Gepubliseer in Reisjoernaal

‘n Uitstappie na Shemonaigha in die somer

Vrydag toe manlief op pad terug van die myn af by Shemonaigha oor die brug ry, besluit hy dat ons twee Sondag daar gaan braai. En teedrink by die Afrikaanse man op die myn.

Vanoggend vroeg is ons braai en piekniekmandjie gepak vir ons kuier in Shemonaigha, so 100 km van ons af en naby die Russiese grens. Ons was skaars uit die dorp, toe ons verby die aanloopbane van die lughawe ry.

Die pad na Shemonaigha is redelik mooi. So effens hobbelrig, maar vloeiende hobbels en nie soos die ribbebene van grondpaaie nie. Ek skat dit kan mens aan die slaap sus … Die natuur is wondermooi, met golwende heuwels wat beplant is.

Ons het hier en daar gestop vir foto’s, die wind was besonder ysig. En sommer ook besluit om tot by die monumentjie op die een koppie te klim.

Sjoe, dit was aansienlik hoër as wat ek verwag het. Was skoon uitasem toe ons bo kom. Ek weet nie watse monumentjie dit is nie, sal later probeer uitvind. Dalk kan iemand wat lees, help? Daar is ‘n loergaatjie in die deur, wat my vinnig wou laat af hardloop. Wie is binne? Hierdie huisie is aan die onderkant van die koppie.

Gewoonlik sit daar ‘n oorlogveteraan, wat met toeriste en locals gesels. Ons twee se poging om ‘n onsie te neem op die trappies op teen die koppie.

En hierdie dorpie was so entjie verder op die pad, verskans teen die wind teen die hange van die berge.

By die bord voor mens na die dorpie afsak, het ons foto’s van mekaar geneem, die wind waai ‘n boep vir my man.

Ons was beslis nie vir die koue wind aangetrek nie.

En my hare lekker deurmekaar. Bykans die hele pad daarheen is soos om in ‘n tonnel te ry met lanings bome wat die tonnel vorm.

Blykbaar word die lanings bome geplant om die pad teen sneeustorms te beskerm.

Ek verstaan nie lekker nie, die sneeu val mos van bo? Ek neem aan dit het te doen met die wind wat met die sneeustorms gepaard gaan. En slegte dwarswinde kan vorm. Dit is interessant hoe al die bome wat die lanings vorm omtrent ewe hoog is.

Die kinders hier kan nie wag dat die geel blommetjies saad skiet nie, dit word dan oral geblaas. Dit is daardie saadjies wat soos so in ‘n mooi bondeltjie rondvlieg. Ons mag dit nie gedoen het toe ek klein was nie, my ma het geraas dat daardie saadjies in mens se oog kan steek.

Die boere ploeg die gelykstroke tussen die lanings bome en die pad aan die einde van die somer om. Sodra die sneeu aan die begin van die somer smelt, plant hulle sonneblomme en ander gewasse daar. In skoon landerye met genoeg water dat die gewasse sommer gou opkom. Klink vir my na ‘n slim plan om hierdie land se natuur te tem. Qazaqstan het baie water, skuus ek weet, dit voel verkeerd om dit vir ‘n droogtegeteisterde Suid-Afrika te vertel. Ek spog darem nie, ek vertel net hoe dit hier is.

Die magtige Irtyshrivier was die eerste helfte van die pad gereeld aan die linkerkant van die pad te sien. Soms so breed dat mens kan dink dit is ‘n meer.

Die geografiejuffrou in my sien ‘n ou rivier want ou riviere word aan sulke kronkels uitgeken. En vloedvlaktes. Anders as wat mens sou verwag, kan ek nie tekens sien dat die rivier vir ontspanning gebruik word nie. Dit is middelsomer en daar was geen bootjies of kano’s op die rivier nie.

Net voor die pad ‘n draai na regs maak om in Shemonaika in te gaan, staan daar grensbeheerpolisie langs die pad. Op pad is sonder probleme verby. Ons is eers oor die brug in die dorp in om ‘n paar foto’s te neem.

‘n Karwasplek is soveel anders as in die SA. Dit word binne ‘n gebou gedoen.

Want sien, in die winter kan mens mos nie in die buitelug kar was nie. Alles sal vries. Die wasser ook. Hierdie woonstelblok was vir my nogal anders, met die houtwerk onder en die beertjies wat wag hou by die trappies op.

Baie van die huisies is Russies, die mooi vensterrame is kenmerkend van Russiese huisies. Ek sien vandag op Google dat daar groot en hoë geboue is. Ons het dit nie raakgeloop nie, sal moet teruggaan om weer te kyk.

Daarna het ons koeldrank gekoop om langs die rivier te gaan braai. Toe ons oor die rivier gery het, het ek afgekyk na die plekkie wat manlief vir ons braai uitgekies het. Ek was effens op my hoede om so stoksielalleen daar wees. Toe sien ek ‘n motor tussen die bome en word sommer dankbaar. Ons sal nie alleen wees nie.

Maar, toe sien ek iets anders. Vyf mans wat in ‘n reguitlynformasie ‘n meter of wat van mekaar reguit vorentoe stap. Ek het al vertel ek ‘n ooraktiewe verbeelding in Qazaqstan het. Die prentjie onder my het my aan ‘n toneel uit ‘n fliek laat dink. Een waarin die polisie in ‘n lyn stap om iets te soek. ‘n Lyk? ‘n Ongedierte in die bos? Ek het bedenkinge gehad, maar manlief het so na die braai uitgesien. My verbeelding het al erger oortyd gewerk toe ons dadelik met ‘n lowergroen bos omring is toe ons van die pad afdraai om na die oewer van die rivier te gaan. Die vyf manne was nou by hulle kar, het hout in die bos gaan soek om vleis te braai. Soos ons. En ek het so bietjie ontspan.

Die braaigoedjies was sommer gou uitgepak. Manlief is lekker in sy gemaksone om so langs die rivier te kan braai. Gelukkig het ons baadjies ingepak, die wind was besonder koel.

Ek het al vertel van ons vorige uittog na die vyf mere, toe ons die vuurtjie nie aan die brand kon kry nie en die vleisie tuis moes kom klaar braai. Intussen het ons geleer hoe om hierdie dorp se charcoal aan die brand te kry.

Ons gebruik nou een teekersie en drie dennebolle, dit werk soos ‘n bom. Ons het sosaties, aartappels, dik en dun wors gebraai. O ja, en manlief het vir my groente gaar gemaak. Die worsie op my bord is die een wat ek en manlief gedink het hoender is.

Dit was toe bacon! Nogal lekker. Gelukkig nie kaniena (perdevleis) nie, ek het van die worskooppetalje die vorige dag vertel. Manlief het broodjies met wors en sosaties en aartappels geëet en toe neem ons weer ‘n onsie van twee verkluimde braaiers langs die rivier.

Iewers deur die loop van die braai het ‘n man styf teen ons kar kom verbyloop. Ons het hom nie gehoor of gesien nie. En ek het my alie afgeskrik omdat my deur oopgestaan het, met my selfoon en handsak op die sitplek. Sleg gevoel omdat ek dadelik gaan seker maak het dat alles nog daar is. Want dit was. Soos mens in hierdie land kan weet. Al is jy stoksielalleen langs ‘n rivier. Op pad uit die dorp het ons geel expat-registrasienommer die grensbeheerpolisie se aandag getrek. Toe neem ek sommer ‘n foto van die perdstandbeeld by die plek waar ons afgetrek is.

Die polisieman het by die deur kom praat, hy Russies en manlief Afrikaans. Engels help nie, hulle verstaan dit ook nie. Die polisieman vra iets, manlief sê hy verstaan nie. Hy wys met sy hande in ‘n vierkantvorm. Manlief vra in Afrikaans: “Dokumente”, hy antwoord: “Da, da, da” (ja, ja, ja).

Manlief haal sy bestuurderslisensie en die kar se registrasiekaart uit. Hy gee terug, sê: “Njet” en beduide dit is verkeerd, hy soek meer. Ons neem aan dat hy die derdepartyversekering vra. Manlief kry ‘n opgevoude vel uit die sak met die kar se boekies. Hy lees, wys vies dit is nie wat hy soek nie. Ek kyk na die papiere en sien dat daar Halyk op staan. Ek besef manlief het vir hom die vorige eienaar se brief van die bank gewys en nie die versekering wat hy soek nie. Manlief soek weer deur die papiere in Dusty se sakkie. Kry ander een en gee aan. Die man is half tevrede, maar vra weer sy ID_kaart: “Familja (van) Van Staden?” Manlief bevestig.

Hy praat nou baie kwaai. Ons het weer die verkeerde goed gegee. Ons kan nie die dokumente lees nie. Hy beduie die familja (van) op die papiere is anders as Van Staden. Ek vat die papiere aan, probeer lees maar verstaan niks. Ek sien nie eens iets wat soos ‘n datum lyk nie. Die polisieman buk by manlief se venster in en kyk kwaai vir my. Hy praat en raas met my en ek verstaan nie. Ek hoor darem dat hy vra of ek Russies praat, ek beduie nee, ek is van South Africa. Hy kyk baie kwaai vir my en sê iets wat klink soos ek is aspris.

Genugtig, ek is nie aspris nie. Ek kan nie help dat ek soos die Kazakhs lyk nie. Blas vel, lang donker hare. Selfs my groen oë is nie ongewoon nie, al het die meeste mense hier bruin oë. Ek is nie aspris nie, ek verstaan nie. Maar hier ismoeilikheid en ons moet die probleem oplos.

Ek en manlief praat Afrikaans, soek, maar daar is geen ander papiere in die kar nie. Ons derdepartyversekering is mooi netjies in manlief se laai by die huis gebêre. En ons is 120 km weg van die huis. Radeloos onthou manlief ek het laas vir ‘n polisieman ”Probleema?” gevra en hy vra: “Problem?” Die polisieman is stom, nou moet hy verduidelik wat die probleem is.

Stomstreke gaan nie meer werk nie. Hy wil vertel ja daar is, maar hy het nie die woorde nie. Ons kyk na mekaar en dan na hom. Hy glimlag. Wys ons kan maar gaan. Hier gaan vandag niks gebeur nie. Ons verstaan van locals dat omkoopgeld verwag word, maar ons het nie die gevoel gekry dat dit van ons verwag isnie. Inteendeel, hy het ons goed behandel, al kon ons nie die derdepartyversekering wys nie. Dit is Maandagoggend eerste ding in die kar gesit.

Net buite Shemonaigha is daar ‘n padteken met ‘n kraan wat wys dat daar water is. Mens draai links af en ry verby hierdie plekkie, wat dalk ‘n restaurantjie kan wees. In die somer, ek skat dit sal lekker koud in die winter wees.

Ek Mens stop dan by hierdie bome aan die regterkant,wat vol lap geknoop is. Ek wonder waarom die mense lappies in die takke knoop.

En dan klim jy paar trappies af na die fonteintjie se gat, wat met sement uitgebou is. Die fontein se water vloei deur hierdie pyp in die gat in.

Ons wag geduldig dat die twee groepe voor ons hulle baie 5l kanne volmaak. En dan toe ons gewaste melkbottels wat ons saamgevat het vol.

Sal volgende keer bottels saamvat, ons wou eers toets. Die water is heerlik! En yskoud.

Op pad terug het manlief vir my by die Moslem Kazakhs se grafte gestop. Ek sal later daarvan vertel, voel dit moet apart gedoen word. Hoop jy het lekker saamgereis. As jy ook al daar was, vertel asseblief ook daarvan.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

11 gedagtes oor “‘n Uitstappie na Shemonaigha in die somer

  1. lekker om jou ondervindinge te lees. Kyk vir jou dievertalings app op jou foon…sien orla gebruik mense dit.

    Like

  2. Dis ‘n pragtige omgewing daardie en dit klink asof julle ‘n lekker avontuur gehad het. Ek sou nie nie braaf genoeg gewees het om die polisieman in Afrikaans aan te pak nie, haha. Julle lyk darem heeltemal ontspanne en vrolik op julle onsies.

    Like

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.