys was die Hervormde Kerk Die Kruin gemeente. Naaste aan ons omdat Ruimsig nie ‘n Hervormde kerk het nie.

Ons het ons mooi kleertjies aangetrek, is oor die berg op na die hoek waar Die Kruin haarself op ‘n bord adverteeer en in.

En toe vind ons voete weer die pad terug kerk toe. Ds Kobus Pienaar se preek se tema vir die oggend was: Ek en my huis, ons sal die Here dien. Dit was deel van ‘n kerkwye tema as ek reg onthou. En dit is hoe ek ook voel. Dit het my WhatsApp-status geword, om my vir die jaar daaraan te herinner en is steeds my status. Ons het agtergebly, ons voorgestel en ons adres gegee.

So land dominee, die ouderling en die diaken ‘n week later in ons huis. Vir huisbesoek. En raak dominee Kobus met sy plat op die aarde houding so na aan ons harte dat ek sowaar soengroet! Asof ons mekaar jare ken. Arme dominee!

Hy en sy Nadia is hartsmense. Een staaltjie waaroor ek so verleë is dat dominee nie daaroor mag spot nie, dateer terug na ons huis. Ek het hulle vir ete oorgenooi, my kos is gemaak, alles was reg. Kookkos soos my man versoek het.

Ek is gou kombuis toe om die wortels te laat karameliseer, en terug na die voorkamer. En raak so ingetrek by die gesprek dat ek eers weer van die wortels onthou toe die rook die woonkamer bereik. Hulle het help vensters oopmaak! Maar ons het daaroor gelag en soms by die kerk daaroor gespot.

So het een jaar as lidmate van die gesinskerk gevlieg. En toe staan ons einde Januarie vanjaar (2019) voor die groot besluit. Om vir drie jaar na Qazaqstan te emigreer.

Ons ken onsself en vra dat die preke asseblief opgeneem en aangestuur moet word. Hier is 98% van die bevolking Moslem, met iets soos 1% Christen. In die dorp waar ons woon, Oskemen, is die voertaal Russies. Engels is ‘n vreemde verskynsel! Bykans niemand verstaan ons nie! Nou praat ons Afrikaans en hulle Russies en ons kry bykans alles met handgebare reg.

Die tyd het gevlieg en ons is al drie maande hier. Maandagmiddag sit ek met ‘n nuwe, jong vrou, wat waarskynlik ‘n vriendin gaan word, hier in Qazaqstan en gesels.

Sy vertel hulle gaan na die Russiese kerk hier naby, Christelik, en sê ons moet saamkom. Ek sê ek verstaan nie Russies nie, sy sê sy ook nie. Anja, die prediker se dogter, reël soos mens instap vir ‘n tolk. Dan sit die tolk langs jou in die kerk en vertaal soos die preek aangaan.

Tuis gekom bied ek die oplossing aan, maar my man steek vas. Dit gaan nie gebeur nie, hy het genoeg daarvan elke dag by die werk as ‘n tolk praat terwyl iemand anders praat. Hy wil na een stem op ‘n slag luister.

Ek is ongelukkig daaroor, want ons het intussen na Afrikaanse preke op die TV geluister, maar dit trek ons in nie. Ek wil in die kerk wees. Ons mis die intimiteit van ons kerk, ons predikant en sy stem. En die preke het nog nie gekom nie …

Toe ek by die huis kom, wag ‘n e-pos van Corrie, die Kruin se kerkkantoordame, my in. Sy het ‘n aantal preke per Wetransfer gestuur. Ek wag, maar kry niks.

En vanoggend word ek met die verlange wakker om die preke te hoor. Ek stuur ‘n boodskap, wat by haar aankom terwyl sy nog slaap omdat ons vier ure voor is, dat ek nog niks gekry het nie. En lees weer haar boodskap. Sy het dit gestuur en Wetransfer is baie goed, dus begin ek soek. My gmail was die sondebok, het besef dit is belangrik en het dit toe onder Important gaan stoor. Wat ek net op my selfoon kan kry. Nadat ek Wetransfer in die soekblokkie ingetik het, is die ses preke gereed om geluister te word.

En ek kies die een wat ds Kobus Paasvrydag gedoen het. Die een oor eer jou vader en moeder. En begin luister …

Dit is anders as die opgeneemde preke op die TV. Dit is nie geredigeer nie en ek hoor aanvanklik niks nie. Net stilte. Voordat ek die knoppie druk om die probleem te probeer soek, begin dominee Kobus praat. En is ek skielik in die kerk. Sien dominee op die preekstoel, gereed om te begin. En daarna is ek, soos dit regtig is, vir een uur deel van die kerk.

Ons gaan Sondagoggend na hierdie preek luister, ek vir die tweede keer, my man vir die eerste keer. Terwyl die gemeente nog gereed maak om kerk toe te gaan. Om na ‘n ander preek te luister. Ene wat ons later gaan hoor wanneer Wetransfer dit hier in Qazaqstan kom aflewer …

Baie dankie, dominee Kobus, Corrie en almal wat help om die kerk hierheen te bring. Moet asseblief niks daaraan verander nie. Hou die opgeneemde preke so rou en ongeredigeer. Dit voer ons oor tyd en ruimtelike beperkinge heen. Terug na die kerkgebou in Suid-Afrika. Daar waar ons harte is.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

6 gedagtes oor “En toe sweef ek oor tyd en ruimtelike grense heen na my kerk in Suid-Afrika

  1. Dankie tog vir tegnologie (alhoewel ek oortuig is dis die duiwel se uitvindsel om ons tyd en vrede te steel, veral as dit nie werk soos mens wil hê dit moet nie..Haha) Ek voel ook so oor die kerk. Ek wil net so graag weer in n kerk kom waar ek tuis voel, maar nou ja. Dit sal nie nou gebeur nie. Nou gaan ek maar saam met die Oom, ter wille van vrede….

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.